Vergeet om te onthou

Vergeet om te onthouVergeet om te onthou het in Rooirose van Oktober 2016 verskyn – en ja, ek sukkel soms om my motor op ‘n parkeerterrein te vind … 🙂

“Mevrou, kan ons help?” Drie jong gesigte lag vrolik op na Magriet. Mens sou sweer hulle eie ma’s verloor elke tweede dag hulle motors op al wat ‘n parkeerterrein is.

Maar ook ʼn enkelvrou in die greep van die menopouse het nog haar trots. Sy probeer die gloed in haar nek ignoreer, vat haar handsak stewig vas en glimlag verbete. “Nee wat, dankie, daar’s nie probleme nie.”

Wel, mens kan dit seker so stel. Dat sy nie kan onthou waar sy parkeer het nie, is immers nie ʼn probleem nie. Dis ʼn ongeluk wat ‘n plek soek om te gebeur, aangesien dit fluks besig is om ‘n gewoonte te word. Hoe gaan sy weet wanneer haar karretjie die dag gesteel is en nie bloot vergete nie? Stel jou net die verleentheid voor as jy die polisie laat kom en hulle vind jou motor veilig, presies waar jy stilgehou het!

Alzheimer’s Light, spot haar vriendinne as sy by hulle kla, die lot van enige vrou in die oorgangsjare. En bly dan vinnig stil as hulle besef dié ou grappie is vir haar hoegenaamd nie snaaks nie.

Natuurlik weet sy sy is oorgevoelig wat haar geheue betref. Maar wie kan haar kwalik neem?

Die bejaarde Volla met die drie mooi jongelinge brul nie weg en laat haar alleen in haar verleentheid nie. Nee, met klein gromgeluide bly dit langs haar huiwer. “Hoe lyk Tannie se motor? Dan help kyk ons gou.”

Die sonbruin voorarm by die venster uit, die ylerige baard en die bos hare ontstel haar so dat sy amper vergeet om haar te vererg. “Ek is nie jou tannie nie, kind,” mompel sy darem, heeltemal te laat.

Want by die passassiersitplek rank alreeds ‘n latlyf uit en wys ewe galant sy moet inklim. “Kom ry gou saam, dan kry ons hom vir jou.” Hierdie een het ʼn paar potblou oë waarin selfs siniese ou vrouens nog kan dreig om te verdrink. En hy is alreeds gebukkend besig om agter in te klouter.

“Dis regtig nie nodig nie. Ek is seker …” stribbel haar mond nog teë, toe skuif haar moeë lyf alreeds op die sitplek in. “Dis ʼn rooi Sparkie, mens sien hom van ʼn myl af. En ek hou altyd in ry tien stil.” Sy het rye vyf tot vyftien al deurgestap, stokstyf van verleentheid, oorbewus van mense wat dalk die vrou oplet wat so doelloos dwaal.

“Hier in ry tien is hy beslis nie.” Die derde een se skoongeskeerde gesiggie laat mens in die goedheid van die mensdom glo. Selfs al is jy so alleen en sinies en lewensmoeg soos sy deesdae chronies voel. Dit kan nie net hormone wees nie. Sy sal moet hulp kry, haar las word te swaar. Francina se drie dae ʼn week is nie meer genoeg nie, buurman Braam se empatie is nie meer genoeg nie.

“Ons vat die plek sommer van ʼn kant af.” Besondere oë wat die mannetjie aan hom het. Nie heeltemal blou nie, nie heeltemal groen nie, iets tussenin. Iets soos die see op ‘n sonskyndag, iets soos Rudolph se oë op ´n goeie dag. Rudolph, haar geliefde broer wat nie meer onthou hy is haar broer nie.

Met die toename in brulvolume skop die musiek ook in. Genadiglik nie die doef-doef wat haar oortromme daagliks op die radio beproef nie, maar goeie ou Creedence Clearwater Revival, so reg uit die sewentigs. “Luister julle sowaar nog na hulle?”

“CCR is groot onder ons pelle, Tan … e … Mevrou.” Die een agter die stuurwiel kyk haar ‘n oomblik reg in die oë. En die tyd gaan botstil staan, haar asem is vir ‘n oomblik skoon uit haar lyf. Dis nie haar verbeelding nie. Dis Rudolph se oë, Rudolph se wenkbroue, Tina se manier om die kop so effens skuins te hou. Tina wat haar kind gevat en gee pad het, nog voor sy vergeet kon word.

“Dis nou gaaf om te hoor,” begin Magriet sommer in die wind in babbel, “En hier dag ek dis deesdae net Rihanna en Justin Bieber wat die jongmense interesseer.”

Al drie gaan dawerend aan die lag. “Ons is darem ouer as veertien, hoor!”

“Studente? Hopelik nagraads, aangesien julle andersins seker in die klas moes gewees het?” Sy voel die volgende gloed in haar nek opstoot. Die somme klop perfek. Sy moet konsentreer om egalig asem te haal.

“Jip.” Hy vang weer vir ‘n oomblik haar oog, die glimlag laat haar binneste steier. “Ons is baie voorbeeldig.”

Die opmerking lok net genoeg gelag uit om haar te laat verstaan: Voorbeeldig mag hulle dalk wees, maar gevrek beslis nie. Sy sit met haar mond vol tande, haar binneste onbedaarlik aan die bewe. Dit gaan belaglik wees om te begin uitvra, sy is vir hulle bloot ‘n tannie wat te ingedagte is om te onthou waar sy stilgehou het. Geen rede hoekom sy hoef te weet wat hulle name is, wat hulle swot, waar hulle vandaan kom nie.

“Daar’s hy!” Genadiglik bring haar motor se blink dakkie in die sonlig ‘n einde aan die ongemaklike oomblik. Oop en bloot in ry twintig, regoor die hoofingang van die sentrum. “Nou onthou ek, ek het hier stilgehou omdat ek reguit apteek toe is, nie soos gewoonlik koswinkel toe nie. Baie dankie, julle.” Sy voel die pakkie hormoonvervangingspille brand in haar handsak. ʼn Kruk vir swak ou vrouens, het sy altyd gedink. Maar deesdae het sy elke moontlike kruk nodig.

Die Volla luier brommend agter haar Sparkie. “Dis ‘n plesier, e …” glimlag aldrie.

“Julle kan maar tannie sê.” Sy sukkel effens by die sitplek uit. Die litte is deesdae ontstellend styf. Ja, soos miljoene voor haar het sy ook gereken oudword sou stadiger gebeur. Indien ooit.

“Baai, Tannie!” Die Volla brul weg, die sonbruin arm wuif vir oulaas.

Die wêreld lyk nie meer soos flussies nie. Die son skyn nog blakend oor die akkerbome en berge, die studentedorp woel bekend om haar, haar Sparkie ken die pad huis toe. Maar binne-in haar is alles anders.

 

By die huis wag Francina haar handewringend in. “Grietjie, Rudolph het my wragtig weer ontglip. Ek het klaar straat op en straat af gesoek En die neighbours gebel. Mister Basson is nou net hier uit, hy’t gesê hy sal gou die Spar gaan check, en die parkie. Hy ken mos darem al die drill.”

Magriet se bene wil-wil onder haar invou. Sy laat haar inkopies outomaties op die bankie in die ingangsportaal sak, die bekende vrees soos lood op die krop van haar maag. Eendag gaan hulle hom nie weer kry nie, eendag gaan hy iets oorkom. “Hoe kry hy dit reg? Jy hou tog alles gesluit?”

Francina kyk hier, kyk daar. “Mavis van oorkant het kom tee drink. Ek sê vir haar sy  moet sorg dat die Yale op is …”

Kwaad word gaan hulle nie help nie. Francina is nie meer ‘n kind nie; sy is nie meer lus vir die gereelde drama nie. Wat vir haarself ook geld. Nie meer so jonk nie, nie meer lus vir al die spanning, al die geduld, al die jammerte en die voortdurende hartseer nie.

Deesdae dink sy meer dikwels aan Tina en die seuntjie. Hoeveel jaar is hulle weg? Twintig? Klein Rudi moet twee en twintig wees. Die perfekte ouderdom vir nagraadse studie. Sy druk die dreigende blydskap tot in die agterste hoekie van haar brein.

Sy bly sit, haar hande slap in haar skoot, haar kop vasgevang by die beeld van die sonbruin arm, die laggende bebaarde gesig. Sy moet in haar kar spring en na Rudolph help soek, sy moet ten minste vir Braam bel en dankie sê. Dis nie die eerste keer dat hy sy skryfwerk los en help soek nie. Maar sy is kragteloos. Toe Francina die beker tee langs haar neersit, glip die woorde oor haar lippe: “Ek dink ek het vandag vir Rudi gesien.”

Francina sak langs haar neer, die bankie sug onder hulle gedeelde gewig. Soos hulle sug onder die las wat hulle al soveel jare saam dra. “Mens, wat vertel jy my?”

“Ek het so geskrik, ek het nie uitgevra nie, maar ek kon sweer dis hy. Hy’s pragtig, Francien, fiks en gesond en bruingebrand, ‘n nagraadse student hier in ons dorp. Dalk van sy eerste jaar af al hier. En ons weet van niks.”

“Is jy seker, Grietjie? Is dit nie net wishful thinking nie?”

Dis wat sy haarself die hele tyd probeer vertel, maar dit word al hoe moeiliker om haarself te glo. “Dis moeilik om te sê, ek wou nie soos ‘n agie staar nie. Maar die oë, ek kan sweer dis Rudolph se oë.”

“Die wêreld is vol mansmense met mooi oë, Magrieta.”

“Natuurlik, maar min van hulle het daardie spesifieke blougroen kykers. En Tina se manier om jou reguit in die gesig te kyk en dan weer weg, asof hy gedagtes het wat hy nie wil verklap nie.”

“Liewe hemeltjie tog, wat gaan ons maak?”

“Niks. Ons gaan voort met ons lewe. Ek sal gou vir Braam bel.” Maar sy glo nie eens haarself nie. Die wond is oopgeruk, die jare se probeer vergeet en vergewe is in ʼn oomblik uitgewis.

Hy het hom, hy wou nou net bel, antwoord haar geduldige buurman. Op pad parkie toe, soos laaskeer ook, heeltemal verward. Mens kan sweer hy wil iets daar gaan soek. Hulle is nou-nou tuis, hulle kry net gou ietsie lekkers by die Spar, hy weet mos dit help altyd vir die ontsteltenis.

“Malvalekkers,” fluister sy, onverwags betraand, “Deesdae hou hy van malvalekkers.”

Sy kan Braam hoor glimlag, sy gewone rustige self. Hy het ‘n slag met Rudolph, hy sien nie op hom neer nie. “Ek kry ‘n groot pak, hy’s mos nie ‘n ou wat omgee vir deel nie.”

Maar sy gee deesdae om vir deel. Sy is moeg om haar lewe te deel, haar tyd, haar geld, haar alles. Sy is gedaan gegee. “Ek sal vir hom ‘n versorgingsplek moet kry, Francien.”

“Sê ek mos lankal. En jy weet self hy gaan deesdae vinniger agteruit.” Die hand op hare maak die woorde sagter, maar nie minder waar nie.

Dit het tyd geword. Die jare het haar ingehaal; Francina sporadiese se hulp is nie meer genoeg nie. En Braam se geduld gaan nie vir altyd hou nie.

 

Laataand sit sy soos ‘n dief in die nag op Facebook en rondloer. Rudi Boshoff, tik sy bewerig in die soekblokkie in. Nie so ʼn algemene naam nie, daar is net drie van hulle. Die tweede een is hy. Die hare, die baard, die oë, die glimlag. Sy profiel se sekuriteit is hoog, sy kan nie veel meer sien nie. Maar wat sy sien, is genoeg.

Nou het sy die skone bibberasie. Moet sy of moet sy nie? Tina het alle bande verbreek, sy wou nie haar kind grootmaak met ‘n pa wat binnekort nie meer sy naam sou onthou nie. Sy het dit probeer respekteer en alleen voortgefoeter. Destyds was soveel minder nog oor Alzheimer se siekte bekend, veral oor die soort wat so vroeg al inskop. Daar was ‘n stigma, sy het vriende verloor toe sy vir Rudolph ingeneem het.

Rudi is aanlyn; dis nou of nooit. Versigtig tik sy in die boodskapvenstertjie: “Baie dankie vir vanoggend se hulp.” Liewer met ‘n draai kom, nie die kind ‘n skrik gee nie.

“Dis ‘n plesier, e … :)” Hy het ‘n humorsin, soos sy pa lank gelede gehad het.

“Jy mag maar tannie sê,” tik sy glimlaggend.

Stilte, geen reaksie. Sy begin bewe, gaan sit liewer die ketel aan, gaan loer by Rudolph in. Genadiglik slaap hy vanaand diep, vanoggend se staptog het hom moeg gemaak. Dis die nagte wat die swaarste is, die rusteloosheid, die dwalery deur die huis, die voortdurende spanning.

Toe sy met haar beker rooibos terugkom by die rekenaar, is daar ‘n antwoord: “Tannie het vir my vreeslik bekend gelyk.”

Bewend gaan sy die ou bekende skakels op die internet na. “Early onset familial Alzheimer disease (eFAD) is hereditary …” Sou Tina dit ooit weet? Sou sy haar kind met ʼn arendsoog dophou, elke vakansie bevrees uitkyk vir vroeë tekens?

Lank sit sy na die skerm en staar. Dit sal so maklik wees, net ʼn paar woorde en sy is nie meer alleen nie, daar is iemand om die las te help dra. Maar haar vingers bly huiwer bo die toetse. Al die ou herinneringe spoel weer oor haar. Die geleidelike aftakeling, die aanvanklike verkeerde diagnoses, die onsekerheid, die spanning, die vrees vir die toekoms. Wat gaan hierdie kennis aan die lieflike kind doen? Op watter manier kan dit vir hom tot voordeel wees? Het sy die reg om sy lewe binne te kom? Gaan Tina haar ooit vergewe?

Haar tee is koud toe sy dit eindelik wegsluk. Sy tik stadig, pynlik presies: “Seker maar jou verbeelding,” en skakel die rekenaar met ʼn ferm hand af.

Toe gaan bel sy vir Braam. “Ek kom dadelik,” sê hy, duidelik deur die slaap.

Sy gaan sit solank die ketel aan.

 

Inligting oor Alzheimer se siekte wat vroeg begin:

http://www.alzforum.org/early-onset-familial-ad/overview/what-early-onset-familial-alzheimer-disease-efad

Die Alzheimer’s Vereniging van Suid-Afrika: http://www.alzheimers.org.za/