Dans met my was my eerste romanse en het in 2007 by Lapa verskyn. Ek plaas ‘n stukkie aan die begin …
Op die stoep sit ‘n meerkat. Van die soort met die skerp snoetjies en die stokstywe sterte. Wat gewoonlik wild in die veld rondhardloop, en nie op huise se stoepe rondsit nie.
Bella knip-knip haar oë in verwondering. Is sy nou aan die kinds word op die prille ouderdom van ses-en-twintig? Maar nee, daar sit ta nog steeds. Penorent op die agterpootjies, met die kraalogies stip op haar gerig, die spits rubbersnoetjie ywerig besig om die lug tussen hulle te toets.
Soos dit om een of ander rede gewoonlik gaan, betree jy hierdie ou plaashuis ook van die agterkant af. Sy’t natuurlik soos die dorpsjapie wat sy is aan die voorkant van die huis stilgehou; waar sy vandaan kom, gaan gaste by die voordeur in. Tot haar skok het sy ontdek daar is verskeie deure wat as voordeur sou kon deurgaan, maar ‘n ieder en ‘n elk van hulle het ‘n sleutel wat aan die binnekant sit. Dié dat sy nou – in ‘n toestand van akute irritasie – by die agterdeur beland het.
Maar sy’t nie verwag ‘n ongedierte gaan haar weg versper nie.
Bella is moeg; sy wil so gou as moontlik vasstel of die sleutels in haar hand hierdie slag die ding gaan doen. Maar die astrante dierasietjie op die stoep het ‘n verlammende effek op haar; sy staan geplant op die boonste trappie. Die gedagtes tuimel deur haar verstand: Meerkatte kan siektes dra. Allerhande nare goeters. Soos hondsdolheid. Veral hondsdolheid. En vir hondsdolheid het sy ‘n heilige vrees. Nie net as gevolg van die skrikwekkende simptome van dié gevreesde siekte nie, maar ook weens die sielkundige knak wat sy as dogtertjie opgedoen het aan die hand van – of liewer, aan die mond van – ‘n voorbarige skoolseun.
Sy beskou haarself as ‘n baie logiese mens, maar die mens se gees is ‘n eienaardige ding, glad nie altyd baie logies nie; dit besef sy maar alte goed. Daar is hoegenaamd geen logika in die assosiasie tussen hondsdolheid en vernedering wat daardie dag onweerlegbaar en finaal in haar kindergemoed vagelê is nie.
Die dae waarop sy vir Pa kon werk toe vergesel, was vir haar as dogtertjie die wonderlikste ding sedert haar eerste draairoomys met ‘n krummelsagte flake in sy yskoue dieptes. Wanneer sy program dit toegelaat het, het Pa haar in skoolvakansies graag saamgevat. Daardie dae was haar pa haar held – groot, sterk en slim.
Veral slim; in verstandlose spierpaleise het Bella nog nooit enige sin gehad nie.
Om ‘n hele dag lank naby Pa te wees, tjoepstil te sit en luister as hy met kollegas ingewikkelde wetenskaplike konsepte bespreek, saam te ry laboratorium toe – suiwer saligheid. Sy het toe al net een droom gehad: om ‘n wetenskaplike te word soos haar pa.
Toe hulle daardie dag by die laboratorium genooi word om saam met die besoekende skoolgroep die film oor hondsdolheid te kyk, het sy met elfjarige vasberadenheid langs Pa ingeskuif, al het hy ‘n paar keer gevra of sy nie liewer buite in die sonnetjie wil gaan sit en lees nie, dit kan dalk grieselrig raak.
Nee, sy wou nie buite in die sonnetjie gaan lees nie, al was sy toe al onherroeplik verslaaf aan lees in die son, in die bad, in die motor, waar ookal. Sy wou vir Pa wys sy kan die punch vat, sy gaan eendag ‘n beroemde wetenskaplike raak, sy skrik nie vir koue pampoen nie. En sy kon ook so in die stilligheid onder Pa se blad uit loer, by wyse van spreke, en haar ongemerk verlustig in die kwinkslae van die vrolike groep skoolseuns uit die Kaap. Hulle was seker so graad 8 of 9, yslike lummels in hul netjiese blougestreepte kleurbaadjies, hare mooi kort, maniere pragtig, maar tot barstens toe vol energie en ondeundheid. Hoe het sy hulle nie beny nie! Oud genoeg om vir weke lank van die huis af weg te gaan, jonk genoeg om weer terug te gaan na hulle mammas toe aan die einde van die toer.
Die groep was woelig, bruisend met die testostoroon-gedrewe energie van seunskinders wat sy as enigste kind en dagskolier by ‘n meisieskool nie geken het nie. Hulle lywe was sterk en rats onder die sedige skoolklere, hulle groot voete nie een oomblik stil nie; hulle oë het onbelangstellend oor haar gegly.
Sy was vir hulle niks snaaks nie. Maar húlle was vir háár uiters snaaks; nie lag-snaaks nie, maar fassineer-snaaks, verwonder-snaaks, fantaseer-snaaks.
Daar was een wat uitgestaan het; ‘n mens kon nie help om hom raak te sien nie. Langer as die ander, en duidelik die voorbok onder die klomp; met ‘n onuitputlike voorraad skerp sêgoed, ‘n ontembare bos donker krulle en laggende bruin oë wat oor haar gly soos die ander s’n, maar terugkeer en wéér terugkeer. Toe hy aan sy pel stamp en iets vir dié sê, het sy verbouereerd vas teen Pa geskuif en nie weer na hulle kant toe gekyk nie.
Maar sy het gewéét van hom. Al was sy ‘n dogtertjie wat op daardie stadium nog soms pop gespeel het, het sy geweet van hom met die oeroue wete wat daar seker maar van Adam-hulle se tyd af al tussen man en vrou is.
Die film wás toe grieselrig, uiters grieselrig. Sy’t haar oë beurtelings toegeknyp en vasberade oopgesper, tot honderd getel, en nog ‘n keer, en nóg ‘n keer. Dit het nie gehelp nie. Na ‘n ruk het ‘n sonbesie verwoed in haar ore begin sing. Toe het ‘n groot benoudheid uit haar maag opgestoot tot in haar kop; die filmstem het meteens van vér af aangekom. Sy’t besef sy gaan naar word, sy moet uitkom. Opgespring en twee rye stoele gevorder.
En soos ‘n os neergeslaan, uit soos ‘n kers. Half bo-oor die voete van die lang lummel wat met sy bene uitgestrek na die paadjie die grillerige fliek rustig sit en aanskou het. Die verbasing in die bruin oë was die laaste ding wat sy geregistreer het. Blye verbasing oor die onverwagse afleiding wat sy verskaf het.
Sy was waarskynlik net ‘n paar oomblikke uit. As sy tog maar liewers bewusteloos gebly het tot die aand toe, of sommer vir die res van haar lewe. Maar nee, sy móés nou juis dronkerig orentsukkel en magteloos toekyk hoe die ellendige seunskind tevergeefs probeer om sy lagbui te stuit. Sy poging was ‘n klaaglike mislukking. Proesend en snorkend het hy rooi in die gesig geraak terwyl sy lyf snaakse kronkels maak van pure plesier. En sy maters langs hom het die een na die ander bewus geraak van die ou dogtertjie wat omgekap het, en dit van ‘n simpele fliek. En een vir een soos vervlakste hiënas begin lag.
Natuurlik was Pa verskriklik jammer. Hy’t seker honderd keer om verskoning gevra; hy moes besef het sy’s nog te klein en sy’s ‘n sensitiewe kind.
Sy wou nie te klein wees nie. En veral nie te sensitief nie.
Nou’s sy mooi groot, ‘n wetenskaplike in eie reg. Maar steeds hopeloos te sensitief na haar eie sin. Dié dat sy nou nog in gloede uitslaan as sy onthou hoe daardie klomp seuns vir haar gelag het. En dié dat sy die wilde weghol in haar voel opkom by die blote aanskoue van ‘n simpele meerkat op die stoep van ‘n verlate volstruispaleis in die middel van die Klein-Karoo.
