RSS

Net een kans – Deel 1

16 Sep

att00324Dié storie is vir ons grootste gesinstydskrif geskryf toe hulle kort vervolgverhale van ‘n sekere lengte geplaas het. En toe verander hulle beleid net toe dit klaar is. Hier is hy dus vir jou, gratis en verniet. 

Natuurlik is Comien op die kop vyfuur so wakker soos die spreekwoordelike haas. ‘n Goeie veertig jaar se gewoonte word nie sommer so verbreek nie. Sy beplan in elk geval nie om dit ooit te breek nie. Van jongs af het die oggendstond vir haar goud in die mond gehad, sy was nooit van die saans-gousblom-soggens-molshoop soort nie.

“Moenie vir my sê jy gaan nou opstaan nie?” brom Cobus en draai summier sy rug op haar. Nie dat hulle na soveel jare steeds soos twee wittebroodsduifies knussies in mekaar se arms slaap nie. Daarvoor het die klein pyne van die jare wat aanstap deeglik gesorg. Snork hy haar nie wakker nie, pyn sy rug van stil in een posisie lê. Praat sy nie in haar slaap nie, staan sy in die nag op as die natuur ontydig roep. Maar dit bly steeds pynlik as hy sy rug so onomwonde op haar draai.

“Mens hoef nie te versleg as jy aftree nie.” Sy besef dadelik dit gaan vir hom na ‘n beskuldiging klink. Die flippen wag voor haar mond is alweer van diens af.

Sy was reg, hy draai onmiddellik om en kom op sy elmboog orent. “Sê jy ek het versleg, Comien?”

Sy gee summier die wag sommer die dag af. “As die skoen jou pas, trek hom aan. In die jaar wat jy al by die huis is, het jy nie juis veel vermag nie.”

“Ek was sewe en twintig jaar lank die hoof van ‘n vooraanstaande seunskool, Vrou, ek het heeltemal genoeg vermag. Dis nou vir my die tyd om dinge rustig te vat en dis presies wat ek doen.”

“Ledigheid is die duiwel se oorkussing.” Sy is allermins van plan om dit rustig te vat. Sy is vrekbang vir dinge rustig vat.

“Ek is nie ledig nie, Comien, ek leef net nie meer so gejaag nie.” Hy steek sy hand na haar uit. “Kom lê nou nog ‘n bietjie, moenie dat ons sommer op jou eerste dag van vryheid baklei nie. Ek het so daarna uitgesien om meer van jou te hê.”

Wel, sy het nie na hierdie dag uitgesien nie. Sy leef al die afgelope paar jaar in vrees en bewing vir hierdie dag en nou is hy op haar. Besig bly is al wat sal help. Besig bly om te vergeet van alles wat sy verloor het: haar status as skoolhoof, die bande met haar personeel, die meisies wat sy liefgehad het soos die kinders wat sy nooit gehad het nie, die ouerkorps in al sy uiteenlopendheid. Die verpligtinge, die uitdagings, die vreugdes van klein oorwinnings, die verwerking van frustrasies. Dit alles moes sy prysgee, bloot omdat sy vyf en sestig jaar oud geword het. Sy is fiks en gesond en flink van verstand, maar sy is nie meer goed genoeg vir die beroep wat sy bo alles liefhet nie.

“Ek gaan stap, soos elke ander oggend. Kom jy saam?” Hierdie uur soggens vroeg was ‘n belangrike deel van haar dag. Kry die kop skoon, bedink die dag se dinge en kry terselfdertyd lekker oefening. Om nou daarvan af te sien, sal haar net verder die onsekerheid in dompel.

Hy sien egter dwarsdeur haar halfhartige uitnodiging. Onmiddellik onttrek hy hom van haar. Dis asof sy sy gees kan sien terugkrimp, dis meer as net die fisieke wegdraai van haar af. “Wel, as dit dan verspot is van ‘n man om iets van sy vrou te wil hê na hy haar vir donkiejare met vyfhonderd meisies gedeel het, is dit seker tot daarnatoe. Ek gaan stap gewoonlik net na agt, as die meeste oggendverkeer verby is. Daar is geen rede om nou al in die donker te gaan rondploeter nie.”

“Jy weet ek ploeter al jare der jare soggens hierdie tyd in die donker rond en geniet elke oomblik daarvan. Ek het ook gedink om nou by die gimnasium aan te sluit. Mens hoef nie op te hou oefen omdat jy ouer word nie.”

“Jy gaan nie afskaal nie, of hoe? Jy gaan net aanhou hardloop in jou eie rotresies. Die verskil is net, jy gaan nie meer daarvoor betaal word nie.”

“Ek het nie my werk vir die geld gedoen nie, Cobus.”

“Dit weet ek, my vrou. Maar dis tog belangrik om beloning vir jou arbeid te ontvang. Wat gaan nou jou motivering wees?”

Sy word stil op die rand van die bed. Motivering? Sy weet nie. Sy weet net sy kan dit nie waag om te gaan stilsit nie. ‘n Vae gevoel van naderende onheil hang oor haar, soos ‘n donker wolk wat op die horison huiwer. “Motivering waarvoor? Ek het nie meer ‘n bydrae om te maak nie, Cobus, ek is uitgedien.”

Hy kom so vinnig agter haar orent dat sy skrik daarvan. “Nou praat jy louter snert, Comien! Uitgedien? Geen bydrae nie? Dis nonsens, man. Jy moet net nuwe uitdagings kry, nuwe motivering.”

Sy leun ‘n oomblik terug teen sy warm lyf. “Ek weet nie of ek dit kan doen nie. My werk was my lewe, jy weet dit tog.”

“Jy’s bitter omdat jy moes aftree, Comien, ek verstaan dit. Maar dis jou keuse wat jy met die res van jou lewe gaan maak.”

“Jy verstaan  nie, Cobus. Dit was anders vir jou. Jy was siek en sat gesukkel, die aftrede was vir jou ‘n uitkoms. Nie vir my nie, vir my is dit ‘n vonnis.”

“En daarmee wil jy sekerlik sê jy was ‘n beter hoof as ek, want jy kon die stres beter hanteer?”

Sy vlieg op, reik na haar stapklere wat soos elke ander oggend gereed lê, reg om raakgevat te word sonder om vir Cobus wakker te maak. “Moet tog nie weer dié ou storie ophaal nie. Ons weet albei jy het te veel gegee, dinge te veel ter harte geneem. Ek kon ‘n beter afstand behou, my dinge nie so aantrek nie. Dit maak nie van my ‘n beter hoof nie, my aanslag was net anders.”

“Ja, dis wat jy altyd sê, maar ek was nog nooit seker jy bedoel dit regtig nie. Gaan dan maar jou gang. Ek gaan in elk geval as ek klaar gestap het vir ontbyt by die nuwe plekkie wat hier bo oopgemaak het. Ek het gedink ons kan saam gaan, om jou eerste dag van vryheid te vier. Maar ek sien ek was verkeerd.”

Hoekom hou hy tog so aan oor vryheid, vryheid? Vir haar voel dit na ‘n vonnis, g’n vryheid nie. “Jy weet ek eet sommer net ‘n appel vir ontbyt, Cobus.”

“En jy is wragtig nie van plan om ‘n jota of tittel van jou patroon af te wyk nie? Nie eens op ons eerste dag bymekaar na al die jare waarin ons beroepe eerste gekom het nie?”

“Vroeg opstaan en die dag aktief begin het nog altyd vir my gewerk.” Sy het baie hieroor gedink, sy het nie soos Cobus blindelings in aftrede ingegaan en maar net Gods water oor Gods akker laat loop nie.

“Jy is eintlik bang om tyd saam met my deur te bring, Comien, erken dit maar gerus. Jy weet nie meer wat om met my aan te vang nie; jy is bang om dae lank saam met my in hierdie huis vasgekeer te wees.”

“Dis jy wat so sê, nie ek nie.” Sy pluk die slaapkamerdeur vererg agter haar toe. Laat hy dan maar slaap, sy het nog altyd met ‘n plan geleef en sy gaan nie nou verander nie.

 

Die stap is nie so lekker soos altyd nie. Dis regtig al baie donker, al is dit nog maar begin April. Driftig sit sy een voet voor die ander, probeer aan iets sinvols dink. Maar die enigste beelde wat in haar kop opkom, is dié van haar skool se hekke met leerders wat na binne stroom, haar kantoor waarin die nuwe hoof seker al gedurende die vakansie nesgeskop het, haar leerkragte wat oor hulle voete val om die nuwe vrou te beïndruk. Sy moes haar noodgedwonge ‘n paar keer ontmoet. Nog nie veertig nie, ‘n gedrewe beroepsvrou met iets hards in haar oë. Gaan sy die meisies ooit liefhê? Hulle probleme probeer verstaan? Hulle soeke na identiteit in ‘n positiewe rigting probeer kanaliseer? Of gaan sy bloot prestasie najaag? Rekords op die atletiekbaan, ‘n plek op die merietelys in die eindeksamen?

Sy is feitlik op die man voor sy sy teenwoordigheid registreer. Sukkelend kom hy teen die effense afdraand aan, glad nie vas op die voete nie. ‘n Dronkie so vroeg op ‘n Maandagoggend? En dit in hierdie respektable buurt? Hoe hopeloos moet ‘n mens se lewe wees om ‘n week so te begin?

Instinktief laat sy haar kop sak en mik verby. Dit was nog altyd haar motto: Gee om, help waar jy kan, maar beperk die persoonlike betrokkenheid. Dis waar Cobus gefaal het: Hy het hom elke leerder se probleme persoonlik aangetrek.

Sy tref die teerpad soos ʼn boom wat neergevel word, helaas nie meer flink genoeg om soos ʼn jong bokkie flink uit die pad te spring nie.

 

 

Advertisements
 

Sleutelwoordw: , , , , ,

8 responses to “Net een kans – Deel 1

  1. seegogga

    16/09/2016 at 21:00

    Ag nee waar is d res? Ek lees nou;so lekker!

     
    • Alta Cloete

      17/09/2016 at 18:55

      Deel 2 is nou gelaai! Daar is vier dele.

       
  2. Woef-Woef

    16/09/2016 at 23:44

    Ja, ek wag vir die res….

     
    • Alta Cloete

      17/09/2016 at 18:56

      Nou gelaai!

       
  3. Maree Clarkson

    17/09/2016 at 12:22

    Wag ook vir die res Alta!

     
    • Alta Cloete

      17/09/2016 at 18:56

      🙂

       
  4. JWM

    17/09/2016 at 17:52

    Dankie, Alta. Inderdaad is afgetredenes permanent met vakansie en kan enigeiets doen behalwe om 8h00 aan en 17h00 van diens te gaan?

     
    • Alta Cloete

      17/09/2016 at 18:57

      Jy’s reg!

       

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: