Liedjie vir jou is my sewende romanse en het pas verskyn. Hier is ‘n kort lusmakertjie:
Dis vervlaks onbehoorlik vir ‘n mansmens om so mooi te wees. ‘n Mens kan droom van daai mond … en die sterk neus … Genade, nee, kyk liewer weg; na die ander passassiers … uit by die venster, enige plek.
Maar Nelleke Bezuidenhout – Nelle Marais vir haar aanhangers – is sat gekyk na die ander passassiers, sat gesit op lughawens, sat gesukkel met haar lang bene in beknopte sitplekke. Om te dink ‘n skrale paar weke gelede kon sy nog bekostig om eersteklas te vlieg. Al daai ruimte, regte porseleinborde, swaar silwer eetgerei, vonkelwyn by die ete. Maar nou ja, alle goeie dinge moet seker tot ‘n einde kom.
Maar was dit nou nodig dat die einde so heeltemal onverwags en so bitterlik pynlik moes wees?
Agter die beskerming van haar donkerbril knip sy die trane vir die duisendste keer op hierdie reis weg. Wat gebeur het, het gebeur; niemand kan nou meer iets daaraan verander nie. En hier sit sy nou, deur haar radelose ouers gepos om by Ouboet te kom aansterk. Of wat ‘n mens ookal veronderstel is om te doen ná jou hele klein wêreldjie om jou in duie gestort het. Herstel, heelword, opstaan … Alles klink vir haar op die oomblik na te veel moeite, sonder enige waarborg op sukses.
Wanneer gaan die vreeslike moegheid dan lig? Of is dit hoe die res van haar lewe gaan wees?
Die toneel onder haar laat Nelleke vir ‘n oomblik vergeet van haar sorge, selfs van die mooi man skuins oorkant die paadjie. Ver onder val Noorweë groen en blou en wit onder haar oop. Bome, water, wolke, lug … Alles nuut en vars; die ideale geleentheid vir opstaan en herstel – teen wil en dank, of sy nou daarna voel of nie.
En daardie opstaan en herstel gaan beslis nie ‘n mansmens in die prentjie hê nie. Sy gun haar dus een laaste loerslag na die lang man met die sensitiewe mond en adellike neus. En kyk vas in twee priemende donker oë onder perfekte wenkbroue. Sy glimlag verskrik, ruk haar kop terug na die venster en probeer konsentreer op wat sy sien. Vergeet van mans, Nelleke, die goed is die slegste van slegte nuus.
En dis ook die laaste anglisme wat sy haar gaan veroorloof. Sy’s sat gesing aan baby’s en maybe’s en al die leë rymwoordjies wat Braam vir haar opgedis het. Haar loopbaan is verby. Kant en klaar, finish, kaput.
Maar wat nou? Hoe verder vorentoe?
Die dreuning van die motore verander, rondom haar begin passassiers regskuif nog voor die landing aangekondig word. Almal haastig om hul lewens voort te sit op moederaarde, almal moeg vir die gedwonge saamkoekery met vreemdelinge in die beknopte ruimte van die ekonomiese klas. Skootrekenaars klap toe, hier en daar kom ‘n grimeersakkie te voorskyn, of ‘n hand vee besorg deur alreeds netjies hare. Die vlug van Frankfurt na Oslo duur minder as twee uur; die meeste passassiers wat sy kan sien, lyk nie naastenby so gedaan soos sy nie. Sekerlik meestal sakemense wat gou-gou oorgevlieg het vir besigheid, wat vanaand alweer in hul eie bed gaan slaap. Suksesvolle mense met tonne selfvertroue. Soos sy ook eenmaal was.
Maar vir Nelleke is hierdie vlug die derde been van die vier skofte tussen haar verpletterde drome in die Kaap en die kans op rus en herstel by Loekie en Mignon in Trondheim, Noorweë. Die kort vlug van Kaapstad na Johannesburg was deurspek met herinneringe aan vorige vlugte en genietinge en die bitter wete dat dit vir altyd verby is. Die nag tussen Johannesburg en Frankfurt was eindeloos en donker en baie alleen tussen honderde vreemdelinge wat oënskynlik sorgeloos slaap, die koppe ongemaklik skeef teen die sitplek, of op ‘n geliefde se skouer. Net sy het geïrriteerd bly rondskuif en vroetel en dink en weinig geslaap.
“Ladies and gentleman, please fasten your seatbelts …” Die lugwaardin se aksent is vreemd, die Engelse aankondiging word opgevolg met ‘n ander taal. Dit moet dan seker Noorweegs wees. Vir Nelleke val die taal vreemd op die oor, vyandig. Of dalk is dit sý wat vyandig is.
Wat kom soek sy hier – by ‘n broer wat sy twee jaar laas gesien het, in ‘n land wat sy geen begeerte het om te sien nie?
Rus en vrede, dis wat sy kom soek. En inspirasie vir ‘n nuwe begin. Maar eintlik vlug sy – van die pers wat eens haar grootste bondgenoot was, van kwaadwillige kritiek en goedbedoelde raad, van Braam, van vriende en vyande. Maar veral van haarself.
En natuurlik weet sy laasgenoemde is die moeilikste van almal. Nee, nie moeilik nie – onmoontlik.
Die lughawe lyk maar soos enige ander lughawe op enige ander plek – grys en onindrukwekkend, êrens op ‘n vlakte buite die stad neergeplak. Die wolke hang laag, die flertse blou lug wat sy vaneffe gesien het, het feitlik verdwyn. Sy bly sit tot die meeste passassiers in haar omgewing hul sitplekke verlaat het. Vir die ongemaklike gehang onder die rakke terwyl almal probeer om eerste uit te kom sonder om openlik ongeskik te wees, is haar lang lyf tog nie gemaak nie. Toe die gewoel om haar stiller word, strek sy gemaklik vir haar handbagasie, draai dan langtand om om die land vir die eerste keer in die gesig te gaan kyk.
“After you.” Haar kop ruk op; sy’s bly sy’t die donkerbril op, hopelik verberg dit haar skrik darem ‘n bietjie. Die mooi man wat haar verbeelding op hol het, het ook gewag tot die meeste mense verby is. Nou beduie hy ewe vriendelik dat sy voor hom moet stap. Sy stem is aangenaam, diep. En sy aksent sweerlik Afrikaans, selfs in die skrale twee woorde.
Nelleke se rug trek hol, sy moet op haar tande byt om nie die tydsame oubasie voor haar in die paadjie ‘n stampie te gee om hom net vinniger te laat vorder nie. ‘n Joernalis – die man is ‘n joernalis! Hulle het haar waaragtig tot hier gevolg, iemand het haar verrai. Die koue sweet slaan op haar lyf uit terwyl sy die donkerbril verbouereerd regskuif op haar neus, die lang blonde vlegsel onder haar baadjie indruk, die kraag opslaan, haar kop nog ‘n aks laat sak. Alles terwyl sy in die nou gangetjie met haar handsak en kamera en oornagtassie aansukkel, onmagtig om die oompie verby te steek, die ellendeling se oë brandend op haar rug. Of so voel dit vir haar.
Asof dit nou nog sal help om haarself minder na haarself te laat lyk. As die man haar herken het, het hy herken.
Dit kom nou van sit en staar na die mooi vreemdeling … Dalk was hy nie oorspronklik op haar spoor nie, dalk is hy vir heeltemal ‘n ander rede hier.
Moes sy meer moeite gedoen het om haar voorkoms te verander? Sy’t nie die energie gehad nie, sy kon geen opwinding oor die reis optower nie. En om haar hare af te sny of te kleur sou die finale erkenning wees dat Nelle Marais, soos die publiek haar geken het, nie meer bestaan nie.
Dit kon sy nog nie oor haar hart kry nie. Want sy’s nog dieselfde mens, die meisie met musiek in haar are en ritme in haar voete en die brandende begeerte om dit met andere te deel.
In die lughawegebou probeer sy so ongemerk moontlik tussen die mense wegraak. Blonde mense, oral blonde mense met baie blou oë. Tieners met pienkverbrande neuse en vrolike somerklere, al lyk die weer vir haar soos ‘n sagte reëndag in die Boland en alles behalwe warm. Groepies jongmense met rugsakke en stapstewels, paartjies met fris blonde babas in ultra-moderne stootkarretjies. Almal in pare of groepe, lyk dit vir haar.
Sy was nog nooit so alleen nie.
Die man spreek haar nie weer aan nie, wend ook nie ‘n opvallende poging aan om haar in die oog te hou nie. Maar toe sy deur al die prosedures is en in die vertreksaal op ‘n harde bank neersak, doem hy weer tussen die mense op.
Hy verwerdig hom egter nie ‘n blik na haar kant toe nie. Hy gaan sit op ‘n bank ‘n entjie verder, maak ‘n skootrekenaar oop en begin vlytig tik.
Is dit alreeds sy eerste verslag wat hy deurstuur? Sy kan haar dit voorstel: Sy het merkbaar gewig opgetel en die kenmerkende blonde haardos is getem in ‘n sobere vlegsel, maar selfs die alomteenwoordige donkerbril kon onse Nelle nie wegsteek nie … Daarvoor is haar lengte en daardie stap van haar net te opvallend …
Nelleke Bezuidenhout trek haar kop tussen haar skouerblaaie in en huil stilletjies agter haar donkerbril. Rondom haar klik-klak die hakke van vreemdelinge verby op die mooi houtvloer, niemand steur hom aan haar nie. Sy probeer die trane ongemerk wegvee onder die swaar brilraam. Sy’s tog regtig nie lus om tussen hierdie klomp vreemdelinge ‘n gek van haarself te maak nie. Sy ervaar die eerste stekie van huis toe verlang – en sy’t nog nie eens behoorlik geland nie. Want in Afrika, en veral in haar geliefde Kaap, is jou kans maar skraal om in ‘n skare ongemerk te sit en tjank. Die kans dat iemand jou op die skouer gaan tik en verneem wat dan die fout is – én breedvoerig gaan raad gee – is uitstekend.
