Die fluitjieblaser

Die dreun van die see het in my harsings kom sit; na ‘n week in die son en wind is daar nie meer veel plek vir nare gedagtes nie.  Maande lank stook ek nou al my kop met gif uit my verbitterde hart.  Maar die klont in my binneste is besig om stadig maar seker te smelt soos die taai van die draairoomys wat oor my ken en hande drup.

Ver onder my haal die see diep en rustig asem.  Ek kyk af op die baai, die riviermonding, enkele ver figure op die strand.  Ek roer my tone in die son en glimlag by myself.  Veertien Februarie het gekom en weer gegaan, soos herdenkings se manier maar is.  En ek is nog hier op moeder aarde, in een stuk en weer lus vir die lewe; voorwaar geen geringe prestasie nie.

Hierdie pelgrimstog was toe nie so katastrofies soos al wat leef en asemhaal voorspel het nie; dit was die beste present wat ek myself kón gee.

Op ‘n manier móés ek sluiting kry; dit het stadigaan tot my deurgedring dat ek nie die res van my dae kan omtreur oor die nare streep wat die noodlot my getrek het nie.  Of ek kán natuurlik, maar wat sal dit nou eintlik vir enigiemand beteken?

Dit was in elk geval nie die noodlot óf die Voorsienigheid nie; dit was my eie naïewe onnoselheid.

Alles was perfek,  té perfek om waar te wees.  Dit kan ek nou, agterna, duidelik sien:  beeld van ‘n man met die mooiste maniere, blitsige storieboekromanse, romantiese Valentynstroue in wit en rooi, wittebrood bespreek op ‘n afgeleë strandplekkie.

‘n Sprokie, ‘n ware sprokie, en toe gaan staan en vra die predikant dáárdie vraag.  Niks onredeliks nie, bloot die roetinevraag of iemand van enige beletsel weet op die huwelik van Rosa Maria van Jaarsveld en  William John Smith.  En daar staan my niggie Santie se onbekende metgesel op en vermorsel my toekoms onder sy netjies geskoeide hakskeen:  “Ja!”

Ek kan jou wrintiewaar al die toneeltjie herleef sonder om aan die tjank te gaan. Die seer van die herinnering het dowwer geword; die tyd skuur waarlik die skerpste rande van hierdie pyn ook af.

Ek verskuif my sitvlak op die harde sementbankie, sak dan loom agteroor tot op die naat van my rug, kantel my biblioteekboek oor my gesig.  Die stilte en die son vou soos genade om my lyf.  Ek skuif my lapsak onder my kop in, balanseer een been oor die opgetrekte knie van die ander.

Die klein plesiertjies van die lewe is besig om na my terug te keer.  Ouma was reg, destyds met my hart se eerste breek op twaalf, dertien:  ‘n mens gaan nie so maklik dood nie.  Nie van hartseer óf vernedering óf teleurstelling nie, selfs nie eens van eensaamheid nie.

Teen wil en dank hou jy aan met asemhaal, bly selfs op jou voete; nie eens die genade van ‘n dramatiese floute was my beskore nie.  Ek onthou die diep brom van ‘n kransduif in die verskriklike stilte, selfs die kirts van die toonnaeltjies op die sinkdak van die mooi ou kerkie in die hartjie van die Kaapse wynland.  Ek het omgedraai na my bruidegom, en voor dominee Nel nog sy asem teruggehad het, het ek geweet dit is waar:  daar ís ‘n beletsel.  Want die vaste pilaar aan my sy het opeens verander in ‘n sidderende riet in ‘n stormwind: my bruidegom was wasbleek, met sweetdruppeltjies op die voorkop; sy oë het op die wynrooi tapyt geboer, kon nie opkyk na my toe nie.

Agter my bank in die son knars die wiele van ‘n voertuig op die gruis van die parkeerplek. Ek wil-wil outomaties opspring; dis selfsugtig om die enkele bank so vir myself te vat.  Maar ek sak weer terug in my ongemaklike maar lekker posisie, maak seker een voet met parmantige rooi toonnaels en al steek uit soos ‘n vlag wat sê:  Ek was eerste hier.  Ek het lanklaas selfsugtig ‘n plesiertjie net vir myself toegeëien.

