Man met ‘n missie is die tweede boek in die Man-trilogie en het in 2009 verskyn:
“Minnie Muis! Wat op aarde het jy met jouself aangevang?”
Mignon het hom die Septembervakansie laas gesien, maar dis op hierdie bloedige Januariedag duidelik Lukas Bezuidenhout Jnr. het nog g’n snars verander nie – hy’s nog steeds ‘n oorweldigende bondel energie; die ene skitterwit tande, blonde kuif en vinnige blou oë. Nog steeds veels te mooi vir ‘n mansmens en daardie broodnodige wag voor sy mond is ook nog nie aangestel nie.
En van takt het hy nog nie veel geleer nie – nie in sy ouerhuis met daardie formidabele ma van hom, of op universiteit waar hy glo al die meisies op hol het, of Down Under waar hy die hele somervakansie by sy getroude suster gekuier en gewerk het nie.
Maar Mignon Grobbelaar is nie meer die verwarde kind wat laas winter nog agter uitdagende uitrustings en ‘n halfton grimering vir die lewe probeer wegkruip het nie. O nee, uit die onlangse Siebert-debakel is ‘n nuwe Mignon gebore. ‘n Mignon wat beheer geneem het oor haar lewe, ‘n Mignon wat voortaan haar eie, reguit pad gaan stap.
Hopelik weet Loekie nog niks van haar stommiteite nie – en dit nog met ‘n stokou man van seker by die veertig!
Sy weerstaan dus die oorweldigende drang om selfbewus oor haar vaalbruin stoppeltjies te vee of haar grimeringlose oë voor syne te laat sak. “Hallo, Loekie,” sê sy kalm en waardig. “Jy moet onthou jou pa dring aan op professionele gedrag by sy spreekkamer. Veral wanneer kliënte teenwoordig is.” Sy bly maar bewus van die feit dat sy pa haar werkgewer is; selfs na twee jaar is sy nog ‘n bietjie lugtig vir die streng dr. Bezuidenhout.
Maar Loekie se twee blou-blou oë bly skerp op haar gefokus. Mignon verbeel haar dis hoe ‘n koei op ‘n veiling seker moet voel, of ‘n gogga onder ‘n vergrootglas. Sy konsentreer op haar asemhaling, laat haar hande kalm op die toetsbord van haar rekenaar lê en kyk haar baas se seun onverskrokke in die oë. Nie dat dit hom enigsins afsit nie; hy kyk sy kyke op sy dooie gemak. En net toe sy dag hy’s klaar gekyk, stap hy doodluiters om die toonbank, trek haar orent voor sy ‘n geluid kan uitkry en raak met ‘n speelse voorvinger aan een van die plesierige kraletjies oorbelle wat sy haarself vandag gegun het.
En slaan haar voete onder haar uit: “Jy’s mooier as ooit, Mignon.”
“Jy’s verspot, Lukas, los my uit! Netnou kom jou pa …” Dokter Bezuidenhout is ‘n streng werkgewer; ‘n mens probeer maar liewer in sy goeie boekies bly. Dis haar werk om die veeartspraktyk van Bezuidenhout en Van den Bergh op geoliede wiele te laat loop, nie om met die senior vennoot se seun te flankeer nie.
Soos gewoonlik is Loekie alweer aan die grappe maak. “Ek sweer my pa is mal oor jou nuwe looks, hy’t altyd gesê hy wens jy wil ophou om jouself so te beplak.”
“Ek glo dit nie!” Die waardige dr. Bezuidenhout wat oplet na haar voorkoms? Sy’t nog altyd gedink hy sien net sy vrou en sy kinders raak. En sy pasiënte, natuurlik. “En ek het my g’n beplak nie! Ek weet hoe om grimering aan te wend – my ma het my geleer!”
En onmiddellik is haar oë vol trane. Die dae toe haar ma die middelpunt van haar wêreldjie was, is helaas verby.
