Onderhoud met Marius van Geur van vergifnis

Alta: Jy is ‘n man met ‘n verlede. Hoe leef jy daarmee saam?
Marius: Ek hoef gelukkig nie daarmee saam te leef nie. Ek het dit agtergelaat.
A: En almal wat in daardie verlede seergekry het a.g.v. jou gedrag? Wat van hulle?
M: Ek het sover dit menslik moontlik is, reggemaak oral waar ek enigsins kon. Ek sal nooit ophou jammer wees oor dié wonde wat ek nie kon herstel nie. Maar dit sal niemand baat as ek in die verlede vassteek i.p.v. op die toekoms fokus nie.
A: Hoeveel het die ongeluk waarin jy verlam is met die verandering in jou lewe te doen gehad?
M: Baie. As jy magteloos op jou rug lê en van andere se goedheid afhanklik is om weer regop te kom, sien jy die lewe uit ‘n ander perspektief.
A: Was dit vir jou moeilik om weer – figuurlik gesproke – op jou voete te kom?
M: Ongelooflik moeilik. Skrikwekkend moeilik. En daar is steeds dae wanneer die versoeking daar is om myself jammer te kry. En daar is steeds frustrasies.
A: Voorbeelde van dinge wat jou frustreer?
M: Openbare plekke wat ontoeganklik is vir rolstoele, mense wat téén jou stoel kom staan en afpraat na jou toe, mense wat op straat na jou staar, mense wat jou aanhoudend wil help met dinge wat jy self kan doen, mense wat dink jy het sommer dom en doof ook geraak toe jy die gebruik van jou bene verloor het.
A: Wat is jou heel grootste frustrasie?
M: Die feit dat alles langer neem om te doen as vir ‘n gesonde persoon. En die toiletsake. En die bedsake.
A: Brei uit, asseblief?
M: Jammer, ek wil nie. ‘n Mens leer om dié dinge so goed as moontlik te hanteer en dan leef jy daarmee saam.
A: Watter invloed het Mariaan op jou lewe?
M: Daar is geen aspek van my lewe waarop Mariaan nié ‘n oorweldigende invloed het nie.
A: Hoe kon sy jou liefkry ten spyte van jou verlede en jou slegte rekord met vroue?
M: Ek het nie die vaagste benul nie. Ek is net dankbaar.
A: Watter invloed het God op jou lewe?
M: ‘n Baie groot invloed. Deur Mariaan en Lana het Hy my geleer van vergifnis. Maar daar is steeds dae waarop ek vir Hom kwaad is. Gelukkig gee Hy nie om as ek af en toe kla nie.
A: Jy het twee kinders wat amper twintig jaar verskil wat ouderdom betref. Die een bly by haar lesbiese ma in Australië. Die ander is die kind van een van jou studente. Hoe versoen jy hierdie twee uiterstes?
M: Ek hoef niks te versoen nie. Ek kan hulle maar net liefhê.
A: Hoekom het jy destyds met ‘n gay meisie getrou?
M: Omdat ek haar liefgehad het. Nie ek of sy het op daardie stadium besef sy is gay nie. Lynne was die groot liefde van my lewe, voor Mariaan. Die opbreek van ons verhouding was die mees pynlike ding in my lewe voor die ongeluk.
A: Irriteer Mariaan se onafgerondheid jou nie soms nie? En haar gemengde en growwe taal?
M: Ek bespreek nie my vrou se foute met ander mense nie. As jy dit as foute kan beskou.
A: Watter raad het jy vir mense wat die gebruik van hul bene verloor?
M: Niemand anders kan dit vír jou doen nie. Jy moet verantwoordelikheid neem vir jou eie lewe, jou eie gesondheid en jou eie aanpassing. En jy moet jouself nie sosiaal afsluit van ander mense nie. Dit was die grootste fout wat ek aan die begin gemaak het.
A: Was dit moeilik om terug te gaan werk toe?
M: Dit was skrikwekkend. Maar die beste ding wat ek kon doen.
A: Het jou skryfwerk verander na die ongeluk?
M: Ja, ek kyk met meer deernis na my karakters.
A: Is jy gelukkig?
M: Ja. En baie dankbaar.

Lewer kommentaar