Tyd van goeie dinge het in Huisgenoot van 14 Desember 2006 verskyn en het ontstaan a.g.v. die insident toe my handsak regtig in ons splinternuwe mall gesteel is. Die res is uit my duim gesuig. Behalwe die heel laaste dingetjie – dié het ook iewers eendag met iemand gebeur.
“Help! My handsak! My handsak is weg!” Wat ‘n nagmerrie; asseblief, asseblief laat dit nie waar wees nie! Lisensie, ID-boekie, bankkaarte, biblioteekkaartjies, lipstif, naelvyl … haar hele sukkelende ou lewetjie is saamgebondel in daardie gehawende ou leerhandsakkie.
En kontant; omtrent al die geld wat sy besit. Die geld waarmee sy vir haar en haar kind die vrede en blydskap van die Kersgety wou koop.
Hermien kyk verslae op en af in die winkelgang; dis net mense, mense, mense sover die oog kan sien. Haastige mense, gespanne mense, bekommerde mense, moeë mense … en niemand is enigsins geïnteresseerd in haar krisis nie.
Soveel vir die gees van liefde en vreugde in die Kersgety.
Of nee, één barmhartige siel steur hom aan haar geskree: “Hoe lyk hy? Watter kant toe? Man of vrou?”
Natuurlik is die dief ‘n man. En as ‘n vrou so-iets doen, sal dit in elk geval wees om vir haar kinders kos te koop. Maar ‘n man? Tien teen een al klaar besig om haar swaar verdiende geld by die naaste drankwinkel te blaas.
Hermien besef sy’s aan die veralgemeen; sy wil tog nie ‘n bitterbek mannehater soos Donna word nie. Nie dat Donna ‘n reine, manlose lewe lei nie; sy’s openlik gek oor die spesie.
Opgebruik en eenkant gooi, dis Donna se manier. Soos Jacques s’n ook maar was.
“Ek het nie die vaagste idee nie,” prewel sy vir die vreemde man terwyl magtelose angs en woede in haar keel opstoot. “Al my geld is in daardie sak, alles, álles!”
Sy staan verlore in die malende, kopende skare; sy wéét nie. Nie hoe hy lyk óf watter kant toe hy gegaan het nie. Want niemand hardloop nie, niemand lyk skuldig nie; die dief het net eenvoudig in die skare weggeraak.
“Kom, ons gaan meld dit aan.” Sy’s nie meer verbaas oor sy bereidheid om betrokke te raak by ‘n vreemdeling nie; sy Namakwalandse aksent het hom klaar weggegee. Seker nog nie lank in die stad nie, nog nie stadsmaniere aangeleer nie.
“Ons kan maar laat staan; dis nou klaar in ‘n groter sak verdoesel. Of êrens weggesmyt – minus my geld natuurlik.”
Die bestuurder se moeë bruin oë helder op toe sy haar kop by sy glaskas se deur insteek; hulle is nie onbekendes vir mekaar nie. ‘n Beleefde man, groet altyd vriendelik as sy met haar skrapse weeklikse aankope by sy uitkykpos verbydraf, soos gewoonlik oormoeg en oorlaai en laat vir die Dagsorgsentrum se afsnytyd.
Hy kan haar nie veel meer bied as soet tee en simpatie nie. Sy het in elk geval te lank gevat om alarm te maak; sy’t nie ‘n idee presies hóé lank sy haar handsak onbewaak in die trollie vergeet het nie.
O, Jacques sou sy mond vol gehad het hieroor! Tipies vroumens, sou hy gesê het, wáár was jou gedagtes?
My gedagtes was by my kind, sê sy nou in haar hart vir haar owerspelige eks-man, by jóú kind. Ek het probeer besluit presies hóé groot die present moet wees om ‘n vyfjarige te laat vergeet van die pa wat toe nooit kom kuier het nie. En soos ‘n groot speld verdwyn het toe dit tyd raak om onderhoud te betaal.
Dalk is dit ‘n kwessie van good riddance – die handsakkie was nog ‘n geskenk van Jacques in die goeie ou dae; lank, lank gelede toe sy nog meer drome en hoop as gesonde verstand gehad het. Dalk help die diefstal haar ‘n babatreetjie vorentoe in die hele pynlike proses van losmaak en laat gaan. Want hulp het sy nodig; dis nou maar wors.
