Tag Archives: skryf

Die laaste kanariegeel notaboek – Anchien Troskie

Mia Steyn is nog bloedjonk wanneer haar broer haar een laatmiddag by ’n losieshuis in Bloemfontein, aflaai. Dis toe sy ’n stowwerige boekwinkel instap dat Mia besef dis waar sy wil werk. Kort voor lank vind sy haar voete, én verloor sy haar hart.
Die laaste kanariegeel notaboek is die jongste roman uit die pen van blitsverkoperskrywer Anchien Troskie. Niks is ooit soos dit lyk op die oppervlak nie, besef ’n mens weer met die lees van hierdie aangrypende storie binne ‘n storie. 

https://www.nb.co.za/af/view-book/?id=9780798183703

  

Aanlyn: Boekemakranka-kortverhaalbundel

𝗗𝗶𝗴𝗶𝘁𝗮𝗹𝗲 𝘂𝗶𝘁𝗴𝗲𝘄𝗲𝗿 𝗱𝗿𝗼𝗼𝗺 𝗴𝗿𝗼𝗼𝘁

VivA-Uitgewers stel op 12 April hul eerste produk, 𝘈𝘢𝘯𝘭𝘺𝘯, bekend.

Marlie Coetzee, uitvoerende direkteur van VivA-Uitgewers, sê dat van die bekendste en gewildste Afrikaanse skrywers bydraes gelewer het. Dit sluit name in soos Dibi Breytenbach en haar broer, Henk, Annerle Barnard, Francois Bloemhof en Alta Cloete.

Die bundel kortverhale het almal een tema gemeen, maar elke skrywer het dit op ’n unieke manier geïnterpreteer.

Blou moord – Francois Bloemhof

Maart 1981. Ludo Labuschagne gaan saam met sy ma, haar vriend, oom Dippie, en ’n paar ander na ’n private eilandjie tussen Durban en Madagaskar. Die wegbreek word geborg deur Una Steenkamp, ’n ryk weduwee. Nog voor hulle op die eiland kom, word haar seun Ederik oënskynlik in Durban vermoor. Almal wat hom ken, glo egter Ederik is bloot nog kwaad oor ’n onlangse stryery en dat hy wel daar aangesit sal kom. Intussen sit Ludo vas op die eiland saam met: Attie Steenkamp, ’n predikant en Una se swaer Christoline, die predikant se swaarmoedige vrou Janneman, hulle seun wat sy been op die grens verloor het Annetjie, hulle polities bewuste dogter Toon van der Lugt, ’n selfingenome akteur Suné Louw, ’n jong meisie wat deur Toon onderhou word Cor Mocke, ’n ruwe weermagvriend van Ederik Miguel Pedrito, Una se handyman Inez, sy vrou en die kok-huishoudster Dié spul, dertien in totaal, is nie lank op die eiland nie voor iemand sterf. Almal glo egter dit was selfdood – behalwe Ludo. Twee sulke vreemde gebeure kan nie toeval wees nie. Wanneer daar skielik nie meer petrol vir die motorboot is nie én die man wat elke dag van die vasteland af moet kom nie opdaag nie, is twee dinge vir Ludo duidelik: Hulle is saam met ’n moordenaar op die eiland vasgekeer en daar gaan binnekort nog koppe rol ….

https://lapa.co.za/boeke/fiksie/spanning/blou-moord

Inligting van die uitgewer.

Hulle noem haar Carminda – E. Kotze

Lieflike nuwe roman deur die bejaarde E. Kotze!

Skipper Mias Mulder keer uit Walvisbaai terug na Ei-Land aan die Weskus toe hy hoor dat ’n ander man by sy verloofde kuier. Hy leen ’n motorfiets en pak die lang rit na sy tuisdorp toe aan. Op pad kom hy ’n vrou, Carminda, teë wat gestrand is en ’n geleentheid soek. Sy ry agterop die motorfiets saam en klou styf aan hom vas. Eers geleidelik word haar hartseer herkoms bekend.
Hulle noem haar Carminda is ’n verhaal van liefde wat byna alles bedek, hoewel spoke uit die verlede bly pla.

Inligting van die uitgewer

https://www.nb.co.za/af/view-book/?id=9780795710506

SKRYF DAARDIE STORIE: ʼn PAAR NOTAS

644037_413998521987867_532921877_nGebruik jy dalk ons inperkingstyd om te skryf? Tydskrifverhale is ‘n baie lekker plek om te begin. Hier is iets wat ek iewers by die Woordfees – dink ek – kwytgeraak het oor die skryf van tydskrifverhale. Ek het eintlik iets anders gesoek en toe hierop afgekom. Ek plaas maar vir ingeval dit dalk vir iemand iets beteken.  (En moenie dat die prentjie jou afsit nie!)

VOOR JY BEGIN:
Tydskrifverhale word op ʼn spesifieke gehoor gemik.
ʼn Tydskrifverhaal is ʼn baie spesifieke produk vir ʼn baie spesifieke markaanbod en aanvraag.
My ondervinding is dat mens die beste skryf vir ʼn tydskrif waarvan jy self hou.

Onthou jy is deel van ʼn span.

Dus: Moenie blindweg die storie skryf wat in jou kop is en sommer vir enige tydskrif stuur nie. So mors jy heel waarskynlik jou eie en die verhaleredakteur se tyd.

Skep ʼn beeld (profiel) van die leser waarop jou verhaal gemik is:

  1. Besluit vooraf na watter tydskrif jy dit gaan stuur.
  2. Lees ʼn hele klomp van die betrokke tydskrif se stories om ʼn gevoel te kry vir die soort verhale wat geplaas word. 3
  3. As jy nie die tydskrif goed ken nie, lees ʼn stapeltjie van hulle heeltemal deur. So kry jy ʼn duideliker prentjie van jou leser, want jy sien waarin hy/sy belang stel.
  4. Vind uit wat die vereistes van die betrokke tydskrif is wat betref temas, lengte (baie belangrik) en formaat (lettertipe, lettergrootte, spasiëring, paragrawe). ONTHOU OM MOOI BRIEFIE TE SKRYF!

GEDURENDE DIE SKRYFPROSES:
ONTHOU:
1.      Tydskrifverhale is daar vir die plesier van die leser en nie in die eerste plek vir intellektuele stimulasie of akademiese waarde nie. Dit moet dus toeganklik wees. Humor is baie belangrik.
2.      Tydskrifstories moet lesersvriendelik wees. Dit beteken in praktiese terme bloot dat dit maklik moet lees en verstaanbaar moet wees.

Hieruit volg dat die skrywer van tydskrifverhale letterlik sy storie moet ken om die leser se aandag te kry en te behou, want die lesers is dikwels haastig of moeg en hulle aandag is dikwels verdeeld.

Kry en behou die leser se aandag:
1.      Die titel moet impak hê en dit kan ook ʼn idee gee van die gevoelswaarde van die storie. Onthou tydskrif kan jou titel verander.

2.      Die storie moet vlot verloop (plot). Daar is nie tyd vir lang beskrywings, lewenslesse of vir lang monoloë deur ʼn karakter nie.
3.      Die beperking op woordgetal help die skrywer met hierdie dinge.
Sny heel eerste onnodige herhalings en byvoeglike naamwoorde uit.
Blaise Pascal het gesê: “I would have written a shorter letter, but I did not have the time.” Elke paragraaf, sin en woord moet funksioneel wees.
4.      Afwisseling tussen dialoog, aksie en gedagtes is noodsaaklik. Te lang paragrawe of sinne vertraag die tempo.

5       Telling en showing (vertelling en beelding):

Showing bring die leser binne-in die storie in, telling maak van hom ʼn toeskouer.
Mark Twain het gesê: Don’t say the old lady screamed. Bring her on and let her scream.

LW. Die eerste weergawe word met die hart geskryf. Sê wat jy wil sê terwyl jy rofweg by die vereistes probeer bly.

