Ek praat van die tradisionele Afrika-filosofie van ubuntu, wat beteken: “Geen persoon is ’n eiland nie.”
Ek het ’n beter verduideliking op Wikipedia gevind:
Aartsbiskop Desmond Tutu het ubuntu in 2008 só verwoord: “Een van die sêgoed in ons land is ubuntu – die essensie van menswees. Ubuntu praat spesifiek van die feit dat jy nie kan bestaan as ’n mens in isolasie nie. Jy kan nie ’n mens al op jou eentjie wees nie, en wanneer jy oor hierdie deug – ubuntu – beskik, staan jy bekend vir jou vrygewigheid.”
Ons dink alte dikwels aan onsself as bloot individue, geskei van mekaar; daarenteen is jy verbind en wat jy doen het ’n impak op die hele wêreld. Wanneer jy goed doen, versprei dit; dit is vir die hele gemeenskap.
Vir my is ubuntu die aanvaarding van andere as dele van die somtotaal wat ons elkeen opmaak. En dit is presies wat ek ervaar het in die opbou tot en die eerste dae van hierdie Wêreldbeker.
Daar is skaars ’n Suid-Afrikaanse burger wat ek op die straat, in winkels, restaurante of hotelle ontmoet het wat nie uit hul pad gaan om my te groet en seker te maak ek voel tuis nie. En ek bedoel dit nie in die oppervlakkige sin van “O, watter gawe, gasvrye mense is hier nie…”
Ek bedoel opregte, werklike belangstelling en vrae. Mense wat wil weet waar ek vandaan kom. Hoe dit is waar ek woon. Hoe vergelyk dit met waar ek nou is. Wat dink ek van Suid-Afrika. O ja, en wat dink ek van Bafana Bafana?… Die vrae en gesprekke is in erns. Dit is eerlik. En dit word gevoer met entoesiasme en ’n dors om meer te weet. Suid-Afrikaners drink diep uit die beker van menslikheid wat na hul voorstoep gebring is.
Ek kan my nie indink dat ’n Amerikaanse Wêreldbeker of Olimpiese Spele so verwelkomend teenoor die res van die wêreld sal wees nie. En dit maak my hartseer oor die toestand van my geboorteland, maar dit laat my ook trots voel op die Suid-Afrikaanse mense.
Ek is diep nederig gelaat op hierdie tog. En terwyl ek my klagtes rakende ontwikkeling hier het, kan ek nie een negatiewe ding sê oor hoe Suid-Afrika sy pligte as gasheerland hanteer het nie.
As ek een ding kan sê om hierdie eens-in-’n-leeftyd-ervaring op te som, sal dit wees dat ek die waarde van ubuntu geleer het, en dat wanneer dit gevind word en in oorvloed aangebied word, die wêreld inderdaad ’n beter plek is om in te woon.
So, as Suid-Afrika niks meer regkry op die speelveld nie, sal hy steeds wen as ’n gasheerland.
Ek is ’n siniese mens, daaroor is daar geen twyfel nie. En tog moet ek erken, ek is effe tranerig terwyl ek hierdie skryf omdat ek volgende naweek huis toe gaan en ’n klein stukkie van myself hier in Suid-Afrika gaan agterlaat. Ek hoop net ek het genoeg geleer om ’n klein stukkie ubuntu na my geboorteland terug te vat, waar dalk, met ’n bietjie omgee en ’n bietjie water, dit so natuurlik wortel sal skiet soos hier, in die wieg van die beskawing.
Dis snaaks, mense in Amerika vra my steeds: “Is die mense in Afrika nog baie primitief?” Ja, ek weet, dit is ongelooflik dat mense dit vra, maar hulle vra dit steeds. En wanneer hulle vra, verduidelik ek gewoonlik vir hulle om in ’n modderhut te woon nie ’n mens primitief maak nie, maar om kinders toe te laat om dwelms aan ander kinders te verkoop en deel te neem aan ’n verbyry-skietery – is dit primitiewe gedrag? Ek dink dit is.
Wanneer ek dink aan ubuntu en my onlangse ervaringe hier, dink ek Amerika het oor die algemeen baie om te leer by Afrika, in terme van om as ’n groter dorp te leef, en as mense wat almal verbind tot mekaar is, met elk van ons wat ’n invloed op ons broers en susters het.
Soos die 2010-leuse lui, “Voel dit. Dit is hier.” Wel, ek het dit gevoel, want ek is hier. Dankie Suid-Afrika, vir hierdie onverwagte geskenk. Ek is nederig gemaak.
* Hierdie artikel het op die Huffingpost.com blogruimte verskyn.
Rapport 20 Junie 2010