Die Kaapse mense is warm mense, omgeemense. Sy is nie lus vir hierdie klomp koue Skandinawiërs nie.
Sy het nog haar wortels, sy is nog sý. Net deur hierdie krisis kom, net besluit watter koers om hiervandaan in te slaan. Na die paar minute van volslae paniek kom ‘n kalmte stadig oor haar. Baie stadig, skaars merkbaar. Maar beter as niks.
‘n Afskynsel van haar ou veggees lig versigtig sy koppie. Sy sal dit maak – sy sal, sy sál. Sy vee haar oë droog, blaas haar neus ordentlik en begin rondom haar kyk. Eerste dinge eerste – sy het die geleentheid om Noorweë te besoek en sy gaan nie so onnosel wees om die heeltyd in haar kamer te sit en huil nie.
En buitendien is sy ‘n aap om te dink die man is ‘n joernalis uit Suid-Afrika. As hy so danig Afrikaans is en weet wie sy is, vir wat het hy haar in Engels aangespreek? Sy kan nie dink daar is ‘n Afrikaanssprekende mens op die aarde wat nie van haar weet nie, of hy nou van haar soort musiek hou of nie. Mense het die afgelope paar jaar van haar kennis geneem, of hul nou wou of nie.
Sy’t haarself deur heeltemal niks op loop laat jaag; hierdie vervolgingswaansin sal sy wraggies moet afskud. Maar miskien is dit ‘n goeie teken dat haar hormone en haar brein darem nog kan aangetas word deur die verskyning van ‘n besondere mooi man. Waar daar lewe is, is daar sekerlik hoop.
Buitendien sit die einste man ‘n entjie van haar af en neem geen notisie hoegenaamd van haar nie. Die skootrekenaar leun nou toegerits teen sy bene, hy is besig om iets te krabbel in ‘n sakboekie wat verdwerg word deur sy groot hande. Hy het nou ‘n iPod in sy ore; sonder dat hy dit besef, hou sy hele lyf liggies tyd. Wat dit ookal is waarna hy luister, dit het sy hele wese deurtrek. Soos musiek net ‘n werklik verslaafde kan deurtrek.
Nelleke vergeet van haar smarte en vrese, selfs van die man se aantreklikheid. Haar oë vernou, ingedagte haal sy die donkerbril af om ordentlik te kan sien. En nee, sy’s nie verkeerd nie. Hy is besig om aan iets te werk wat met musiek verband hou. Of dit musiek of lirieke of ‘n verwerking is, sal sy nie kan sê nie. Maar sy kan haar kop op ‘n blok sit dis nie ‘n artikel oor haar wat hy aan die skryf is nie.
Daarvoor het hy alte duidelik heeltemal van haar vergeet.
Haar hele lyf raak slap van verligting. Sy skuif agteroor op die harde bank, lig haar voete op haar groot tas, skuif die bril weer in posisie en maak haar oë toe. Niemand is besig om haar te agtervolg nie. Net ‘n uur se wag, dan is sy op die laaste kort skof na haar ouboet en skoonsus. Mense wat vir haar omgee, mense wat nie maklik veroordeel nie. Hulle sal die bande weer optel, as daar vreemdheid is, sal dit vinnig verdwyn.
Hoop sy. Want die waarheid is dat sy haar familie ‘n bietjie afgeskeep het terwyl sy hoog gery het op die golf van sukses.
In Suid-Afrika was sy ‘n groot vissie in ‘n bitter klein dammetjie; hier is sy ‘n stippeltjie in ‘n yslike see, die onmeetlike oseaan van Engelse populêre musiek. G’n mens het hier enige erg aan Afrikaanse borrelgommusiek nie. In Skandinawië luister hulle heavy metal en satanic rock, haar soet gekweel oor die liefde is hier totaal irrelevant. En hier is ook geen saamgekoekte groepies verloopte Afrikaners wat met heimweë na haar sal luister nie; sover sy weet is Noorweë hoegenaamd nie ‘n gewilde bestemming vir Suid-Afrikaners wat die pad vat nie. Om ooglopende redes … ‘n mens hoef net na die grys misreën buite die lughawegebou te kyk om te weet hoekom. En dis veronderstel om somer te wees hier …
Nelleke slaap.
Wanneer verskyn hierdie romanse en by watter uitgewer? Ekskuus, sien dit verskyn Augustus. Is dit by LAPA?
Jip, dis by Lapa!