Sy is besig om ‘n pynlike mislukking te maak van haar poging om ‘n nuwe lewe vir haar en klein Jaco aanmekaar te timmer. Vandag se ramp is maar net ‘n skakeltjie in ‘n lang ketting van ellendes. Blindederm wat oppak, motor wat oppak, geyser wat oppak, senuwees wat oppak … noem maar op, sy ken hulle.
En elkeen van hulle het met geld te doen. Geld wat altyd te min is, en nou finaal ‘n krisis geword het danksy die groot bedrag waarvan sy flussies so netjies verlos is.
“Gee my jou adres,” dring die beleefde bestuurder aan, “soms los hulle die handsak sommer net hier in die winkel; ons sal ons oë oophou.”
‘n Mens is werklik niks meer as ‘n nietige genommerde spatseltjie lewe in die groot heelal nie. Sonder haar handsak voel sy gestroop van haar identiteit, haar menslikheid, sommer haar reg om te leef en asem te haal. En van haar dwase hoop dat goeie dinge na die afgelope paar jaar se ellendes nog met haar kán gebeur.
Maar vir hierdie gawe man is dit maar net een van talle sulke insidente.
Hy kan onmoontlik die winkel sluit en al die honderde kliënte laat deursoek, netso min as wat hy vir elke besteelde kliënt sy/haar trollie vol goed kan present gee.
Sy staan op en skud die hande van die twee vreemdelinge wat vandag medemenslikheid teenoor haar betoon het. “Dankie vir jul hulp. En geseënde Kersfees.” Nie dat sý verwag om veel seën te ervaar nie.
Sonder geld is netmooi niks geseënd nie. Sonder geld is netmooi niks eintlik móóntlik nie.
Sy moet haarself in rat kry; polisie toe, kaarte gaan stop, die versekering kontak. Ag genade tog, en dan nog die hele geworstel om eers ‘n tydelike en dan ‘n regte lisensie te kry, en ‘n nuwe ID. Genoeg om sielsmoeg van te raak.
Sy sit lank in haar skedonkie met haar kop gesak op die stuurwiel. Dankie tog vir klein genadetjies; haar sleutels was in haar langbroek se sak. Anders was sy sonder wiele én uitgesluit uit die woonstel. Maar sy’s nie regtig dankbaar nie; sy’s woedend. Sy kap magteloos met haar hande op die onskuldige ou karretjie se stuurwiel. In haar lewe het sy nog nooit iets groter as ‘n vlieg skade aangedoen nie; vir wat moes dit nou juis met háár gebeur?
Maar helaas, nare dinge gebeur nie net met nare mense nie. Of met ánder mense nie. Hierdie waarheid is die afgelope tyd maar alte deeglik by haar tuisgebring. En as jy in die Nuwe Suid-Afrika wil bly, moet jy in elk geval aanvaar jy moet óf elke sekonde verbete aan elke besitting op jou naam vasklou, óf af en toe die slagoffer wees van ‘n bietjie regstellende inkopies.
G’n wonder hulle sê die Kersgety en lente is die piektye vir selfmoord nie. Vandag kan sy dit goed verstaan – in wat veronderstel is om ‘n vreeslike wonderlike tyd te wees, is die nie-wonderlike dinge wat met jou gebeur, sommer nog ‘n entjie slegter. Die eensames word dus nog eensamer, die hartseer siele se hartseer styg ‘n paar kerwe, die ontgogeldes word verbitterd, die skelms dan seker nog ‘n bietjie skelmer. En die armes definitief ‘n hele entjie armer, danksy die koopmalheid wat in Desember op die ganse mensdom toesak.
En sy wat Hermien is? Net nog ‘n rapsie meer gestres, meer oorwerk en meer platsak as normaalweg. En sweerlik ‘n nog swakker ouer vir haar kosbare seunskind. Sy stres oor presente en treats vir hom, maar het nooit tyd vir speel nie; sy is ongeduldig en hap kort-kort oor totale onbenullighede na hom. En ‘n onskuldige vyfjarige kan tog nie verstaan dat ‘n klein ou strooitjie die oorwerkte kameel se rug finaal kan knak nie.
Waar het haar prioriteite so deurmekaar geraak?
Sy kom na ure se gesukkel sleepvoet en – soos gewoonlik – laat by Jaco se dagsorg aan. Dis die Vrydag voor Kersfees; die staat se wiele het eenvoudig ophou draai. En sal seker eers ná Nuwejaar weer stadig begin momentum kry. Die kosbare vry middag waarin sy al die lekker eetgoedjies en doendinge vir die naweek wou koop en organiseer, is in sy peetjie. Sy kon darem haar bankkaart en tjekboek gestop kry. Nie dat daar eintlik meer iets in is om te trek nie. En dis ‘n lang pad na Januarie se salaristjek toe.
Dis drie dae voor Kersfees en sy is finansieel geruïneer. En emosioneel op ‘n algehele laagtepunt; haar laaste hoop op ‘n bietjie grootmenspret is nou ook daarmee heen.
Want haar sakkie bevat natuurlik ook haar selfoon.
En haar selfoon bevat Neville se nommer.
Haar lieflingkind trek soos ‘n orkaan deur die woonstel; binne ‘n halfuur kan sy sy nekkie met liefde omdraai. Wat dóén hul by die dagsorg dat sy energievlakke saans so hoog is as wat hare laag is?
Nie dat haar energievlakke eintlik ooit enige hoogtes bereik nie.
“Wanneer kom Vader Krismis, Ma? Gaan hy baie presente bring? Watter lekker goeters gaan ons als doen, Ma?” Die vrae hou net nie op nie. Sy het verwagtinge by haar kind geskep en nou sit sy met haar mond vol tande; die trollie vol lekkernye moes net daar in die winkel agterbly, die plesierige uitstappies kan sonder geld en bestuurslisensie eenvoudig net nie gebeur nie.
En sy het verwagtinge by haarself geskep; verwagtinge wat te doen het met Neville se nommer op haar selfoon. Die nommer wat sy nêrens neergeskryf het nie.
“Bel my gerus ,” het hy met sy heuningstem gesê, “dan ontmoet ons vir ‘n drankie.”
Hermien was skoon verstom oor die aandag van die aantreklike nuweling by die droë ou kantoorpartytjie. Sy het nie eens besef hy kon mos maar háár nommer ook gevra het nie. Dae en nagte het sy omgedroom oor die mooi man wat háár raakgesien het; paniekerig gewonder of hy haar ooit sal onthou as sy bel.
Sy wou só graag ook gelukkig wees in hierdie Kerstyd.
Redding kom uit ‘n onverwagse oord. Twyfelagtige redding. Haar buurvrou se veelkleurige bossiekop verskyn in haar voordeur (ja, sy’t alweer vergeet om te sluit): “Dit gaan ‘n bietjie raas vanaand by my; ek het ‘n klompie pelle oorgevra.”
Understatement van die jaar; sy weet Donna se klompie pelle is gewoonlik ‘n hele leërskare, en hulle kry nie end voor hanekraai nie.
Hanekraai. Hoe verlang sy nou huis toe, plaas toe, kindwees toe.
Die dag was meer as wat vlees en bloed kan verduur; sy dop die hele sak patas net daar in Donna se skoot om: “Ek en Jaco sit gestrand vir die hele Kersnaweek, sonder ‘n sent, amper sonder kos, amper niks petrol in my kar nie.”
“Gaan ons strand toe, Mamma?” juig Jaco ekstaties, wat Hermien net harder laat huil.
“Wat jy nodig het, is ‘n paar stewige doppe,” besluit Donna namens haar. “Vergeet van droëbek hier sit en tjank, vanaand gaan jy ‘n slaggie saamjol.” Donna kom kerm gereeld sy moet kom saamkuier, maar vir daardie rare klomp het sy nog nooit kans gesien nie.
Donna vat vir Jaco ferm aan die hand: “Kom, ou bulletjie, kom ons kry jou ma ‘n bietjie uit haar groef!”
Rooi oë en al drentel Hermien belangeloos agterna. Sy help steek gedwee kerse aan en dop pakke tjips in bakke om en luister met ‘n halwe oor na Donna se gebabbel. En drink roekeloos dop vir dop saam met haar.
Vir Jaco is Donna se kleurryke woonplek propvol verrassings beter as enige strand. Hy verwonder hom so dat hy skoon vergeet om verwoesting te saai.
Teen die tyd dat Donna se gaste opdaag, is Hermien nie meer die patetiese ou geskeide vroutjie met die stout kind wat vir die Kersnaweek sonder geld gestrand sit nie. Haar wange is hoogrooi en haar oë skitter onnatuurlik, en haar stout kind raak vroegaand soos ‘n engeltjie aan die slaap.
Toe Neville uit die malende lywe voor haar verskyn, is sy nie eens danig verras nie; niks is meer onmoontlik op die stasie waar sy teen dié tyd is nie. Sy stap sorgeloos in sy arms in en bly vir die een dans na die ander doodgelukkig net daar. Tot ‘n vrou met koue blou oë haar onsag op die skouer tik: “Toe, jy’t jou nou genoeg vergryp aan my man! Kom, Neville, kom dans ‘n slaggie met jou eie vrou!”
Hermien skrik haar so nugter soos ‘n spook. “Hy’s getroud!” snik sy in die kombuis terwyl Donna onverstoord nog spys en drank uit sakke skud en op skinkborde laai.
“So what?” Donna se strepieswenkbroue skiet omhoog. “Almal weet Celia gee hom al sy hel en hy vat ‘n kans net waar hy hom kry. Jy’t maar net jou beurt geniet, dis al. Komaan, daar’s nog baie visse in die see!”
Maar Hermien gaan vat bewend van skrik en skaamte haar slapende kind op die dubbelbed waar ‘n onbekende paartjie lustig langs hom aan die vry is. Sy gaan klim met hom en al in haar kuise ou enkelbedjie, druk haar brandende gesig teen sy lomerige seuntjielyf aan.
Dat sy wragtag weer vir ‘n mansmens se slimstories kon val!
Vroegdag bons Jaco die ene elmboë en kniekoppe oor haar moeë lyf: “Wanneer gaan ons strand toe, Mamma? Wanneer is dit Krismis? Toe, Maaaa, staan op, man!’
“Ons kan nie strand toe gaan nie, Jaco.” Sy’s te tam vir mooi broodjies bak.
Die lippie trek onmiddellik lank: “Ek wil strand toe gaan, ek wil, ek wil!” Het sy haar kind bederf uit pure jammerte?
“Daar’s nie genoeg petrol in ons kar nie, liefie.”
“Die garage sal vir ons nog petrol gee!” Ag, om maar weer die vertroue van ‘n kind te hê.
“Ons het nie genoeg geld om daarvoor te betaal nie.”
“Jy’s dom, man, die bank sal vir ons nog geld gee!” Sy weet wat haar ma te sê sal hê van sy ge-man en ge-jy, maar haar ma is ver van hier en onbereikbaar sonder foon.
“Daar is amper niks meer geld in ons bank nie, Jakkie,” en haar trane begin sowaar weer loop.
“Nou waar’s ons geld dan, Ma?” Sy bravade het verdwyn; hy is nou weer net ‘n vyfjarige seuntjie wie se pes van ‘n pa hom blykbaar heeltemal vergeet het.
“Iemand het gister in die winkel al ons geld gesteel,” sug sy gelate.
“Om wat mee te maak?” Appelwange opgeblaas, ronde blou oë wyd van woede.
“Dalk was dit ‘n mamma wat graag vir haar kind ‘n Krismisboks wou koop,” probeer sy halfhartig.
“Ek wil ook ‘n Krismisboks hê!” Nou skree hy kliphard en onbeheers; daar’s niks moois aan ‘n kind wat ‘n tantrum gooi om sy sin te kry nie.
Haar senuwees is rou, sy ruk hom voor sy weet wat sy doen: “Jy kan nie ‘n Krismisboks kry nie, Jaco, ‘n donnerse vark wat te lui is om te werk, het al ons geld gesteel, hoor jy dan nie?!”
