Ek voel stout het in Huisgenoot van 2 November 2006 verskyn. Kyk net daardie selfoon op die illustrasie!
“EK VOEL STOUT – IS JY lus vir speel?”
Koue sweet slaan op my lyf uit; ek voel hoe gloed op gloed in my nek opstoot. Vervaard maak ek die boodskap toe en plak die foon eenkant neer asof hy die bose vanself is.
Terwyl my hartklop stadigaan weer stabiliseer, begin roer my humorsin versigtig in sy hoekie. My mondhoeke pluk-pluk; toe ek my kom kry, lag ek kliphard, iets wat ek nie dikwels doen nie. Ek wíl mos stuitig wees, krap waar dit nie jeuk nie, dan moet ek seker bereid wees om te vat wat kom.
Maar speel? Spéél!? Hoe speel ‘n mens per sms? Met ‘n jongman van vyf-en-twintig wat sê hy voel stout? Veral as jy onherroeplik menopousaal is en die laaste stout ding wat jy gedoen het, was toe jy in standerd een vir jou juffrou agter haar rug tong uitgesteek het?
En as jy nie die vaagste idee het hoe speel ‘n vrou nou eintlik met ‘n man nie?
Die laaste man wat met my probeer spelerig raak het, was my baas – seker ‘n goeie vyftien jaar gelede – en hy berou dit nou nog. Ek het doodeenvoudig die foon opgetel en sy vrou gebel. Hoe moes ek weet dit was netmooi die laaste ragfyn strooitjie wat daardie moeë kameel se rug sou breek? Ek was maar net die jongste in ‘n lang, lang ry. Verskil was, ek het my mond oopgemaak.
Vreeslike skandaal was dit, een van die eerste groot seksuele-teistering-sake, klaagster op klaagster wat soos motte na ‘n kers toe aankom. Siestog, hy’s sit nou nog in ‘n eenmanskooltjie iewers op Putsondergat of Gatsonderwater of êrens.
Soos jy seker kan aflei, is ek nie iemand om mee te speel nie. Nie letterlik nie en ook nie figuurlik nie. Ek vermoed mense sien my as ‘n redelik formidabele persoon, iemand om mee rekening te hou. Ek loop my pad eerlik en reguit en hou my nie met nonsens op nie. Of so het ek gedink.
Maar hier sit ek nou met gloeiende ore en ‘n skuldige gewete oor iets so verspot soos ‘n suggestiewe sms-boodskap.
Dit het my skaars ‘n minuut geneem om aan te teken by een van die sms-flankeerdienste waarvan jy deesdae oral lees, en nog ‘n blote oogknip voor ‘n bloedjong man met my wou flankeer. Of vry of flirt of wat ookal. Veral die wat ookal, lyk dit my.
Hy kan natuurlik enigiets behalwe ‘n bloedjong man wees. Hy kan stokoud, pervers, eensaam, gay, walglik of selfs vroulik wees.
Veral aangesien hy dink ek is vyf-en-twintig, pas geskei en baie sexy.
“JUFFROU VERMAAK, PRESIES HOEKOM IS jy nou eintlik so ontsteld? Dis nie doodsake nie, dis bloot ‘n kind wat impulsief opgetree het. Ontspan – Tafelberg staan nog!”
Die man vul die stoel behoorlik; hy vul om die waarheid te sê my kantoor behoorlik. Hy het donker krullerige hare wat laag teen sy rug in ‘n poniestert hang en warm bruin oë propvol spontane lag.
Die oë lag egter nie mét my nie. Hulle lag vír my.
Ek rig myself waardig op in my skoolhoofstoel. Ek is nie ‘n klein vroutjie nie en ek sal my nie deur hierdie vent laat intimideer nie. “Meneer Venter, ek sien geen grap in hierdie situasie nie. U doen u dogter geen guns deur hierdie tipe gedrag goed te praat nie.”
Hy lag nie meer nie; hy is skielik doodernstig: “Ek maak my kind groot met die geloof dat dit goed is om te doen wat jou hart of jou lyf vir jou sê om te doen, solank jy niemand anders daardeur benadeel nie. En nie jy of enigiemand anders gaan my van die teendeel oortuig nie.”
Ek maak my mond oop en weer toe soos ‘n vis wat die dam gemis het, maar nou’s daar g’n keer aan die man nie: “In my lewe het ek al gans te veel mense gesien wat totaal uit voeling met hul gees en liggaam leef, mense wat nie ‘n idee van hul eie begeertes en vrese het nie, mense wat nooit regtig leer lééf het nie. Dis nie wat ek vir my en my kind wil hê nie.”
Ek glo in ‘n waardige, ingetoë lewe; hierdie man bevraagteken die kern van my lewensfilosofie. “So jy glo elke mens is vry om toe te gee aan elke bevlieging wat hom pak? En dan’s jy verbaas dat die wêreld deesdae lyk soos hy lyk!”