Ten spyte van haar verskriklike angs kyk Bella die meerkat vierkant in die oë. Hondsdol diere tree buite hul aard op, dreun dit in haar kop. Hondsdol diere kom maklik na mense toe, soos dié een. Maar nie om te liefie nie. Om te být.
Die meerkat sak af op sy swart leervoetjies en kom doelgerig op haar afgepyl, stokstertjie omhoog, snoetjie gelig, ogies blink en boos op haar gerig. Bella gee ‘n onwillekeurige sprongetjie, ‘n paar trappies laer. Die meerkat steek vas, snuif die lug nog een keer, en draai blitsig om.
En verdwyn deur die katluik in die deur na binne.
Bella se toksak sak verslae teen haar bene neer. Die ellendige dierasietjie is in die yslike kasarm in waar sy vanaand moet slaap. Alléén moet slaap, sover sy weet.
Waar sy vir minstens drie weke alleen moet slaap. Of dalk is sy gelukkig om ‘n gawe huismaat te hê; nagraadse studente wat by dr. Franken kom kers opsteek, maak blykbaar meermale gebruik van dié pragtige, onbenutte ou huis vir goedkoop losies.
Bella kyk hulpsoekend om haar heen, maar van hulp is daar geen teken nie. Daar’s geen ander motor nie, ook g’n teken van lewe of reaksie op haar aankoms vanuit die dieptes van die huis nie. Bella voel klein en alleen in die skemer wat aan die toesak is oor die Klein Karoo. In die reuse ou bloekoms en knoetsige peperbome op die werf léwe dit van onbekende voëllywe wat hul regskud vir die nag. Twee reiers roei moeisaam teen die wind verby; ‘n hadida sluit gillend by sy makkers in die hoogste toppe aan; ’n swaeltjie swiep rakelings by haar verby en onder die skemerte van die veranda in. Algar is besig om ‘n rusplek vir die nag te soek, ‘n holte vir die voet, opvouplek vir veer en vlerk.
Sy ook, maar vir haar is daar min vreugde in die vooruitsig van die nag. Sy sal maar moet deurdruk in hierdie ou spookhuis met ‘n hondsdol meerkat op die koop toe, daar’s nie nou ander genade nie. Sy’s moeg van die langpad en haar geldjies is skraps; een van die rits luukse gastehuise op die dorp sal nie deug nie.
Dus takel sy maar die sleutels wat sy volgens instruksies by die plaasbestuurder se huis afgehaal het. Die huis is oud; die slotte het ‘n wil van hul eie. Sy sukkel en woel terwyl die skemer en die verlatenheid oor haar toesak en sy kort-kort af loer na haar voete of die dol dier nie dalkies na haar hap uit die opening in die deur nie.
Die gat in die sifdeur is onooglik genoeg, maar watter onsensitiewe skepsel saag summier ‘n gat uit so ‘n pragtige, swaar ou houtdeur? En dit om ‘n bedorwe kat sy vrye loop te gee! As dit maar ‘n kat was wat netnoumaar daar ingeglip het! Maar nee, nou sit sy met ‘n hondsdol wilde dier opgeskeep vir die nag.
Uiteindelik – die sifdeur oop, die binnedeur oop. Sy staan in ‘n ruim kombuis waarin ‘n yskas en verbeeldinglose tafel verlate teen die mure aanleun. Die luike is toe, dis hier binne al sterk skemer. Haar hand gaan outomaties na die ligskakelaar. Niks. Hier’s nie krag nie. En sy’t nie ‘n flits nie.
Gou-gou af in die gang. A, die elektriese bord. Niks wat getrip is nie. Dan sien sy dit: dis voorafbetaalde krag. En dis op. Die ellendige mense het geweet sy kom vandag en waarlik nie die moeite gedoen om te sorg vir elektrisiteit nie.
