RSS

Die laaste sê

Die laaste sêDie laaste sê het in Huisgenoot van 7 Desember 2006 verskyn en het sy ontstaan gehad by werklike bydraes wat ek met vakansie op Gouritsriviermond oor Niekie van den Berg se Sê Wie gehoor het. Die res van die gegewens kom natuurlik uit Manlief se observasieproewe by sy skapies en Jongste se vakansiewerk van porieë in volstruiseiers tel. 

“’n Vrou is nie in staat om sáám met ‘n man besluite te neem nie; ‘n vrou moet altyd òf die laaste sê hê òf die onderspit delf.”

Karla kan haar ore nie glo nie.  Kan dit waar wees dat daar in hierdie tyd en dae nog ‘n vrou kan wees wat sulke snert landwyd – nee, wêreldwyd – oor die radio wil verkondig?  En sy klink nie eens so danig oud nie, nie dat dit ‘n verskoning sou wees nie.  Karla ken bejaarde vrouens wat hul tyd ver vooruit was in hul jongdae, ook wat vroueregte betref.

Haar ma is so ‘n vrou, en háár ma voor haar.  Sterk vroue, wat fier en regop lángs die man van hul keuse kon staan.  Langs hom, nie voor hom of agter hom nie.

Sterk vroue – wat sterk mans nodig gehad het.  Want dis net ‘n sterk man wat ‘n vrou lángs hom kan hanteer.   Haar oupa het die mas opgekom, self sy tyd jare vooruit.  Haar pa?  Helaas nie.  Haar pa het ‘n vrou ágter hom gesoek.  Toe hy op ‘n goeie dag omkyk, was haar ma nie meer daar nie.

Karla is soos haar ma.  As sy nie langs ‘n man kan stap nie, stap sy alleen.

“Nou maar goed, dankie vir jou bydrae,”  knip Niekie die inbeller genadeloos kort.

Women have many faults,” beweer die volgende inbeller.  “Men have only two –  everything they say and everything they do.”   Karla kan darem hoor haar tong is diep in haar kies.

Die volgende inbeller is ‘n man.  “Ek is nou veertig jaar gelukkig getroud,” deel hy die nasie mee, “en ek weet nou alles van vrouens af, behalwe twee dinge.”

“Ja?”  Hy het sy eerste vyf sekondes op die lug oorleef; Niekie is bereid om hom nog vyf te gun.

“Net twee dinge weet ek nog nie:  Wat vrouens wil hê en wat hulle nié wil hê nie.”

“Ho-ho-ho!” lag Niekie sy lekkerkrylaggie, “Dit kan jy weer sê!”

Is daar dan nie ‘n mens in hierdie land oor wat nie òf spottend òf sinies oor die verskille tussen die geslagte kan praat nie?

Is sy dan die enigste naïewe siel wat nog dink  die Goeie Vader het in sy alwysheid mans en vrouens so verskillend gemaak sodat hul mekaar kan aanvul?  As’t ware die hol plekkies in mekaar kan opvul?  Mekaar volronde mense kan maak?

Karla wil nie noodwendig die laaste sê hê nie.  Maar spreekbeurte moet sy kry, en genoeg daarvan.  Want sy het baie om te sê en baie om te gee.

Vir die régte man.  ‘n Man wat nie belustig raak oor haar lenige lyf en haar vleklose vel en haar oë soos helder bergpoele, net om doodverskrik die hasepad te kies as hy afkom op haar rits kwalifikasies en haar vlymskerp brein nie.

 

“Sit en luister jy alweer na daai snert?  Watter wysheid raak die nasie vandag  kwyt?”  Basjan Rheeder se bruin oë spot met haar, soos altyd.  Ongeskikte vent, het die manier om sommer by haar kantoor in te val en summier weer te loop as wat sy te sê het, hom nie geval nie.   Wat dikwels die geval is.

Basjan Rheeder  is ‘n man wat hou daarvan – of nee, áándring daarop – om die laaste sê te hê.

“Jy weet ek luister graag Sê Wie? omdat ek dink Niekie slaag uitstekend daarin om die gewone mens te laat dink oor alles en nog wat.”

