Ek het hierdie week die twyfelagtige voorreg gehad om ‘n dierbare tannie van 88 te probeer bystaan na die selfdood van haar enigste (stief)seun. Die eerste ding wat ek besef het, is dat dit irrelevant is dat hy haar stiefseun is. Sy het hom liefgehad en hy was haar kind, bloedfamilie of nie bloedfamilie nie.
Gelukkig het ek al geleer ‘n mens hoef nie met allerhande goedkoop wysheid en trooswoorde by so iemand aan te kom nie. En dankie tog vir die drukkie-kultuur waarin ons deesdae leef, want ook hier geld die bekende actions speak louder than words. En daar is min sulke eenvoudige aksies wat soveel sê soos ‘n doodgewone drukkie.
Deur die genade het ek nog nie iemand naby aan my so verloor nie. Maar ek het al rondom my genoeg gesien van die verwoesting wat selfdood saai in die mense wat agterbly. En ek was al daar waar ek dit self oorweeg het (lank, lank gelede in ‘n vorige lewe van probeer wees wat ek nie regtig is nie).
In die proses het ek ‘n paar dinge geleer.
Eerstens: Na my mening is selfdood nie ‘n lafhartige daad nie. Dit vat veel meer as ‘n lafaard om so-iets te dink, wat nog te sê uit te voer. Selfdood is ‘n wanhoopsdaad wat met lafhartigheid niks te make het nie.
Tweedens: Die gedagte/begeerte om ‘n einde aan alles te maak, is ‘n ding wat jou stilletjies, ongemerk kan bekruip. Vandag duik hy hier vinnig op, more steek hy sy kop op ‘n ander plek uit … Voor jy jou kom kry, is jy gewoond aan hom. En hy begin lyk vir jou na ‘n oplossing.
Derdens: Die skade aan die mense wat agterbly is onberekenbaar. En ek dink grootliks onherstelbaar. As so ‘n wanhopige persoon net ‘n vinnige toekomsflits van sy mense se smart en verwarring kon sien, sou dit waarskynlik vir die meeste mense genoeg wees om hulle twee keer te laat dink.
Vierdens: Die mense wat agterbly, ervaar geweldige hartseer en geweldige skuldgevoelens. Maar ook woede. En hulle besef nie altyd dis heeltemal normaal nie.
Vyfdens: Die algemene publiek staan geweldig onverskillig teenoor selfdood en veroordeel so ‘n persoon baie maklik. Jan Alleman het duidelik nie die vaagste benul van die soort wanhoop wat ‘n medemens tot so-iets kan dryf nie.
Sesdens: ‘n Selfdooddreigement moet altyd, altyd, altyd ernstig opgeneem word. Dis ‘n noodoproep, ‘n roep om hulp.
Sewende: Depressie speel dikwels ‘n rol. Depressie moet nie onderskat word nie. Nooit nie.
Nommer ag: Daar is nog Christene wat maklik vinger wys na selfmoordenaars en reken hulle gaan reguit hel toe. My mening? ‘n Mens moet altyd onthou minstens drie vingers wys na jou self …
En laastens: Die lewe is oneindig kosbaar. Vier dit solank jy die kans het!
Een gedagte oor “Wanneer alles te veel word”