Dan maar lêplek soek en die nag oorleef. Sy stap haastig deur die huis op soek na ‘n gemeubileerde kamer. Die plankvloere dawer onder haar voete, die oorvloedige ruimtes van die leë vertrekke is vol skaduwees en vae herinneringe.
Volstruispaleis. Inderdaad is daar iets paleisagtig aan die huis. Terwyl Bella skrikkerig in die skemer gang afstap, tower haar verbeelding tonele uit die vervloë glorietydperk op: vroue in weelderige lang rokke, hare hoog op die kop gestapel, kinders van die groot gesin lustig aan die speel in die koelte van die stoep wat om drie kante van die huis loop.
Sy kan nie glo dat ‘n plek soos hierdie leeg kan staan nie. Dis skoon en netjies, maar sielloos en verlate. Het die mense dan geen idee van die moontlikhede van so ‘n fantastiese plek vir toerisme nie?
In die vinnig groeiende skemer verwar die huis se eienaardige uitleg haar in haar ietwat gehawende toestand nog meer. Dis nie soos ‘n moderne huis gebou met woonvertrekke en kombuis en dan ‘n gang waaruit die slaap- en badkamers loop nie. Nee, die plek het twéé gange parallel aan mekaar,met aan die onderpunt van elkeen, vlak langs die kombuis, ‘n moderne badkamer. Die badkamers is duidelik veel later bygevoeg; gerieflik, maar heeltemal uit pas met die karakter van die huis. Sy het geen idee wat die funksie kan wees van die vertrekke wat tussen die twee gange vasgeknyp sit nie. Al die vertrekke waarby sy verby stap, is dolleeg, klinies skoon en leweloos, behalwe vir die skaduwees en die spoke wat sy haar moeiteloos daar inverbeel.
Die derde deur gangaf lewer darem ‘n kamer op met ‘n oorgetrekte kateltjie. Regte ou koshuisbedjie, smal en onvriendelik. Bella soek niks verder nie, sal maar môre die res van die yslike plek verken.
Sy’s gewaarsku die geriewe is basies. Sy’t nie geweet basies beteken ‘n dolleë kasarm met glimmende geelhoutvloere, hoë plafonne met die wonderlikste blompatrone, twee moderne badkamers direk langs mekaar op ‘n eienaardige plek geplaas, en een verlore bedjie in ‘n saal van ‘n slaapkamer nie.
Sy’s moeg en sy’s honger en êrens in die skaduwees wag die hondsdol meerkat om sy vlymskerp tandjies in haar enkels te slaan. Dit kom nou daarvan om te móét reguit deurry van Gauteng af. Net oor Ma en Pa en Werner aangedring het dis verstandiger om in Bloem of êrens oor te slaap.
Sy’s vervlaks nie meer ‘n tiener nie. Maar hoekom moet sy dan steeds oor en oor bewys sy kan haar eie man staan? Het sy dalk êrens op die pad na volwassenheid ‘n ietsie gemis?
Bella slaan meteens haar hand oor haar mond. Hoe kon sy so onnosel wees? Sy het vergeet om te laat weet sy gaan dwarsdeur ry en nie langs die pad oorslaap nie! Die mense het haar eers môre verwag. Dis dié dat die plaasbestuurder so half snaakserig was; sy het heeltemal onverwags op die arme mense afgekom. Tussen hom en sy mooi vrou was ‘n atmosfeer wat jy met ‘n mes kon sny; die twee was definitief aan die stry oor iets. Sy kan nie eens die man – Thys, dink sy – se van onthou nie. Hy’t haar nie eens aan sy vrou bekend gestel nie. En sy’t nogal gedink mense op die platteland is altyd so hartlik.
Die verknorsing waarin sy nou sit, is net haar eie skuld, niemand anders s’n nie. Dit kom nou van koppig wees. Dalk hét sy êrens op die pad na volwassenheid ietsie gemis. Dalk gaan dit glad nie so lekker wees om van haar ouers en Werner se liefdevolle, oorbeskermende arms te ontsnap soos sy gedink het nie.
Dis feitlik donker; sy sal moet besluit wat haar te doen staan. Terug dorp toe, haar karige kontantjies blaas op ‘n nag in ‘n sagte, skoon bed en ‘n skuimbad met volop sonvars handdoeke? Nee, so maklik laat sy haar nie verlei nie. Terug na die plaasbestuurder se huis om te kla oor die elektrisiteit en kerse of ‘n flitslig af te bedel? Nee, die man se ogies sit vir haar net ‘n bietjie te na aan mekaar. En sy vrou het haar ook nie opgeval as ‘n potensiële geesgenoot nie. In haar karretjie vir die nag? Nee, nee en nogmaals nee! Lente of nie lente nie, daar’s nog ‘n skerp winterse byt in die lug; dit gaan koud word vannag. Die alleenheid is erg genoeg; sy’t nie nog krag vir onnodig koud kry ook nie.
Werner het volgehou dis ‘n simpele projek van haar om dr. Franken persoonlik te kom opsoek vir die afronding van die statistiese ontleding van haar data. Dalk was Werner reg; dalk moes sy maar knussies in haar woonstelletjie gebly het en vandaar voortgegaan het met kommunikasie per e-pos met die ghoeroe van Suid-Afrikaanse statistici. Maar nee, sy kry mos toe hierdie bevlieging om dié tog aan te pak en deur te voer. Soortvan ‘n laaste uitbreek voor sy as doktor De Wet Werner se ring aan haar vinger laat sit en doktor Brandt word en die res van haar dae tevrede in sy skadu deurbring.
Bella gaan staan botstil. In Werner se skadu? Waar kom dié verspotte gedagte nou vandaan?
Maar die skemer sak vinnig toe; sy moet haar aandag by die werklikheid bepaal. Vinnig kombuis toe draf, naarstig rondsoek vir ‘n kers, lamp, vuurhoutjies, enigiets.
Niks.
Vanaand is dit honger gaan slaap vir haar, dink sy met ‘n goeie stukkie selfbejammering. Sy het kitsnoedels en sulke goed, maar waarlik niks wat nie minstens kookwater vereis om eetbaar te kom nie. Het gedink sy sal maar môre ‘n paar vars goedjies op die dorp gaan kry; dis tog skaars twintig kilo’s heen en terug. Moet sy gou weer terugry dorp toe? En dan in die nagdonker alleen by die kasarm terugkom? Nee, sy’t nie krag daarvoor nie; dan maar deurdruk dagbreek toe. Môre is darem Sondag, dan kan sy behoorlik uitpak en nesskop. In hierdie onpersoonlike ruimte sal sy nie kan leef en werk nie; iets sal sy moet doen om dit haar eie te maak.
Sy bring haar paar los goedjies om die huis, sal maar môre kyk waar sy haar motor permanent kan parkeer. Sy’s gedaan; sy wil bed toe. Haastig na die eerste die beste badkamer toe, tande borsel, gesig afspoel. Toe sy klaar is, besef sy eers dis die badkamer aan die onderpunt van die ander gang wat sy so in die vinnigheid gekies het. Sy sal maar môre haar goedjies verskuif na die logiese badkamer, die een aan die onderpunt van háár gang.
Teensinnig probeer sy haar inrig in die yslike kamer waar haar paar goedjies verdwaas rondstaan. Daar’s nie eens ‘n stoel om haar tas op neer te sit nie, net die vier kale mure, die pragtige ou plafon met ‘n kaal gloeilamp verdwaald en onvanpas teen die malse patrone en ‘n skuifraamvenster met die wonderlikste breë vensterbank.
Dadelik sien Bella ‘n dogtertjie in die vensterbank sit. Sy’t ‘n rok vol opnaaisels en fyn plootjies aan, haar hare is in kurktrekkerkrulle gedraai, ‘n yslike strik soos ‘n oorgroeide skoenlapper bo elke oor. Sy sit agter die gordyn en lees skelmpies terwyl sy veronderstel is om in die bloedige hitte te rus. Die enigste verskil tussen haar en die Bellatjie van ‘n stuk of sestien jaar gelede is in die snit van die rokkie en die grootte van die strikke.
Ja, in ‘n era waar die vrou met entoesiasme en styl die broek dra, is Bella van kleinsdag af ‘n koppige rokdraer. Broeke mag gemaklik wees, dit weet sy. Maar vroulik? Nooit. En Bella beskou haarself as ‘n dame. Sy’s nie iemand vir verspottigheid nie, en sy glo aan netheid en keurige versorging.
Sy skud haar kop ongeduldig. In haar beroep is logika en beredeneerdheid van belang. Dus, basta met hierdie gedagdromery.
Net gou haar goedjies orden, dan huis toe te bel. Ma is sweerlik al in ‘n toestand en arme Pa geduldig soos altyd aan die troos. En Werner kou seker al klippe omdat hy niks van
haar hoor nie. Wat is dit tog met ouers, dat hul so moeilik laat los? En met Werner dat hy haar so maklik soos ‘n onnosele kind laat voel? Pure spitefulgeit wat haar vandag die selfoon laat afskakel het op die langpad; sy was wraggies nie lus om elke klompie kilometers aan iemand te moet verslag doen oor haar vordering nie.
Dis goed en wel dat sy haar onafhanklikheid wil verklaar, maar dis darem nie nodig om wreed te wees nie; sy gaan onmiddellik bel.
En toe is daar nie ‘n sein nie. Sy sit afgesny en oorgelewer in die middel van die Karoo. Bella kry haarself diep en innig jammer. Donker en koud en verlate sal sy hierdie nag moet deurstaan.
Sy trek haar verwarde gedagtes met ‘n streng hand bymekaar; so maklik laat sy haar darem nie onderkry nie. Dit gaan koud word vannag. Sy maak vir haar ‘n knus nes in die smalle ou bedjie. Sekerlik ‘n heerlike huis in dié wêreld se genadelose somers, maar op ‘n aand soos vanaand kort jy ‘n kaggelvuur. En geselskap. En ‘n glasie sjerrie.
Genadiglik is daar ekstra komberse in die kas; die ou duvetjie lyk maar bra dun. Die inwoners van weleer sou sekerlik onder komberse gestop met regte gansdons geslaap het. Seker nog op ‘n bulsak ook. Waarmee is bulsakke destyds gestop? Sy maak ‘n aantekening in haar kop om uit te vind.
Dít is Bella se nering: om dinge uit te vind. Sy is aartsnuuskierig en sy aanvaar geen inligting sommer voetstoots nie. As jy met Bella wil verskil, dan beter jy jou skietgoed byderhand hê. “Bevraagteken, Bella, bevraagteken álles,” het haar pa van kleinsaf gesê, “Níks moet jy sommer net aanvaar nie.”
Hy was natuurlik spyt oor hierdie woorde toe sy in ‘n oorkritiese tiener verander en niks, maar níks, wat hy sê wou aanvaar nie. Maar genadiglik het dit ook verby gegaan; Pa het weer haar held geword en dit gebly.
Bella is doodmoeg, maar sy kom nie tot ruste nie, daarvoor is die plek eens te groot en te spokerig. Tot laataand sit sy in haar bedjie met haar laptop op haar skoot. Gelukkig kan dié klein wonderwerk ure lank op gestoorde krag funksioneer. Sy vergeet van die eindelose donker veld rondom haar en haar maag wat grom van die honger en haar hart wat kramp van die alleenheid. Stelselmatig werk sy weer ‘n slag deur die data waaraan sy en dr. Franken moet werk in die drie weke wat vir haar besoek opsy gesit is. Sy wil nie met haar mond vol tande sit as sy Maandag by hom aankom nie; hy het ‘n reputasie as ‘n briljante navorser wat nie skroom om te sê wat hy van sy studente se werk dink nie. Hulle het na maande se e-pos wisseling op die punt gekom dat sy sy direkte leiding met haar ontledings nodig het. Die einde van die jaar wil sy daai Ph.D. agter haar naam kan skryf. En dan trou sy en Werner en dan lê die lewe oop voor haar.
So ongemerk het sy die grootste deel van haar lewe gewy aan die verkryging van meer en meer geleerdheid. Maar deesdae betrap sy haarself soms dat sy wonder of ander dinge nie dalk in die proses agtergebly het nie.
Uiteindelik is die rekenaar se battery ook pap; daar’s niks meer om te doen nie. Bella skuif onder haar stapel beddegoed in, trek dit op tot oor haar ore en vou haar lyf in die vertroosting van die fetusposisie in.
Voor haar bed lê die nuutste slapband van Ben de Ridder waarvoor sy die laaste paar dae net nie tyd gemaak kon kry nie. En nou het sy die tyd, en hier sit sy in die pikdonker! Maar toemaar, môre is nog ‘n dag. Môre gaan sy die kragkwessie uitsorteer en dan lekker rus en lees.
Daar’s niks soos ‘n lekkerleesboek van Ben de Ridder om ‘n mens te laat ontspan nie. Watse soort man kan hy wees, wat so in ‘n vrou se siel kan inklim? Helaas, Werner is ‘n dierbare man, maar van ‘n vrou se siel weet hy nie veel nie.
Die stilte dreun in die leë huis; êrens klap ‘n los luik in die nagwind wat sug om die hoeke en deur die ou bome wat die huis soos skildwagte omring. Sy wil-wil skrik vir die dowwe geluide wat merkwaardig na ‘n leeu se steungeluid klink, voor sy besef dit moet die brom van volstruise wees. Dis ‘n verlate geluid wat die donker nog donkerder laat voel.
Dit kom daarvan om ‘n tesis te skryf oor ‘n dier wat jy nog net enkele kere in lewende lywe gesien het. Maar dis deel van die wonderlike geleenthede wat die landbou vandag bied: Verby is die dae toe net boere se seuns landbou geswot het om dan op die familieplaas te gaan boer. Deesdae kan ‘n mens ‘n akademiese belangstelling hê in ‘n spesie sonder dat jy enige plaasagtergrond het; dis juis wat die bedryf so toeganklik maak vir vroue en vir stadsjapies. Of vir vroulike stadsjapies, soos sy.
Waar is die ellendige meerkat? is haar laaste gedagte voor die vermoeienis haar eindelik inhaal.
Bella skrik nie wakker nie; sy dryf stadig na bo op die salige musiek wat deur die huis se verlate ruimtes na haar aangespoel kom. Toe sy eindelik tot haarself kom, trek die skrik in warm en koue golwe deur haar. Daar’s iemand in die huis!
Lank lê sy so, haar oë styf toegeknyp teen die werklikheid wat sy nié wil sien nie, haar ore gespits vir gevaar. Maar dis net die hemelse musiek wat oor haar spoel, geen voetstap, geen beweging nie.
Is dit hoe inbrekers hierrond te werk gaan? Skakel die krag aan en speel Vangelis se wondermooie musiek vir die slagoffer? Conquest of paradise, musiek om op hemel toe te gaan. Maar sy’s nog nie reg vir hemel toe gaan nie, dink Bella deur die slaap, sy het nog nie eens behoorlik geléwe nie!
Eindelik maak sy haar oë teensinnig oop. Daar staan minstens niemand voor haar bed met ‘n mes of ‘n byl of iets nie. Maar êrens ís hy. En hy hét die kragtoevoer aangeskakel, want ‘n lig skyn duidelik van laer af in die gang.
Meteens is sy wawydwakker. Genade, sou die lang rit en die alleenheid haar verstand aangetas het? Inbrekers herstel tog nie as ‘n reël die kragtoevoer na die huis van hul keuse, en luister dan kliphard na musiek en skakel links en regs ligte aan nie!
