Ses-en-twintig jaar gelede het ek met my eersgeborene in die stootwaentjie om die blok begin stap – net om uit die huis te kom. Vandag sit hy yslik groot en selfstandig in Noorwee. En sy ma stap steeds.
Daar is eenvoudig nie ‘n praktieser manier van oefen nie. Geen duur uitrusting (wel goeie tekkies!), geen opleiding, jy kan dit alleen doen, jy kan dit in ‘n groep doen. Die enigste nadele is dat dit tyd neem. En dat dit in ons land nie meer oral en altyd veilig is nie.
Hiervoor het wel raad: Eerstens – Doen dit soggens vroeg, voor werk. Dan gebruik jy tyd wat jy in elk geval in die bed sou deurgebring het. En tweedens – Kry ‘n maat. Verkieslik ‘n sterk, manlike maat. Of ‘n hond. Maar nie ‘n hond wat jou rondsleep deur die strate nie, ‘n opgevoede hond wat mooi langs jou stap en aangename geselskap (soms beter as ‘n mens?) is en boonop ‘n beskermer/afskrikmiddel.
Sonder die afgelope kwarteeu se stap sou ek beslis baie dikker, ouer en depressiewer geword het as wat ek met tye wel was! En nee, ek is nie nou (baie) dik, oud of depressief nie!
Dinsdag, 17/08/2010 uit Noorwee:
Op hierdie toggie in die buiteland het ek weer eens agtergekom wat ‘n positiewe effek dit op my het om my een voet herhaaldelik voor die ander te sit … Ja, doodgewone stap.
Dis die goedkoopste manier om enige nuwe plek te verken. Dis die manier waarop jy die naaste aan die mense rondom jou kom. Jy kan die geure en kleure en klanke eerstehands ervaar. Jy kan daarop reageer as jy wil – of jy kan swyg en aanstap en maak of jy niks gewaar nie. (Terwyl jou antennatjies in werklikheid oortyd werk).
Stap maak ongelukkig nie juis maer nie (behalwe as jy dit regtig vreeslik ernstig opneem), maar dit help beslis keer dat die vetjies nie te vinnig aanpak nie. En dit maak ‘n mens definitief fiks genoeg om die lewe te geniet en beweeglik te bly wanneer die jare begin aanstap (no pun intended!). Daai ou storie van die endorfiene is definitief ook waar – die meeste buie verdamp vinnig voor ‘n lekker energieke stapsessie, verkieslik op ‘n mooi plek. Waarvan ons mos in SA genoeg het – net jammer die veiligheid is nie meer daar nie. En dis wat vir my die heerlikste is hier – ek stap op tye en plekke waar ek nooit in SA sou gekom het nie. En nee, nie die rooiligbuurt nie – eenvoudig in stappaadjies in die woude. Daar is vir my min lekkerder dinge.
Ek het hierdie keer nog ‘n lessie bygeleer: Kry vir jou ‘n MP3-speler. Laai musiek daarop wat vir JOU mooi is – en bogger die res! Dit werk veral goed hier waar nie juis ‘n voellewe is om te beluister nie. Dit help vir stadsverkeer ook. Oppas net vir die volume – ons wil nie almal doof-doof in die ouetehuis beland nie!
Intussen: Laat waai!
Alta, ek kan regtig getuig dat jy PRAGTIG lyk vir jou ouderdom. Jy lyk ten minste 10 jaar jonger as wat jy is. Ek glo die stap het beslis iets daarmee te doen. Well done to you – wat al soveel jare dit volgehou het.