Die enjin luier ‘n paar oomblikke, dan vertrek die geluid weer soos hy gekom het.  Goed so.  Ek steek my arm lui-lui uit na my waterbottel, laat sak hom dan weer in die koeltetjie van die bank se skadu.

Ek onthou nie hoe ons in die konsistorie gekom het nie; my kop het daardie vlug uit die stampvol kerkie eenvoudig uitgesny.  My raakvat suster het ‘n dik wit koppie met water wat sy blitsvinning van êrens gekry het, teen my rukkende lippe gedruk.  Die byderwetse ruikertjie van vurige rooi roosknoppe en reinwit gipskruid het verskrik gebibber op my skoot; my ouboet se arm was om my, my ma se hande rondom myne.

Uit die beskermende sirkel van my familie het ek oor ‘n gapende afgrond na my bruidegom gestaar.  Tussen die dreigende donkergeklede figure van die dominee en my pa het hy  skielik weerloos gelyk.  En ‘n bietjie pateties.  Hulle oë het heen en weer geflits tussen hom en die vreemdeling, wat ewe kalm sy saak gestel het.  Hier en daar het ‘n woord in my verstand vasgeslaan; verskriklike woorde soos gesin en vrou en bedrog.

Ek wens ek kon sê ek het die hele spektakel met waardigheid en finesse hanteer en mettertyd agter my gesit.  Helaas, nee.  Nevermaaind waardigheid en finesse – ek het dit hoegenaamd nie hanteer nie.  Nee, my familie het die hanteerwerk gedoen terwyl ek soos ‘n gebroke heldin uit ‘n outydse roman in my donker kamer gelê het, kompleet met klam lappie op die voorhoof en al.

Toe William jou waarlik na ‘n dag of twee opdaag om kastig te kom verduidelik, het ek melodramaties geweier om hom te sien.  Die beeld van ‘n hand – mý hand – met lang rooi naels wat strepe trek oor William Smith se mooi gesig, het hardnekkig in my kop kom vassteek.  My ma-hulle was al deur genoeg ontberings; ek wou nie nog ‘n klag van aanranding ook tot hul smarte toevoeg nie.

Ek het in die kamer bly sit en passief geluister na die styg en daal van William en my pa se beskaafde stemme, die minder beskaafde klim van my ouboet s’n toe hy daar aankom, en die dowwe slag toe hy William aan sy broek se bas uitsmyt tot teen die plat sportmotortjie langs die sypaadjie.

Ja, my gesin is nie mense wat die lewe lê-lê vat nie.  En van saamstaan kan jy hulle niks vertel nie.  My mense het die dorp se nuuskierige simpatiebetoners vasberade van my weggekeer; my ma het al die skielike teedrinkers droëbek laat omdraai; my vurige ouboet het die mooi gesiggie van die plaaslike koerant se verslaggewertjie vir hom netjies geherranskik.  (Sy woorde, nie myne nie.)

Mettertyd het my trane opgedroog; g’n mens kan tog vir ewig huil nie.  Toe, soos die Bolandse winterreën na die lang somerdroogte, het die woede gekom.  Die woede het my die krag gegee om my gesig te was en te voorskyn te kom en die lewe weer by die horings te pak.

My woede was nie teen William gerig nie.  Onverklaarbaar en onredelik was my wrewel sekuur gemik op die skraal donkerkopman wat die moed gehad het om voor ‘n hele skare vreemdelinge op te staan en ‘n bedrieër te ontmasker; die whistleblower.  Dit was nou sý gesig waaroor ek bloedstrepe wou trek, sý kalmte wat ek wou vernietig.

En ek het my kans gekry.  Op ‘n goeie dag het hy by my ouerhuis aangesit gekom:  Rudolph Grobbelaar.  Van die Swartland se Grobbelaars, het hy vir my pa beduie, asof enige mens daardie bry kon mis.  Hy het gekom met blomme en bedaarde verduidelikings en in die voorkamer met my ouers sit en koffie drink soos familie.

My gesin het hom as die held gesien, ‘n dapper persoon wat nie skroom om ongerymdhede aan die kaak te stel nie.  Soos ‘n werknemer wat korrupsie in die werkplek blootstel: die fluitjieblaser.  Vir my was hy die ongevoelige buffel wat ongevraag ‘n ander se geluk kon vernietig en dan ‘n dankie daarvoor verwag.  Ek het dit – en heelwat meer – vir hom gesê en sy blomme voor sy voete neergesmyt.  Te midde van my ma se vloedgolf verskonings het ek uit die vertrek en uit sy lewe gestap.

Alleen tuis het ek die volgende dag die vrykamer betree.  Ek het lank gestaar na die bed toegepak met troupresente.  Toe het ek die hele spul agterstoep toe gedra en alles wat enigsins breekbaar was, sistematies op die sementtrappies verwoes.

Ek het nie met ou tannie Ellis van langsaan se alsiende oë en selektiewe doofheid rekening gehou nie.  Toe ek weer sien, staan ons huisdokter langs my, kompleet met kalmerende inspuiting in die hand, my arme ma handewringend agter hom.  Maar ek het nie ‘n inspuiting van enige aard nodig gehad nie; die woede was genoeg.

Ek het daar omgedraai, ‘n besem en skoppie gaan haal, die skerwe van my lewe opgevee en weggesmyt en daarvandaan voortgegaan asof William Smith met sy babablou kykers en verraderlike siel nooit ‘n ring aan my vinger gesteek het nie.  (Die ring het ek verkoop en die geld vir die plaaslike kinderhuis gegee.  Ek het gedink dis baie oorspronklik; die dorpsmense het gedink ek is my laaste varkie kwyt.)

Ek het die drade van die lewe-voor-Wiliam sorgvuldig opgetel en wonder bo wonder reggekry om oënskynlik normaal te funksioneer.  Nie eens my dierbare huismense het geweet van die bitterheid en die verskriklike eensaamheid nie.

Ja, ek weet dis die een-en-twintigste eeu en meisies wag nie meer vir ‘n prins op ‘n wit perd om die poorte na die lewe vir hulle oop te maak nie.  Nee, hulle vat die lewe aan die kraag en léwe hom.

Maar ons soek nog steeds ‘n maat; ‘n sielemaat, lyfmaat, hartsmaat.

“ROSEMARY? SLAAP JY?”

My hart gaan staan botstil in my borskas.  Toe vlieg ek orent dat leesboek, selfoon en waterbottel in alle rigtings spat.  Daardie stem sal ek tot in my grysheid onthou – ‘n rustige stem, met die Swartlandse bry wat my arme naam omtrent onherkenbaar opfoeter.

Rudolph Grobbelaar staan agter my bank in die son, ‘n besorgde uitdrukking op sy ernstige gesig.  Maar in sy hand hou hy ‘n spierwit sakdoek as vredesvlag uit, en in sy donker oë dans fyn lagliggies.

Ek gryp my goed oorhaastig bymekaar, draai om en struikel vervaard teen die skuinste af, my enigste gedagte om net weg te kom.  Hy val eenvoudig agter my in; hierdie keer gaan ek hom nie afgeskud kry nie.  Teen die tyd dat ons die afdraaipaadjie strand toe bereik, het ‘n klein bietjie redelikheid darem al in my harspan ontwaak.  Ek vat die pad strand toe, af met die trappies na die boog van die baai.

Ek sal die man in die gesig móét kyk.  Dis my enigste kans om hierdie ding vir eens en vir altyd agter my te sit.

Dis die goue uur net voor die son sak; ons is alleen op die strand.  Die vakansie is iets van die verlede; in Februarie is die mensdom terug agter hul lessenaars, in hul klaskamers, veekrale of konferensiesale.  Dis net verwarde siele soos ek wat op stil stranddorpies ronddwaal in ‘n poging om die verlede te begrawe.

Hy trap versigtig om nie die borende slakkies op die sand te versteur nie; ‘n man wat omgee vir die wonder van die lewe.  Net jammer sy konsiderasie het nie tot by my gestrek nie.

“Rosemary, dis tyd dat ons praat.  Jy kan nie vir ewig vir my weghol nie.”  Die ondergaande son versag die lyne van sy gesig, lig die goud uit sy verwaaide hare.  Hy’s nie so jonk soos ek aanvanklik gedink het nie; het al ‘n entjie gekom met die lewenspad langs.

“Ek weet.”  ‘n Volle jaar lank verpes hierdie man my met blomme, e-posse en oproepe, en ignoreer ek hom vasberade.  En ons almal weet hoe harder jy iets probeer ignoreer, hoe meer dink jy daaraan.

“Ek het in Londen saam met William  gewerk.”

“So het jy gesê, ja.”

“Ek het ook sy gesin ontmoet.”

“Hoe lyk sy?”

“Wie?” Dis ‘n vraag wat my al die ganse jaar jaag:  Hoe lyk sy?  Blond?  Beeldskoon? Doodgewoon?

“Sy vrou natuurlik, wie dink jy, sy oumagrootjie?”

Hy steek vererg vas.  “Dis nie nodig om onbeskof te wees nie, Rosemary.”

Ek hou aan met stap.  “Gee my een goeie rede hoekom ek met jou ordentlik moet wees!” roep ek oor my skouer in die wind.

Hy val weer langs my in; sy voete is sonbruin, die kuite gespierd met welige donker hare.  “Ek het jou van ‘n hengse gemors gered, dink jy nie dis ‘n goeie rede vir ordentlikheid nie?”  Hy sê nie hengse nie.

Blerrie harige buffel, kan hy nie net ophou karring nie?  “Nee, jy het my in ‘n hengse gemors gedompel, en as jy dink ek moet die res van my lewe dankbaar wees, maak jy ‘n fout.”  Ek sê ook nie hengse nie.

“My liewe mens, dink jy regtig die waarheid sou nie een of ander tyd uitgekom het nie?  Dalk oor tien jaar, as jy met ‘n kroos en ‘n kat en ‘n huis in die suburbs sit; besef jy nie dit sou dan honderd keer erger gewees het nie?”

Natuurlik besef ek dit.  Maar hy was so ‘n handige sondebok; dit was soveel makliker om hom te blameer as om die waarheid in sy aaklige gesig te kyk.

“Terloops, sy is pragtig, en effens neuroties, vir William teen die mure uitgedryf met haar besitlikheid.  En sy’t duur en eksklusiewe smaak, kom uit ‘n gesiene familie; die arme ou het swaargekry om by te hou.”

“En die seuns?”

“Doodgewone woelige seuntjies, met ‘n groot bewondering vir hulle pa.  Hulle was platgeslaan toe hy verdwyn het.”

“Verdwyn?”

“Op ‘n dag bloot by sy huis uitgestap werk toe en soos ‘n groot speld weggeraak. Daar was sprake van bedrog en ondersoeke, maar niks het daarvan gekom nie.  Ek het geen idee gehad waar hy hom bevind nie, het ook nie soveel daaroor gedink nie, ons was blote kollegas.  Dit was ‘n jaar of wat gelede, ekself het pas voor jul troue teruggekom Suid-Afrika toe; ek kon daardie grysheid net nie langer uitstaan nie. En Meagan se besitlikheid het my lelik begin onderkry.”

“Meagan?”

“Meagan.  William se vrou.”

Ek skree soos ‘n regte viswyf.  “Jy’t ‘n verhouding met haar gehad?  Jy is siek, man, siek in jou kop!”  Ek kan my ore nie glo nie; dit voel of die man my nog ‘n keer verraai.

“Sy’s bloot ‘n pragtige vrou wat ondersteuning nodig gehad het; van haar familie het sy nie veel behalwe verwyte gekry nie.  Ek het my amper-amper laat vasdraai in ‘n ding waar ek nie wou wees nie.”

“En die oomblik toe jy jou voet in Suid-Afrika sit, spoor jy hom op en kom verongeluk my troue?”

