RSS

Hemel op aarde

Hemel op aardeHemel op aarde het in Huisgenoot van 3 Mei 2007 verskyn en uit die kombinasie van ons ouboet se operasie en iemand anders se ondervinding met kragonderbrekings ontstaan. O ja, en die gryskopoom het by Ouboet in die saal gelê. En ja, die insident teen die einde het ook werklik gebeur. 

“EK GLO DIT NIE!  JULLE lieg vir my!”  Toe sien ek haar, en my kwaai stem raak tjoepstil in my ribbekas.

Dit moet ‘n engel wees, so pragtig in wit, met die blouste blou oë.  Maar engele se gesigte is seker nie veronderstel om so te swem voor ‘n mens se oë nie.  En hulle is sekerlik nie veronderstel om te loop en leuens verkoop nie.  Of met manstemme te praat nie.

Wat van Gabriël?  Gabriël was ‘n man-engel.  Maar g’n man kan so mooi wees nie.

Die engel se gesig kom weer nader; haar beeld vervorm, trek skewebek en verdwyn.  Definitief ‘n meisie-engel.  Ek steek my hande uit, maar ek kan haar nie raakvat nie.

“Ek is jammer, ou seun, maar dis ongelukkig die waarheid.  Ons het besluit om liewer niks te doen nie.”  Dis ‘n mansgesig wat vir ‘n oomblik in fokus kom voor ek weer in die donkerte wegsak; dis hý wat vir my allerhande twak wil kom wysmaak.

Dis darem seker nie so donker in die hemel nie; dalk lewe ek nog.

 

TOE EK WEER BYKOM, SIT Ma langs my bed en huil fyntjies in ‘n wit kantsakdoekie.  Ek skrik.  Ma is nie ‘n vrou wat met haar hart op haar mou rondloop nie; as sy meer as twee trane op ‘n slag huil, is daar êrens ‘n vreeslike fout.

Sy sien nie ek kyk nie; sy is te besig om te probeer trane stort sonder om haar grimering te bederf.  Ma kan die laaste oorlewende op aarde wees en sy sal nog steeds nie te voorskyn kom sonder perfekte grimering nie, net ingeval iemand dalk loer van Mars of êrens af.

My kop is nou glashelder; ek is definitief nie dood nie.  My hande kruip versigtig, doodbang teen my lyf af.  Ma se trane beteken sekerlik ek is oopgesny; die laparoskopie was dan seker nie sukesvol nie.  Sy was behoorlik opgewerk oor dié moontlikheid, met die langer hersteltyd wat dit sou meebring.  Soos gewoonlik was Ma meer besorg oor my akademie as ekself; ‘n mens sal sweer dis sý wat skool moet mis aan die begin van haar matriekjaar.

Onder die ribbes langs, het die uroloog gesê.  Regs.  Daar’s niks.  Nou skrik ek ‘n vreeslike skrik.  Die verkeerde nier!  Hulle het my aan die verkeerde kant oopgesny!

Hulle was darem nie veronderstel om die nier te verwyder nie, net die vernouing te herstel en die stene uit te suig of te blaas of iets.  Maar sênou …

Links is ook niks.

Dit beteken dit was tóg toe ‘n laparoskopie.  My hand gly versigtig oor my maag.  Vyf gaatjies altesaam, het hy gesê … Daar’s wragtag niks!

“Ma!”  Ek klink vir myself omtrent vyf jaar oud. “Ma, wat gaan aan?”

Ma se kop ruk op; ‘n yslike lag breek deur haar trane.  Sy soen my summier van voorkop tot kennebak vol rooi lippe.  Ek hoef dit nie te sien om te weet nie; ek was al genoeg in my lewe aan die ontvangkant van Ma se noukeurig geverfde soene.

“Ag Boetie, my kind, Ma was so bang … Ag dankie tog!”  Ek is van kleinsdag af gewoond Ma is bang ek gaan dood.  Soos Pa destyds gemaak het.  Partykeer vergeet Ma dis nie net sý wat sonder hom moes agterbly nie.

