Nagmusiek het in rooirose van Augustus 2005 verskyn en het uit ‘n spesifieke naweek aan die Weskus gespruit. Dit het ook later in ‘n bundel kortverhale verskyn.
Die Swartland se bulte dein om my in ‘n duisend skakerings van bruin. Tussen die laaste yl stoppels van die somer dans hittegolwe en stofduiwels en my eie ellende.
”Jy moet besluit , Engela!” het Tom vanmôre woedend uitgeroep, “My geduld is op!” Op sy beste nie ‘n geduldige man nie, het hy vanoggend die einde van sy alte kort lont bereik.
Engela. Ek is nie meer Tom se Engeltjie nie.
Ek swaai my plat, rooi karretjie se neus impulsief van die teerpad af na ‘n Weskusdorpie met ‘n poëtiese naam. My rug is lam en my kop is seer; ek gaan nie my tuisdorp vanaand haal nie, te veel getalm en gemopper langs die pad. Gelukkig het ek niks laat weet nie; my mense leef nog niksvermoedend hulle rustige lewe in hulle rustige klein wêreldjie van kleindorpse lief en leed. Van Engeltjie se dubbele lewe weet hulle niks.
Amper-amper laai die sinkplaatpad my net daar af met (duur) plat, rooi karretjie en al. Nie ‘n goeie plek vir ‘n ongeluk nie; hier’s nie eens ’n selfoonsein nie. Ek is ‘n meisie wat my lewe beplan; daar is nie ruimte vir onbeplande ongelukkies van enige aard nie.
Soos die onbeplande ongelukkie wat onkeerbaar onder my hart groei.
Die vissersdorpie kronkel lui-lui kuslangs. Ek ry deur ‘n ou buurt uit ‘n vergange tyd van welvaart; die huisies nou afgeskilfer en moeg geleef, tot barstens toe gevul met lief en leed en armoede. Ek sien vroue besig met die laaste takies van die dag, en verwaaide tuintjies wat dapper beur teen die seewind. Oral is kinders, kinders; dit voel of die kinders my van alle kante beleër.
‘n Tweespoorpaadjie bring my op die smal rotsbestrooide strand. Verlate visfabrieke staar stom uit oor die baai, skouer aan skouer met beskeie vakansiehuisies uit ‘n vroeër tyd. Agter my teen die hange flits die namiddagson in die vensters van die rykes se wit paleise.
Ek skop my skoene uit en steek my voete in die ysige water. Skaars ‘n klipgooi voor my woel die donker water, word rustig, draai en kolk dan weer. Ek sak neer op ‘n rots en staar tot ek eindelik die eerste rug sien boogmaak, dan nog een en nog een. Verwonderd sit ek en kyk hoe die skool dolfyne voor my speel, ‘n kosbare geskenk spesiaal net vir my. ‘n Swaar, dowwe weemoed kom lê in my lyf terwyl dit stadig aand word rondom my en die magtige oseaan rustig klots om my verkluimde voete.
Die dowwe pyn in my laerug bly halsstarrig klou. Die eerste liggies begin al knipoog teen die rant toe ek my stram lyf optel van die klip af. Om hier soos ‘n verdwaalde Lorelei rond te sit, sal aan my saligheid niks maak nie. Geen slagoffer in sig om die dieptes in te lok nie; geen held op ‘n wit perd kom strandlangs aan nie. Net ek, en ek het nie raad vir myself nie.
By ‘n lang sandstrand hou ek weer stil. Hierdie gewroeg gaan my nêrens bring nie; ek gooi my lyf teen die wind terwyl swerms seesterretjies en meeue geruisloos oplig soos ek aankom, dan rustig weer agter my afsak. Soos die getye styg en sak hulle, styg en sak, vasgevang in die ewige ritme van die oseaan.
Ek kry nie weggeloop vir my smarte nie – die wind kom waai weke se trane los. Ek huil lustig teen die wind in; jare se vrese en verliese en verlangens het my eindelik ingehaal. My hare waai in slierte deur my mond; ek proe die sout van see en trane op my lippe. Ek moet ‘n aardige gesig wees om te aanskou, maar dit traak my ook nie meer nie. Gelukkig is hier geen ander siel in die omtrek nie; dié tyd van die dag trek die wêreld se gelukkiges laer in hul vertroude, warm kring, met koffie of ‘n drankie met geliefdes, en rustige gesels oor die dag se wel en wee; hulle dwaal nie in stormwind op verlate strande rond nie.
