Die volledige pakket

Die volledige pakketDie volledige pakket het in die Vrouekeur van 25 Sept. 2015 verskyn.

Riana moet haarself behoorlik dwing om stil te staan voor die deur wat beslis ‘n lagie vernis kortkom. As mens se drome die dag waar word, wil jou voete sommer vanself aan die trippel bly. Al is jy ook die enigste een wat dink jou droom is die moeite werd.

“Hoe kan jy jou geleerdheid so weggooi, Rientjie?” vra haar ma minstens een keer per dag. “Waarvoor wil jy jou talente op ‘n stofsuier verspil?” hou haar pa vol. “Ek weet – onse Rientjies soek ‘n man,” lag haar tienerboetie, “Sy reken mos sy’s te goed vir ou Franna.”

Dis nie dat daar met Francois enigiets verkeerd is nie. Dis net dat hy deur konstante chaos omring word. Geen orde, geen stelsel. Hy weet te vertel chaos bring vir hom kreatiwiteit. Vir haar bring dit bloot paniek.

Maar bowenal reken hy hierdie droom van haar is bloot belaglik, terwyl sy hom sy toewyding aan sy fotografieboeke heelhartig gun. En juis daarom staan sy nou voor hierdie dors deur. Rondom die matjie lê die herfsblare gesellig bymekaargewaai. In die hoek bokant haar pryk ‘n indrukwekkende spinnerak. Haar dienste is nodig hier, gevraagd of ongevraagd.

Met lam bene staar sy na die man wat eindelik die deur oopmaak. Woeste bos hare, woeste bos baard, yslike frons op die gesig. En hy sprak geen sprook nie.

Die Stofsuiertjie tot jou diens,” glimlag sy op haar mooiste en rig haarself tot haar volle een en ‘n halwe meter op. Sy kyk netmooi in die paar borshare vas wat uitloer by ‘n gekreukelde hemp wat skeef vasgeknoop is.

Lang oomblikke van onbegrip voor ‘n lig stadig in sy nogal mooierige bruin oë daag. “O. En waar is jou werkers?”

Dis wat al wat vriend en familielid is ook voortdurend wil weet: Waar is die werkers? Dat ‘n intelligente vrou met ‘n onderwysgraad self wil moue oprol en mense se huise skoonmaak, gaan almal se verstand te bowe. Die waarheid is natuurlik dat sy te bang is om werkers aan te stel voor sy enigiets verdien het. Liewer eers self skouer aan die wiel sit en dinge uitkyk. Een van die talle klein besighede wat binne die eerste jaar vrou, gaan sy nie wees nie.

“Ek is die werker. Kan ek maar inkom?”
“Inkom?” Hy kyk by haar verby asof redding uit die straat moet kom. Maar daar staan net haar getroue bakkietjie met ‘n splinternuwe stofsuier en ‘n versameling ewe nuwe stoffers en borsels en spuitbottels met allerhande organiese wondermiddeltjies.

Sy probeer hom streng aankyk: “Om skoon te maak, moet ek binnekom. Ek bied ‘n huisskoonmaakdiens, nie ‘n tuindiens nie.”

“Oukei.” Hy staan opsy, maak ‘n vae gebaar na binne. “Maar jy raak net nie aan my papiere nie.”

 

Laatmiddag steier sy vuisvoos terug na die bakkie met die blinknuwe logo op die deure: Die Stofsuiertjie. Sy sak diep weg in die sitplek, beskou haar gebreekte naels een vir een. Selfs die jolige geel handskoene het nie veel gehelp nie. Van môre af benader sy die taak met meer realisme, haar naels kort en haar bos hare tot orde geroep. Geen juwele nie, net Ouma Riana se eenvoudige trouring wat sy verlede jaar geërf het. Aan die verloofring wat sy nie van Francois wou aanvaar nie, wil sy liewer nie dink nie.

Maar sy is nie in die besigheid om ‘n plaasvervanger vir Francois te soek nie. Sy is hier om aan hom en haar familie te bewys sy kan ‘n sukses van ‘n onderneming maak, sy het die moed en deursettingsvermoë om weg te breek uit ‘n situasie waarin sy nie gelukkig is nie. Die onderwys is nie vir sissies nie en in sekere opsigte is sy seker maar ‘n sissie. Maar ‘n sissie met oorgenoeg dryfkrag, solank sy self kan besluit in watter rigting daar gedryf moet word.

Riana trek stadig weg. Haar entoesiasme lê maar laag. Sy sal haar nie laat onderkry nie. Dink net hoe sal almal lag as sy sommer nou al oorgee.

Ja, sy kan dink hoe sal Francois lag. Francois vir wie sy uit haar lewe weggestuur het omdat hy nie haar drome kan of wil deel nie. Francois na wie sy dag en nag verlang.

 

Twee weke later gaan die deur ten minste na die eerste skril van die klokkie oop. Maar die hout is steeds dors en die huisbaas nie danig verwelkomend nie. “O, dis alweer jy?” Hy kyk haar met kwalik bedekte angs aan. En sy reken nogal sy lyk nie vandag te onaardig nie. As mens jeans en ‘n hempie jou uniform moet maak, kan dit steeds jeans wees wat goed sit en ‘n hempie wat nie al jou bates onder die maatemmer versteek nie.