Hy spring vererg op: “Ek het gesê solank hy niemand benadeel nie! Ek propageer nie bandeloosheid nie, ek propageer lééf. Verantwoordelik leef, maar ook voluit, spontane lewe. Lééf met hart en siel. En ek gaan niemand toelaat om my kind van daardie gawe te beroof nie.”
Ek word verskriklik kwaad, en ek is nie ‘n mens wat vir elke bakatel verskriklik kwaad word nie: “Meneer Venter, jy weet nie wat verantwoordelikheid is nie!”
“Mejúffrou Vermaak, jy weet nie wat lewe is nie!”
Touché.
DIT WAS NOG LANK VOOR sonop, feitlik pikdonker, die sand spieëlglad in die klein strepie maan, die branders se wit skuimkoppe spokerig helder bo die donker oseaan. Ek was moeg en ongedurig na ‘n onrustige nag; die matriekkamp is elke jaar ‘n groter uitdaging. Ek het gehoop ‘n ongesteurde wandeling langs die strand sal my krag gee vir die laaste kampdag wat soos ‘n berg voor my gelê het.
En daar kry ek die nuwe meisie, uitbundig aan’t dans in die vlakwater, bos hare dwarrelend in die wind, kop agteroor, hande gelig na die hemel.
En toe ek verdwaas stilstaan en staar, neem die volmaakte meisielyf vorm aan in die doflig, onbevange oorgegee aan die goddelikheid van die oggend, die elemente, die see, die lewe. Feitlik poedelkaal, die nagrokkie swaaiend aan die vingerpunt, in volmaakte harmonie met die ewige ritme van die see.
Dit was magic, absolute magic.
En wat doen ek? Ek word verskriklik kwaad en skree die magiese oomblik uitmekaar; sy stukke sal ons nooit weer kry nie.
Ek weet nou dit was onnodig om só vreeslik boos te raak. Maar ek weet nog nie hoekom ek so oorreageer het nie. En ek is ‘n mens wat hou van wéét.
Ek het haar uitgetrap van ‘n kant af en toe haar ouers gaan bel. En gewag vir trane en verskonings.
Ek wag nou nog. Daar was geen trane van haar kant óf verskonings van haar pa se kant af nie. Die kind het my kalm aangekyk met die paar mooie steenbokkie-oë, g’n sweempie van skaamte êrens te bespeur nie. Sy’t haar nagrok oor haar lyf gegly en stil weggeraak terug kamer toe. Oor die foon het die pa het soos ‘n vervlakste hiëna gelag en dit duidelik gestel hy dink ék is die een met die probleem.
Kan dit dalk wees dat hy reg is?
Die nuus het vinniger as die spreekwoordelike veldbrand versprei. Die hele kampgroep het hulle verkneukel in die insident, verraderlike kollegas inkluis. Verál die verraderlike kollegas. En Emma Venter was nie die gek nie; Magdalena Vermaak was die gek. Vir die res van die dag was ek ekstra streng, die leerders ekstra gehoorsaam, die kollegas ekstra onderdanig. Té gehoorsaam, té onderdanig.
En ek het meteens helder en duidelik geweet ek het hulle respek, maar nie hulle toegeneentheid nie.
En van léwe weet ek netmooi niks.
EN HIER SIT EK NOU met ‘n rooi gesig en allerhande gevoelens wat ek nie kan naam gee nie. Wat ek nie kan wáág om te probeer naam gee nie.
Maar hoe presies ek van ‘n losbandige leerder met ‘n aweregse pa af by ‘n sms-opteldiens uitgekom het?
Ek weet waarlik nie.
Ek weet net die insident met Emma en haar onuitstaanbare pa het my geordende lewetjie op sy kop staangemaak.
“Kyk ‘n bietjie rond, daar’s pret in die lewe! Ons hoef nie te vergaan van erns net oor ons nie meer bronstige tieners is nie. Kyk na jou skool – ‘n wonderlike skool, maar alles is so vreeslik ernstig.” Hy het dringend vorente geleun, homself op my lessenaar gestut. Ek het my stoel blitsig teruggewiel op die sagte mat, die man te na aan my vir my gemak.
“Miskien moet jý ‘n slaggie langs die see gaan dans, Mejúffrou Vermaak.” Kwaad, maar skielik glimlag hy weer: “Jy is ‘n vrou met soveel pret in jou opgesluit. Jy was so kwaad, juis oor jy dit so graag sélf wou doen!”
Ek kon die man gerus vermoor.
Van toe af sien ek dinge raak wat ek jare lank toegewyd misgekyk het: ‘n grysaard se knokkelrige ou hand wat stilweg oor sy vrou se weggevalle boude gly; ‘n matriekmeisie se heupe wat roer onder die vormlose skoolrok; verflenterde kleuters wat jillend tussen plakkershutte hardloop, uitbundig aan die lag te midde van soveel armoede en ellende.
Die ganse wêreld is meteens vol seks en sports.
En die waagmoedigste ding wat ék kan doen, is inteken op ‘n sms-vrydiens en my morsdood skrik vir die reaksie wat ek kry.
Voorwaar ‘n ellendige situasie.
ALL WORK AND NO PLAY makes Maggie ‘n dull girl. Dit was die boodskap by die armvol sonneblomme.
Die skoolgange het vibreer van nuuskierigheid; ek kon behoorlik síén hoe klop die vergesogte gedagte in die meisies se koppe: Kan dit wees dat die Ice Lady dalk ook ‘n léwe het?
METTERTYD NEEM DIE GEDAGTE IN my teensinnige harspan vorm aan: Ek skuld die mense ‘n verskoning. Ná ‘n kort maar pynlike sielestryd begin ek op ‘n douvars Maandagmôre by die maklike een – die dogter.
My Lientjie-kind sou ook vanjaar in matriek gewees het. Deesdae is die pyn weer van nuuts af skerp en rou.
Ek is nie gewoond aan verskoning vra nie; dis gewoonlik die meisies wat voor mý stotter en bloos na húlle verbrou het. So dit gaan swaar, maar ek kry dit darem uit: “Emma, ek dink ek het oorreageer. Dit moes vir jou ‘n onaangename ondervinding gewees het, met dié dat jy nog nuut is in die skool ook.”
Sy lag haar pa se lag, waai my verskoning met die hand weg: “Ja, ek het my byna dood geskrik; ek was aan die begin verskriklik bang vir Juffrou!”
“En jy’s nie meer bang vir my nie?”
“Nee wat, Juffrou, my pa sê juffrou is ‘n regte sweetie pie, pure blaf en g’n niks byt nie.”
Die sweetie pie kry haarself nie sover om die pa te bel nie; dis alte duidelik waar sy dogter haar bekkigheid vandaan kry.
DIé SLAG BRING EMMA SELF DIE SONNEBLOMME. Ek hoor duidelik wat hulle probeer sê: warmte, vrolikheid, léwe. Die kaartjie sê bloot: Dankie, dit beteken vir Emma baie. En vir my.
Weer eens pure veldbrand; die personeel en die meisies is in stille beroering. Is daar ‘n man in die Ice Lady se lewe? Kan dit wéés?
Vir die eerste keer in baie jare wens ek daar wás ‘n man in my lewe.
EN TOE GEBEUR DIE ONDENKBARE: Braam bel. Blou jare na ons egskeiding bel die liefde van my lewe my. Elke greintjie verstand wat ek het, skree Nee, moenie! Maar ek gee my verstand ‘n onverdiende dwarsklap en stem in om hom (dis nou Braam) vir ‘n drankie te ontmoet.
Dié nag slaap ek bloedweinig; die spoke van die verlede dans ‘n heksedans oor my. Ek het hom nie weer met ‘n oog gesien ná ek hom daardie dag uit my huis en uit my lewe gegooi het nie. In die donkerste ure van die lang nag gaan diep ek die ou albums op en huil die eerste keer in jare weer die foto’s sopnat. Het ek ‘n fout gemaak? Sou ek kon vergewe as ek werklik probeer het? Het ons tog ‘n kans gehad?
Ek sal nooit weet nie.
Ek weet net één ding: my man het met sy pelle gekuier en ons kleuter laat verdrink. Niks kon weer dieselfde wees nie.
DIE LAASTE HITTE VAN DIE laatsomer lê dynserig oor die vallei. Dis koel op die stoep onder die eike. Ek is met opset vroeg; ek wil die voordeel hê om hom te sien aankom vóór hy my sien. Om my gloei die wingerde in bruin en oker, ‘n tortel roep hunkerend na sy maat, die verkeer vloei ver en dof verby. Ek het my emosies ten volle onder beheer. Dis hoogtyd dat ek dinge in die gesig kyk; ek het die verlede vir te lank te vasberade geïgnoreer.
“O hallo, Juffrou!” Dis Emma, in kelnerin-gedaante. “Welkom by ons plek, Juffrou! Drankie?”
Dis goed, nou kan die vermetele man ook sien ek het ‘n lewe, dink ek, pure bakvissie. Behalwe – hy sal verkeerd sien; ek het nié ‘n lewe nie. Ek het vir jare my seer begrawe en ‘n skyn van welstand en sukses bewaar. Maar geléwe? Nee, nie regtig nie.
Braam kom die trappies opgestap: pynlik middeljarig, ietwat oorgewig, die mooie swart kop amper spierwit grys. Maar toe hy afglimlag na my toe, toe val die jare weg. Die man wat ek liefgehad het, die pa van my kind, die man wat ek nie wou vergewe vir ‘n enkele menslike misstap nie, staan voor my.
Hy vat my hande vas in albei syne, soen my vol op die mond, bestel wat hy dink ek sal drink, praat aanmekaar: “Maggie, dis so goed om jou weer te sien. Jy lyk uitstekend!” Dit het hom nooit getraak dat ek ‘n sterk gesig en boerevoete het nie.
“Ek hoor jy is ‘n formidabele skoolhoof. Die Ice Lady, né!” As my beroep nie destyds al so belangrik vir my was nie, het ek self na my kind gekyk.
“Ek en Monica is uitmekaar, ek is terug in die Boland.” Hy is binne ses maande weer getroud, met sy sekretaresse, ‘n ekstroverte maltrap. Hulle is hier weg Natal of êrens toe. Ek het alleen agtergebly met my dubbele verlies, my dubbele verwyt.
“Maggie, ek wil jou weer ….”
“Magdaleen, hoe gaaf om jou hier te kry! Ons het die plek mooi reggemaak, né?” Ek kan sweer Peet Venter het êrens in die agtergrond gewag vir presies hierdie oomblik om sy entrance te maak. En ek is hom innig dankbaar; dinge beweeg te vinnig vir my.
Maar ek bly pure bakvissie: “O, hallo, Peet!” Asof ons die beste van pelle is. “Ontmoet Braam, my eks.”
Goed so, hy’s stomverbaas. Ek was nog nooit spyt ek het destyds my nooiensvan en ongetroude titel teruggevat nie.
Of nee, hy’s nie bloot stomverbaas nie. Hy’s diep ontsteld, sy oë yskoue skrefies in sy wit gesig: “O, ons ken mekaar maar alte goed.”
Die bloed stoot rooi in Braam se gesig op: “Ek het jou destyds gesê It takes two to tango, en ek sê dit weer!”
“Maar net een dronk bestuurder om ‘n ongeluk te veroorsaak.”
Braam se skouers sak moeg: “Ek het jou gesê ek is jammer, opreg jammer.”
“Net jammer dit kan nie my kind se ma vir haar teruggee nie. Of haar vertroue in verhoudings nie.” Hy draai op sy hakke om; sy rug lyk moeg en hartseer.
Die ontmoeting is onherroeplik bederf: Braam is ontsteld, Peet is ontsteld, ek is ontsteld.
“Braam, wat gaan hier aan?” Ek klink soos die streng opvoedkundige wat ek is.
Braam sug: “Ja, so haal ‘n mens se duiwels jou in. Dat hý nou wragtag ook hier in die Boland moet kom wonde lek!”
Emma kom sit ons wyn neer, maar nou is die gesiggie bleek en geslote. Braam kyk haar agterna met ‘n droewige mengsel van blydskap en spyt in sy oë. “Haar ma se ewebeeld,” sug hy.
“Sy was ‘n pragtige vrou, saam met my gewerk. Een ding lei mos maar tot ‘n ander; dit was lankal nie meer goed tussen my en Monica nie. En toe die ongeluk … Emmarentia se kastige beste vriendin het ná die begrafnis met die hele sak patas vorendag gekom. Moenie my vra hoekom nie; kon seker maar nie die thrill weerstaan om die draer van sulke sappige nuus te wees nie.”
Hy maak sy glas met ‘n paar slukke leeg, wink ‘n kelner nader. Emma is nou nêrens te siene nie. “Dit het my my huwelik gekos, Maggie. En weer eens is ek skuldig.” Sy hande reik meteens desperaat na myne: “Ek kan nie langer met al hierdie skuld saamleef nie, jy moet my help, asseblief!”
Ek hóm help? Ek kan nie eens myself help nie!
Ons sal mekáár moet help – ek en Braam, Peet en Emma. Hierdie is ons almal se kans om ons duiwels te begrawe en nuut te begin.
DIS NOG LANK VOOR sonop, feitlik pikdonker, die sand spieëlglad in die klein strepie maan, die branders se wit skuimkoppe spokerig helder bo die donker oseaan. Vanjaar se matriekkamp was ‘n groot sukses, propvol pret en groei vir leerders én opvoeders. My hart loop oor van vreugde en dankbaarheid.
Ek begin stadig dans in die vlakwater, my hare dwarrelend in die wind, kop agteroor, hande gelig na die hemel. Ek gee my onbevange oor aan die goddelikheid van die oggend, die elemente, die see, die lewe.
Dis magic, absolute magic.
Toe gly ek my nagrok weer oor my lyf en draf met verkluimde voete terug na die huisie agter die Weskusduin.
Gelukkig is Peet se voete altyd warm.