‘n SMS dring skril en ongevraag tot in my stilte: Tom, my baas en ook my minnaar. Het nie eens besef hier is weer ontvangs nie. Ek vee die boodskap summier af, en sit die selfoon af.
My hart en my lyf roep na hom. Maar ek kan nie teruggaan voor ek weet wat om te doen nie; ek is by omdraai verby.
Die aand het stil-stil oor die strand geskuif. Ek is alleen en skielik doodbang, en ek het nie slaapplek vir die nag nie.
Toe ek senuweeagtig omdraai, vang my oog die restaurant vlak bokant die hoogwatermerk. ‘n Onopsigtelike gebou wat lyk of hy vanself tussen die verwaaide bossies kon opgestaan het. Ek sien sagte lig en vae mensfigure wat rustig rondbeweeg. Voor die gebou speel ‘n man in die skemer met ‘n hond en ‘n bal in die wind. Hy is kaalvoet en sy krulhare staan verwaaid om sy kop.
Toe ek verbyloop kyk hy vir ‘n oomblik op in my gesig. Hy het regte Liewe Jesus-oë. Sag en sonder verwyt. Ek dink liewer nie hoe ek vir hóm moet lyk nie.
Ek gaan sit op die stoep, bestel die broodmandjie en ‘n glas wyn. Om my stry gesinne goedig oor hul keuse op die spyskaart; ‘n groepie buitelanders neem laggend foto’s op die trappies. Ek wil verdrink in my alleenheid.
‘n Lamheid het in my lyf kom lê; te veel gespanne ure bestuur vandag. Ek is brandend lus vir ‘n sigaret, maar die nie-rook-nie tekens gluur my van elke muur af aan. Geen genade vir ‘n arme sondaar nie.
Sondaar, inderdaad.
Die man met die hond kom rustig aangestap, gemaklik soos een wat elke dag kaalvoet loop in die sand. Hy glimlag en knik vir my toe hy die stoeptrappies opkom. Ek is sekerlik nie ‘n gesig om gou te vergeet nie; poffer-oë en verwaaide boskaas.
Impulsief vra ek: “Weet jy dalk waar ek slaapplek kan kry?”
“Jy kan by my kom slaap.”
Ek word altyd katterig as ek verleë is: “Dis die swakste pick-up line wat ek nog ooit gehoor het.” Ek voel hoe word dit warm in my nek; staan slet dan op my voorkop geskryf?
Hy glimlag onverstoord: “Kalmeer, ek huur kamers in my huis uit.”
Ek het nie juis ‘n keuse nie. As hy ‘n maniak is wat my vannag wil vermoor, is dit maar tot daarnatoe. Ek ignoreer hom verder, eet my brood en drink my wyn; kompleet ‘n kwaai tiener met stilstuipe as die grootmense nie verstaan nie.
Hy bly in ‘n pretensielose wit huisie, duidelik ‘n ou plekkie wat liefdevol herstel is. Daar is ‘n koperkatel met ‘n gehekelde bedsprei, ‘n skulpgordyn wat ritsel in die wind en ‘n veranda met holgesitte rottangstoele.
Daar is geen ander gaste nie, ook nie ‘n mevrou nie. Ek het tog net nie krag vir ‘n opdringerige mansmens nie. My veggees is verlore; ek het net ‘n paar verroeste karateskoppe om op terug te val.
“Maak jou tuis,” sê my gasheer, “Ek moet eers weer teruggaan restaurant toe.” Ek blaas my asem saggies uit. My paar armsalige skoppe kan maar in hul lêplek bly.
Dalk bêre hy my vir vanaand. Of dalk is ek te lelik vir hom.
Ek besef nou eers hy’s die baas van die plek op die strand. Seker ‘n verloopte jappie uit Gauteng.
Wat maak dit mý? ‘n Verloopte jappie uit die Kaap?
Ek laat sak my moeë lyf in ‘n diep bad met baie borrels. Ek kyk af op die borste wat sigbaar voller is, die plat bruin magie en uitstaan heupbene. Tom hou van my maer, en bruingebrand. Ek hou van hóm nes hy is: aantreklik, dinamies en volkome egosentries. Ek het met vuur gespeel, en my vingers verbrand; wet van die natuur.
Verbeel ek my of maak my lyf al klaar ‘n ronding? My hande vou vanself beskermend oor my buik.
In my leef ‘n nuwe wese. Onverwags, ongevraagd, maar onmiskenbaar léwe. Ek kán dit nie vermoor nie. Altyd ‘n klein hartjie gehad; lewe is lewe, of dit nou ‘n kuiken of ‘n kind is. En hierdie is ‘n kind, mý kind.
Tom dink rasioneel, met sy kop. Hy dring aan op ‘n aborsie. Ek dink met my hart en my hormone. Ek kán nie.
Die pad vorentoe gaan ‘n alleenpad wees.
Ek kan nie verder dink nie. Ek sluk ‘n paar pynpille en kruip in die bed. Ek trek die spierwit beddegoed koulik op tot oor my ore. Ignoreer die probleem, dalk gaan hy weg. Dis my laaste wrang gedagte voor die slaap my kom vat.
Diep in die nag begin die musiek. Iemand speel klavier, dofweg agter toe deure. Ek luister in die donker. Words van die Bee Gees. Beautiful in Beaufort-Wes. As almal ver is. Weemoedig genoeg om jou hart te breek.
Ek gooi ‘n baadjie oor my skouers en sluip by die figuur in die voorkamer verby, buitentoe, stoep toe. Die hond se stert klop-klop in herkenning op die plankvloer. Ek krul my op in die een ingeleefde rottangstoel, steek ‘n sigaret aan. Die musiek vloei saggies by die oop deur uit, die paar trappies af, die silwer nag in. Die see haal diep en rustig asem.
Ek wip toe hy in die ander stoel neersak. “Hoekom is jy so hartseer?”
Vaderland, wat ís die man? ‘n Profeet? Lyk bepaald soos een: sagte oë, yl baard, langerige krulhare, de lot. Ek voel skuldig en sondig. En baie alleen.
Dis maklik in die donker: “Ek is swanger. Onbepland en ongevraag.” Ek vergeet natuurlik die son kom elke môre onverbiddelik weer op.
Hy sit vinnig regop. “Dan moet jy onmiddellik die sigarette los. Alkohol ook, terwille van jou kind.” Nou nie juis die reaksie wat ek verwag het nie.
“Tom wil hê ek moet ‘n aborsie laat doen.”
“Watse soort man is hy wat dit van jou verwag?”
“Hy is onder andere ‘n getroude man.” Ek suig skuldig aan my sigaret, blaas kringetjies voor my uit. By Tom geleer, soos baie ander dinge. Soos valsheid en bedrog. Ek is goed grootgemaak, maar die smalle weg het my ontwyk.
Die hond sug by ons voete. Die halwe maan skuif stadig oor die see. Ek ril in my yl nagrok.
“Vir my is alle lewe heilig.” Hy verwyt nie, hy sê net.
“Ek sal die kind alleen moet grootmaak. Tom sal nie skei nie, dit weet ek lankal.” Môre vat ek my kar en ry, en sien hierdie man nooit weer nie.
“Duisende kinders word by enkelouers groot en kom heelhuids anderkant uit.” Hy kan maklik praat, wat weet hy miskien?
Hy kan nog gedagtes lees ook: “Ek was so ‘n kind, ingeval jy wonder.”
Ek het nie krag vir redenasies nie. Ek strek my bene, trek die baadjie stywer om my skouers. “Verskoon my asseblief, ek wil gaan slaap.”
Hy staan dadelik op, laat my voor hom ingaan, sluit die deur agter ons.
“Slaap gerus lekker laat, Sophie sal sorg vir ontbyt wanneer jy wakker is.”
Die dagbreek skuil nog agter die gordyne toe ek wakker raak. Ek weet onmiddellik daar is fout. Groot fout. Die dowwe pyn in my rug is nou ‘n mes wat deur my sny. Ek lig die kombers bewend op.
My probleem is besig om weg te gaan. En ek is nie bly nie.
Ek weet nie eens wat is die man se naam nie, en nou moet ek met só ‘n ding na hom toe.
Ek strompel badkamer toe, gryp ‘n handdoek en vou dit om my lyf. Ek maak dit tot in die voorkamer, langs die stil klavier. Die huis swyg om my; hy is nie hier nie. Dis te vroeg vir Sophie.
Dankie Here: voetstappe op die stoep. Hy het gaan draf, sy t-hemp is natgesweet, die weerbarstige hare gepleister teen sy kop.
