Die verhaal wat in Geur van genade begin het toe Lana die pad vat Karoo toe, wil my maar nie laat los nie. Eintlik het dit deel van my lewe geword en die karakters mense wat ek noual goed ken. Telkens het ‘n ander karakter na vore getree wie se storie eenvoudig vertel moet word. (Dit sou baie indrukwekkender geklink het – vir my ook – as ek kon sê ek het heel aan die begin gaan sit en al die karakters, verhoudings, onderstrominge en gebeure vooraf uitgewerk. Maar helaas, dis nie hoe dit vir my werk nie. Wat soms tot chaos en onnodige oorskryf lei.)
Waar die drie Geur-boeke die verhaal van drie paartjies wat nie een meer so vreeslik jonk is nie, sal die vier Seisoen-boeke (DV) die verhale van jonger paartjies vertel. Dis weer vir my ‘n nuwe uitdaging om in mense heelwat (baie!) jonger as ekself se koppe te probeer klim. Daar is Chris, Mariaan (uit Vergifnis) se spitsvondige jonger boetie. Daar is Vivien (Vervulling) se twee pragtige seuns. Daar is die kleine Herman wat so tussen die Geur-boeke deur ‘n lewe van sy eie gekry het. En natuurlik Amanda, sy gekwelde en beeldskone ma. Ek kan hulle darem nie sonder pasmaats deur die lewe laat gaan nie …
Intussen is ek struikelend op soek na die oudste Van Zyl-boetie se verhaal …