 Onthou: Die tydskrifverhaal moet toeganklik en lesersvriendelik wees.
Dit beteken nie dis noodwendig spookasem met geen blywende waarde nie.
Ernstige temas kan ook op toeganklike en lesersvriendelike maniere aangebied word.

 AFRONDING:
Die tweede en verdere weergawes word met die verstand benader – redigeer genadeloos.

  1. Oorweeg om jou storie ʼn rukkie te laat rus.
  2. Verkort/verleng tot min of meer die regte lengte.
  3. Rond elke paragraaf en elke sin noukeurig af.
  4. Versorg taalkundig so goed soos jy enigsins kan.
  5. Maak dan seker die lengte is korrek.
  6. Oorweeg om dit vir ʼn eerste leser te gee. Kies daardie leser versigtig.
  7. Maak baie seker die manuskrip is in die regte formaat en dit skep ʼn goedversorgde indruk. Tikfoute en spelfoute is onaanvaarbaar.

AGTERNA:

  1. Begin solank met ʼn nuwe verhaal of bring jou leeswerk op datum.
  2. Hou jou oë oop vir nuwe idees. Luister na mense.
  3. Moenie energie vermors deur bewustelik te wag en spanning op te bou nie.

 Onthou: Tydskrifverhale is veronderstel om pret te wees. Die skrywer moet ook in daardie pret deel!

2016 was ‘n riller … And so say all of us …

Want to inspireLyk my dit het mode geword om vir mekaar te vertel wat ‘n dolle jaar dit was.

Tot op ‘n punt het ek hartlik meegedoen.

Maar toe besef ek moet verder dink. Ja, daar was moeilike dinge. Maar daar was altyd ‘n MAAR.

  • 2016 het begin met my eerste ervaring van angs. Angs wat jou beheer laat verloor, angs wat jou laat glo jy is nou al jou varkies kwyt, wat jou keel laat toetrek en jou hart op loop laat sit en jou vir die toekoms laat vrees.

Maar dit het verby gegaan. (Met die regte pilletjie en heelwat vasbyt.)

  • Die Swart Hond was vanjaar nie net op my spoor nie; hy het kom intrek. Hoe beskryf mens die donkerte? Dag en nag? Come rain or shine? Die doelloosheid, die moegheid, die uitsigloosheid. Terwyl jy met jou verstand goed weet jy het tonne en tonne seëninge om voor dankbaar te wees? Maar dit help jou niks. Behalwe om jou ongelooflik skuldig te laat voel.

Lees voort 2016 was ‘n riller … And so say all of us …

Bly by my – slot

really_big_wave“Hoekom was jy Kersoggend so hartseer?” Al is dit donker, weet Christopher hoe lyk die oë wat vraend na hom opkyk: diepbruin en ‘n bietjie seergemaak. Een of ander tyd sal hy móét antwoord, sy stilswye begin aan onbeskoftheid grens.

Dis amper middernag. Oujaarsaaand. Hulle sit-lê langs mekaar op die bank met hulle kaal voete op die stoepmuurtjie voor hulle, hulle oë op die donker oseaan, wagtend vir die fakkels wat met die aanbreek van die nuwe jaar van verbygaande skepe afgevuur word.

Haar ma-hulle se kamervenster is reg agter hulle, maar dis nie vir hom ‘n issue nie. Hier gaan nie vanaand gevry word nie. Hierdie girl is te kosbaar vir casual Lees voort Bly by my – slot

Net een kans – Deel 2

att00327“Eina!” Haar handpalms brand soos vuur, sy moes natuurlik op die grofste deel van die sypaadjie te lande kom. Maar daar is nie tyd vir selfbejammering nie, Comien is onmiddellik reg om haarself te verdedig. Sy het nie amper veertig jaar in die beroepswêreld oorleef om op haar eerste dag van aftrede skaars honderd meter van haar huis af vermoor te word nie. En dit nog sonder grimering, met haar hare in wanorde. Niemand behalwe Cobus sien haar ooit so nie. As sy dan móét gaan, moet dit ten minste met ‘n tikkie Lees voort Net een kans – Deel 2

Net ‘n mens – uittreksel

NET 'N MENS voorbladDie Paashaas se agterpootjies bring haar by die laagste punt van die siklus: die bekende oomblik van intense berou oor die massa kilojoules wat sy pas verorber het, gevolg deur die wete dat sy by omdraai verby is. Die oomblik wanneer sy weet die skade is reeds gedaan en dis nou maar ‘n kwessie van deurdruk en die sonde afrond. Wat help dit nou sy bêre die blerrie voete en stertjie net om dit later vannag weer te kom uithaal en die bose sirkel van voor af te begin.