Hy gee my een kyk en gryp na die telefoon.
Teen latenstyd is ons terug van die hospitaal op die naaste groterige dorp. Minus my probleem. Net, ek is nie bly nie; my lyf is leeg en my hart is stukkend.
Die nagmerriedag het vervaag in newels van hartseer en pyn. Maar snaaks, die suster aan diens se beeld bly lê iewers vlak agter my oë. My gasheer ken haar blykbaar goed. Sy’t dit probeer wegsteek, maar sy was duidelik bly om hom te sien. Ek wonder of daar iets tussen hulle is; hy was gewoon vriendelik, duidelik nie verlief nie. Haar houding teenoor my was professioneel, maar koud. Ek kon doen met ‘n bietjie warmte; ek voel verlate tot in my diepste gebeente.
Die bed is silwerskoon oorgetrek. Sophie het ‘n sagte gesig en wyse oë. Hulle sê mos jou gesigsuitdrukking weerspieël jou verlede; ‘n sagte gesig wys jy was goed vir baie mense. Sy bring soet tee en beskuit en kloek om my. Ek suig die sorg in soos ‘n spons.
In die nag hoor ek hom speel. Eine kleine nachtmusik. Maanligsonate. Die Forelle van Schubert. Ek sluimer weer in, vreemd getroos.
Dis helder dag toe ek wakker word van stemme êrens in die huis. Daar’s ‘n vrouestem, nee twee. Dan het hy tóg ‘n vrou? En sy het ‘n maatjie saamgebring? Ek wens ek kan verdamp.
Dit word my nie gegun nie: “O, jy is wakker. Hier is iemand wat jou dringend wil sien.” Sy naam is toe Marcus. Ek het gister veel meer as net sy naam leer ken. Hy was gister vir my, ‘n totale vreemdeling, ‘n rots om aan vas te hou. Dis ‘n gelukkige vrou wat hom kan vastrek.
Ek trek die komberse angstig tot onder my ken: “Niemand weet ek is hier nie.”
Verrassing, verrassing: “Ongelukkig wel.” Sy oë kyk sag en diep, sonder oordeel of verwyt.
Ek pluk nog vervaard die borsel deur my bos hare, toe staan sy in die deur. Nie so perfek versorg soos altyd nie, die spore van min slaap en trane sigbaar op haar mooi gesig. Mona. Tom se Mona.
In die deur agter haar huiwer die verpleegkundige van gister. Kennelik haar bloedsuster, dit kan ek nou dadelik sien. Maar hóé? Is die mense hierrond heldersiende?
Ek staar haar onnosel aan; ek het niks te sê nie.
Mona wuif die ander vrou weg, maak die deur tussen hulle toe. Sy krap nie my oë uit nie; sy vat my hand, en lyk waaragtig besorg: “Hoe voel jy, Engela?”
Sy kon my liewer geklap het, dis immers wat ek verdien. Teen goedheid het ek geen verweer nie. Sonder die gewone grimering is haar gesig ook sag – ‘n goeie vrou. Met wie se man ek al jare lank ‘n verhouding het.
Sy gaan sit op die punt van die bed. “Miskien het Tom jou vertel, ek het verskeie miskrame gehad. Ek weet hoe dit voel.”
Hy het my nie vertel nie. Maar wel dat sy hom nie verstaan nie. Ek begin vermoed hy het gelieg.
Sy praat rustig: “Ek weet al lank van jou en Tom. En my suster is my enigste vertroueling. Jy kan tog seker verstaan dat ‘n mens so-iets nie maklik alleen kan hanteer nie.”
Ek knik sprakeloos. Ek het nie ‘n enkele vertroueling nie. Die angs en ekstase was dikwels te veel om alleen te verdra.
‘n Sagte gelatenheid lê oor haar gesig. “Sy het jou onmiddellik herken aan my beskrywings, natuurlik jou adres ook op die vorms gesien. Daarby het sy ‘n voortslepende, eensydige verhouding met Marcus, wat maar nie rigting wil kry nie. Jy kan dus verstaan dat sy my gebel het.” Dan het ek my gister nie verbeel nie, daar ís iets tussen hulle. Van háár kant af. ‘n Klein stukkie vreugde roer in my.
Haar gemanikuurde hand volg die patroon van die deken. “Ek was destyds te lafhartig om Tom te konfronteer; ek het nie kans gesien om hom te verloor nie.”
