- Ouderdom: 64
- Beroep: Redigeerder / Proefleser
- Huwelikstatus: Geskei
- Waar woon jy? Durbanville
- Alleen? Wie saam met jou? (Name is nie nodig nie.)
Saam met my siels- en lyfgenoot
- In watter opsig(te) beskou jy jou situasie tydens inperking as uniek of besonder uitdagend?
My situasie het nie veel verander nie. Ek werk al lankal van die huis af, dus geen nuwe uitdagings wat dit betref nie.
- Hoe het jy gevoel toe die noodtoestand afgekondig is?
Dit was nie ’n lekker gedagte nie, maar nie ’n verrassing nie.
- Hoe het jy gevoel toe algehele inperking (vlak 5) afgekondig is?
Ek het gedink dis nodig en die regte ding. Ek het egter nie gedink dit sou so lank duur nie.
- Hoe het jy die drie dae direk voor inperking deurgebring?
Soos gewoonlik my gang gegaan en meestal tuis.
- Hoe het jou lewe met inperking op vlak 5 verander?
Ek kon nie meer na my Pilates-klas toe gaan nie. Ek het reeds vliegkaartjies gekoop om vir my kinders in Gauteng te gaan kuier en dit moes nou uitgestel word.
- Wat was die moeilikste tydens vlak 5?
Die feit dat ons nêrens heen mag gery het nie. Ons is gewoond om naweke iewers heen te gaan; daar is soveel mooi plekke in die Kaap.
- Wat is vir jou positief tydens vlak 5?
Die stilte. Ons woon naby aan die besige Durbanvilleweg en die min verkeer en absolute stilte snags was wonderlik. Boonop het ons een nag uile gehoor, wat nog nooit voorheen gebeur het nie.
- Hoe het die mense gevaar wat saam met jou ingeperk was?
Nie sleg nie. Bygesê, dit was net ná ’n skoueroperasie en dit het in elk geval beweging baie beperk. Bestuur was verbode.
- Hoe het jy die verlenging van vlak 5 ervaar?
Teleurstellend, maar ons het dit verwag.
- Wat het jy die meeste gemis op vlak 5?
Bewegingsvryheid.
- Hoe het die verandering na vlak 4 jou geraak?
Dit was nie soveel van ’n verbetering dat dit werklik saak gemaak het nie. Boonop het ek geïrriteerd begin raak met die ondeurdagte reëls wat gemaak word.
- Waaroor was jy bly met die verlaging na vlak 4?
Meer besigheid is toegelaat, wat beteken het ek kon my oogoperasie ondergaan.
- Waaroor was jy kwaad met die verlaging na vlak 4?
Die ondeurdagte, onlogiese beperkings. Die belaglikheid van sommige besluite. Die besef dat selfs iets wat aanvanklik positief gelyk het, ook deur korrupsie besmet is.
- Is jy iemand wat voor inperking gereeld geoefen het?
Gereelde Pilates, minder gereelde kardio.
- Het jy tydens vlak 5 geoefen?
Ja, ek het al die Pilatesklasse (3 per week) per video gevolg en gedoen. Kardio op die oefenfiets begin byvoeg.
- Hoe het jy dit gedoen?
Danksy die feit dat ek reeds apparaat soos ’n oefenfiets, oefenmat, rekke, bal en ring het, kon ek alles op my eie tyd, op die sitkamermat doen.
- Hoe het jy die drie ure oefentyd op vlak 4 ervaar?
Dit het geen verskil aan my gemaak nie. Ek ry op my statiese oefenfiets in die spaarkamer. Ek het nie kans gesien vir die horde mense en honde op straat nie. Buitendien staan ek nie sesuur op om in die donker te gaan stap nie.
- Hoe het die verlaging na vlak 3 jou geraak?
Dit was ’n verligting en het mens bietjie hoop gegee.
- Waaroor was jy bly toe vlak 3 aanbreek?
Dat ons weer iewers heen kon ry of langs die see gaan stap (al is dit dan op die sypaadjie – nog ’n dom reëling). Dat ons weer die platteland kon geniet en met vriendelike mense gesels. En later, dat my haarkapper en ander oor wie ek bekommerd was, nou weer kan werk.
- Waaroor was jy kwaad toe vlak 3 aanbreek?
Dat daar steeds reëls was wat nie sin maak nie en selfs later steeds belaglike besluite geneem word, soos dat 50 mense by die kerkdienste toegelaat word, of selfs die casino; dat jy in die lang tou by die supermark mag staan, maar nie by mense mag kuier nie.
- Hoe vaar jy op hierdie stadium (na 100 dae) oor die algemeen emosioneel?
Dit begin my nou vang. Ek raak maklik huilerig. Ek wil na my kinders toe gaan; by die jongste gaan sit en haar ondersteun met haar probleme en hartseer. Die oudste kry ook swaar, is baie moeg en gespanne weens werksdruk en die feit dat sy my mis. Vir die eerste keer het sy, wat gewoonlik so sterk is, gesê sy het nie die emosionele kapasiteit vir sekere kwessies nie. Ek mis my vriende in Gauteng en is besorg oor hulle; twee van hulle is nie jonk nie: 74 en 82 en ek wil nie daaraan dink dat ek hulle dalk nie weer kan sien nie. Met Mathys se aanlyn-CD-vrystelling het dit my erg getref.
- Is jy finansieel erg geraak?
Ja, ek het vir twee maande bitter min tot geen werk gehad nie. As vryskutter is dit erg, want daar is geen gereelde salaris nie. Ek het net gebid dat ek genoeg sou kry sodat ek kon aanhou om my huishulp te betaal.
- Wat is nou vir jou die moeilikste?
Dat dit voel of alles net erger en slegter raak en ek weet nie wanneer gaan ons ons kinders sien nie.
Die feit dat soveel mense so bitter swaar kry: derduisende mense het reeds hul werk verloor; mense ly honger; mediese personeel was nog nooit onder soveel druk nie – hulle word fisiek en emosioneel uitgemergel. Dis ondenkbaar verskriklik.
Die bedreiging van die virus wat oral is, soos ’n monster wat wag om alles en almal te verslind. Dit is oorweldigend en laat mens soms wonder of enigiemand heelhuids anderkant gaan uitkom.
- Wat kan jy uit die ervaring haal wat positief is?
Ek kon rus en het myself gereeld herinner dat dit nodig is, ek weer werk sal hê en dat dinge beter sal word, al duur dit lank.
Ek waardeer opnuut my hartsmense.
Ek het die waarde besef van:
mense – hoe kosbaar verhoudings is;
die deel van ’n glimlag – met die maskers is dit nie sigbaar nie, en ironies, iets wat ons nou die nodigste het;
aanraking – noudat dit verbode is, kom mens agter dat jy eintlik ’n behoefte daaraan het; die virus gaan ons almal velhonger maak;
beweging – as mens nie eers in die straat mag afstap nie, besef jy hoe ’n voorreg dit is om net na die bome te kan kyk, die tarentale dop te hou wat oral in die groen stroke skrop; kinders wat in ’n park speel; seesand tussen jou tone te voel; die vars lug van die platteland in te asem en die gasvryheid te ervaar van die mense wat jy daar ontmoet het.
- Bly jy op datum met die Covid 19-situasie in SA?
Ja.
- Deur watter medium? Hoe gereeld kyk/luister jy na nuus oor Covid 19?
Lees die meeste dae die nuus. Kyk na die syfers en waar die infeksies die meeste voorkom.
- Hoe beïnvloed die voortdurende nuus oor die virus jou emosioneel?
Soms raak ek moedeloos, selfs paniekbevange. Dit voel soms steeds onwerklik. Meestal besef ek dit het al voorheen gebeur, soos met die Groot Griep. Ek hoop en bid net dat ek en my geliefdes dit sal oorleef en mekaar weer sal kan omhels.
- Bly jy op hoogte van die oorsese situasie?
Nee.
- Is daar spesifieke lande waarin jy belangstel?
Nee.
- Hoekom?
n.v.t
- Hoe beïnvloed die stygende sterftesyfer in SA jou?
Dis aaklig om gereeld te hoor hoeveel mense nou weer dood is. Dis soos ’n oorlog. Dit werk negatief op almal se gemoedere in.
- Wat sou jy anders doen as jy nou die ervaring van voor af kon begin?
Miskien meer mediteer en myself geestelik sterker maak. Meer mense bel en net hoor hoe dit gaan. Nog meer oefen.
- Wat sal jy presies dieselfde doen as jy van voor af kon begin?
Steeds oefen, die son en skoon lug geniet, die ruskans waardeer.
- Ken jy iemand wat Covid 19 opgedoen en herstel het?
Ja. Boonop is hy ’n diabeet en het al ’n hartaanval gehad. Dit gee mens hoop.
- Het iemand na aan jou al aan Covid 19 gesterf?
Nee.