Agter die storie: Geur van vergifnis

Geur van vergifnisToe ek met Geur van genade begin het, was daar geen sprake van opvolgboeke nie. Deur die lang en pynlike groei van die manuskrip tot ‘n volwaardige liefdesroman het van die newekarakters egter ongemerk na vore gekom as volwaardige karakters wat hul eie stories verdien.

En daar sit ek toe met ‘n halsstarige paartjie wat nooit bedoel was om ‘n paartjie te wees nie. Mariaan en Marius – die een so dwars en koppig en vol foute soos die ander, hoegenaamd geen heldemateriaal nie. En dit terwyl Marius eintlik glad nie meer in die prentjie moes gewees het nie …

In Geur van genade is Mariaan Lana se onwaarskynlike vriendin, die sagte Lana se hardekwas teenpool. ‘n Luide, humeurige vrou wat meer tyd het vir haar tuine en haar katte as vir vroulike fieterjasies. Maar toe begin wys Mariaan so stuk-stuk vir my haar sagte kant. En ek ontdek ‘n warm hart wat onder die blokkieshemde klop. ‘n Dwase hart, hopeloos verknog aan ‘n man wat vir die vroue in sy lewe nog net ongeluk gebring het.

In die beginstadiums van Geur van genade was Marius Jansen ‘n harde man wat oor Lana geloop het, haar met sy sterk wil oorheers het. Ek het so ‘n hekel aan hom gehad dat ek hom summier laat sterf het in een van die vroeë weergawes van die manuskrip. Maar daar vang Chanette Paul, wat die manuskrip help ontwikkel het, my toe netjies uit: “Jy wou van die karakter ontslae raak, Alta,” sê sy. “Die leser gaan dit agterkom. Die leser laat haar nie verneuk nie.”

Probleem: Daar sit ek met ‘n karakter wat ek nie wil hê nie. Maar leef moet die man leef. Goed, hy sal leef, besluit ek – maar lékker leef gaan hy nie. En daar beland die arme man toe in die motorongeluk wat hom verlam agterlaat. Ek verhard my hart – hy bly steeds die buffel in die verhaal. Maar Chanette is nie tevrede nie: Hy is te eensydig geteken. Sy karakter moet uitgebou word tot geloofwaardigheid.  Ek doen dit. Teensinnig, aanvanklik. En toe gebeur die wonder: Marius wórd vir my ‘n volwaardige karakter. ‘n Merkwaardige, talentvolle man wat in sy lewe talle verkeerde keuses gemaak het. En nou is sy lewe tot stilstand geruk deur die ongeluk – en hy kan nie meer wegkom van sy gewete nie.

Marius en Mariaan het ‘n ou bekende waarheid opnuut by my tuisgebring: There’s a little bit of bad in the best of us … And a little bit of good in the rest of us. En natuurlik is daar niks beter as die liefde om daardie stukkie goud in elke mens na vore te bring nie. Toe ek hierdie eenvoudige waarheid in my klapperdop gekry het, was dit net ‘n plesier om hulle verhaal te vertel. Ek hoop dit gaan vir die leser netso ‘n plesier wees om hulle verhaal te lees.

(Geur van vervulling is die derde boek in die Geur-trilogie en het in Nov. 2011 verskyn.)

Heelwat van my boeke is op die oomblik teen baie lekker pryse op Loot beskikbaar: http://www.loot.co.za/search?cat=b&terms=alta+cloete

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s