Dis g’n inbreker nie – sy het ‘n huismaat! Wat ‘n genade; sy weet sowaar nie of sy drie weke alleen in hierdie plek sou oorleef het nie. Die plaasbestuurder het seker maar net vergeet om dit te noem; sy gedagtes was hoeka by sy eie sake.
Haar gewone gesonde nuuskierigheid wil haar onmiddellik uit die bed laat spring om te gaan kennis maak. Maar sy bedink haar gelukkig betyds. Dis in die middel van die nag en die lig skyn van die badkamer aan die onderpunt van die gang af, die een wat sy eintlik moes gebruik het. Die persoon is in die badkamer besig en het nie ‘n idee dat sy intussen ingetrek het nie. Dit kan ‘n poedelkaal boepensomie wees vir al wat sy weet; sy gaan definitief nie sommer in haar pajamas op hom/haar afstorm nie.
Hoe sy met die inkomslag misgekyk het dat daar iemand se goed in die tweede badkamer is, weet sy sowaar nie. Seker maar te moeg en vervaard en skrikkerig vir die donker, of dalk was die deur toe. Sy’s sommer vies; sy kon haarself baie angs gespaar het. Hier sit sy heelaand en stres oor hoe sy drie weke lank alleen in hierdie massiewe plek gaan bly sonder om te vergaan van eensaamheid en banggeit, en dit pure verniet.
Nee, sy sal môre rustig en beskaaf kennis maak. Die persoon gaan hoeka skrik; hy/sy verwag haar mos môre eers. En haar motor staan juis nog by die voordeur waar sy aanvanklik stilgehou het, in plaas van by die agterdeur wat blykbaar as algemene toegang gebruik word.
Maar niks verhoed haar darem om intussen ‘n bietjie verkenningswerk te doen nie!
Versigtig op haar kaal voete sluip Bella oor die krakende plankvloer na die kamerdeur. Sy haal diep asem en loer behoedsaam om die kosyn in die rigting van die lig. Haar hand vlieg na haar mond; sy keer ‘n uitroep net betyds.
Geraam in die breë geelhoutkosyn van die badkamer aan die onderpunt van haar gang – die een wat eintlik háre moet wees – staan ‘n man, gebaai in die helder elektriese lig, effens skuins van haar weggedraai. Met daardie universele manlike beweging vat hy die t-hemp met albei hande agter sy nek vas en pluk dit oor sy kop, laat val dit argeloos op die vloer. Toe sak sy hande na sy gordel, maar sy wag nie om verder te sien nie. Nog voor hy die belt behoorlik los het, is Bella met ‘n paar verskrikte treë terug in haar bed.
Maar slaap gaan sy nie sómmer weer slaap nie. Hoe stywer sy haar oë toeknyp, hoe duideliker word die beeld in haar kop: die rimpeling van spiere op sy rug, die skoon lyn van profiel na skouer na bultende boarmspiere, die bos donker hare wat baldadig in sy nek krul.
Bella beskou haarself nie as sommer ‘n hierjy meisie nie; sy weet sy is belese en berese vir haar ouderdom. Sy het ook ‘n oog vir die mooie; in haar woonstel hang alreeds etlike oorspronklike skilderye waarvoor moeitevol gespaar is en wat met sorg en vreugde uitgesoek is.
Maar ‘n mooier ding as hierdie donkerkopman, wat intussen salig onbewus van haar teenwoordigheid die stort oopgedraai het, het sy in haar dag des lewens nog nie gesien nie.
Hy voel nie soos ‘n vreemdeling nie; daar’s iets bekends aan die suiwer lyn van sy profiel, die wanorde van die bos hare. Miskien is dit maar net haar hart wat hom herken. Of dalk lees sy te veel van Ben de Ridder se stories – hierdie man het sweerlik reg uit een van hulle hier by haar in die huis beland.
Want Bella raak aan die slaap met die dowwe vermoede dat sy sopas haar droomman aanskou het.
En dat sy besig is om verraad te pleeg: Sy het skoon vergeet om Werner se foto uit te pak.
Oe, dit klink lekker. Waar kan ek n kopie kry?