Doen dit oor

DDoen dit ooroen dit oor het in Huisgenoot van 1 Maart 2007 verskyn en vertel ietsie van die vreugde wat ons kon ervaar om te sien hoe ons hakkelende ouboet deur die kursus by die McGuire Programme https://www.mcguireprogramme.com/en ‘n nuwe mens word – ‘n mens wat nie terugstaan vir uitdagings nie en wat ten volle tot sy reg kom. 

JA, DIS DIESELFDE ONTVANGSDAME; hy het maar gehoop dis nie twee persone wat die pos deel nie.  ‘n Formidabele tante van onsekere ouderdom; ‘n gesagsfiguur, kon netsowel ‘n skoolhoof gewees het.  Sy onthou hom baie beslis van gister se besoek.  En sy was baie beslis nie beïndruk toe hy vanoggend bel en aandring op ‘n afspraak met presies dieselfde dokter op presies dieselfde tyd as gister nie.

Gesagsfigure was sy lewe lank een van sy grootste probleme; as opstandige tiener het hy sy ouers onredelik verwyt oor hulle hom met respek vir sy meerderes grootgemaak het.

Hy neem sy tyd, bewerkstellig oogkontak, neem ‘n volle diep asemteug en sê met ‘n diep, kragtige stem:  “Goeiemôre, ek is Leon Eksteen.”  Hy verleng die beginklanke van sy naam en van net genoeg sodat hy homself nie heeltemal bluf nie.

Ek is Leon Eksteen en ek is ‘n hakkelaar …

Nee – herstellende  hakkelaar.

Dis die pynlikste deel van die tegniek:  Om soms met opset vas te steek, sodat die luisteraar dadelik kan weet hy het met ‘n hakkelaar te doen.  Sodoende skakel jy daardie ontsettende angs uit wat ‘n hakkelaar se ganse lewe oorheers – gaan die luisteraar agterkom, of gaan ek hom gebluf kry?  Maar vir hom bly dit die heel moeilikste van al die uitdagings op die moeisame pad na herstel.

Deesdae doen Leon Eksteen die ding waarvoor hy sy lewe lank die bangste was, voluit en met toewyding:  Hy praat.  Hy praat met al wat leef en beef, bekend en onbekend, en dis heerlik, heerlik, heerlik.  En hy was fluks op pad om nie net vlot te praat nie, maar om uiteindelik ook góéd te praat, met selfvertroue, van ‘n verhoog af, voor ‘n gehoor.

En toe gaan staan en vou hy gister heeltemal toe hy vir Yolanda Dreyer voor hom sien.

“Sit gerus, meneer Eksteen,” sê die streng tannie nou ‘n aksie vriendeliker.

Hy is hier om gister se nagmerrie-ondervinding uit te kanselleer, te vervang met ‘n beter een.  Die flop as’t ware uit te vee.

Want hy is ‘n bevryde; hy leef nie meer in konstante vrees om ‘n gek van homself te maak nie.  Vir ses maande gebruik hy nou getrou die tegnieke wat hy by die kursus geleer het.  Hy loop al die situasies wat hy voorheen ten alle koste vermy het, eenvoudig trompop.  En die asemhalingstegniek het hom nog deur elke enkele een gedra.  Hy het meedoënloos geoefen, daarin geslaag om homself as herstellende hakkelaar te aanvaar, honderde gesprekke met vreemdes gevoer.  En honderde telefoniese navrae gedoen oor allerhande weird en wonderful  goed; om die vrees vir die telefoon te besweer, bly maar een van elke herstellende hakkelaar se grootste uitdagings.

Vir die eerste keer in sy amper dertig jaar het hy die monster openlik uitgedaag, toegewyd beveg en stadig maar seker op sy knieë gedwing.

Maar gister het hy teruggeval, skouspelagtig teruggeval.  Séér teruggeval.

Hoekom?  Hy weet nie regtig nie.  Dalk was die onverwagse weersiens net eenvoudig te veel vir sy nuut verworwe vaardighede. Miskien ook maar die afgelope tyd ‘n bietjie gerus geraak, nie behoorlik gekonsentreer nie.  Die instrukteurs het hulle tog tot vervelens toe gewaarsku dat almal die een of ander tyd terugval.  Het hy regtig gedink hy gaan dit vryspring?  Wel, hy was verkeerd, verskriklik verkeerd.