“Aag issie, Ma, varke issie lui nie, hulle vroetel dan die hele dag so met hulle wielietjieneuse!” en hy stamp-stamp haar in die ribbes met die rosige rosyntjieneusie. Meteens is hy weer haar engelkind, haar vreugdekind, haar begin en haar einde en alles tussenin. Sy maak hom in haar arms bymekaar en soen sy trane droog, kielie hom daarna tot hy hik soos hy lag.
Jacques kon haar van selfrespek en aardse goed ontneem, maar haar kind se liefde kan niemand van haar wegvat nie.
Sy het nou wel nie geld nie, maar meteens het sy tyd. Hope daarvan. Wanneer het sy dan vergeet hoe ‘n kleuter die lewe met albei handjies kan aangryp? Iewers tussen die werk en die stoof en die onbetaalde rekeninge het sy die kluts kwytgeraak.
Die ellendeling met die lang vingers het haar ‘n yslike guns gedoen.
Daar’s soveel dinge om sonder geld te doen. Selfs huisskoonmaak is vir ‘n vyfjarige ‘n avontuur. En swaai in die parkie. En duiwe voer. En Kersliedjies oor die radio.
Oukersaand lees sy vir haar kind die Kersverhaal en hulle sing die paar Kersliedjies wat hy ken oor en oor tot sy oë vroegaand moeg toeval. Toe gaan sit sy op haar balkonnetjie en kyk uit oor die stad en herrangskik haar prioriteite in haar kop.
Toe haar klokkie lui, oorweeg sy dit om doodstil te bly sit, die gevoel van vrede te kosbaar om te versteur. Maar sy gaan maak tog oop. Voor haar staan die beleefde winkelbestuurder en ‘n sagte vroutjie wat hy as Bokkie aanspreek met twee yslike inkopiesakke. “Mevrou, asseblief, aanvaar dit met ons komplimente.” Hulle is so opreg, sy kan dit eenvoudig nie weier sonder om aanstoot te gee nie.
Agter hulle staan die man wat haar na die diefstal probeer help het. O ja, Rudolph is sy naam. In sy arms is vonkelwyn en blomme. Hy lyk verleë, maar vasberade: “Geseënde Kersfees, Hermien.”
‘n Warm hand vou om haar hart, sodat haar glimlag opreg is en haar trots skoon verdwyn. “Dankie,” is al wat sy kan uitkry, “baie, baie dankie.”
Die hemele het oopgegaan, dink Hermien toe haar klokkie weer lui; die engele word vir my vrygelaat vanaand. Want haar bejaarde ouers is vaal en verbouereerd van die lang pad en die skrikwekkende stadsverkeer, maar hul verweerde gesigte gloei van ‘n wonderlike liefde, ‘n liefde wat sy weens haar koppige trots eenkant gestoot het.
“My kindjie, ons kon jou nie bereik met die foon nie! En ons ken niemand hierrond wat ons kon vra om te kom kyk nie.”
Dankie, Here, dankie, dankie, dink Hermien deur die trane en die bekendstellings en die uitpak van die skatte uit die groot afdelingswinkel, die afgeleë plaas in die Noordweste en die hande van die skaam man met die mooi oë wat nie by ‘n vreemdeling in nood kon verbystap nie.
Sy was verkeerd: Goeie dinge gebeur nog in hierdie bose tyd. Sy kyk na die kringetjie gesigte in haar beknopte sitkamertjie met die pieperige skewe Kersboompie en sy sien die ware liefde, vrede en welbehae van Kersfees.
Sodat sy nie eens vreeslik verbaas is toe die deurklokkie laataand ‘n derde keer lui nie. Die seun hou haar handsakkie met albei hande na haar toe uit; die pa se stem is nederig, maar sterk: “Madam, the Lord told my son to bring it back to you.” Alles is nog daar, van die kontant tot by die naelvyl.
“Thank you, thank you so much,” prewel sy met verwondering terwyl sy hulle na binne trek.
Sy weet nie of sy werklik engele hoor sing, en of dit maar haar eie hart se vreugdelied is nie. Van oorkant die vertrek glimlag Rudolph vir haar; miskien het hy dit ook gehoor.