Ek het hierdie boek bloot uitgeneem omdat hy toevallig oop en bloot op die biblioteektrollie gelê het toe ek daar verbykom. Toevallig? Eerder beskikking!
Ek kon nog nooit vat kry aan Eben se werk nie. LW. Ek sê nie sy boeke is swak nie – ek sê ek kon hul nog nie baasraak nie. Ek het nog altyd gedink hy is ‘n ongelooflike skrywer. En nou wéét ek dit.
Lucky Marais is losweg die mees unieke karakter wie se storie ek vanjaar gelees het. En ook dié een wat die diepste in my hart gekruip het. Nee, hy is nie soos enigiemand wat ek al ontmoet het nie. Ja, hy staan baie ver van my beskermde wit middelklaslewetjie af. Maar Eben Venter maak hom absoluut lewend deur sy taal en deur wat hy doen én nie doen nie. ‘n Mens leer vir Lucky verstaan, jy ontwikkel empatie met hom, jy voel vir hom.
Ek dink dis een van ‘n skrywer se heel grootste uitdagings: Om binne-in ‘n karakter wat ligjare van jouself verwyder is, te klim en hom ‘n eie stem te gee. En dis wat Venter hier reggekry het.
Ek gaan hiermee volstaan. (Vir ‘n indringende resensie, kyk gerus by die skakel hieronder. Vir ‘n lekker onderhoud waarin Venter heelwat verklaar oor die boek, kyk by die ander skakel.) As jy kru taal (absoluut funksioneel in die boek volgens my mening) kan hanteer en jou nie doodskrik vir enigiets seksueel (altyd in baie goeie smaak aangebied in die boek volgens my mening) nie, sal jy Lucky se storie geniet. En o ja, dit gaan ook effens sukkel as die leser ‘n geswore rassis is …
Lees gerus hierdie resensie op Litnet ook – kennelik deur ‘n kenner geskryf: http://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=1270&news_id=78372&cat_id=558
En hierdie onderhoud: http://www.litnet.co.za/cgi-bin/giga.cgi?cmd=cause_dir_news_item&cause_id=1270&news_id=85113&cat_id=178