Smith, Bets – Goue dagbreek

FGoue dagbreekacebook-mater Petro Greeff het die volgende oor hierdie lekker boek geskryf:
Bets Smith se boek Goue Dagbreek het my van die eerste woord af geboei en toe ek klaar gelees het, moes ek afskeid neem van mense wat ‘n paar dae saam met my asemgehaal en diep in my hart gekruip het. Goue Dagbreek volg op Onder ‘n Sterrehemel en vertel die verhaal van Catriona Fraser wat as spioen tydens die Boereoorlog opgetree het terwyl sy as verpleegster gewerk het.

Oorlog was nog nooit ‘n wen-wen situasie nie, die verlies aan lewens is net te groot daarvoor. Ek het saam met Rudolf, die held van die verhaal, pyn ervaar, die wind wat oor die vlaktes gewaai het het ook deur my hart geruk en pluk, die ontploffing by die trein met ammunisie het my koud laat word asof ek saam met die soldate daar was.
Maar die hoofkarakter Catriona Fraser het ten spyte van ‘n brose voorkoms, ‘n hart van goud gehad sowel as ‘n deursettingsvermoê wat my elke keer verstom het. Ek was telkens in die benoudheid saam met Catriona in haar situasie omdat ek as vrou weet wat die liefde beteken. Haar lewe was amper verskeur deur die mans in haar lewe wat verkeerd opgetree het, haar liefde vir Rudolf Dreyer en haar ontnugtering wat haar pa veroorsaak het, het van haar ‘n pion gemaak. Gelukkig het sy nie ‘n pion gebly nie en het ‘n sterk vrou in eie reg geword. Sy het haar eie besluite geneem en gewaag, ten spyte van gevare wat sy moes trotseer.
Sal ons oorlog eendag verstaan? Nee, ek dink nie so nie. Oorlog tussen lande het net verliese tot gevolg maar oorlog in die hart tussen mense het meestal ‘n wins as dit reg uitwerk. In alle soorte oorloë, of dit nou tusen lande of landsburger is, is daar die lojales, die verraaiers en ook die wat net vir eie gewin optree. Die oorlog van die hart is meestal suiwer om die ander persoon se hart te wen. Maar ai, is ons harte nie maar ook soms ‘n verraaier nie? Dit smokkel met ons gevoelens, laat ons weerloos en tap elke greintjie energie.
Bets Smith het dit reggekry om die oorlog tussen lande fyn te beskryf met soveel besonderhede en gelyklopend daarmee die hartsoorlog van Catriona Fraser en Rudolf Dreyer. Dit was sowaar ‘n boek wat ek moeilik neergesit het en sal nog lank ‘n paadjie saam met hulle in my gedagtes loop.

Lewer kommentaar