Ek het nooit geweet ek het soveel vooroordele nie. Darem nie oor mense nie (behalwe ‘n paar waaraan ek vas glo, soos dat mans nie kan soek nie … :)), maar oor ander dinge. Nou moet ek darem tot my eie verdediging sê dat vooroordele (beliefs) gewoonlik deur ondervinding daar geplaas word. Nou ja, my ondervinding van Afrikaanse flieks is swak. Om die minste te sê. Die laaste een wat ek uit my hart uit geniet het, was Hoor my lied in ek dink 1968, toe my geliefde tannie Bessa kliphard Sies! gesê het vir Gé Korsten en iemand (was dit Min Shaw?) se kuise soen. En my boeta hoogs verontwaardig was toe ek langs hom effens tranerig begin raak het. Wat my bring by van die vooropgestelde idees waarmee ek grootgeword het: Enige liggaamlike kontak tussen man en meisie is iets negatiefs, iets wat jy in die donker doen waar niemand jou sien nie. En dis verkeerd
om emosies te toon.
En hiermee het ek by die kern van Roepman ook uitgekom. Dis ‘n storie wat toon waarvandaan Afrikanermense kom. Natuurlik effens oordryf, soos dit in stories gaan. Die oueres onder ons sal plesier vind in die kleredrag, die huise, die motors, want dis vir ons baie bekend. Die jongeres sal waarskynlik net dink dis buitengewoon agter die klip. Ekself het darem nie so eng grootgeword nie, maar die manier van lewe en van dink klink steeds vir my baie bekend. Ek kan nie die fliek beter opsom as die onderstaande wat amptelik uitgereik is nie:
Based on the Jan van Tonder novel with the same title. It tells the story of a 1966 railway community, told through the eyes of an eleven year old boy, called Timus. Timus and his family are trapped within the structural violence caused by the government and the church at the time. An unlikely hero, Joon, often appears to save Timus and these acts of kindness is seen by Timus as miracles. Timus tells the story of Joon and also his own coming of age and loss of innocence and how Joon tries to give a little of that lost innocence back to Timus. Nobody shares this point of view with Timus, Joon however goes on to save this whole community at the end. It is a story with unforgettable characters and it combines the magical world of childhood beautifully with the realistic world we live in.
Roepman is vir baie mense skokkend, veral vir mense wat nie hulle huiswerk gedoen het nie of met verkeerde verwagtinge daarheen gaan. Dis nie ‘n fliek vir ontspanning nie. Dis nie ‘n fliek wat ‘n mens geniet nie. Dis ‘n fliek met baie f-woorde (asof nie een van ons nou daai woord ken nie!), ‘n beheptheid met skuim piepie (dalk verstaan die mans dit beter!), ‘n skokkende seksuele toneel en ‘n skokkende geweldstoneel. Dis ‘n fliek oor eng en rigiede waardes, oor die patriargale stelsel, oor rassisme en huishoudelike geweld, oor godsdienstige fundamentalisme. Maar dis ook ‘n fliek oor ‘n doodgewone Afrikaanse huisgesin met ‘n pa wat die beste (soos hy dit sien) vir sy kinders wil doen, ‘n dienende ma wat maar altyd die vrede probeer bewaar, drie tieners vol hormone, ‘n aweregse ouma – en dan natuurlik klein Timus, die laatlammetjie wat oral opduik waar hy nie eintlik moet wees nie. Dis ‘n fliek uit ‘n tyd toe die wêreld nog eenvoudiger was, toe reg nog reg en verkeerd nog verkeerd was (nevvermaaind wat die ander ou dink), toe sosiale druk nog (soms) gehelp het om mense op die smalle weg te hou, toe kinders nog langer by hul ouers gebly het (soos baie nou weer doen, hoewel om ander redes). Op die ou end was dit die pa se stryd wat my die meeste aangegryp het. Hy word nie as ‘n bullebak of wreedaard geteken nie, maar as ‘n liefhebbende pa wat werklik glo hy tree op vir die beswil van sy kinders. Die seuntjie word pragtig gespeel deur ‘n pragtige seuntjie wie se naam ek nou vergeet het. Ek wonder net hoe het hulle vir hom die storie en sy rol daarin verduidelik?
As jy krag het hiervoor, gaan kyk gerus! Roepman is ‘n Afrikaanse fliek waarvoor ‘n mens jou nie hoef te skaam nie. Maar as die tegniese aspekte en die gehalte van die toneelspel nie vir jou so belangrik is nie en jy wil net graag lekker ontspan – bly ver weg!
NS. Ek sien dat die boek alreeds van die topverkopers is. Sekerlik goeie nuus vir Jan van Tonder, ‘n fantastiese skrywer wat sover ek weet nog bitter min erkenning gekry het. Ek dink die ander twee titels wat ek van hom gelees en baie geniet het, is Kind en Is Sagie. Albei handel oor seuns, albei is pragtig geskryf. Ek hoop Roepman se sukses maak hom lus om weer vir ons so-iets te skep.
Alta, Jan skryf tans aan Sagie 2.
Is Sagie word op rsg voorgelees . Ek dink dis Maandae net na sewe. Weet nie of dit nog aan die gang is nie, maar daar is moontlik potgooie.
Roepman, die boek het reeds in so om en by 2005 uitgekom en is verlede jaar met ‘n nuwe omslag uitgegee toe die fliek gemaak is. Dit het sedertdien al 4 herdrukke beleef.
Jan erken daar is heelwat outobiografies gegewens alhoewel daar baie lieg by is. Dis ook in Engels en Nederlands (of dalk Vlaams) vertaal.
Ek het die fliek eers onlangs op DVD gesien, en Alta, ja, vir my was dit kompleet asof ek ge’time travel’ het. So, ‘ek was daar’ ek ken daai mense.
Wat die meeste vir my uitgestaan het was die uitbeelding van die godsdiens van die Afrikaner. Daai ‘dooie’ godsdiens wat lei na niks en nog meer verwarring, en gesin verbrokkeling. In my opinie, juis hoekom al hoe minder mense, belangstel in godsdiens vandag. Dis weer tyd vir die Blye Boodskap. Baie van ons ken ongelukkig daai Roepman uitbeelding van kwaai pa wat straf, en dan nog wil lei. Dis nie die VAder hart van God nie, geensins, glad nie
Ja, ek dink as ‘n mens die regte ouderdom is, herken jy baie dinge daarin.