Maar Ma se vrees was weer eens verniet.  Ek voel uiters lewendig; ek ruk die drup amper uit my arm met die opspringslag.   Ek is waaragtig nie geopereer nie!

Al die ondersoeke en x-strale en sonars en bloedmonsters en voorbereiding en afwagting en Ma se vrese en uiteindelik die honger- en dors ly en al die administratiewe rompslomp en die verspotte agterstevoor teaterjas en die narkotiseur wat ‘n grappie maak voor ek wegraak … Alles pure verniet!

“Hulle kon nie opereer nie, my kind.  Die krag het afgegaan,” sê Ma en vis nog ‘n sakdoekie uit haar handsak.

Ek weet nie of sy huil van blydskap of van spyt nie.  En of ék moet lag of huil nie; dit sou seker snaaks gewees het as dit nie so flippen tragies was nie.

 

MY OË VLIEG VANSELF OOP TOE EK DIE STEM HOOR.  Al het sy nie vanoggend ‘n woord gepraat nie, weet ek dis sy.  Sy buk oor die bed oorkant my.  Sy is beslis baie menslik; ek glo nie engele het as ‘n reël sulke stunning  sonbruin bene nie.  Of dalk wys hulle net nie graag hulle bates nie.

“Toemaar, Oupa, ek is hier!  Wees nou rustig, toe?”  Sy praat kalmerend en streel liefdevol oor die oom se mooi wit hare en adellike voorkop, stryk die laken glad, gee ‘n slukkie water aan.  Sy het ‘n wit geplooide rompie en ‘n los wit toppie aan en sy lyk nie ‘n dag ouer as sestien nie.

Met meisiekinders kan ‘n mens nooit seker wees nie; sy kan twintig wees vir al wat ek weet.  En haar morsdood lag vir die skoolseuntjie wat vanoggend so na haar gegryp het.

Toe sy opkyk, is haar oë net so blou en so lewendig soos vanoggend.  “O, hallo!” roep sy oor die afstandjie wat ons skei, “Is jy al oor die ergste skok? Vanoggend was jy darem moeilik, hoor!”

Sorry, ek was nog ‘n bietjie deurmekaar.”

Sy lê haar oupa se maer wit hand met die baie blou are versigtig op die wit deken neer en kom die paar treë na my toe.  Sy loop soos iemand wat haar moet inhou om nie te dans nie; sy is die lewendigste mens wat ek nog ooit aanskou het.  Haar blou kraletjie-oorbelle swaai energiek; haar kort, blonde hare vou soos ‘n gladde mussie om haar mooi kop.  “Ek neem jou nie kwalik nie – om darem te dink jy is geopereer en dan word jy wakker en dan’s daar niks!”

Ek wens ek kan weer my hande na haar uitsteek soos vanoggend.  Maar ek het nie meer ‘n verskoning nie; die alles-verniet-narkose is min of meer uitgewerk en ek het die meeste van my varkies weer op hok.  “Die dokter het gesê hulle wou nie ‘n kans vat nie; die kragopwekker kan net vir ‘n sekere tyd genoeg krag voorsien.  Gelukkig het hulle nog nie begin sny nie, my blykbaar pas behoorlik  onder gehad.”

Haar hand gaan verskrik na haar mond toe.  ‘n Mond wat maklik lag, ‘n klein handjie met sagte pienk naels.  “En sê nou hulle was al aan die gang?”

Miskien is die narkose nog nie heeltemal uitgewerk nie; ek voel glad nie myself nie.  Of dalk het dit niks met die  narkose te doen nie.  Ek voel of ‘n shot  hormone reguit na my brein toe geskiet het; ek moet konsentreer om sense te praat.  “Dan sou hulle probeer het om net die vernouing reg te maak in die tyd wat die kragopwekker hulle gee.  Maar hulle wil graag die nierstene ook probeer uitkry, dis dié dat hulle dit liewer eers heeltemal gelos het.”

