Brazelle

Liesbet van Wyk

  1. Ouderdom: 63
  2. Beroep: Uitgewer
  3. Huwelikstatus: apart
  4. Waar woon jy? Kaapstad
  5. Alleen? Wie saam met jou? (Name is nie nodig nie.) Dogter in laat 20s.
  6. In watter opsig(te) beskou jy jou situasie tydens inperking as uniek of besonder uitdagend? Hemel vir ‘n introvert, maar alleen sou ek dit seker nie kon baasraak nie.
  7. Hoe het jy gevoel toe die noodtoestand afgekondig is? My dogter het my weke lank al berispe omdat ek so onverantwoordelik is en uitgaan na restaurante, boekklub, vriende, ens. Toe besef ek dis ernstig, en dit het ‘n mate van berusting gebring toe die noodtoestand gekom het. Toe kom my fatalisme tot ‘n val.
  8. Hoe het jy gevoel toe algehele inperking (vlak 5)afgekondig is? Ek het dit verwag, maar die tydsberekening was ‘n groot skok want daardie volgende naweek, sou ek en vriendinne weggaan na ‘n baie idilliese, stil Weskusdorp. Ons het almal so lank daarna uitgesien. Ons het selfs planne gemaak hoe ons mekaar met afstand sou respekteer en het reeds gewerk aan die skoonmaakroetine, sodat almal veilig kon bly.
  9. Hoe het jy die drie dae direk voor inperking deurgebring? ‘n Vriendin was hier van ‘n ander stad. Ons was saam op skool, en dit was heerlik om tyd saam deur te bring, en onbevange te gesels. Ons het saam ‘n boekklubvergadering bygewoon en die bespreking baie stimulerend gevind. Op die Donderdag het ‘n vriendin verjaar. So ses van ons het die koek en tee by ‘n restaurant geniet, maar ek was teleurgestel dat so min mense opgedaag het (ter wille van die vriendin). Ek het ten duurste betaal vir ‘n kompakte waterverfstel omdat ek meer kreatief wou wees tydens inperking
  10. Hoe het jou lewe met inperking op vlak 5 verander? As semi-afgetree is struktuur in my week baie belangrik. Daar is groepe en klasse en  byeenkomste wat ek as baie belangrik ag, en skielik het dit alles weggeval. My week se struktuur het verdwyn, en eensaamheid het aan die deur kom klop.
  11. Wat was die moeilikste tydens vlak 5? Die gereelde, beplande kontak wat skielik verbreek is. As introvert is dit vir my moeilik om uit te reik, maar lekker om wel soms tussen mense te wees. As die kontak gestruktureerd is, soos met Bybelstudie of hekelgroep, is dit lekker en maklik, en voorsien dit in my behoefte vir kontak.
  12. Wat is vir jou positief tydens vlak 5? Die stilte. Ek was absoluut mal daaroor. Ek is baie geraas/geluidsensitief, en dit was eenvoudig hemels vir my. Ek het ook vir heelwat aanlyndinge ingeskryf soos ‘n kursus oor emosionele intelligensie, kunsklasse, pilates, ens, ens.
  13. Hoe het die mense gevaar wat saam met jou ingeperk was? My dogter is ook ‘n introvert. Ons seg albei baie dankie vir sosiale media, altyd, maar spesifiek in hierdie tyd.
  14. Hoe het jy die verlenging van vlak 5 ervaar? Gelukkig het die kursusse aangehou, en het ek al hoe meer vertroud begin raak met Zoom, wat vir my kontak op ‘n afstand bly gee het.
  15. Wat het jy die meeste gemis op vlak 5? Menslike kontak. Ek is nie lief vir ‘n foon nie. Bel was dus nie werklik vir my ‘n opsie nie.
  16. Hoe het die verandering na vlak 4 jou geraak? Soms het dit my ontstel, want dinge het raserig begin raak. Dit was egter lekker om te kon uitkom en te gaan stap.
  17. Waaroor was jy bly met die verlaging na vlak 4? Dat ek my ander kind meer gereeld kon sien. Hy was in isolasie vir ‘n paar weke tydens vlak 5, weens moontlike blootstelling aan die virus op almal se lippe, maar tydens vlak 4 kon ons darem saam gaan stap.
  18. Waaroor was jy kwaad met die verlaging na vlak 4? Kan nie aan iets dink nie. Dit het my eintlik verbaas dat ek so kalm en rustig was, en selde geirriteerdheid ervaar het; woede glad nie.
  19. Is jy iemand wat voor inperking gereeld geoefen het? Wel, nou ja, ‘n bietjie stap. En waterpilates.
  20. Het jy tydens vlak 5 geoefen? Ja, my skoonsus het smorens op Facebook  aanlynpilatesklasse aangebied en ek het my inkopies te voet gedoen.
  21. Hoe het jy dit gedoen? Aanlyn, binnenshuis. Ek het soms winkels toe geloop.
  22. Hoe het jy die drie ure oefentyd op vlak 4 ervaar? Dit was bietjie vroeg. In my omgewing het dit soos Adderleystraat gelyk! Mense oral, honde oral, kinders op fietse –  net te veel.