Dié slag loop hy nie; hy maak hom skuinsweg op die hoek van haar lessenaar tuis, die lang bene in verbleikte jeans gemaklik uitgestrek, die yslike stofvaal stewels nonchalant gekruis.  ”En waaroor dink die gewone mens vandag?”

Sy klik summier op die kruisie.  Dit kom nou van op die rekenaar sit en RSG luister as sy moet fokus op haar artikel.  Haar navorsing oor die vogverlies van volstruiseiers is uiteindelik, na maande se donkiewerk, op die punt waar sy voorlopige bevindings op skrif kan begin stel.   Maar vandag sukkel sy ‘n bietjie om te fokus.  Eintlik sukkel sy gewéldig om te fokus.  En nou kom sukkel Basjan ook nog.

“Hulle praat oor die onbegrip tussen die geslagte,” kners sy dit uit, wel wetende dat dit hom groot plesier sal verskaf.  Tot haar nadeel, soos gewoonlik.

Snaaks genoeg het hy nie dadelik ‘n skerp chauvinistiese opmerking gereed nie.   “Ja, daaroor kan ‘n mens baie sê,” sug hy na ‘n lang stilte en ‘n lang kyk wat sy nie kan interpreteer nie.  En daar trek hy.

Karla kyk hom bekommerd agterna.  Basjan is nie ‘n man wat baie sug nie.  En hy laat hom van g’n duiwel stuit as hy sy kop op ‘n ding gesit het nie.

Karla is ook nie ‘n mens wat haar sommer van stryk laat bring nie.  Deesdae is daar egter wel ‘n ding wat haar in haar netjiese nommer-vyf-spore stuit.

Feite is Karla se kos.  Maar sake van die hart?  Moeilik, bitter moeilik.  Want die hart laat hom nou maar eenmaal nie voorskryf nie.

Natuurlik is haar probleem ‘n man.  En nie sommer enige man nie – die régte man.  Ideale man.  Droomman.  Trouman.  Of so het sy gedink.  Bernard van Reenen, akademikus, universiteitsdosent, navorser, operakenner, skaakspeler, bobaasvryer, hartebreker.

Maar nou lig daar ‘n adder sy kop in die paradys:  ‘n Douvars twee-en-twintigjarige addertjie met ‘n mond wat mans laat digterlik raak en ‘n strykplanklyfie gewoonlik geklee in iets wat herinner aan ‘n serpie en ‘n groterige sakdoek.  Haar naam is Annabelle – deur swymelende Adams gewoonlik met ‘n smagtende sug in die stem uitgespreek, so ‘n ademlose verlenging van die belle-gedeelte, waarna die spreker geneig is om vir ‘n hele ruk ingedagte na die naaste horison te tuur.

En Bernard het hom pas by hierdie swymelende, starende broederskap aangesluit.  Enigste verskil is, hy is nog in denial, terwyl die ander onverbonde manne (en party wat wel deeglik verbonde is) geen geheim maak van hul wroeginge en smagtinge nie.  En daarby is Bernard  natuurlik nie onverbonde nie; hy is háre, Karla s’n.

Het sy gedink.

Maar blind is sy helaas nie.  Bernard het vir Annabelle onlangs ontmoet tydens ‘n gesamentlike funksie van hul navorsingseenheid en sy fakulteit, en hy is gegóói.  Soos die meeste mans as hul hul begerige oë op Annabelle lê.

Karla sit skielik regop.  Die meeste mans, ja, maar nie almal nie.  Basjan Rheeder toon nie die geringste teken dat Annabelle na sy kop (of enige ander liggaamsdeel) toe gaan nie.   Die man moet omtrent oor ‘n vroumens val voor hy haar raaksien.

Bewaar die arme vrou wat haar hart op hom sit.  Want Basjan Rheeder se wakker oomblikke word totaal in beslag geneem deur die toonbeeld van vroulikheid – so tussen twee en sewe jaar oud – met die mooiste gevoelvolle bruin oë, fynbesnede gelaatstrekke, ‘n kuise woljassie in alle weerstoestande, en ‘n volronde, hoogswanger lyf.

En daar is nie net een nie; o nee, daar is hónderde van hulle.

