Terug na die lewe het in Huisgenoot van 6 Desember 2007 verskyn en het sy oorsprong in ‘n toneeltjie wat ek eendag op Swellendam raakgesien het. Die res is verbeelding, maar ook nie heeltemal nie, want ek was op daardie stadium bewus van ‘n paar pragtige jong mans wat moes aanpas by die lewe in ‘n rolstoel. Die hondjie is in herinnering aan die enetjie wat jare gelede saam met my gewerk het. (Ja!) En die nieroperasie slaan terug na Ouboet s’n van destyds. Wanneer losstaande goedjies so bymekaar kom om iets nuuts te vorm, is dit van my lekkerste oomblikke as skrywer.
“Siejy! Skoert!” Die meisie se stem slaan hoog deur van pure verontwaardiging. En seker van skrik ook. Caeser is nie ‘n klein hondjie nie.
Dis wel ‘n klein meisietjie. Klein en lekker hardekwas, soos die krombeen-uitpeuloog-gediertetjie wat sy teen Caesar se liefdevolle aanslag probeer verdedig.
Nie dat sý krom bene en uitpeuloë het nie. Inteendeel. Die paar bene onder die geplooide rompie is genoeg om enige man te laat drome droom en gesigte sien. Die oë kan ek nie so lekker sien hier van die stoep af nie. Maar ek wéét – of hulle nou groen of blou of bruin is – hulle blits!
“Voertsek! Jou ongeskikte gedierte!” En onsag kom ‘n piepklein handsakkie op ou Caeser se vorstelike hoof neer. Op hierdie stadium staan hy wydsbeen oor die potsierlike langhaargedroggie en lek lang, slobberige hale oor die stomp gevreetjie.
Caeser lig darem sy kop na my tweede fluit. Maar moenie glo die meneer kom nie, o nee, hy bly staan bo-oor die klein hondjie – wat teen hierdie tyd besef het dis net ‘n spelery, nie ‘n moord nie – en kyk verlangend heen en weer tussen my en die versoeking aan sy voete.
Die meisie het egter wel gehoor. Sy verhef haar stem in my rigting, duidelik verlig om ‘n menslike sondebok op te spoor, siende dat die ware oortreder hom bitter min aan haar en haar handsakkie steur: “Is dit jou gedierte hierdie? Kom vat hom dadelik weg van my hond af!”
As dit maar so maklik was.
Ek fluit nog ‘n keer. Hierdie keer kom Caesar met ‘n gemartelde houding na my toe aangedraf. Pretbederwer, sê sy lyftaal alte duidelik. Siestog, soos in sy baas s’n, is daar in sy hondelewe ook deesdae maar bitter min pret. Maar teen die tyd dat hy teen die breë kliptrap op gedraf het, het hy my al lankal weer vergewe.
Met die meisie gaan ek dit nie so maklik hê nie. Sy kom al kloekend met haar hondjie in die arms oor die straat gestoom. Voor my stoel kom sy boos tot stilstand.
Daar’s iets snaaks aan haar staan. So of sy êrens seer het. Maar ek vra nie. Ek weet genoeg van pyn; ek soek nie nog detail oor ander mense s’n ook nie. Ek bepaal my liewer by die oë.
Die oë is toe groen. Soos albasters. En hulle blits inderdaad. “Kan jy nie jou hond onder beheer hou nie? Hy’t amper vir arme Loesie opgevreet! Gee jy nie die gedierte kos en oefening nie?”
“Hy kry oorgenoeg kos,” brom ek ongeskik. Dis die oefening wat op hierdie stadium die probleem is. Caesar is nog ‘n jong hond en voor die ongeluk het hy elke liewe dag saam met my gaan draf. Die arme ding weet nie wat om met sy energie te maak nie. Hy het nog nie soos ek in depressiewe passiwiteit verval nie; hy hoop nog op beter dae.
Ek is te bang om te hoop.
Die meisiekind het sowaar nog nie die rystoel raakgesien nie, daarvoor is sy nog eens te opgeklits. Dankie tog, die ding staan onopsigtelik eenkant opgevou. Haar verleentheid is die laaste ding op aarde waarvoor ek nou kans sien.
