Vita du Preez het reeds in 1996 begin skryf en is ʼn ervare hand in romantiese fiksie. Na verskeie romanses en tien jaar se werk as vertaler van Mills & Boon en Harlequin Intrigue-titels is sy nou terug met ʼn volwaardige liefdesroman.
Waar die son omdraai spring weg met ʼn insident wat die vroulike hoofkarakter se lewe in ʼn nuwe rigting stuur. Met ʼn geskende gesig is daar vir sepiester Thea Jonker geen toekoms op die kassie meer nie. Soekend na nuwe sin meld sy vir vrywillige diens in Mosambiek aan.
Matt Barnard is eweneens in Mosambiek om te probeer bepaal watter rigting sy lewe moet inslaan. Sal ʼn lewe as monnik hom kan bevry van die spoke van die verlede en die vrae waarmee hy worstel?
Getrou aan die tradisie van die goeie liefdesroman vind hierdie twee sterk, moderne, maar gefolterde mense by mekaar aanklank en moet hulle verskeie struikelblokke oorkom voor die liefde kan seëvier. In Vita du Preez is hier egter ʼn volwasse stem aan die woord en die pad wat Thea en Matt loop, is besaai met struikelblokke wat oortuig en wat uit die karakters self ontstaan. Hier is nie plek vir ongeloofwaardige misverstande of kleinlike gebeure soos siniese teenstanders van romantiese fiksie geneig is om te verwag nie. Die karakters reageer op innerlike motivering en word nie deur blote lus of lis gedryf nie.
Die lyflike is egter deel van elke ware of verbeelde liefdesverhaal en ook hier bly dit nie uit nie. Soos in die werklike lewe moet Thea en Matt ook die gevolge van hulle dade konfronteer en hanteer. Weer eens word ʼn maklike oplossing nie gegee nie en moet die karakters eers ver paaie stap om uiteindelik as meer volwasse mense met ʼn helder toekomsvisie by mekaar uit te kom.
“Waar die son omdraai is skaamteloos geskryf om as liefdesroman te vermaak. Tog, soos in soveel ander goeie boeke deesdae, is hier ʼn denkende skrywer aan die woord wat haar karakters se ontwikkeling só menslik maak dat mens nie anders kan as om iets by hulle te leer nie.” (Izak de Vries, LAPA Uitgewers).
Waar die son omdraai word sterk aanbeveel vir almal wat hou van ʼn realistiese verhaal met ʼn gesonde skootjie romantiek daarby ingeroer.