Want toe hy in daardie stoel gaan sit, kon hy nie twee vlot woorde agter mekaar uitkry nie.  Meteens was hy terug in die lewende hel wat elke hakkelaar ken:  Jy sit voor ‘n vreemde, jy weet wat jy wil sê, en jy weet vooraf jy gaan dit nie kán sê nie.  Dan begin jy blitsvinnig planne maak.  Die situasie kan jy nie langer vermy nie; die persoon sit  alreeds – meestal ongeduldig – vir jou en wag om te praat en klaar te kry.  Dan begin jy koorsagtig in jou verwarde brein rondtas na ander woorde wat dieselfde betekenis sal oordra, maar wat jy om vadersnaam tog net kan uitkry.

Sodra jy een sinnetjie uitgeworstel het, begin die stryd met die volgende een.

En jy weet, o ja, jy wéét:  Ek is ‘n loser  en ‘n loser  gaan ek bly.

Hy is gister wel die spreekkamer uit met die verlangde voorskrif in sy hand, maar met die ou bekende vernedering, woede en magtelose frustrasie weer siedend in sy hart.  Of nee – dubbele vernedering, woede en frustrasie, omdat dit Yolanda was.

Maar hy gaan nie lê nie.  En nooit ooit weer gaan hy aan homself as ‘n tipiese verloorder dink nie.  Daarom is hy vandag hier.

Vandag gaan hy dit oordoen.  En hy gaan dit reg doen.

Gaan sy hom die kans gee?  Probeer verstaan?  Of sy storie ongeduldig kortknip?

Hy neem plaas langs ‘n yslike man met oorringe en ‘n eierkaal kop, begin blaai deur een van die verlepte tydskrifte op die tafeltjie langs die moedelose varing.  Maar hy sien niks.  Hy konsentreer om sy lyf ontspanne, sy asemhaling reëlmatig en sy gedagtes positief te hou.

Dis egter nogal moeilik om ontspanne en positief oor Yolanda Dreyer te dink.  G’n wonder hy het gister onbedaarlik aan die hakkel gegaan nie; jy kon hom met ‘n veer omtik.

Want vergeet het hy nie.

Deur die jare het hy baie situasies vermy as gevolg van sy spraakprobleem, baie kanse gemis, baie vriendskappe verbeur.  Maar niks daarvoor óf daarna was so pynlik soos die insident met Yolanda Dreyer nie.

‘n Vrou met ‘n neus soos Pinoccio se kleinsus en ‘n wonderbaarlike persblou kapsel kom uit die spreekkamer.  “Gaan gerus deur, mnr. Eksteen,” sê die kropduifie agter die lessenaar nou heel gemoedelik.

Wat het Yolanda gister vir haar gesê ná hy siedend van vernedering en frustrasie hier uit is?  Het hulle twee dalk heerlik gelag oor die arme skepsel wat sowaar nog steeds omtrent nie ‘n woord kan uitkry nie?

Kalm bly, Leon, kalm bly. Jy’s verby selfbejammering, verby woede; jy’s by aanvaarding en hantering.

Sy lyk nog mooier as gister.  Indien moontlik.  So asof sy ekstra moeite gedoen het; helder lipstiffie, en sy ruik na iets blommerig en vars.

Diep asemteug, lig die borskas, oogkontak, ontspanne lyftaal:  “Môre, Yolanda,” sê Leon Eksteen vlot en welluidend.

Sy staan op agter die lessenaar.  Sy is nie meer ‘n meisietjie nie; sy’s ‘n volronde vrou.  En wát ‘n vrou!  “Môre, Leon,” sê sy.  Sy wil-wil iets byvoeg, bedink haarself klaarblyklik en gaan dan professioneel voort: “Sit gerus.  Wat kan ek vandag vir jou doen?”

Lig die borskas, oogkontak:  “Ek is vir ‘n paar weke hier uit die Kaap vir ‘n projek en nou het ek hierdie ellendige hoes opgetel.”

‘n Verwarde fronsie verskyn tussen haar sagte bruin oë.  “Ekskuus, maar ons het mos gister hierdie gesprek gehad?”