Hoe kan een man van vlees en bloed soveel mag oor twee intelligente vroue hê?
Ek wurg die bitter woorde uit: “Tom sal jou nooit los nie, hy hou van sy lewe soos dit is.”
Sy knik: “Ons was albei ewe dwaas.”
Ek skuif op teen die kussings: “Ek kan nooit weer teruggaan na hom toe nie.”
Haar hande word stil. “Hoekom?”
“Hy was bereid om sy eie kind te laat vermoor. Ek sal dit nooit kan vergeet nie.” Dis vir myself ook nuus, maar dis waar.
Dis ‘n verligting om met iemand te praat hieroor, al is dit dan nou sy vrou: “Hy was baie ontsteld toe ek swanger word, my van nalatigheid beskuldig. Aangedring op ‘n aborsie. Dis seker die logiese ding, maar ek kón net nie.”
My trane loop alweer: “Ek is gisteroggend na ‘n liederlike rusie by die kantoor weg, sommer gery, geweet ek moet besluit, en gou ook. En te onnosel gewees om te besef die knaende rugpyn is die besluit wat alreeds vír my geneem is.”
Sophie kom ongenooid in met ‘n skinkbord. Duidelik deur Marcus gestuur as weerligafleier. Maar hier is geen weerlig nie, net twee onnosel, hartseer vroue.
Mona skink die tee met fyn bewegings: “Ek het nog nie finaal besluit nie, maar ek sal Tom waarskynlik binnekort verlaat. Sy reaksie toe ek hom gisteraand konfronteer, was vir my eenvoudig onaanvaarbaar, die spreekwoordelike laaste strooi.” Sy sê die woorde soos ‘n resitasie op, sekerlik die heelnag geoefen daaraan.
“Was hy bly ek het die baba verloor?”
“Nie regtig bly nie, maar verlig. En toe kom dit uit hy weet lankal dat ek weet van jou. Dít kan ek nie verskoon nie.”
Sy staan op: “Engela, ek sal sorg dat jy ‘n maand verlof kry. Rus uit, herstel eers heeltemal voor jy enige besluite neem.”
My besluit is klaar geneem, ek sal hom vandag nog bel. Ek dink skuldig aan die dooie selfoon onder in my handsak. Hy was seker mal van bekommernis, of dalk net van sy gewete?
Ek kyk deur die venster hoe die twee vrouens motor toe loop in die verblindende son. Dis Mona wat haar suster ondersteun, nie andersom nie. Ek wonder wat is in die voorkamer gesê; net die klavier sal weet. Nog ‘n vrou met ‘n verpletterde droom. Ek voel empatie met haar, nie woede nie.
Die musiek begin kort daarna. Harde, opstandige klanke. Hy het waarlik iets vir elke geleentheid. ‘n Wonderlike manier om jou duiwels te besweer, lyk dit vir my. Ek het nie so-iets nie, ek rook net al meer en ry al vinniger as die lewe my druk. En hier lê ek, magteloos en moeg, ontdaan van albei, terwyl my duiwels oor my dans.
Sophie kom haal die skinkbord, skud haar kop meewarig in die rigting van die voorkamer. “So speel hy maar altoos as die verlangste hom oor raak, ek het dit al gewoond geraak. In die nagte glo ook, as hy nie kan slaap nie.”
“Waarna verlang hy dan so, Sophie?”
“Vrou en kind, mos gevermoor in Johannesburg, ‘n hijacking gewees. Hy was ‘n ryk man daar bo, stringe eetplekke gehad. Als verkoop en die pad gevat, later van tyd hier uitgeslaan en nesgeskop.”
Man van smarte, laat dink my aan die Man van Nasaret. Nie iemand wat veroordeel nie.
Ek bly ‘n paar dae; rus en lees en luister snags na die musiek. Ek sien min van Marcus, maar ek wéét van hom. Hy is dáár, soos die rustelose oseaan en die wye blou lug.
Toe ek oplaas moet groet, vat hy my hande vas in sy lang klaviervingers: “Engela, sien ek jou weer?” Engeltjie het verby gegaan; ‘n nuwe lewe wink vir my.
Ek kyk af na sy sonbruin hande, en op in sy sagte oë: “Wíl jy?” Ek flankeer nie, ek vra net.
“Baie graag.”
Ek knik: “Dan sál jy.”
Ek hoor die begin van sagte musiek diep onder in my hart.