Loekie se hand vou vlugtig om hare, sy oë is meteens doodernstig: “Ek het gehoor van jou en jou ma.” Sy hand is sterk en goudbruin van sy werksvakansie in Australië; hare is smal en bleek, ringloos, met ongeverfde, kortgeknipte naels.
Is sy nie dalk besig om die hele agterstevoor makeover ‘n bietjie te oordoen nie? Maar nee, sy sal hou by haar besluit: ‘n volle jaar lank sober klere, geen grimering nie, geen haarkleursel nie – en net een juweliersitem per dag. As hierdie jaar verby is, wil sy ‘n ander Mignon wees – en op pad na groter dinge.
Dit kan natuurlik ook wees dat sy die einde van die jaar stert tussen die bene teruggekruip kom vir ‘n werkie – as sy deel geword het van die statistiek van eerstejaars wat nie die pyp rook op universiteit nie.
Die koue sweet wil-wil opnuut op haar uitslaan. Wat op aarde het haar laat dink sy kan daardie kursus slaag? En Henri en Francesca sterk haar nog in haar malligheid, het omtrent die aarde omgekeer om haar so laat toelating tot die kursus te help kry. En dit met punte wat net-net die minimum standaarde haal. Om nie te praat van die twee breindooie jare wat sy na matriek hier agter haar toonbank deurgebring het nie!
Sy sweer Lukas Bezuidenhout gaan nooit weer ophou lag as hy hoor van haar planne nie. En sekerlik ‘n toeval kry van pure plesier as hy hoor presies wáárvoor sy ingeskryf is. Sy kan tog nie vir hom verduidelik van haar onsinnige begeerte om in haar pa – wat lankal van haar bestaan vergeet het – se voetspore te volg nie.
“En wanneer kom dans jy saam met my?”
“As die perde horings kry, Lukas.” Sy’s gewoond korswel met hom, dis ‘n instelling dat hy elke vakansie kort-kort oor haar toonbank kom hang om haar met sy slimstories uit die werk te hou. “Toe-toe, kry jou koers, ek het nog baie werk!”
“My pa is baie erg oor jou.”
Hy vang haar onkant; sy voel soos ‘n kind wat ‘n onverwagse stokkielekker gekry het. “Rêrig?” Sy’s nie gewoond komplimente kry nie, behalwe oor haar voorkoms. Maar dit was in die verlede meestal die verkeerde tipe kompliment van die verkeerde tipe man, dit weet sy nou.
“Rêrig, ja. Jy moenie my pa onderskat net oor hy ‘n introvert is nie, Minnie Muis. Sy oë sien baie dinge raak.”
“Dis net dat hy so min te sê het. En ek is nie Minnie Muis nie.” Veral nie noudat sy so knaend soos ‘n vaal muismeisietjie voel nie. Of dalk eerder soos ‘n krygsgevangene, so met die kaalgeskeerde kop.
Miskien was sy ‘n bietjie oorywerig, maar dit het na so ‘n goeie idee gelyk om Oujaarsnag haar spul hare af te knip en haar kop daarna met ‘n haarknipper by te kom. En Henri en Francesca se gesigte toe hulle voordag van hul dansplek terugkom en haar met die no. 4-stoppeltjes daar aantref, sal sy sowaar nie gou vergeet nie. Francesca het eers gelag dat die trane loop. En toe met haar gewone entoesiasme aan die huil gegaan toe Mignon verleë probeer verduidelik van ‘n nuwe begin en al daai jazz.
Henri het soos gewoonlik stilswyend geluister en op die ou end bloot gesê: “Dit was dapper. Ons is trots op jou.” En haar daarmee ook aan die tjank gehad.
Niemand het nog ooit vir haar gesê hy’s trots op haar nie. Nie haar ma nie en seer sekerlik ook nie haar pa wat van kleutertyd af skitter in sy afwesigheid nie.
Maar die verrassings is nog nie op ‘n einde nie. “Die kort hare beklemtoon jou wangbene. En jou mooi ore,” sê Loekie terwyl hy haar skewekop betrag.
Sy hap nog na ‘n pittige antwoord, toe besef sy hy is doodernstig. Iets het verander tussen haar en hierdie terggees, sy weet net nie presies wat nie. En sy wil ook nie weet nie; daar is heeltemal genoeg verandering in haar lewe op die oomblik, baie dankie.
“Basta nou, Lukas! Kry jou ry!”
Maar hy kry nie sy ry nie. Hy gaan maak hom doodluiters tuis aan die oorkant van die ruim wagkamer, kruis sy bene gemaklik. Sy blik bly stip op haar. “Jammer vir jou, maar so maklik gaan jy nie van my ontslae raak nie. My ma het my gestuur om jou op te pas tot die puppy class begin en saam met jou toe te sluit as jy daarmee klaar is. So jy sit opgeskeep met my.”
Genade, wat sou oor sy ma se lewer geloop het? Of jok hy – het hy gehoor van haar kaalkop en wou hy net kom kyk na die spektakel? “Ek bied al hoelank die ellendige klasse aan en ek het nog altyd alleen toegesluit, wat is dit nou met jou ma?”
“Moenie so agterdogtig wees nie, Minnie. Dalk gee sy bloot om vir jou. Dalk het sy tevore net nie geweet van die sagte meisietjie wat onder die vreeslike bos wit hare weggekruip het nie. Nes ek.”
Haar mond voel droog van verleentheid, maar sy móét weet. En die beste manier om uit te vind, is om te vra: “Het ek mense op ‘n afstand gehou, Loekie?”
Hy kyk ernstig op na haar oor die gehawende cowboyboek wat hy uit sy jean se agtersak getrek het. “Nie net op ‘n afstand nie. Jy’t mense afgeskrik, want jy’t kunsmatig en oppervlakkig voorgekom. Maar nou kan mense jou sien vir wat jy is. Ek dink jy’s baie dapper, Minnie Muis.”
Sy draai vinnig om, soek kastig na ‘n lêer in die rak agter haar. Maar sy kry nie die verdwaalde traan gekeer nie. Wat het sy ma-hulle hom alles vertel? Die hele jammerlike affêre van hoe sy met ‘n aartskelm weggeloop en haar vingers verbrand het en op die ou end deur Henri en Francesca – wat absoluut niks aan haar verskuldig is nie – gered is?
Dan moet hy die pluskant ook ken – dat Henri en Francesca haar nou onderdak en die kans op ‘n nuwe lewe gee. Uit die goedheid van hul ruim harte. Sy kan nou nog nie haar geluk glo nie.
Toe sy omdraai, staan hy digby haar stoel. “Moenie huil nie, Minnie, daar’s baie mense wat vir jou omgee. Jou ma ook, al lyk dit nie altyd so nie.”
“Lukas, ons het gevra jy moet Mignon kom oppas, nie tot raserny kom dryf nie!” Dokter Bezuidenhout staan groot en streng in sy spreekkamerdeur, maar daar is ‘n seldsame glimlag in sy oë. “Sy doen baie moeite om alles op datum te hê voor sy die einde Januarie klaarmaak, so basta nou en kry iets om jou mee besig te hou!”
Mignon kan self nog nie behoorlik glo dat sy regtig die moed gehad het om te bedank nie. Nie ‘n dag gaan verby sonder dat sy wonder of dit die regte ding was nie.
Loekie staan en bekyk haar met ‘n ontstelde gesig. “Klaarmaak? Hier? Waar gaan jy heen? Hoekom weet ek niks hiervan nie?” Asof hy haar pa is of iets. Nie dat sy sou omgegee het om ‘n pa te hê nie.
“Ek gaan swot.” Dit kom stomp uit, half uitdagend. As hy lag, gaan sy morsdood. Natuurlik nog altyd gedink sy’t net drie breinselle onder haar bos hare. Wel, hy’s in vir ‘n verrassing.
Hoop sy.
Maar hy lag nie vir haar nie; sy gesig gaan oop in sy kenmerkende vinnige glimlag en word dan netso skielik weer ernstig: “So dis nie net die hare en die klere nie.” Sy’t nie eens besef hy het die meer subtiele veranderinge ook raakgesien nie. “Jy is wraggies ernstig, né? Dis ‘n hele makeover?”
Asseblief, asseblief, laat hy net nie vra watter kursus nie!
“Ons is baie trots op haar.” En met hierdie ongelooflike woorde laat swaai dr. Bezuidenhout die glasdeure agter hom toe en gaan klim in sy gehawende bakkie om na sy geliefde vrou en honde toe te ry.
“Sien jy nou?”
Mignon draai half verskrik terug na Loekie. “Sien ek wat?”
“Die omgee.”
Mignon sit doodstil agter die rekenaar wat vir twee jaar ‘n buffer tussen haar en die kliënte van Lukas Snr en Rocco van den Bergh se veeartspraktyk gevorm het, soos haar oordadige hare en lae grimering op sosiale vlak vir haar ‘n beskerming was. En seker vir haar ma steeds is.
“Ek sien dit. En dis vir my ongelooflik.”
“Dis jý wat ongelooflik is, Mignon.” En Lukas Bezuidenhout Jnr, hartebreker, allemansvriend en onversadigbare terggees, trek haar weer eens ferm op uit haar stoel. Maar hierdie keer bekyk hy haar nie weer soos ‘n stoetkoei op ‘n veiling nie. Hierdie keer trek hy haar tot teen sy borskas, vou sy arms om haar lyf en laat rus sy ken stilswyend op haar gebrek aan hare. En sy staan muisstil in die knusheid van die omhelsing, terwyl net een gedagte aanhoudend deur haar kop skiet. En deur haar hart: Sy pas teen sy lyf.
Sy wou haar lewe lank so graag êrens inpas. En nou – toe sy dit die heel minste verwag – het sy daardie plek gekry. In die arms van haar baas se seun wat elke kwartaal ‘n ander meisie het, wat haar jare lank al treiter en terg met die meedoënlose genot van ‘n ouer broer – en wat al die skinderstories ken van haar ma se roekelose flankeerdery met al wat broek dra. En nou blykbaar al klaar alles weet van haar dwase episode met Siebert Jooste.
“Ek het werk om te doen,” sê sy en maak haar met groot waardigheid en nog groter spyt los uit die arms waarin sy tuisgekom het. “Ek het nie tyd om met jou te flirt nie, Lukas.” Sy beter die atmosfeer lig na hulle gewone geterg, sy kan nie hierdie skielike erns hanteer nie.
’n Mens kan tyd máák vir iets wat vir jou belangrik is, Minnie Muis,” sê hy onversteurd en gaan terug na sy cowboyboek op die oorkantste bank. En sy het nie ‘n idee of dit nou erns of terg was nie.
Dit word stil in die vertrek met die staanders vol toebehore vir troeteldiere, die plakkate van honde-, katte- en perderasse teen die mure, die sakke hondekos teen een muur opgestapel. Mignon konsentreer op haar werk tot haar nek stram is en ‘n hoofpyn in haar voorkop klop. Maar sy bly die hele tyd bewus van die ondersoekende felblou blik wat kort-kort op haar rus.
Iets knetter vandag in die lug tussen haar en Loekie Bezuidenhout. Wat dit is, sal sy nie kan sê nie. Dat dit gevaarlik is, betwyfel sy vir geen oomblik nie.
Sy’t ‘n skrale sewe werksdae oor by Bezuidenhout en Van den Bergh. Dan hoef sy vir Lukas Jnr. nooit weer te sien nie. Sy wonder wat sy toekomsplanne is. Nie dat dit enigiets maar haar uit te waai het nie.
Maar waarom dan nou die vreemde smagting in haar borskas?