Diep asemteug, lig die borskas, die glimlag kom maklik:  “Ja, maar ek het omtrent tien minute gesukkel om die eenvoudige sinnetjie vir jou te sê.  So vandag doen ek dit oor, en ek doen dit reg.”

Sy lyk nog verward, maar sy speel saam:  “Goed, goed … Is dit ‘n droë hoes?  Slym?”

“Droog en aanhoudend, veral soggens vroeg.”  Gister kon hy om sy lewe te red nie die eenvoudige woordjie droog  uitkry nie; het later maar volstaan met ‘n lamlendige nie nat nie.  Pateties.

“Word dit erger deur die dag?”    Sy het die idee gesnap.  Mooi én slim.  Soos destyds.  Net méér so.

“Nee, dit bedaar later.”  Gister  moes hy bedaar  met stop  vervang.  Gefrustreerd, want bedaar  is vervlaks nie dieselfde as stop  nie, hoe nietig die verskil ookal.  Bedaar  was die woord wat hy wou gebruik; stop  was die woord wat hy kon uitkry.

Hoeveel keer in sy lewe het hy al lemoensap gedrink omdat hy die woord Coke  nie oor sy lippe kon kry nie?  Hoeveel keer het hy al ámper gesê wat hy wou sê, maar nooit hééltemal nie?

Diep asemteug, lig die borskas; hy is klaar met daardie tye.

Hulle doen die gesprek feitlik woordeliks oor.  En hy doen dit reg.  Geen dwelm kan jou hierdie skop gee nie; sy kop sing van vreugde.

Sy’s verstom, soos almal wat hom ken:  “Leon?  Jy’s vandag heeltemal vlot!  Jy’s ‘n ander mens … Wat gaan aan?”

“Ek het ‘n tegniek aangeleer wat werk soos ‘n bom; in Huisgenoot  daarvan gelees.  Die toepassing daarvan behels onder andere dat jy moet teruggaan en slegte spraakervarings moet uitkanselleer met ‘n vlot weergawe.”

“Dit is net ongelooflik …”  Sy kyk hom ‘n oomblik intens aan, besluit dan waarskynlik as hý die bul by die horings kon pak, sý ook:  “Destyds … die debakel met die huisdans … was dit oor jou spraak?”

Tien jaar later, en wat ‘n verligting:  “Dit was, ja, en ek kan nou nog die hare uit my kop trek daaroor.”

Jare se vrae dam op in haar oë, drup oor haar wange:  “Oor jou spraak – en nie oor mý nie?”

Daardie aand se magteloosheid stoot soos sooibrand in hom op:  “Hoe kon ek jou help?  Ek kon nie ‘n woord uitkry nie.  Daar was ‘n horde mense wat kon help, wat kon práát.  Ek was nutteloos, ‘n hindernis.”

“Toe loop jy.”

“Toe vlug ek.  Soos my lewe lank.”

“Maar nie meer nie.”

“Nie meer nie.”

Hulle hande het vanself oor die lessenaar na mekaar gereik.

Fokus, diep asemteug, op met die borskas:  “Yolanda, is daar ‘n kans dat ons daardie aand ook kan vervang met iets beters?”

Hy skrik; hierdie deel het hy nie beplan nie:  “Jy’s getroud, jou van het verander?”  Dr. Bakkes, het die ontvangsdame gesê.

“Nee, nie meer nie.”  Daar’s dadelik pyn in haar oë.  As jy self sukkel-sukkel deur die lewe gaan, ontwikkel jy ‘n neus vir ander se ellendes.  Vroeër was hy dikwels aweregs bly as hy ‘n swakplek in iemand ontdek.  Nie meer nie; nou weet hy wat empatie is.

“Verloof?  Verlief?”

Sy huiwer, praat dan versigtig.  “Nee, maar kom ons wag tot ons albei weer terug is in die Kaap.”

Hy’s so verras dat hy spontaan begin stotter, maar hy herstel vinnig, fokus, doen dit reg:  “Jy bly in die Kaap?!”

“Ek is oor ‘n maand terug; ek locum  net hier vir ‘n vriendin.  Hier’s my huisadres, maar nou moet jy my verskoon; my pasiënte wag.”

Hy weet presies wat sy aan die doen is.  Sy gaan hom vir dié maand laat stowe in sy eie sous.  Natuurlik het sy ‘n vervlakste selfoon, maar nee, hy kry net die huisadres!

Kan hy haar kwalik neem?

Nee, hy kan nie en hy gaan ook nie.

 

EN HY STOWE WEL DEEGLIK.  Sy gedagtes bly maar spook met destyds se fiasko, so onbeduidend in die groter prentjie, maar groot genoeg om jare lank by hulle albei te spook.

Hulle het mekaar destyds nie weer gesien nie; hy neem aan sy’s vanaf haar tweede jaar na die mediese kampus in die stad.  Maar daardie klein nederlaag het vir hom die simbool van sy hele ellendige lewe geword.

Nie meer nie; nou kan hy iets daaraan doen.  Maar hy is angsbevange.

 

OP DIE OU END KOM HY maande later eers by Yolanda se plekkie in Bloubergstrand uit; die vrees het hom eenvoudig lamgelê.  Tafelberg hurk wasig aan die oorkant van die baai.  Prentjiemooi, soos Yolanda toe sy die deur oopmaak.

Hy lê die allemintige bos blomme soos ‘n offer in haar arms; die sjokolade sit hy op ‘n tafeltjie neer.  Daar is ‘n glans in haar oë wat sy hart verskrik laat bokspring.

“Yolanda,” sê Leon Eksteen ‘n dekade na die grootste van sy talle sosiale mislukkings, “Yolanda, ek is ontsettend jammer, verskriklik jammer; ek was so ‘n pateet daardie tyd.  En jonk en onnosel, en geheel en al gefokus op my eie swaarkry.  As ‘n mens so jonk is, glo jy mos jou ellende is die grootste, die enigste.”

Die bruin oë is sag op hom gerig:  “Soos ek ook maar gemaak het.”

Nog ‘n bul om by die horings te pak:  “Yolanda, die toeval daardie aand op die dansbaan … Was dit epilepsie?”

“Ja.  En niemand het geweet ek het die probleem nie, dus het niemand geweet wat om te doen nie.”  Destyds se swaarkry en spanning blink in haar oë; hy steek sy hande versigtig na haar toe uit.

“Ja, almal het gepanic, maar niemand het weggehol nie.  Behalwe ek, jou date  vir jou eerste huisdans op Stellenbosch.”

“My enigste huisdans op Stellenbosch; onthou, ons is Kaap toe ná ons eerste jaar.”  Haar kop pas netmooi onder sy ken; hy kan hoor sy glimlag.

“Die aand was in elk geval ‘n nagmerrie; jy weet mos ek kon omtrent nie ‘n woord uitkry nie, en skaars een voet voor die ander sit.  En hoe meer almal rondom ons dans en vry en flankeer, hoe stommer en lomper het ek geword.  Ek sweer ek het iewers binne-in my geglo dis mý skuld toe jy omkap. Ek het nog nooit so-iets gesien nie, ek het nie ‘n clue  gehad wat aangaan nie.  Ek kon dit eenvoudig nie hanteer nie.  Ek is verskriklik, verskríklik jammer, Yolanda!”

In sy ontsteltenis gaan hy onbeheers aan die hakkel, maar meteens is dit ook nie meer die einde van die wêreld nie.  Hy fokus eenvoudig net weer, haal diep asem, en sê die hele toesprakie weer oor.  Mooi stadig en duidelik en vlot, vlot, vlot.

Wat ‘n onverdiende saligheid – om te praat, vlot te praat, góéd te praat.

Maar niks kan so lekker wees soos om vir Yolanda Dreyer in sy arms te wieg en tien jaar gelede se trane van haar wimpers af te soen nie.

Sy hart is lig; die woorde huppel uit sy mond:  “Yolanda, kan ons daardie aand ook oor doen?  Sal jy Oujaarsaand saam met my gaan dans?  Ek kan deesdae praat én ek kan dans!”

Haar lag eggo die vreugde in sy borskas.  “Ek sal, dankie, Leon.  My epilepsie is danksy medikasie baie goed onder beheer, en ek ken nou die tekens; ek sal my nie weer onverhoeds laat vang nie.”

“Dit maak nie saak nie; ek sal nie weer weghardloop nie.  Nooit weer nie.”

Haar mond is so soet, so soet soos suiker onder syne.