“En nou?  Die krag kan mos weer afgaan – my pa sê ons moet liewer die ergste verwag, dan is dit ‘n lekker verrassing as dit nie gebeur nie.”  Bo ons koppe zoem die buisligte tevrede; helder TV-beelde hang klankloos bokant elke bed.  Alles dooddollies en normaal.

My ma sê ek’s te ernstig vir my amper agtien jaar.  Ek sê die feit dat ek in beskikking glo, het niks met ouderdom te doen nie.

Hierdie kragonderbreking het spesiaal plaasgevind sodat hierdie meisiekind voor my bed kon beland.  En ek wens sy hoef nooit weer te loop nie; met die elektrisiteitsvelde in my eie lyf is daar definitief g’n fout nie.

“Dokter het gesê hulle gaan vandag seker maak van die reëlings en dan môre opereer.”  Ek hoop nie die bang wys in my stem nie.  Dis ‘n genade hulle hou my sommer hier; as ek vandag by daardie deure kon uitstap, sou hulle my wraggies nie weer hier binne gekry het nie.

“Siestog, dis seker vreeslik sleg vir jou.  Twéé keer van alles; een keer is erg genoeg.  Kyk maar net vir arme Oupa.”  Haar oë word vol trane; sy raak vlugtig aan my hand.

“Sumientjie,” roep die oupa swakkies van oorkant af, “Sumientjie, waar is Oupa se kind?”

Toe sy wegdraai, bly ‘n klein warm kolletjie op my hand agter.

“Hoekom was jy vanoggend hier?  Dis mos nie soggens besoektyd nie?”  roep ek agter haar aan.  Asof ek wil doodseker maak dit was nie net ‘n droom nie.

Sy glimlag oor haar skouer:  “Ek het kastig vir hom skoon slaapklere gebring; ons bly nie ver van die hospitaal af nie.  As die skool eers begin het, moet ek saans saam met my ma-hulle kom.  Dan staan almal in ‘n kring en weet nie wat om te sê nie en dis vir almal aaklig.”  Oupa se wit hand gryp angstig na hare.  “Dis vir hom lekker as ek net rustig by hom sit.”

Vir my ook.

“Hoe lank moet hy nog bly?”

“Nog lank, dink ek.  Dit gaan nie goed nie.”

Jammer, Oupa, dat ek bly is.

Sy is nog in die skool; sy is presies so jonk soos wat sy lyk.

Sumien.

 

HIERDIE KEER HET HULLE NIE ‘n fout gemaak nie; ek voel die pyn nog voor ek behoorlik weet wie en wat en waar ek is.  Maar die pleisters sit in gelid op my maag, my sye albei ongeskonde.

Halleluja!

Ek worry meer oor my akademie as wat Ma dink.  En natuurlik oor al die sport én sports wat ek mis.  Dis my matriekjaar, vervlaks, en hier lê ek op my rug met ‘n drup in my arm en ‘n dreineerpyp in my sy en … o wragtag, ja, ‘n kateter in my …!

Dis om van te huil.  Maar hierdie keer huil Ma nie; sy is te besig om die personeel te organiseer.  Dis hier te kort en daar te lank; die bed is te laag en die aircon te koud, my ys te min en haar tee te flou.

Alles is reg; Ma is terug op volle sterkte.

Net ‘n dag of twee, dan’s die pype uit my lyf en ek is weg uit hierdie plek.  En in ‘n toestand om Sumien van haar danslustige voetjies af te charm.

My oë is alweer toe voor my brein registreer:  Die bed oorkant my is leeg!

“Ma!” Ek is skoon kortasem van skrik.  “Ma, waar’s die oom?”

Eers ‘n paar rooi soene, en dan die woorde wat ek toe klaar verwag:  “Stiantjie, die oom is sommer skielik oorlede kort na jy weg is teater toe.”

Ek draai my kop onder Ma se angstige hande uit.  Hoe kan ‘n mens sommer net so stilletjies doodgaan?  Die oom met die mooi wit hare en die adellike voorkop het nog swakkies ‘n hand gelig toe hulle vanoggend met my hier uit is.  En nou’s hy dood en Sumien was nie by hom nie.