Karla kan sweer as Basjan snags sy kop neersit, droom hy ook nog van die trop swaardragtige Merino-ooie wat hy gebruik vir sy baanbreker-gedragstudies oor die moedereienskappe van verskillende skaaprasse.  Agter Basjan se ruwe voorkoms skuil ‘n wetenskaplike met ‘n formidabele werkvermoë, analitiese denkvermoëns om van te droom, ‘n vlak van insig wat baie ouer navorsers hom beny, en dan nog die vermoë om sy bevindings akkuraat en verstaanbaar oor te dra ook.  En sy toewyding is absoluut.

Daarby is die man ook nie onaansienlik nie.  As jy natuurlik van beterweterige, chauvinistiese mans hou.

Karla staan g’n tree terug vir Basjan nie, nie wat akademiese vermoëns, voorkoms of karakter betref nie.   Maar sy soek ‘n bevryde, verligte en gesofistikeerde man wat nie met oogklappe deur die lewe gaan nie.

Daarby hou Karla ook nie van skape nie.  Vir haar is skape dom tropdiere, skaapagtig gedweë, sonder persoonlikheid en nog maar net ‘n paar eeue met die mens.  En alreeds nagevors en ondersoek en getoets tot vervelens toe.

Daarenteen is volstruise so oud soos die dinosaurus en nog glad nie behoorlilk getem of nagevors nie.  Baie oergeheimenisse lê nog verborge agter daardie onskuldige oë omring deur wimpers om van te droom, daardie potsierlike klein koppie op die lang, lang nek, daardie formidabele twee tone wat ‘n bars kan skop as dit moet.  En soms as dit glad nie moet nie.

Basjan se passie is sy skape.  Karla se passie is haar volstruise.  En hulle kan mekaar maar net nie uitlos daaroor nie.  Dis elke teetyd se ding, die vurige bekgevegte tussen die eenheid se twee voorste navorsers.

Hoekom?  Omdat albei die laaste sê wil hê, natuurlik!

 

Om Karla se deur verskyn  Annabelle se blonde kop .  “Karla, jy sal nooit glo nie – Basjan het gevra of ek dalk kan help met die nagskofte tydens lamtyd!” Sy’t vandag ‘n denimsakdoek en ‘n reinwit serpie aan.  “Om te dink, net ek en hy naglank onder die sterrehemel.  So romanties, dink jy nie?”

Karla bars terstond uit van die lag:  “Romanties se voet, man!  Basjan het nie ‘n idee wat die woord beteken nie.  Julle gaan omring wees deur ‘n klomp onnosel skape in stomme barensnood, allerhande grillerige liggaamsprosesse, bondels skaapmis versteek in die lang gras, slymerige, nat lammertjies wat ure sukkel om op hul lendelam pootjies te staan.”  Annabelle se loopbaan het maar pas begin, en haar vakgebied is pomologie; sy het regtig nie ‘n idee wat diereproduksie behels nie.

‘n Wasigheidjie verskyn in Annabelle se babablou oë.  “Juis!  Net ek en hy … en die magiese kragte van die natuur … ”  Sy sak op ‘n stoel neer asof die wete te veel is vir vlees en bloed.

Karla raak nou regtig ontsteld.  Basjan of nie Basjan nie; hierdie mooie kind het werklik nie ‘n idee waaroor dit gaan nie.  “Annabelle, julle gaan nie piekniek hou nie; julle gaan werk!  Elke stappie van elke lam se geboorte moet aangeteken word, tot op die sekonde.  As ‘n ooi drie ure lank sukkel om die lam in die wêreld te kry, beteken dit jy gaan vir drie ure daar staan en kyk en dit akkuraat aanteken die oomblik dat die dingetjie uiteindelik moeder aarde tref.  En dan gaan jy wag tot hy staan … en dan gaan jy wag tot hy die bron van voedsel opspoor en die slag kry met die benutting daarvan … En Basjan gaan waarskynlik dieselfde doen by ‘n ander ooi myle van jou af.  En totaal vergeet van jou!”

Annabelle wip haar, sy wip haar verskriklik.  “Karla, as ek nie geweet het jy gaan uit met Bernard nie, het ek gedink jy wil my net afsit, want jy het self die hots vir Basjan!”  Sy trek die minuskule denimrompie met nadruk reg aan haar perfekte modelheupies.  “En hoe weet jy in elk geval so presies wat die proef behels?  Wag ‘n bietjie … Jy hét die hots vir hom!”

Karla staar verslae na die leë lug waar Annabelle verdwyn het.  Sy die hots vir Basjan?  Is die kind van haar sinne af?

 

‘n Paar weke later begin die lamseisoen vir Basjan se geliefde kudde.  En hy verdwyn vir alle praktiese doeleindes uit Karla se lewe.  Soos Bernard uit haar lewe verdwyn het toe sy hom uiteindelik konfronteer oor Annabelle.  Hy was toe nie regtig in denial oor Annabelle nie, hy was bloot te slapgat om oop kaarte met Karla te speel.  Onvergeeflik wat haar betref.

Maar sy mis hom.  Onder andere is dit stimulerende akademiese geselskap wat sy mis.  So mis sy nou selfs haar en Basjan se heerlike gestry met teetye.

Dit moet die eensaamheid wees wat haar vang.

En as Basjan die slag op kantoor is, dwaal hy soos ‘n slaapwandelaar van taak tot taak.  Heeltemal uitgeput van pure toewyding aan die wetenskap.  Bly natuurlik dag en nag by die skape, om tog net nie één kosbare flentertjie data te mis nie.  En heeltemal te koppig om genoeg hulp te kry dat hy tussenin darem soms ordentlik kan rus ook.

Ook nie in staat om aangebode hulp met grasie en dankbaarheid te aanvaar nie.  Annabelle het met kleur en geur kom vertel hoe die ellendige man haar die tweede aand summier weggejaag het.  En dit net omdat sy ingesluimer het van verveling en één bevalling gemis het.  “Basjan is ‘n pyn in die … nek.” het sy getier.  “Alles moet perfek gedoen word; bewaar jou siel as jy een enkele sekonde bylieg of aftrek!”  Annabelle is beslis genees van Basjan.

Karla begin dink Bernard en Annabelle verdien dalk mekaar.

Toe Basjan eendag met teetyd tog daar is, maar sowaar in die middel van die geselskap sit en indommel, kan Karla dit nie meer hou nie:  “Ag nee, Basjan, nou raak dit darem belaglik.  Gaan tog net huis toe en gaan slaap ‘n slag ordentlik.”

Dis genoeg om lewe in sy lendelam ledemate te blaas; die twee moeë bruin oë verhelder:  “As ek ‘n ding doen, dan doen ek hom ordentlik.  Ons kan nie almal in ‘n lugverkoelde kantoor die gaatjies in ‘n spul eierdoppe sit en tel nie.  Sommige van ons is bereid om ons hande vuil te maak ter wille van die wetenskap.”

Karla vererg haar gruwelik:  “Sê jy ek gaan nie voluit vir my navorsing nie?  Sê jy ek kan nie my man staan buite die kantoor nie?”

Die  min slaap maak hom kort van draad; gewoonlik is hy die toonbeeld van gelykmatigheid:  “Ons almal weet jy gaan voluit vir jou werk, Karla. Dis net baie gerieflik dat jou huidige navorsing jou nie juis aan die werklikheid van die elemente blootstel nie.  Sit lekker op jou bas en dink dan jy weet wat is harde werk en toewyding.”  En daar trek hy, met vuil oorpakbroek en aangepakte stewels, terwyl ‘n subtiele reukie van skaapwol en gekneusde gras nog vir ‘n oomblik in die lug om Karla hang.

Die ellendeling!  Die laaste sê, dis wat hy wil hê.  Sy sal hom vervlaks wys.

Huistoegaantyd wag sy tot die gange om haar leeggeloop het;  sy soek nie getuies nie.  Tien teen een stuur hy haar nog in haar kanon in.

Sy ry huiwerig die entjie na die kampe waar Basjan se geliefde ooie ywerig besig is om die aarde met sagte wit bondeltjies nuwe lewe te vul.  Sy dink aan ‘n reël uit March of the penguins:  It takes so much life to create life … ‘n Wasigheid lê oor die vallei; die veraf rante gloei in die laaste lig.  Sy ry verby haar kampe vol volstruise; die groot, ronde oë kyk haar verwytend agterna.  Sy, gesoute wetenskaplike, voel soos ‘n verraaier.

            Basjan staan met sy clipboard  in die verste kamp.  Hy beduie sonder omkyk  agtertoe met die hand dat sy moet saggies wees.  Karla vererg haar tot in haar binneste binnekant, maar sy bly darem staan.  En sy verstom haar.  Vir die eerste keer in haar lewe kyk Karla toe hoe ‘n lammetjie gebore word.  Eers voel sy verleë; asof of sy inbreuk maak in ‘n intieme situasie.  Maar mettertyd vergeet sy haar ongemak en teen die tyd dat die lammetjie wankelrig op onseker beentjies orent kom, is dit sterk skemer en daar is trane in haar oë en ‘n verwonderde glimlag om haar mond.

“Dis so mooi,” prewel sy met ontsag sonder dat sy regtig weet wat sy sê.    Basjan swaai skielik om en iets – blydskap? – flits vir ‘n oomblik in sy oë.  “Karla!”  Maar dan skuif die gewone spottende uitdrukking weer terug oor sy gesig.  “O, het jy bietjie kom kyk hoe lyk régte werk?”

Karla byt op jaar tande.  “Nee, ek kom my hulp aanbied; enige mens kan mos sien jy cope nie.”

Basjan kyk haar op en af:  “En jy reken jy gaan hier in die skaapmis regkom met jou kerkpakkie en high polfaais?”

“Ek hét ander klere, en ek laat my nie van ‘n paar slagysters in die gras afsit nie.”   Wat besiel haar?  Die man is onuitstaanbaar.

“Goed, jy kan daagliks van 16:00 tot middernag werk,” besluit hy skielik.  “Maar ek waarsku jou, g’n geslapery op die job nie, hoor!”

“Toemaar, ons weet almal hoe het jy met arme Annabelle aangegaan!”

“Aangegaan?  Die kind kom dwing haar hier aan my op en sy’t nie ‘n idee van die presisie wat die proef vereis nie en sy hang soos ‘n blerrie seekat aan my – en nou is ek die skurk!”

“Jy’t haar dan gevra!”

“Gevra se alie, man, sy’t haarself gevra.”

Hierdie brokkie inligting vervul Karla met ongekende vreugde.

 

Sy leer inderdaad ‘n ander soort vermoeienis ken.  Maar sy byt op haar tande en sy hanteer dit.  Sy los daagliks van vieruur tot middernag vir Basjan af en soggens agtuur is sy op haar pos op kantoor.  Sy sterf tien dode van die koue en die banggeit so alleen.  Maar sy mis nie ‘n enkele geboorte nie en sy lieg nie ‘n enkele sekonde by of trek een af nie.

Basjan is kort-kort daar, seker om te kom opcheck.  Plaas dat hy gaan slaap, bly blaas hy in haar nek.  Bring nogal altyd ‘n lekker eet- of drinkdingetjie; mens sou kon sweer hy waardeer haar hulp.

En ‘n wonderbare ding gebeur:  Hulle groei op haar.  Basjan én sy skape.  Skape is nie so onnosel nie; hulle weet alles wat ‘n skaap moet weet om ‘n goeie skaap te wees.  En Basjan is nie regtig so chauvinisties nie; hy’s net uitgesproke, ‘n bok vir ‘n lekker redenasie, ‘n ongeneeslike terggees.

En hoegenaamd nie onaansienlik nie.

 

Die aand toe Basjan haar wel aan die slaap vang op die job, jaag hy haar nie huis toe nie.  Nee, hy staan lank op haar en afkyk.  Toe hurk hy en raak met verwondering aan haar rustige gesig.  Haar oë fladder verskrik oop en weer toe; haar hand vat syne stewig vas.  Sy huiwer net ‘n oomblik, toe bring sy sy hand teer tot teen haar lippe.

Liefde ruik sowaar na skaapwol en gekneusde gras, dink Karla toe hy haar teen sy bors vas trek.

En sy sal wel ‘n sê inkry, al is dit dan nie altyd die lááste sê nie.

 

Kommentaar is gesluit.

 
%d bloggers like this: