Die rugby-ding …

Erens het ek dit verloor …

In graad 7 (baaaie lank gelede) het ek lang epiese gedigte geskryf oor die Franse Hane wat hier getoer het. Korrekte spelling van die name, de lot. In graad 8 het ek ‘n koerantfoto’tjie van Ian McCallum (kan iemand hom onthou?) in my skoolbaadjie se bosak gedra. In graad 9 het ek die verskriklike ding gedoen om ‘n radio (ja, dit was nog nie dae van Gerhard Viviers) in ons koshuiskamer in te smokkel sodat ons soggens voor skool in ‘n kringetjie om die klerekas kon staan en luister na die uitsending (ek dink dit was uit Nieu-Zealand). In graad 10 het ek vir my eerste ware geliefde begin skree en was daar min vuriger rugby-ondersteuners in die wye Karoo. Ek onthou ook uit daardie jaar ‘n dag waarop ek baie hard vir my uiteindelike  ware geliefde geskree het (toe in matriek en die kaptein van die span).

‘n Klompie stil jare het verloop (tussenin was wel ‘n ongelukkige dag toe genoemde ware geliefde sy skouerpotjie ontwrig het in die proses om se koshuis se eer te beskerm – en ek nie langs die veld was nie).

En in die vroee 90′s tref Ouboet toe die rugbytoneel. Eerste wedstryd – ma entoesiasties langs die veld saam met al die ander mammas. Ouboet word in ‘n spannetjie saam met graad 2′s geboender (ja, ek is nog steeds verbitterd daaroor!). Hy hardloop te mooi vir die pale – en word so erg geduik dat hy met ‘n blou oog (net ‘n ligte enetjie, maar ja, ek’s daaroor nog netso verbitterd) daar uitkom. Maar erger as die blou oog – met ‘n yslike vrees. Die res van die jaar draf hy so skuins agter die bondel saam en sorg dat hy nie naaaaby die bal kom nie. Dis nogal frustrerend om ver te ry, met ‘n woelige peuter ‘n reenerige dag op ‘n paviljoen deur te bring vir ‘n kwartier waarin jou geliefde kind, jou trots en hoop vir die toekoms, op ‘n veilige afstand van die aksie af saamdraf. Om die minste te se.

In die jare daarna was daar vele oomblikke van groot vreugde, pret en gesellige samesyn langs die rugbyvelde van verskillende laerskole in die Kaap en Boland. Maar die pret onder die toeskouers was altyd vir my lekkerder as die aksie op die veld. Die heel lekkerste was seker lieflingkind nommer twee se jaar in die laerskool se onder 13-spannetjie. En nee, ek kan nie onthou of hul baie wedstryde gewen het nie! Ek kan wel die heerlike gees onder die skool se ouers onthou en al die raak segoed op die kantlyn.

Hoerskool (MET deeltekens op!) rugby was weer ‘n heel ander storie. Die manne raak inkennig en ma moet haar stemmig langs die veld gedra. So stemmig dat dit nie meer vir haar so danig lekker is nie. Ouboet se heel laaste interskole wedstryd was ‘n welkome uitsondering. Dit het so gereen dat hy so besig was om die modder uit sy oe te probeer hou dat hy geen aandag aan sy ma se gedrag kon gee nie. Kleinboet was nie minder streng oor sy ma se gedrag nie (inteendeel!), maar self heelwat meer entoesiasties oor die spelery. Dit het gelei tot veral ‘n paar heerlike interskolewedstryde (gesellig in die laer spanne) waar koning rugby definitief die wenner was (soos vandag op Orlando Stadion, dink ek)en waar niemand se ma hul stemmig gedra het nie.

Koshuisrugby op varsity is weer iets heel anders. Sowat van atmosfeer en entoesiasme kry ‘n mens seker op min plekke. Sit dit op ‘n beeldskone Bolandse dorp met goue herfslug en goue akkerblare en jy het ‘n wenresep vir hierdie ma. En daar tref sy toe Ouboet se grootste oomblik van glorie – skitterende drie vir sy span reg voor haar, terwyl omtrent die helfte van sy koshuis halfpad in die veld in saam met hom hardloop. Onvergeetlike oomblikke wat lei tot diepe besinning oor kinders wat grootword en koers kry en op die ou end op hul eie stoom die wedloop van die lewe kan aanpak. En ma’s wat agterbly … Snik …

Deur al hierdie jare was Pa natuurlik altyd daar, die een konstante in al die verandering. Op ‘n veilige afstand met sy kamera, kalm en verstandig, gereed om agterna konstruktiewe gesprekke met die kinders te voer oor die wedstryd (nooit ‘n woord van afbrekende kritiek nie). Vir my ‘n onverstaanbare houding – maar waarskynlik die volmaakte balanserende krag teenoor my eie emosionele belewing.

Genoemde Ouboet is op die oomblik die agterlyn-afrigter van sy span in Noorwee. Genoemde Kleinboet is op die oomblik een van die manne wat saam met die koshuismassa op die veld storm in oomblikke van glorie (wat ongelukkig maar minnerig is). Genoemde Pa is deesdae eensaam voor die TV (met die hond!) as die kinders nie hier is nie (terwyl ek gewoonlik in ‘n sonkol in die huis le en lees).

Want erens het ek my belangstelling verloor. Vermoedelik het dit begin toe alles professioneel geword het en outydse dinge soos lojaliteit by die agterdeur uit is. Die verval het definitief ‘n verdere hupstoot gekry toe Percy uitgetree het. En die finale slag toe hy in die koerant was omdat hy blykbaar hardhandig met sy vrou was. Ja, daar is geen illusies meer oor nie. Shame … (Wat krieket betref, was die finale slag toe Hansie skuld erken het. Maar ek het hom DADELIK  vergewe).

Hierdie siniese vrou was vandag dapper aan haar man se sy voor die TV vir die grootste wedstryd sedert destyds se Wereldbeker. Kort voor lank kon nie eens meer die boks Turkish Delight haar op-en-wakker hou nie. En sy wonder hoekom is daar nie ‘n kanaal waarop ‘n mens net die toeskouers kan dophou nie … Erens tussen al daardie mense moes daar tog ‘n man gewees het wat nugter is en nie ‘n boeppens het nie … Ja, dit was ‘n groot dag vir nasiebou. Net jammer die meeste van die nasiebouers was (en is) waarskynlik nie heeltemal sonder hulp nie …

Dalk is my heel grootste probleem die feit dat ‘n natgeswete, voortstormende man met wilde geweld in sy oe eenvoudig nie vir my wil mooi word nie …

2 Kommentaar

Een gedagte oor “Die rugby-ding …

  1. Ek’t regtig lekker gelees aan jou storie. Ons was drie seuns in die huis, dus was dit net rugby, rugby, rugby tydens ons skooldae. My wederhelfte is geensins ‘n sportliefhebber nie alhoewel sy darem weet wanneer die Sprinkbokke in 1995 die Wereldbeker gewen het – sy was toe in die hospitaal met ons dogter wat die dag voor die eindstryd gebore is. My dogter gaan kyk graag saam Curriebekerwedstryde op die stadion. Sy geniet egter ook veel meer die atmosfeer en die gees wat daar heers. Boeta speel natuurlik kliphard O/13 rugby.

Lewer kommentaar