Sy sit haar brakkie voor my voete neer asof sy wil bewys watter skade my hond aangerig het. Sy maak egter min indruk, want teen hierdie tyd is die twee honde albei oortuig van mekaar se goeie bedoelings en dis ‘n gegroet en geruik van ‘n ander wêreld. Hulle vorm ‘n aardige prentjie, die yslike Boerboel en die plat-op-die-aarde Pekingesie.
Soos hulle baas en nooi ‘n treffende prentjie sou gevorm het, as dit nie was vir my klein probleempie nie. Sy is petite en baie blond. Ek is als behalwe petite en blond. Ek is donker en voor die rystoel my gereduseer het tot die hoogte van ‘n kind, het ek ‘n goeie twee meter in my paar nommer twaalfs gestaan. Op hierdie stadium van elke vorige somervakansie het die son my al goed bygekom van touchies speel en swem en jol en kuier op die strand. Maar nou’s ek spierwit uitgebleik en as ek nie pasop nie, sit ek binnekort met ‘n middeljarige tjoepie om my lyf en ‘n ekstra ken aan my bakkies.
Ek wens sy wil haar brak vat en loop. Maar sy wil nie loop nie. Sy staan hande-op-die-heupe en wag dat ek myself moet verdedig. Of seker verkieslik skuld erken.
Dis die duiwel wat deesdae permanent op my skouer sit wat praat, nie Eben Mouton, kranige rugbyspeler en haan onder die henne nie. Voormálige rugbyspeler en haan onder die henne. “Luister, jou brak het niks oorgekom nie. Kry nou maar jou bloeddruk onder beheer voor jý dalk iets oorkom.”
Die uitdrukking op haar gesig verander soos handomkeer. Sy’s seergemaak; ek het definitief nou daarin geslaag om hierdie pragtige meisie se dag bederf. Ek doen dit deesdae chronies – bederf mense se dag. En ek is besig om die wrang vrugte daarvan te pluk. Die meeste van my ou pelle vermy my deesdae sover hul enigsins kan.
Behalwe my arme ma. Sy het nie ‘n keuse nie. Sy sit met my opgeskeep.
Sonder ‘n woord vat die meisie haar hondjie se leiband vas en sleep die arme dingetjie omtrent die trappe af. Onder gekom maak sy die hekkie nadruklik toe voor Caesar se gretige neus en stap verder straat af sonder om een maal om te kyk.
Die mooiste meisie wat ek in ‘n lang tyd gesien het, stap stadig – amper soos ‘n oumens – verder op pad strand toe. Die strand wat ek gelukkig nie hier van my pos af kan sien nie – dít sou ek sowaar nie kon verduur nie. Maar ek hoef dit nie te sien om te weet hoe dit daar lyk nie. Daarvoor het ek self eens te veel sorgvrye somerdae op daardie einste strand deurgebring.
Vóór ek myself byna gaan staan en verongeluk het.
Dis ‘n volmaakte dag, pure blou en wit en groen. Ek weet presies hoe lekker swem en jol en tan my maters van vorige seisoene gewetenloos op die strand, sonder meer as ‘n enkele skuldige gedagte aan my wat soos ‘n uil op ‘n kluit my somervakansie op die stoep moet deurbring. Hulle chat meisies op, skop balle rond, suip liters bier uit, verbrand hulle dat die velle waai, speel strandtennis, eet roomys …
En af en toe val iemand by van ou Eben in die rystoel.
Daar is nog ‘n paar dapper siele wat so dan en wan kom inloer as hul gewetens hulle te erg aanspreek. Hulle kom sit vir ‘n rukkie rusteloos in die uitgesakte rottangstoele op die stoep. Hulle drink beskaaf die koffie of koeldrank wat my ma aandra, maak stywerige praatjies oor die weer en hoe besig die dorpie al is en dis nog nie eens Kersfees nie.
Nog voor hul koppies behoorlik koud of hul glase behoorlik warm is, staan hul verlig op en draf met hulle gesonde sonbruin bene by die trappies af en gaan voort met hul sorgvrye somervakansie. Hul plig is gedoen. Vir minstens ‘n dag of twee kan hulle vergeet van ou Eben wat dalk nooit weer gaan loop nie.
Met een haal klap ek alles langs my van die tafeltjie af. Koeldrankglas, koffiebeker, potplant, asbak, leesboek, tydskrifte. Arme Caesar vlug doodverskrik by die oop voordeur in, waar hy Ma op haar ontstelde pad buitentoe trompop loop.
Toe Ma op die stoep uitkom, het ek alweer die paar magtelose trane weggevee en die hardegat uitdrukking terug op my gesig geplak. Maar Ma is gedaan. Sy gee die gemors één kyk, sak op die naaste stoel neer en gaan hulpeloos aan die huil.
Sy het laas na Pa se dood so gehuil.
Die volgende oggend is ek vroeg-vroeg op my pos. Caesar vat opgewonde die straat. Net soos Ma, is hy ook dankie-bly as hy ‘n rukkie van my gepruttel kan ontsnap.
Ek word nie teleurgestel nie. Skaars negeuur kom die twee bedaard straat af gestap. Die hondjie is eintlik pragtig, netjies uitgekam en met ‘n yslike houding op die klein lyfie. Lig die pootjies kompleet soos ‘n volbloedperd in die skouring, al is hy skaars ‘n baksteen hoog.
Die meisie het vandag ‘n wit kortbroek en ‘n kort spookasempienk toppie aan. My hart slaan om in my ribbekas. Suikersoet sal sy op ‘n man se lippe wees; daaraan twyfel ek g’n oomblik nie. Ek moet sluk teen die verdomde trane. Watter meisie sal nou aan haar laat proe van ‘n morrende invalide in ‘n rystoel?
Dis wragtag laat in die dag as Eben Mouton negeuur in die oggend op die stoep sit en huil.
Ou Caesar bring sy kant. Hulle kom nog doer bo aan, toe is hy met uitgelate hale oor die straat en al slobberend bo-oor hulle albei. Hierdie keer laat nie een van die twee hulle bluf deur sy grootte nie; hy word met ope arms ontvang.
Ek wag met my hart in my keel. Gaan sy opkyk? Gaan sy hallo sê? Of het sy my gister klaar afgeskryf as die bad news wat ek is?
Ek kan my geluk nie glo nie. Sy kyk nie net op nie. Sy wuif en kom dan aangestryk met die klein hondjie met die yslike attitude en die gróót hond met die klein hartjie vrolik spelende rondom haar.
Maar sy loop nie soos die lewenslustige jong meisie wat sy sekerlik is nie. Sy loop ‘n bietjie soos ‘n oumens, of sy ‘n pyn iewers het.
“Hallo,” sê sy. En sien die rystoel raak.
“Hallo,” sê ek. En sien die operasiewond raak.
“Ek is Denise,” sê sy. “En jou hond is eintlik dierbaar.”
Haar hand is klein en koel in myne. “Ek is Eben,” sê ek. “En ek is nie altyd so ongeskik soos gister nie.” Wat natuurlik ‘n liegstorie is. Deesdae ís ek chronies ongeskik. Voorheen was ek ‘n grapjas en allemansvriend. Voorheen het ek gedink die lewe is een lang partytjie.
Maar nou is die party oor.
Sy gaan sit ongenooid in die naaste uitgesakte rottangstoel, haak Loesie se bandjie los sodat sy en Caesar ‘n bietjie kan speel. Arme ou Caesar kan nie glo wat ‘n geluk hom getref het nie; sy tong hang omtrent op sy voete van lekkerkry.
Sy baas is nie ver agter nie. Ook ek is skoon kortasem. Sy ruik na iets blommerigs; daar’s fyn sproetjies op haar neus. Sy kyk sonder die minste selfbewustheid of jammerte na die rystoel en vra, asof sy vra hoe die weer môre gaan wees: “Wat het jy oorgekom?”
“Motorongeluk. Ek was gedrink.” Dis asof ek haar wíl afskrik, dit so kras as moontlik stel.
Sy skrik nie. “Hoekom?” vra sy.
“Hoekom wat?”
“Hoekom was jy gedrink?”
“Oor my meisie my gelos het.” Marinda, lank en donker soos ek. Sportief en lief vir jol, soos ek. Maar besitlik.
“Hoekom?”
“Hoekom wat?” Dit begin ‘n speletjie word.
“Hoekom het sy jou gelos?”
“Oor ek te veel met ander girls gejol het. Sy was jaloers.”
“Het sy rede gehad?”
“Ja.” Dis wragtig die heel eerste keer dat ek dit erken.
“Het jy haar weer gesien, na die ongeluk?”
“Nie met ‘n oog nie. Nie haar voet in die hospitaal gesit nie.” Dit was vir my bitter. Dat sy nie eens kom sê het sy’s jammer oor die ongeluk nie. Miskien wás sy nie jammer nie. Miskien was sy te kwaad vir my om jammer te wees.
“Wil jy haar graag terug hê?”
Ek dink. “Nee wat, nie meer nie. Watter meisie sal haar nou in elk geval ophou met ‘n krok in ‘n rystoel?” Ek hoor die selfbejammering in my stem. En skaam my vir myself.
“Dit sal net van die krok afhang.” ‘n Kuiltjie roer in haar wang as sy glimlag. “Of hy ‘n dikbek, morrende krok is, of ‘n moedige, vriendelike krok.”
Ek kan nie help om te lag nie. “Ek is ‘n eensame krokodil … die mense kyk vir my en gril …” sing ek meteens, skoon verspot.
Sy val dadelik in, met ‘n suiwer, soet stem wat my laat regop sit: “Ek soek maters hoog en laag …”
“Maar almal sê ek vréét te graag!!”
Meteens is ons gesigte hopeloos te naby aan mekaar. Elke verwaarloosde hormoon in my lyf is besig om ‘n waansinnige riel te dans.
Ek haal diep asem en probeer normaal klink: “Watse operasie het jy gehad?” Die sny is in haar sy, onder die ribbekas langs. Dit lyk nog nuut; g’n wonder sy stap soos ‘n oumens nie.
Hierdie girl is dapperder as ek. Hierdie girl het guts. Sy trek klere aan wat die sny wys en sy durf die straat en die strand aan, al gaan dit teen ‘n oumenspassie.
“Hulle’t my nier opgefieks.” Sy huiwer ‘n oomblik, toe vra sy die groot vraag: “Is dit vir altyd? Die verlamming?”
“Die dokters sê nee.”
“Maar jy glo dit nie?”
Ek dink. Glo ek dit? Hoekom nie? “Ek dink ek is te bang om te glo.”
Die groen oë verloor hulle lag. “Verbeel ek my of sit en versuip jy hier in selfbejammering? Kuier jy ooit met pelle? Of wroeg jy net?”
Ek’s oombliklik woedend. “My pelle weet nie meer wat om vir my te sê nie. Jy weet nie hoe dit is om …”
“Ag snert, man, ek was heeljaar aan en af in die hospitaal, en my pelle het nog baie vir my te sê, want ek sit en sulk nie met ‘n lang gesig op die stoep nie. En ek het nog deurgekom ook!”
Ek wens sy wil loop. Sulke vreeslike positiewe mense gee my ‘n pyn.
Maar sy’s glad nie klaar met my nie: “Vanaand kom haal ek jou om te gaan stap. In die donker, dat niemand jou sien nie.” Sarkasties.
“Nee dankie! En jy’s self gekrok; jy kan my nie stoot nie!”
“Jou arms is nie lam nie; jy gaan jou eie wiele draai! Kom, Loesie.” En weg is hulle.
Sononder sit ek reg, skoon naar op die maag van senuwees. Sal sy kom? Wie gaan ons sien? Ek gaan vrek van skaamte! My handpalms is klam, my humeur slegter as ooit.
Maar Ma het nou ook genoeg gehad. “Eben, die wêreld het nie gaan stilstaan toe jy in ‘n rystoel beland het nie! Gaan stap nou vanaand met die meisie en kyk of die sterre uit die hemel val!”
Sy kom toe. En sy is genadeloos; ek moet net wikkel om by te bly. Gou-gou blaas ek soos ‘n kwaai gansmannetjie en my hande brand soos vuur.
Die hele blerrie dorp is op straat. En elke bekende val omtrent op sy rug ten aanskoue van my en die girl en die honde. Maar ek kry meestal net ‘n terloopse klap op die skouer of ‘n Jis, ou Eben, dis nice om jou te sien! Denise is ‘n nuweling op die dorp en die manne se bekke kwyl van lus. En sy’s verdomp gelukkig; in die toenemende skemer sien niemand haar operasiewond raak nie.
Dis pikdonker en ek is pootuit toe ons eindelik by die huis kom. “Gaan jou ouers nie worry nie?” Bietjie laat om nóú daaraan te drink.
“My pa weet ek is hier. Hy weet van jou.” Ek’s onmiddellik die dinges in. Ek is niemand se charity case nie. Maar ek sê niks. Netnou verwilder ek haar.
Charity case of nie charity case nie, Denise laat haar nie afskrik nie. Saans gaan stap ons, en elke aand vaar ek ‘n bietjie beter. Met die oefening én die sosialisering. My pelle begin stadigaan terugkom, al is dit net om vir Denise te sien.
Denise werk my sake vir my; sy ontpop as ‘n baas-manipuleerder. Ek het teen haar geen verweer nie. En my ma cheer al die pad.
Oukersaand kom haar pa saam oor; ek ontdek tóé eers sy’s al jare sonder ma. En ek het haar nog nie één keer hoor kla nie. Haar pa lees die Kersverhaal en Ma pink ‘n paar trane weg en hulle manipuleer my verwaarloosde kitaar tot op my skoot en Denise se engelstem sing Stille Nag mooier as die engele self.
Kersoggend manipuleer hulle my met rystoel en al tot binne-in die kerk. Ek voel soos ‘n aap in die paadjie langs die bank, maar ek kners op my tande en knik vriendelik vir al wat bekende is. En wragtig – toe ek weer sien, is die diens verby en ek het skoon vergeet om te stres.
Oujaarsaand laat ek my heel gewillig manipuleer tot op die strand, midde-in die uitgelate jongklomp. Toe die klappers om middernag begin skiet, gryp van die manne my stoel en gooi met my ‘n paar esse dat die sand in boë staan. Toe ek weer sien, is daar ‘n mooi meisie op my skoot wat wil saamry. En toe nog een, en nog een. Ek hoor myself lag, hard en uitbundig. En dis ‘n goeie geluid.
Eenuur bars ‘n klomp van ons die kombuis met ‘n helse rumoer in. Ma kom ontsteld ingestorm van die stoep af. Dis ‘n ou gewoonte van haar om Oujaarsaand daar te sit en na Pa te verlang. “Eben, is jy weer gedrink?” roep sy, vergeet skoon om voor die ouens haar pose te hou.
“Nee, Ma, sommer net dronk van geluk,” sê ek sonder om kwaad te word. Ek hou die kosbare meisielyf op my skoot versigtig vas.
“Ek is so bly, my kind.” Daar’s ‘n sagtheid oor haar gesig, ‘n blyheid wat ek nie mooi verstaan nie. Iets méér as haar blydskap oor my wat tot die lewe teruggekeer het.
Toe die blonde man agter haar verskyn, moet ek keer of my mond val oop. “Gelukkige Nuwejaar, kinders,” glimlag Denise se pa met sy hande op my ma se skouers. Die blikskottels! So onder my neus!
Ek kyk na die vrou wat my alleen grootgeworstel het en tree vir tree saam met my deur my eie persoonlike klein hel geloop het. “Ek is ook bly, Ma,” sê ek. En bedoel dit.
Toe die ander klomp eindelik huis kry en die senior love birds terug stoep toe verdwyn het, trek ek vir Denise saggies terug op my skoot.
Ek was reg. Sy is inderdaad soet op ‘n man se lippe.
Rystoel of nie rystoel nie, die lewe is terug in my.