Agter hom het die see ‘n dieper blou aangeneem. “Ek was bloot ‘n kollega van Santie wat haar uitnodiging na ‘n funksie aanvaar het.  Ek het nie eens die bruidspaar se name geweet nie, en hier verskyn William voor die preekstoel, terwyl ek vir ‘n feit weet sy gesin laat soek wêreldwyd na hom.  Wat verwag jy moes ek doen?  Stilbly?”

“Dit sou baie makliker gewees het.”

“Dit sou, ja.  Maar ek was nog nooit ‘n ou vir die maklikste pad nie, eerder vir die regte pad.”

Ek ook.

“Dan moet ek seker maar dankie sê.”  Ek wurg die woorde uit my keelgat.

“Ek soek nie jou dankbaarheid nie.”

“Nou wat soek jy dan?”  Die sagste pienkerigheid het in die wolke kom lê, en in die skuimkoppe van die branders.

Hy hou die wit sakdoek speels tussen ons in die lug.  “Ek soek ‘n kans om jou beter te leer ken, Rosemary.”

“Ek stel nie belang in ‘n verhouding nie.  En sê tog Baby soos almal, jou erre maak my mal.”  Kastig hardekwas, maar eintlik is my fut lankal uit.

“Ek’s bereid om te settle vir vriendskap.  Voorlopig.  En ek hou van jou naam.  Mét die erre.”

Ek glimlag teen wil en dank.  “OK.  Vriendskap.”  Ek aanvaar die vredesvlag plegtig uit die hand van die man wat dapper genoeg was om ‘n vreemdeling van baie pyn te red.  Saam-saam draai ons om na die hotelletjie waar ek ‘n jaar gelede my wittebrood sou gehad het.

Die dag vergaan in ragfyn tinte van pienk en blou.  ‘n Skip skuif geluidloos op die horison verby.  Ek trap versigtig tussen die sleepspoortjies van die sandslakkies deur.

IN DIE SKEMER PORTAAL VOL bokkoppe en kitsch meubels staan William Smith op agter ‘n yslike ruiker in wit en rooi.

“Jou ma het gesê jy is hier.”  Sy pragtige Engelse Engels is nie meer vir my so mooi nie.

My skrik is net ‘n oomblik lank.  My ma het die hele ding gereël; ek lees haar soos ‘n boek.

“Wat soek jy, William?”  Sy ken is swak, sien ek nou, en die blou oë kyk hier en daar en oral.

Sy skitterwit glimlag raak my nie meer nie. “Ek soek vir jóú, Baby.”  Rudolph het weggesmelt in die skadu’s van die groot vertrek.  Ek is op my eie.

Aanval was nog altyd my gunsteling verdediging: “Wat van Meagan?”

“Meagan?”  Hy probeer ooglopend tyd wen.

Genadiglik is die woede eensklaps terug.  “Ja – Meagan!  Jou vrou, jy onthou seker?”  Sarkasme is die laaste stuiptrekking van bobbejanisme.  En dis wat ek was om vir William te val – ‘n bobbejaan.

Rudolph is skielik weer langs my.  “En Billy en Jonathan?”  Nog selde was my moedertaal vir my so mooi.

William is geskok.  “Jý?  Wat soek jy hier, jou ellendige idioot?”  Hy sê idiot, maar nie ellendige nie.

“Ek is saam met Rosemary hier, om Valentynsdag te vier.”  Rudolph se hand sluit vas om my arm.  “Kom, Skat, dis tyd om te gaan aantrek vir die ete.”

Veilig agter my kamerdeur leun ek net ‘n oomblik teen Rudolph se alte beskikbare borskas.  Toe boender ek hom uit:  “Toe, toe, moenie dink jy gaan sommer so hier intrek nie!”

Hy loop lag-lag uit my kamer, maar nie uit my lewe nie.  “Onthou om jou ma te bel, sy is seker gedaan van spanning.”

Ek bel my ma.  Ek sê net twee woorde:  “Dankie, Ma.”

Verhaal na aanleiding van ‘n ware insident waarvan op RSG vertel is.

5 gedagtes oor “Die fluitjieblaser

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s