Tinus Viviers

  1. Beroep: Pensionaris en skrywer
  2. Huwelikstatus: Getroud
  3. Waar woon jy? Kempton Park
  4. Alleen? Wie saam met jou? (Name is nie nodig nie.) My vrou
  5. In watter opsig(te) beskou jy jou situasie tydens inperking as uniek of besonder uitdagend? Enige pensioenaris is normaalweg onder finansiële druk agv stygende pryse terwyl jou inkomste nie ooreenkomstig groei nie. Saam met die inperking het aandeelpryse skerp gedaal en baie maatskappye het kleiner dividende betaal, ander het dit opgeskort. Bykomende inkomste moes doodeenvoudig gegenereer word met die besnoeiing van uitgawes as alternatief terwyl dit reeds nie maklik gaan nie.
  6. Hoe het jy gevoel toe die noodtoestand afgekondig is? Tydens die 1ste afkondiging het dit my niks gepla nie. Ek was in die weermag veel meer ingeperk as vir 3 weke nou. Ek was selfs tevrede met die bykomende 2 weke daarna.
  7. Hoe het jy gevoel toe algehele inperking (vlak 5)afgekondig is? Ek was verslae toe vlakke ter sprake gekom het. Nie oor hoe ek daar gaan deur kom nie, maar veral hoe dit die land se ekonomie gaan affekteer. Ook hoe hard dit ander individue gaan tref in terme van verlies aan inkomste en erger nog, werkloosheid wat nog erger gevolge kan hê.
  8. Hoe het jy die drie dae direk voor inperking deurgebring? Toe was ek nog vol moed. Daar sal darem kos wees om te koop en drank en tabak was nog nooit hoog op my inkopielys nie. Ek het dus geensins deelgeneem aan enige stormloop na produkte nie.
  9. Hoe het jou lewe met inperking op vlak 5 verander? Nie veel nie. Ek het aangehou om vroeg op te staan, maar my gedagtes wou nie sin maak nie. Gevolglik het my skryfwerk erg agterweë gebly. Soveel so dat ek myself moes uittrap voor ek weer agter die rekenaar kon gaan sit en iets anders doen as om deur die internet, en veral Facebook, te swerf.
  10. Wat was die moeilikste tydens vlak 5? Die feit dat ek nie my sport kon beoefen nie was seker die ergste. Dit was die een puntjie waar ek nie vroeër in my lewe aan ʼn inperking onderwerp was nie.
  11. Wat is vir jou positief tydens vlak 5? Dit was die tyd wat ʼn ommekeer in my gemoed te weeg gebring het. Ek het besef dat niks gaan gebeur as ek dit nie self gaan laat gebeur nie. Ek het gras gesny en take in en om die huis gedoen, maar ‘n groter idee het sy verskyning gemaak. Ek het naamlik besef dat ek elektroniese hulpmiddels kan gebruik om te ontsnap van die grense wat inperkings my opgelê het. Nog ʼn boek het die lig gesien en nog een is tans by ʼn proefleser.
  12. Hoe het die mense gevaar wat saam met jou ingeperk was? Wel, wat kan vreeslik verander waar twee mense reeds meer as 40 jaar saam woon? Meningsverskille volg noodwendig, maar niks wat nog nooit gesig gewys het nie.
  13. Hoe het jy die verlenging van vlak 5 ervaar? So effe bedonderd, maar wat kan jy maak?
  14. Wat het jy die meeste gemis op vlak 5? My vakansie wat ek moes kanselleer.
  15. Hoe het die verandering na vlak 4 jou geraak? Daardie een kom hulle maar gehou het.
  16. Waaroor was jy bly met die verlaging na vlak 4? Dat ek kon gaan stap.
  17. Waaroor was jy kwaad met die verlaging na vlak 4? Dat hulle so dêm stadig aan beweeg het.
  18. Is jy iemand wat voor inperking gereeld geoefen het? Ja – gereeld gaan stap en gfholf gespeel.
  19. Het jy tydens vlak 5 geoefen? Nie veel nie.
  20. Hoe het jy dit gedoen? Ek het darem gras gesny.
  21. Hoe het jy die drie ure oefentyd op vlak 4 ervaar? Baie beter as niks.
  22. Hoe het die verlaging na vlak 3 jou geraak? Dit was ʼn groot verligting.
  23. Waaroor was jy bly toe vlak 3 aanbreek? Almal in ons huis kon begin werk.
  24. Waaroor was jy kwaad toe vlak 3 aanbreek? Oor die regering se onvermoë te besef dat hulle die land oor die afgrond heen bestuur.
  25. Hoe vaar jy op hierdie stadium (na 100 dae) oor die algemeen emosioneel? Heel goed, maar voel tog die ding moet nou einde kry. Teen die tyd behoort almal te besef dat elkeen na sy eie gesondheid moet omsien.
  26. Is jy finansieel erg geraak? Nogal, maar ons het nog nie gebrek nie. Dankbaar daarvoor.
  27. Wat is nou vir jou die moeilikste? Om nie te kan rondrits nie.
  28. Wat kan jy uit die ervaring haal wat positief is? Die feit dat ek besef het mens kan iets maak gebeur in plaas van om te gaan sit en doodgaan.
  29. Bly jy op datum met die Covid 19-situasie in SA? Ek hou daagliks statistiek en probeer voorspel waarheen die volgende skuif ons gaan neem.
  30. Deur watter medium? Hoe gereeld kyk/luister jy na nuus oor Covid 19? Lees op die internet en kyk nuus.
  31. Hoe beïnvloed die voortdurende nuus oor die virus jou emosioneel? Ek probeer die reëls nakom, maar kry ek dit, dan kry ek dit. Wil net nie hê my familie moet siek word nie.
  32. Bly jy op hoogte van die oorsese situasie? Net wat ek toevallig hoor of raak lees.
  33. Is daar spesifieke lande waarin jy belangstel? Geen.
  34. Hoekom? Ek het nie familie in die buiteland nie en is nie van plan om daarheen te reis nie.
  35. Hoe beïnvloed die stygende sterftesyfer in SA jou? Vir my is ʼn sterfte ʼn sterfte. Dit klink dalk ongevoelig, maar meer mense gaan op paaie en van ander siektes dood en daaroor maak niemand ʼn bohaai nie.
  36. Wat sou jy anders doen as jy nou die ervaring van vooraf kon begin? Ek sou dalk vroeër begin het om rond te kuier.
  37. Wat sal jy presies dieselfde doen as jy van vooraf kon begin? Vroeg opstaan vir koffie en meer geskryf het.
  38. Ken jy iemand wat Covid 19 opgedoen en herstel het? Ja heelwat mense.
  39. Het iemand na aan jou al aan Covid 19 gesterf? Gelukkig nie.