Op hierdie oomblik weet ek, so waar as die kateter wat in my watsenaam sit, dat Sumien stukkend is en my nodig het.

En ek weet nie eens haar van nie.

 

‘N WEEK OF WAT LATER slenter ek lusteloos oor die bekende oop stuk veld tussen die meisieskool en die rivier.  Die koshuisbrakke van die meisieskool en dié van die seunskool ‘n paar blokke verder stap gereeld hierlangs dorp toe.  Hierdie tyd van die dag is dit stil en verlate; almal is voor die boeke of op die atletiekbaan.  Of in die swembad; dis die seisoen van swemgalas en eindelose snikwarm hoogsomerdae.

Ek is nie op een van die genoemde plekke nie.  Omdat ek nie ‘n danige swemmer is nie, omdat ek nog nie mag hardloop of spring na die vergalste operasie nie en omdat ek nie krag en lus vir die boeke kan bymekaar skraap nie.

Ek het net een ding in my kop:  Ek soek vir Sumien.

Ma is raadop met my.  En glad nie behulpsaam nie.  Kan dit wees dat Ma jaloers is op ‘n meisiekind wat sy nog net een keer vlugtig gesien het?  Dit kan seker wees as ‘n mens in ag neem dat ék hulpeloos verlief is na ek haar netmooi twéé keer vlugtig gesien het.

En opspoor is min; oral loop ek ‘n bloutjie.  Ek het darem haar oupa se van uit die hospitaalmense gecharm  gekry, maar dit help my niks.  Daar’s nie so ‘n van in die telefoongids nie; sy adres was die plaaslike ouetehuis en uit hulle kon ek netmooi niks kry nie.  Seker maar bang ek’s ‘n pervert  of iets.  En niemand van my pelle is van enige nut in my soektog nie – die ouens oor hulle nie van haar weet nie en die meisies vermoedelik oor hulle nie van haar wíl weet nie.

Ek dwaal dikwels in die omgewing van die hospitaal rond.  Die mooi huise is suinig met hul inligting, kyk my net stom aan oor die swiepende grasperkspreiers in hul moeë somertuine.  Sumien kom nie by ‘n voordeur uit nie; sy hang nie oor ‘n hekkie en waai verras vir my nie; sy kom nie met haar sportsak taai en moeg in ‘n straat af huis toe nie.

Ek sal moet aanvaar die wye somer het haar ingesluk.

Sy moet nuut wees; of dalk gaan sy in die stad skool, ‘n spesiale skool vir dans of musiek, so verbeel ek my.  Ek kon die ritme sién in haar.

Ek skop ‘n koeldrankblikkie in die gras venynig teen sy maters vas. Ek is g … keelvol niks gedoen.  My lyf smag na aksie, na adrenalien, na iets fisies om te dóén; ek dink te veel en al in ‘n kring.  Sumien … Sumien … en Ma wat nie verstaan nie.  Of liewer, wíl verstaan nie.

Die klank van die blikkies raak weg in die stilte.  Maar iewers vorentoe, rivier se kant toe, hou ‘n ander geluid steeds aan en aan.

Ek vries in die blakende Januarieson.  Dis ‘n meisiestem wat hoog en histeries gil; ‘n man wat diep en dreigend swets met woorde wat my ore laat tuit, my lyf laat ruk van skrik.

Weke se niksdoen en frustrasie skiet deur my lyf; ek spring skoon uit my plakkies uit.  Ek is af by die rivierwal en deur die struike voor ek regtig weet wat ek doen.

Die meisie se hemp is geskeur; daar is bloed aan haar gesig.  Die man skarrel vloekend deur die struike weg terwyl sy haat en woede om ons in die lug bly hang.

Haar blou oë is verwilderd van vrees; haar voete het hul dans verloor; haar klein hande met die sagte pienk naels gryp verwilderd aan my vas.  “Hy wou my … hy wou …”

Ek het die vieslike woord gehoor; dit sing steeds in my kop.

Ek maak haar hande van my los, al is dit die laaste ding wat ek wil doen.  Toe hardloop ek soos nog nooit in my lewe nie.

Ek trap in iets wat sny, maar ek registreer nie regtig nie.  Ek voel hoe iets in my binnekant meegee, maar ek gee nie om nie; hulle sal my weer kan toewerk as dit moet.

Ek gooi my lyf vol sweet en woede met soveel geweld oor hom dat ons meters skuif oor die vaal somergras.  Sy oë is wild en vol haat en pyn; sy drankasem slaan in my gesig vas.  Ek ruk hom regop; ek sien te laat die flits van die mes.

Hierdie keer registreer ek die pyn, maar ek hou wat ek het.

Ek het vir Sumien gekry.  En net betyds.

 

MA IS OP HAAR pos, kantsakdoekie vlytig aan die werk.  Ek haat dit om haar te laat huil, maar dit lyk my ek het ‘n talent daarvoor ontwikkel.  “Boetie, jy kon dóód gewees het!  Wat het jou besiel; het jy jou verstand verloor?”

Ma is woedend; sy is hoegenaamd nie trots op my nie.  My oë soek angstig oor haar skouer, maar my engel is nie daar nie.  “Sumien!  Ma, is Sumien OK?”

Ma se oë sak voor myne.  “Vergeet van die meisie, Stian, dis jý wat belangrik is.  As jy moes …”  Sy skud haar kop; ek sien met skrik haar gesig sonder make-up, die lyne om haar oë.  “Ek sou haar nooit vergewe het nie.  Nóóit.”

Ek vlieg orent; daar is alweer pype in my lyf.  “Ma!  Waar is Sumien?  Het sy seergekry?”  Ek raak bewus van verbande om my skouer en pyn, baie pyn.

Ma druk my plat.  “Lê, Boetie, jou wonde het oopgegaan van die gehardloop.  ”Natuurlik is sy OK!.  ‘n Paar steke in die gesig, verder net behoorlik pimpel en pers.”

“Waar is sy?  Hoekom is sy nie hier nie, Ma?”  Ek hoef nie te vra nie; ek weet alreeds wat die antwoord is.

Maar sy antwoord nogtans, my ma wat my alleen grootgemaak het van ek ‘n haasbek-tjokkertjie was met skurwe knieë en vae herinneringe aan ‘n groot, sterk pa:  “Ek het gesê ons wil haar nie sien nie, Stian.  Sy kon jou dood veroorsaak het!”

Ek trek my hande stadig weg uit Ma se greep.  Ek praat hard en duidelik, soos die man wat ek vandag geword het: “Ma, sorg dat Sumien weet ek wil haar sien.”

“Boetie …”  Ma se oë pleit.  “Verstaan tog …”

Ek verstaan beter as wat sy dink; sy’t my alleen grootgemaak, met absolute toewyding.  Maar sy kan my nie besit nie.  “Ma, ek dink ek is lief vir haar.”

“Jy’s van jou sinne beroof, Stian!  Jy’s nog nie agtien nie; wat weet jy van die liefde af?”

Ek draai my gesig woedend weg van die vrou wat vir my alles was, tot nou toe.  Want nou’t ek grootgeword.

 

HAAR GESIG IS ‘N GEMORS, maar sy’s vir my mooier as ooit.  Ma stoot haar saggies vorentoe; sy steek haar hande skamerig na my toe uit.  “Dankie, Stian.”

“Plesier, Sumien.”   Die ironie laat ons aldrie ‘n bietjie verbouereerd lag.

Ma soen my, net een keer, en vee die rooi smeerseltjie vinnig met haar vinger af.  “Ek het haar gebring, Stian.”  Ma se grimering is weer in plek; haar oë blink met liefde en trots.  Haar arm is liggies om Sumien se skouers.

“Dankie, Ma.”

“Dis ‘n plesier, my kind.”

Ons verstaan mekaar; albei sê veel méér as die paar woorde wat gehoor kan word.

Miskien ís ek in die hemel, die hemel hier op aarde.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Kommentaar is gesluit.

 
%d bloggers like this: