Jooste, Pamela – Dans met armmansdogter

Wat ‘n vreugde om iets nuuts en wonderliks in Afrikaans te ontdek. So ‘n iets/iemand het Pamela Jooste se skryfwerk vir my geword. (Sien post oor Môrester ‘n tydjie terug)

Armmansdogter is tien jaar na dit verskyn het, eers in Afrikaans vertaal. En wat ‘n lieflike vertaling is dit nie! Die skrywer sê self in haar voorwoord dat die vertaling eers haar karakters hulle ware stemme gegee het en ook nuwe lae van betekenis tot die oorspronklike Engelse teks toegevoeg het. Die leser kan werklik ons Kaapse mense hóór praat in hierdie boek. Ek weet nie of ek al ooit iets gelees het wat die stemming, die atmosfeer van ‘n plek waar ek nog nooit was nie, vir my so lewend kon oproep nie. En die humor! Jy kan jou vergryp daaraan.

Die boek is basies Lily se pogings om die veranderinge in haar lewe te verstaan, aanvaar en hanteer. In haar geval is dit net meer as die gewone veranderinge in ‘n gewone dogtertjie se lewe, want hulle familie is ook een van die baie wat deur gedwonge verskuiwings geraak word. Maar moet asseblief nie afgeskrik word hierdeur nie. Hierdie boek is nie nóg ‘n beskrywing van die aaklighede van apartheid of die boosheid van die blankes nie. Hierdie boek is die diep menslike verhaal van ‘n gemeenskap, ‘n familie en ‘n hele aantal enkelinge wat onherroeplik beïnvloed word deur die tyd waarin hulle lewe en die magte veel groter as hulleself. Dis geen politieke tirade nie, maar dit raak die leser dieper as die beste politieke betoog.

Ons leer ken ‘n hele skare wonderlike karakters deur Lily se nuuskierige, onnutsige, intelligente kinderoë. Daar is haar ouma wat die familie met ‘n ysterhand (probeer) regeer, met ‘n redelik rigiede idee van wat reg of verkeerd is en ‘n onwrikbare geloof in God. Daar is haar tante Stella met die poliobeen en die robbies-man wat hulle al (gelukkig) moes begrawe. En haar nefie Royston wat vir haar gewag het as daar ‘n klippie in haar kerkskoen kom oppad Sondagskool toe. Maar nou het Royston Domingo die gangster geword … Daar is oompie Gus-Seep wat af en toe kom uitpaas op sy ma se sitkamervloer. En Flora Dora, die renperd wat hom nog ryk gaan maak. En sy getroue ou karperd waarmee hy sy twintigsent-sakkies groente op die Parade gaan verkoop. Daar is Philander by die Buildings, waar die meisies soggens met hul gowns by die vensters uithang en vir die verbygangers skree. Daar is Portia van die Noordweste, wat nie dieselfde is as al die ander meisies nie. So kan ek lank aanhou.

Maar daar is veral Gloria, Lily se ma, wat toe sy twee was, op ‘n dag uit die huis gestap het en nooit weer teruggekom het nie. Daar is die vreeslike stories dat sy ‘n sjebeen-vrou in Sophiatown geword het en geld soos bossies gemaak het en met die ryk, gevaarlike manne uithang. En daar is James Scheepers, die opgevoede onderwyser wat met Evie getroud is. Evie wat al haar energie spandeer op haar jaloesie op Gloria, al is dié jare laas gesien.

En toe, eendag, kom die gerug eers bultop: Gloria is terug. En ‘n rukkie later kom die groot, blink kar vir Gloria voor haar ma se nederige huisie aflaai. Sy stap met haar smart klere en haar bos hare soos ‘n swart wolk om haar kop en haar ysere wil terug in hulle lewe soos sy daaruit gestap het. En sy volg geen ander kop as haar eie nie.

Daar is ook Errol, wat nou die bestuurder van ‘n klereplek in Southampton is. En daar is ‘n vreeslike ding soos ‘n exit-pas … Met ‘n exit-pas dis daar geen omdraai nie.

As jy oplaas werklik ‘n klein ietsie wil verstaan van die lyding waardeur gewone mense onder apartheid gegaan het, lees Armmansdogter. Jy sal skielik soveel meer verstaan.

Lewer kommentaar