“Dis Donderdag. Ek vermoed jy het teen hierdie tyd weer my dienste nodig,” glimlag sy vasberade. “Ons kan ʼn spesiale prys beding.”

Meer as geld is hier ter sprake. Haar selfrespek, onder andere. Want ja, die afgelope twee weke was ‘n harde leerskool. Daar was die vrou met die honde sonder maniere. Groot honde wat baie hare afgooi, op elke denkbare oppervlak. Daar was die vrou met die kinders sonder maniere. Yslike tieners wat nog nooit in hulle lewe agter hulleself iets opgetel het nie. Daar was die man met die minnaresse wat nie altyd al hul onderklere saamneem wanneer hulle koers kry nie. En daar is die bejaarde paartjie wat Die Stofsuiertjie se organiese wondermiddels glad nie vertrou nie. Nee, hulle soek die outydse onheile wat gate in die osoonlaag brand en dalk nog in jou longe ook. Maar sy het vasgebyt en deurgebyt en hier staan sy vandag, in een stuk en vol moed vir die toekoms.

Hy maak die deur teensinnig wyer oop. “Is dit al Donderdag vandag? Is jy seker?”

“Doodseker,” glimlag sy terwyl sy haastig haar gereedskap die huis inbring, voor hy dalk van gedagte verander.

“O hel, ek gaan dit nie maak nie.” Sy hande gaan na sy hare. Dit lyk of sy hande al heeloggend in sy hare is.

“Is dit dodelik?”

“Dodelik? Wat bedoel jy?”

“Die siekte wat jy het.” Sou daar iets soos ‘n fobie vir ordelikheid bestaan?

Hy skud sy kop soos een wat van spinnerakke ontslae moet raak. “Nee, nie ‘n siekte nie, net dat ek nie die spertyd gaan haal nie.” Hy neem stelling in voor die eetkamertafel, asof hy die warboel daarop teen haar aanslag wil beskerm.

“Wanneer moet dit in wees?” Riana verbeel haar sy voel ‘n prikkeling in haar vingerpunte.

“Maandag.”

“Hierdie Maandag?”

“Hierdie Maandag.” Sy oë sal nog mooier wees as hulle nie met paniek gevul is nie.

Riana stoot die stofsuier terug tot by die voordeur en sit haar mandjie met stoffers en skoonmaakmiddels netjies langsaan neer. “Ek help jou gou.”

“Help? Nee …” Dit lyk of hy sy liggaam ter beskerming voor sy papiere wil gooi. “Net ek weet waar alles is.”

“Hoekom is hier so baie papiere? Is jou goed nie alles op rekenaar nie?” Sy beweeg om hom en begin die eerste skewe hopie tot orde skud.

Dit lyk of hy homself met moeite daarvan weerhou om die goed uit haar hande te pluk. “Party dinge werk eenvoudig beter op die harde kopie.”

“Eerstens gooi jy alles weg wat onnodig is.” Sy trek ‘n swartsak van haar rolletjie af en lig ‘n paar los papiere tussen die hopies uit. “Wat is hierdie? ‘n Rekening? Vyf maande gelede? Het jy dit al betaal?”

“E … nee.”

“Is hier nog?”

“E … miskien, ja.”

“Soek uit en maak ‘n nuwe hopie.”

Sy skouers sak soos dié van ‘n man wat oorgee. “Oukei.”

 

Na die taai skof bel sy vir Francois uit die bakkie: “Ek hét dit – ek kan diversifiseer. Een kant skoonmaakdiens, ander kant organisasie en uncluttering.” Sy kyk liefdevol na haar kort, kleurlose naels. “Vanaand begin ek aan ‘n nuwe sakeplan werk.”

“Wat gaan jy dit noem?” Hy lag nie hierdie keer nie.

Sy huiwer net ‘n oomblik. “Riana se regrukdiens.”

Die dors voordeur gaan oop. Francois kom na haar toe aangestap, foon teen die oor. Woeste hare en woeste baard en geneigdheid tot chaos, die volledige pakket wat sy volledig liefhet. “Jy’s ernstig, jy gaan dit doen.”

“Natuurlik gaan ek dit doen, Franna.”

“Jy het my vandag regtig baie gehelp, Rientjie.” Hy trap ‘n bietjie rond, besef dan die foon is nie meer nodig nie, druk dit in sy broeksak. “Dalk is daar nog baie deurmekaar siele soos ek.”

“Ek is seker daar is.” Sy probeer selfversekerd glimlag, maar senuwees maak dit ‘n bewerige glimlag. “Maar ek werk nie verniet nie.”

Sy glimlag raak breër. “Natuurlik nie.” Hy vat versigtig na haar hand, asof hy nog nie die vrede vertrou nie. “Kan ‘n verloofring dalk deel wees van die pakket wat jy sal aanvaar?”

“Net as dit van jou af kom.” Sy strengel haar hande deur die woeste bos hare, kyk diep in die nogal mooierige bruin oë. Francois is Francois, sy sal nie die pakket probeer verander nie. Dalk net so effentjies verbeter, waar dit die nodigste is.