Sommer is ‘n rede

Sommer is 'n redeSommer is ʼn rede het in Huisgenoot van 5 April 2007 verskyn. 

Aileen skiet haar handsak met ‘n geoefende beweging in die rigting van die bank.  Sy sug behaaglik; heel eerste uit met die skoene.  Oppad kamer toe blaai sy onbelangstellend deur haar paar stukkies pos.   In haar agterkop weet sy dis onverstandig om nie onmiddellik die voordeur agter haar toe te maak – en te sluit – nie, maar sy doen dit nie.  Sy was vervlaks die ganse nag verantwoordelik en effektief; ‘n mens moet darem êrens ‘n bietjie kan laat slaplê ook!

Niks opwindends kom deesdae meer met slakkepos by ‘n mens aan nie.  Dis maar net die gewone paar rekeninge en natuurlik pakke en pakke advertensies.  Oral pronk die Paashaas, verspot met sy nuuskierige neus en oorgroeide flap-ore.  Of so nie is dit skattige kuikentjies wat gebruik word om die mensdom aan te hits om enigiets van selfone tot strandhuise tot onderklere te koop.

Soms is sy op ‘n dwars manier bly sy is te platsak om enigsins deur die vlaag van kommersialisasie geraak te word.   Sy het geleer om gestroop te leef, en sodoende eindelik by haarself uitgekom.  Deesdae koop sy slegs na rype oorweging, en dan slegs kwaliteit.  Sonder die res kom sy eenvoudig klaar.

Maar hoe nader Paasnaweek kom, hoe meer gly haar voete.  Sy is besig om haar greep op haar swaarverdiende nuwe lewe te verloor.  En dit uit pure vrees.  Verlammende, futiele vrees vir wat miskien kan gebeur.

Haar hand vat ‘n ligpers pamfletjie raak net voor sy die hele boel advertensies op haar herwinningshopie gooi.  Ervaar die Paasverhaal:  Passiespel onder die eike … Vanjaar met Etienne de Goede as Jesus Christus.

            Sy het nie geweet Etienne het toneeltalent nie.  Van ander talente  weet sy wel:  vlymskerp verstand, aweregse humorsin.

En ‘n vasbytvermoë soos min.  Die meeste ander mans sou haar sweerlik al afgeskryf het as ‘n swak belegging.  Maar nie Etienne nie; nee, sy koppigheid en vindingrykheid ken geen einde nie.

Die aand toe sy doodmoeg en asvaal gehuil hier aankom met haar skamele klompie besittings, was hy toevallig – maar sy glo nie meer in toeval nie – op besoek by sy suster Alice, haar buurvrou oorkant die gang.  Op die ou end het Alice en Etienne daardie aand help kat soek en meubels dra tot laatnag.  ‘n Goeie basis vir ‘n goeie vriendskap.

Maar hy het dit van die begin af duidelik gemaak vriendskap is hoegenaamd nie al wat hy in gedagte het nie.  Hy het haar egter nie aangestaan nie.  Géén man het haar aangestaan nie.  Daarvoor was sy te stukkend en verskrik.

Maar nou is sy is nie meer stukkend óf verskrik nie.  Sy is weer heel.  Waarom sal sy nie ‘n kans op geluk met albei hande aangryp nie?

As sy ooit nog ‘n kans gaan kry.  Want die laaste tyd sien sy min van hom; dalk het hy genoeg gehad, groener weivelde gaan soek.  En sy mis hom.  Om die waarheid te sê, sy mis hom verskriklik.  Etienne, soos Alice, het vir haar ‘n vriend geword.  Iemand wat vertrou kan word; iemand wat wil help.

Iemand wat ‘n mens lief kan kry.

 

IN HAAR KAMERDEUR STEEK SY IN haar spore vas; haar hand reik vanself na haar mond.  Skrik prik oor haar arms en op tot in haar nekhare.

Sy’s lankal groot genoeg om te weet slegte dinge gebeur nie net met ander mense nie; elke mens kry mos maar sy aflewering van onheile om te hanteer na die beste van sy vermoë.  En in ons dierbare land is die onheile hoeka op die loer om elke hoek en draai.  ‘n Vrou wat alleen bly, is en bly ‘n sagte teiken, en sy is juis soms so agterlosig.  Dis dié dat sy so verskriklik skrik.

Sy staar verstom na die toneeltjie voor haar.  Vandag is hier ‘n skroef los.  ‘n Groot skroef.  ‘n Eienaardige skroef.

Haar bed in koel skakerings van appelgroen tot peperment is netjies opgemaak, haar magdom boeke op die bedkassie mooi in hopies geskik, skoene van oraloor bymekaargemaak en getem tot ‘n ordelike rytjie voor die hangkas.  Onwillekeurig stoot sy haar dienlike verpleegsterskoene gehoorsaam langs mekaar in die ry in.

Dit is beslis nie hoe sy gisteraand die plek gelos het nie.  Iemand was in haar blyplek.  Of … is?

Op die ander bedkassie pryk ‘n enkele rooi roos in ‘n slanke glaspot, aan die voet daarvan ‘n ruim handvol piepklein Paaseiertjies in ‘n mooi glasbakkie.  Van die duur soort met ‘n hemelse soet vulsel, nie net ‘n lagie sjokolade rondom ‘n stukkie leë lug nie.  Knussies op die kontinentale kussing rus ‘n bielie van ‘n Paashaas, heeltemal te mooi om te eet.  Presies die soort luukse wat sy haarself selde gun.

Ten spyte van die skrik begin haar mond terstond water.  Sjokolade bly maar die koning van alle trooskosse.  As daardie soetheid op jou tong kom lê, lyk berge soos molshope en die lewe word ‘n lied sonder ‘n enkele vals noot.  Tog so jammer dat die euforie net ‘n rukkie duur, tot jou bloedsuiker weer die dieptes in val.

Sy is gisteraand ore in die nek hier uit, hopeloos laat vir haar skof.  Dis nou elke dag se storie: sukkel haar gedaan om aan die slaap te raak, slaap morsdood vir ‘n uur of wat as dit eintlik al opstaantyd is, jaag in chaos hospitaal toe, worstel leepoog deur die nag.

Haar plekkie waarop sy so trots is, het sy hopeloos deurmekaar gelos.  Chaos is daar deesdae weer in haar binneste genoeg; sy kan nie aan uiterlike wanorde ook nog toegee nie.  Dit sal die laaste strooi wees; uiterlike orde skep darem minstens die illusie van innerlike orde.  Daarom het dit haar heelnag gepla.

En hier blink haar plek nou soos die spreekwoordelike nuwe sikspens.

Sy vee vererg die nattigheid op haar wange weg.  O, om iemand te hê wat omgee, wat versorg en koester sonder om enigiets in ruil te verwag!

Nag na nag versorg Aileen haar pasiënte in die harteenheid na die beste van haar vermoë.  Soms bo haar vermoë, sodat sy uitgemergel en leeggetap by die huis kom.  Sy put groot bevrediging daaruit om te sien hoe mense wat die dood in sy lelike bakkies moes kyk, weer daar uitstap tussen hul dankbare geliefdes.  Maar niemand verneem met meer as oppervlakkige belangstelling na háár welsyn nie; tuis wag niemand met ‘n koppie tee of ‘n trooswoord as sy die nag ‘n pasiënt moes afgee nie.

Ja, haar moraal is laag.  Boomskraap.  Want Theuns se vrylating kruip genadeloos nader.  En die vrees ry haar bloots.  Dat dit net voor Paasnaweek val, maak dit nie beter nie.  Inteendeel.

Haar verstand sê vir haar daar is nie ‘n manier dat hy haar hier kan opspoor nie.  Sy het haar spore sekuur doodgevee, haar nooiensvan teruggevat, selfoonnommer verander, klinies en deeglik (en baie, baie pynlik) gebreek met die verlede.

Maar haar bewende hart praat ‘n ander storie.  Want hy’t belowe hy gaan haar kry.  En Theuns was nog altyd ‘n man van sy woord.  Veral as hy kwaad is.

Ja, sy onthou nie veel van haar gewese man se ysblou oë of sy soenbare mond of sy doelgerigte hande nie.  Maar sy woede, dié onthou sy maar alte goed.

Sy steek haar hand bewerig uit en vat een van die Paaseiers; die salige soetheid gly gerusstellend op haar tong.  Hemels, soos vloeibare liefde, so smaak dit.

Sy is uitgehonger vir die soetheid van die lewe.

En sy maak, soos alte dikwels in haar lewe, die dwase keuse:  Ignoreer die probleem en hoop hy gaan weg.  Haar gesonde verstand praat hard en duidelik:  Jy’s mal, sênou die mens is nog in die woonstel!  Kyk in die kaste, onder die bed!  Maar sy doen niks van dié aard nie.  Sy ignoreer die lastige stemmetjie en mik kombuis toe vir die spreekwoordelike koppie tee.

Die kombuisdeur is toe.  En sy weet voor haar siel sy het dit gisteraand oop gelos.

‘n Yslike skrik slaan vas in haar bors.  Soos blits is sy terug in die woonkamer.  Sy gryp na haar selfoon waar dit argeloos op die bank neergegooi lê, tree geruisloos agteruit na die voordeur.

Sy moes gemaak het dat sy wegkom die oomblik toe sy lont ruik.

Maar sy vries in die raam van die voordeur met die veiligheid van Alice se oop deur net oorkant die gang.  Uit die kombuis kom ‘n geluid: ‘n klein skreetjie, soos dié van ‘n klein dingetjie wat bang en alleen is. ‘n Kind!?  Het sy mal geword?  Sy luister verstar, kop skeef, selfoon klam gesweet in die een hand,  Paaseier tot ‘n pappery gedruk in die ander.  Daar’s dit weer, onmiskenbaar: ‘n bang alleendingetjie, maar goddank nie ‘n baba nie.

Sy ruk haar kombuisdeur stralend oop, haar angs vergete.  Op die tafel, in ‘n netjiese drahokkie, sit die bang alleendingetjie en kyk haar skewekop aan met die twee verblindende blou oë.

Sy lig hom met verwonderde hande uit die hok.  Hy gaan verwoed aan die spin; die hele lyfie vibreer behoorlik daarvan.  Die donker, spits gesiggie met die twee yslike donker ore in kontras met die amper spierwit lyfie, die rankerige ledemate, die lang donker stert, alles spel opregte Siamees.

Net Alice en Etienne weet van Misha wat sy met die trek hierheen verloor het.  Sy kon haar nie vervang nie; meneertjies soos hierdie enetjie kom nie goedkoop nie.

Op die ander punt van die tafel is ‘n plek gedek, netjies met ‘n doekie oor.  Met haar vry hand lig sy die hoekie versigtig op, asof sy ‘n skerpioen of iets verwag.  ‘n Keurige ontbyt begroet haar.  Beter kon sy dit self nie voorsit nie:  vrugteslaai met jogurt en ‘n strooisel muesli, afgerond tot by die kruisementblaartjie; langsaan ‘n muffin met kaas en aarbeikonfyt, ‘n glas lemoensap waarin die huisies verleidelik dryf.  Die sap is yskoud; die muffin nog louwarm in sy servetnessie.

Die indringer kan nie ver wees nie.

Theuns weet hoe gesteld is sy op die keurige voorsit van maaltye; sy is nie jou deursnee skinkbord-voor-die-TV meisie nie.  Maar Theuns haat katte.

Of wil hy haar net sagmaak?

Teen hierdie tyd huil sy verbouereerd in die wriemelende katlyfie.  Iemand gee om.  Iemand gee verskriklik baie om.  Sy wil dit so bitter graag glo.

Of wag haar eks-man op hierdie oomblik vir haar in die spaarkamer, sy woede tot breekpunt gedryf deur baie maande se swaarkry in die tronk?

            Die katjie kriewel in haar greep en begin kla met sy ras se kenmerkende welluidende stem.  Dogs have masters, cats have staff  lees die magneetjie op haar yskas.  Sy het dit gekoop die dag toe die hofsaak eindelik verby was.

Theuns wou van haar sy hond maak.  Maar sy is en bly ‘n katmens; sy laat verslaaf haar deur niemand nie.

Dit kán nie Theuns wees nie.

Toe sy omdraai, staan hy vlak agter haar.

 

HULLE WAS JONK, TE JONK.  Hulle het nes geskop in hul huisie in ‘n glanslose voorstad, met haar kat en sy hond, twee karige salarisse en armsvol mooi drome.  Die kat en die hond het mekaar van meet af gehaat.  Mettertyd het sy ‘n teensin in die hond ontwikkel; Theuns het die kat van die begin af verpes.

Binne ‘n paar jaar het dinge skeef geloop.  Lélik.  So skeef dat sy in die hospitaal beland het en Theuns in die tronk.

 

HY’S NOU NIE DIE HEEL  mooiste man wat die Vader nog ooit gemaak het nie.  Daarvoor is sy ore net ‘n ietsie te bak, sy tande nie volmaak getem deur ‘n kundige ortodontis nie, sy bos donker hare eens te onregeerbaar.

Maar hy het die pragtigste paar sagte bruin oë en ‘n glimlag wat die hardste hart soos ‘n malvalekker kan laat smelt.  En die baard pas hom.  Sy kan hom sien in die rol van Jesus Christus; hy is ‘n man wat respek afdwing.

“Haai!” sê hy, senuweeagtig.

”Haai!”  sê sy, steeds totaal verskrik.

“Hou jy van die katjie?” vra hy.

“Baie,” sê sy. “Hoekom doen jy dit?”

“Oor ek lief is vir jou,” sê hy.

“Hoekom?”

“Hoekom wat?”  Sy oë begin blink; hy speel met haar.

“Hoekom is jy lief vir my?”  Oor jou goddelike lyf, het Theuns gesê, jou oë soos donker sjokolade, jou lag, jou stem …  Alles woorde, leë woorde.

“Ek weet nie,”  sê Etienne de Goede doodernstig.  En toe:  “Sommer.”

Sommer het nie rede nie, skilpad het nie vere nie.

Sy kyk lank na hom.  “Sommer is ‘n goeie rede,” sê sy eindelik.  Toe sit sy die katjie neer en maak haar hand vol halfgesmelte sjokolade oop.