  23. Hoe het die verlaging na vlak 3 jou geraak? Aangesien ek nie voltyds werk nie, het dit my nie veel geaffekteer nie. Ek het wel ervaar dat wanneer ek winkels toe gaan, is ek totaal verstom oor mense se gebrek aan sosiale afstand. Dit het my uit die winkels gehou.
  24. Waaroor was jy bly toe vlak 3 aanbreek? Dat daar weer ‘n hupstoot in die ekonomie sou kom. Dat dinge dalk weer normaal sal word …
  25. Waaroor was jy kwaad toe vlak 3 aanbreek? Mense se domheid oor sosiale afstand. Dat die virus nog steeds met ons was en nog nie eers sy kruin bereik het nie.
  26. Hoe vaar jy op hierdie stadium (na 100 dae) oor die algemeen emosioneel? Dit raak nou net te veel. My wankelende geestestoestand het ‘n naam gekry, en ek is bekommerd oor die omvang van die virus in ons land. Ek is onseker oor wat die toekoms inhou. Ek ervaar net te veel dat ek my midde-in The Handmaid’s Tale bevind.
  27. Is jy finansieel erg geraak? Ietwat, aangesien my huurder nie meer werk het nie. Ek moet mooi kyk na my begroting, goed beplan en terughou as dit kom by luukshede.
  28. Wat is nou vir jou die moeilikste? Sal ek die nuwe normaal kan hanteer? Hoe maak ek nou met uitnodigings na mense se huise? Ek wil hulle nie in die gesig vat nie, maar ek wil ook nie alleen deur die lewe gaan nie. Ek praat dan maar oor my risikoprofiel en ko-morbiditeite. Ek is mal daaroor om op my eie in koffiewinkels rond te hang, maar ook met vriende. Dis glad nie meer vir my lekker nie. Met masker aan, is dit net uiters ongemaklik. Wanneer haal jy dit af? Dit voel of ‘n mens dit moet aanhou, aangesien die kelners bemasker is. Al is die tafels wyd versprei, sit mense by die tafels tog ‘n bietjie te na aan mekaar na my sin.
  29. Wat kan jy uit die ervaring haal wat positief is? Wonderlike geleenthede vir aanlynlesings en -geprekke, musiekkonserte, teater en boekbekendstellings het my lewe heerlik gevul. As ‘n mens mooi soek en oordeelkundig is, kos dit min of niks!
  30. Bly jy op datum met die Covid 19-situasie in SA? Ek was aanvanklik die Covidkenniskampioen, maar noudat die virus so erg maai in ons land, moet ek my teen al die stories en skokstatistieke staal. Ek vind ek is geneig om artikels oop te maak, en na ‘n paar sekondes net weer toe te maak omdat ek dit eenvoudig net nie kan hanteer nie.
  31. Deur watter medium? Hoe gereeld kyk/luister jy na nuus oor Covid 19? Hoofsaaklik Facebook, Twitter en Media24. Daar is ‘n paar uitstekende joermaliste wat ek op Faceboek volg, en hulle is ‘n bron van uitstekende, beredeneerde en wetenskaplike inligting.
  32. Hoe beïnvloed die voortdurende nuus oor die virus jou emosioneel?  Uit noodsaak moet myself terughou omdat ek maklik oorweldig kan raak. Ek dink soms ek ly aan pandemie-itis. Dit maak my moeg en dreineer my energie. Dit maak my depressief.
  33. Bly jy op hoogte van die oorsese situasie? Ek luister gereeld na die WGO se persverklarings. Ek volg die situasie in die Amerikas op ‘n afstand, en word dikwels oorweldig deur die getalle.
  34. Is daar spesifieke lande waarin jy belangstel? VSA, veral weens die oranje monster wat daar aan die hoof is se belaglikhede.
  35. Hoekom? Sien 34.
  36. Hoe beïnvloed die stygende sterftesyfer in SA  jou? Dit verstom my. Wanneer dit ook gebeur dat mense wat jy ken, sterf, dan voel jy jouself deel van die pandemie en kan jy baie meer met die statistiek identifiseer.
  37. Wat sou jy anders doen as jy nou die ervaring van vooraf kon begin? Ek dink aan Traffic se liedjie “The low spark of high-heeled boys”, met die lirieke “ If you had just a minute to breathe, and they granted you one final wish, would you ask for something like another chest?”
  38. Wat sal jy presies dieselfde doen as jy van vooraf kon begin? Ek dink aan Traffic se liedjie “The low spark of high-heeled boys”, met die lirieke “ If you had just a minute to breathe, and they granted you one final wish, would you ask for something like another chest?” (Let wel, die herhaling is nie ‘n fout nie. Dis so bedoel. ‘n Mens sou dit ook kon beantwoord met: Soos in 39.)
  39. Ken jy iemand wat Covid 19 opgedoen en herstel het? Ja, ‘n klompie jong mense. Ek weet van mense van my ouderdom of ouer wat oorlede is. Ek het van baie gevalle gelees wat herstel het. Dit bring hoop.
  40. Het iemand na aan jou al aan Covid 19 gesterf? “Na aan my” is relatief. Daar was ‘n tyd wat die persoon na aan my was. Dit het die skok nie minder gemaak nie.