Sy lek haar vingers een vir een af en konsentreer op die gevoel van vertroosting, van koestering, die bekende mengsel van verrukking en berou vir die oomblik na agter in haar bewussyn toe gedruk. Sy ken haarself tog, sy weet hoekom sy eet. Vir hierdie paar minute in die skemer bekendheid van haar kombuis kan sy haarself maar net so wel aanvaar. Sy eet wanneer sy spyt is en sy eet wanneer sy Lees voort Net ‘n mens – uittreksel

Net ‘n mens … Sanet se storie

NET 'N MENS voorbladOp Sanet Smit se vyftigste verjaarsdag praat ’n vriendin haar mond verby. Ja, Sanet se man het ’n verhouding gehad met iemand anders, maar dit was nie ’n vrou nie. Willem is gay. Almal weet dit, behalwe sy wat Sanet is. Almal praat daaroor, maar net agter haar rug.

Die ligte skakel een vir een aan, maar dit wat sy nou waarneem, wil sy nie sien nie.

Boonop, op daardie punt waar dinge werklik nie erger kon gaan nie, word dit erger; baie, baie erger.

Deur Sanet se onbegrip, woede en hartseer, sypel ook die behoefte om te verstaan. In haar poging tot groter begrip, word sy deel van Willem se vriendekring en ontmoet ’n ouerlose dogtertjie en ’n woedende tienerseun wat haar aandag verg.

Net ’n mens is die opvolg op Opdrag van oorkant. Dié roman stel verskeie vrae aan die leser: Hoe verwerk ’n vrou die ontdekking dat haar man gay is? Is dit noodwendig die beste keuse dat hy uit die kas moet kom? Moet sy hom dwing as hy nie kans sien nie?

 

Anderkant vergeet – Santie van der Merwe

Anderkant vergeetBaie van ons wonder hoe dit voel om ’n tweede kans te kry.
Anneleen Gericke beland in ’n ernstige motorongeluk. Toe sy bykom met ’n gekneusde en geswelde brein, het sy geheueverlies. Sy kry haar tweede kans, maar dit is hoegenaamd nie maklik nie. Die laaste vier en twintig jaar van haar lewe is gewoon weg.
Kort ná haar matriekafskeid, vier en twintig jaar gelede, was sy en vier ander ook in ’n gruwelike ongeluk betrokke.
Sy onthou alles van wat gebeur het tot voor daardie ongeluk.
Nou, ná die tweede ongeluk begin sy uitvra. Haar beste vriendin van destyds is dood. Sy hoor dit nou asof vir die eerste keer. Een van haar vriende is ’n parapleeg. ’n Tweede vriend het gewoon gevlug. Daardie aand, kort voor die ongeluk, het sy en Christiaan Lees voort Anderkant vergeet – Santie van der Merwe

Goue Dagbreek – Bets Smith

Goue dagbreekFacebook-mater Petro Greeff het die volgende oor hierdie lekker boek geskryf:
Bets Smith se boek Goue Dagbreek het my van die eerste woord af geboei en toe ek klaar gelees het, moes ek afskeid neem van mense wat ‘n paar dae saam met my asemgehaal en diep in my hart gekruip het. Goue Dagbreek volg op Onder ‘n Sterrehemel en vertel die verhaal van Catriona Fraser wat as spioen tydens die Boereoorlog opgetree het terwyl sy as verpleegster gewerk het.

Oorlog was nog nooit ‘n wen-wen situasie nie, die verlies aan lewens is net te groot daarvoor. Ek het saam met Rudolf, die held van die verhaal, pyn ervaar, die wind wat oor die vlaktes gewaai het het ook deur my hart geruk en pluk, die ontploffing by die trein met ammunisie het my koud laat word asof ek saam met die soldate daar was.
Maar die hoofkarakter Catriona Fraser het ten spyte van ‘n brose voorkoms, ‘n hart van goud gehad sowel as ‘n deursettingsvermoê wat my elke keer verstom het. Ek was telkens in die benoudheid saam met Catriona in haar situasie omdat ek as vrou weet wat die liefde beteken. Haar lewe was amper verskeur deur die mans in haar lewe wat verkeerd opgetree het, haar liefde vir Rudolf Dreyer en haar ontnugtering wat haar pa veroorsaak het, het van haar ‘n pion gemaak. Gelukkig het sy nie ‘n pion gebly nie en het ‘n sterk vrou in eie reg geword. Sy het haar eie besluite geneem en gewaag, ten spyte van gevare wat sy moes trotseer.
Sal ons oorlog eendag verstaan? Nee, ek dink nie so nie. Oorlog tussen lande het net verliese tot gevolg maar oorlog in die hart tussen mense het meestal ‘n wins as dit reg uitwerk. In alle soorte oorloë, of dit nou tusen lande of landsburger is, is daar die lojales, die verraaiers en ook die wat net vir eie gewin optree. Die oorlog van die hart is meestal suiwer om die ander persoon se hart te wen. Maar ai, is ons harte nie maar ook soms ‘n verraaier nie? Dit smokkel met ons gevoelens, laat ons weerloos en tap elke greintjie energie.
Bets Smith het dit reggekry om die oorlog tussen lande fyn te beskryf met soveel besonderhede en gelyklopend daarmee die hartsoorlog van Catriona Fraser en Rudolf Dreyer. Dit was sowaar ‘n boek wat ek moeilik neergesit het en sal nog lank ‘n paadjie saam met hulle in my gedagtes loop.

Kristel Loots: Katerina se mojo

Katerina se mojoMet boeke soos Lemoenseisoen, Eendagmooi en Die ander vrou het die ervare Kristel Loots haarself in ʼn nuwe nis gevestig – dié van ʼn stem om die verhaal van die moderne vrou binne die moderne huwelik te vertel. Tradisioneel eindig die liefdesroman wanneer die tweetjies teen die sonsondergang wegstap, hand aan hand en met drome in die oë. Oor die aanpassing na die konfetti en die wittebrood trek ons gewoonlik maar die sluier. Maar nie Kristel nie. Kristel pluk die kamerdeur oop en waag dit in die situasies waar die huweliksbed ʼn slagveld word, waar uiteenlopende verwagtings en die harde realiteit van Suid-Afrika goeie mense se liefdesverhale kan laat misluk.

Die belewing van die lyflike binne die huwelik vorm – soos in die werklikheid – ʼn belangrike deel van haar verhale. Hierdie stories bevestig wat moderne vroue lankal weet: Die huwelik is geen kortpad hemel toe nie en daar is nie altyd ʼn pot goud aan die einde van die reënboog nie. En die huweliksbed is nie altyd met rose bestrooi nie.  Lees voort Kristel Loots: Katerina se mojo

Die dooies leef – SD Fourie

Die dooies leefSD Fourie is iemand wat die Strandveld en sy mense deur en deur ken. Ek was nie verbaas om op die flapteks te verneem sy is ʼn toergids en besit haar eie museum op Franskraal nie. As dokument van ʼn vergange tyd in daardie streek en veral die lewe op die plase, is Die dooies leef net so waardevol soos sy voorganger, Die lanternswaaier.

Hoewel die boeke apart gelees kan word, volg hulle wel op mekaar. Ek leser sal aanbeveel dat mens eers Die lanternswaaier lees voor jy Die dooies leef aanpak, of jou geheue ʼn bietjie verfris as jy dit ʼn jaar of drie gelede gelees het. Hoewel daar in Die dooies leef gepoog word om die nodige agtergrondsinligting te gee, kan mens die boek baie meer geniet as jy die eerste een goed onthou. Lees voort Die dooies leef – SD Fourie

Lentestorie: Operasie opruim

Blomme 4ʼn Parodie wat my beter helfte graag op die ou liedjie sing, het hierdie storie se beginpunt gevorm. Dit sluit aan by my eie verhouding met die lente wat nie van die beste is nie. Die voorval met die wegholmotor het met iemand in my familie gebeur. Die storie het in die Huisgenoot van 26 Oktober 2006 verskyn.

1 SEPTEMBER:
Dis haatlike lente
Die winter’s verby
Dis tyd dat my lewe
Weer rigting moet kry …
Elke jaar as die eerste hooikoorsaanval my kriewelend en betraand na my snesies laat gryp, begin neurie ek my eie klein parodie op die ou bekende liedjie. Daar’s niks heerliks aan die lente vir my nie; dis ‘n haatlike tyd van die jaar wat ek graag sou wou oorslaan, indien moontlik.
Ek is inderdaad ‘n rare verskynsel: ‘n welgeskape jongmens wat die lente verpes. En dis nie net oor die hooikoors nie. As al wat leef en asemhaal begin somerklere koop en hare tint en bene waks, sak ‘n groot donkerte oor my toe. As die voëlgesang soggens daardie spesifieke histeriese klankie kry, is dit vir my tyd om Declutteruit my knusse winterslaap op te staan en die lewe in die oë te kyk.
En dit stem my nie tot vreugde nie.
In die winter sluip ek stil-stil en genoeglik deur die lewe, gekussing in frokkie, jas, serp en mus, op ‘n permanente high van al die koolhidrate wat ek inneem om die koue te beveg. En in ‘n heilige vrees vir die dag van 1 September. Want op 1 September van elke jaar skil ek my lae klere af en bestyg die skaal. En dié brawe aksie bring jaarliks ‘n groot geween en gekners van tande mee.
Elke jaar neem ek my voor om ten minste op 31 Augustus te vas – indien nie die week voor die tyd nie – sodat die waarheid darem ‘n bietjie minder gewigtig kan wees. Maar keer op keer sluit ek Augustus af met ‘n stomende bord sondekos – van die soort wat verswelg in die vet en mank gaan aan vitamines – met genoeg soetigheid agterna om my arme pankreas vir maande ‘n skrik te gee.
Die ritueel van die skaal behels veel meer as die swaarlywige waarheid en die onvermydelike dieet wat daarop volg. Daardie pynlike bestyging van die skaal vroeg in die oggend, op my nugter maag, en sonder ‘n draad klere wat dalk ‘n gram of twee kan weeg, selfs voor ‘n versterkende koppie koffie, is maar net die begin.
Elke jaar op 1 September slaan ek ‘n nuwe blaadjie om. As die Kaapse Suidooster sy kieste begin bolmaak, begin ek skoonmaak, regpak en uitgooi. Declutter is mos deesdae die inding. Nou ja, ek declutter al vir ‘n vale van lánk voor een of ander slim Amerikaner met te veel aardse besittings die woord uitgedink het. Per slot van rekening is dit maar net ‘n nuwe naam vir die goeie, outydse spring cleaning waarmee ons almal grootgeword het. Al doen sommige mense hul spring cleaning in Desember of in die lang Julievakansie – dit bly nog steeds spring cleaning.
En nee, daar is nie regtig ‘n perfekte Afrikaanse woord wat dit presies so lekker sê nie. Of ja, tog: Opruim.
Operasie Opruim – dis waarmee ek myself jaarliks konfronteer.
Probleem is net – ek haat skoonmaak, regpak en uitgooi, watter naam ek ookal daaraan gee. Hoekom ek dit dan hoegenaamd doen? Masochistiese neigings? Nee, glad nie. Maar ‘n totale control freak, dis wat ek is.
En ja, daarvoor hét ons ‘n heerlike Afrikaanse woord: beheervraat.
Ek is ‘n ongeneeslike beheervraat; ek raak paniekerig as ek voel dinge eskaleer buite my beheer. So as ek alles wat ek nie gereeld gebruik of dra nie, na die Heilslese tweedehandse winkel aangepiekel het, en die res blinkskoon en ordelik in rye of groepies of enige logiese rangskikking kan staanmaak, dan voel ek weer vir ‘n tydlank piekfyn. Tot die herfs aanbreek en ek weer eens begin laatlê wanneer ek moet vroeg opstaan, sopperige liefdesverhale lees wanneer ek moet slaap, lekkers eet wanneer dit blaarslaai moet wees, goeters opgaar wanneer hul funksie verstreke is en klere op die mat los om daar wortel te skiet as hul moet kas toe of wasgoedmandjie toe.
In die somer is my woonplekkie amper pynlik netjies, met skoon, reguit lyne van meubelstuk en ornament. In die winter word die skoon ruimtes ontsier deur bonkige stukke winterkleding, wankelende stapels boeke en tydskrifte, opgefrommelde sjokoladepapiere en talle taai koffiebekers met malvalekkerkringe om die borand.
Vanjaar is die heerlike lente egter nog minder heerlik as gewoonlik; vanjaar is hy regtig haatlik.
Want vanjaar moet ek ontslae raak van George.
Ek moet hom vir Justine gee.
En dit oorleef.
Soos ‘n donderstorm is die liefde verby
En ‘n donga vol stof is al wat oorbly …
‘n Verandering van die musiek in my kop help ook nie; my troebel gees koppel blitsvinnig ‘n negatiewe emosie aan elke beeld wat ek oproep.
Laas somer het George my soos ‘n volbloed Hoëveldse storm oorval – onverwags, kragtig en ekstaties. Die afgelope winter moes ek egter magteloos toekyk hoe die storm geleidelik uitwoed, die blitse verbleek en die dreuning van die liefde dowwer en dowwer word.
Ja, die storm is besig om by my verby te trek. En hy trek in die rigting van my beste vriendin.
Nee, ek verbeel my nie. Tussen George en Justine is daar elektrisiteit. Statiese elektrisiteit wat nie meer lank staties gaan bly nie.
“n Meisie moet altyd haar trots behou,” praat my oorlede ouma nou al weke lank helder in my kop. “As jy sien dinge loop skeef, dan spring jy hom voor en jy sorg dat jý die een is wat die afsêwerk doen.” ‘n Totaal verouderde siening, komende uit die donker dae van skreiende ongelykheid tussen die geslagte.
Of is dit?
“Maar hoe sal ek weet, Ouma?” het ek destyd benoud gevra.
“Jy sal weet, my kind,” het sy met ag dekades se wysheid gesê, “Ons vrouens wéét sulke dinge.”
Ouvroustories, het ek toentertyd vererg gedink. Wat weet ‘n oumens nou van vandag se jongmense? Die liefde van my lewe sou my van my voete af swiep en vir altyd en altyd vir my lief bly. Daar sou nie sprake van trots of vrees in ons verhouding wees nie. Ons sou sáám – langs mekaar – die pad loop. Volkome gelyk. En ewe versot op mekaar.
George het my wel deeglik van my voete af geswiep. Maar nie vir altyd en altyd vir my lief gebly nie.
En my hart lê doods en swaar in my borskas. Want ek wéét, nes my ouma voorspel het. Lees voort Lentestorie: Operasie opruim

Uittreksel: Seisoen van lig en donker

Wat sou haar so vroegSeisoen4 wakker gemaak het? Miskien was dit bloot die stilte, sy is al gewoond om die eerste nag op die plaas effens onrustig te slaap. Dis mos kompleet of die stilte om jou raas, asof die sterre té geluidloos voortgly op hul baan oor die huisie in die kloof.

Dis nie dat sy nie lekker lê nie. Nee, in hierdie ou houtkateltjie lê sy altyd lekker, hiervandaan lyk die bedreigings van die lewe altyd veraf en onskadelik. In hierdie bed kon sy dit nog altyd waag om te droom, om meer te wees as Liesel van Zyl, die inkennige en wederstrewige kind van seker die twee ordentlikste mense op aarde. Onder die verbleikte ou lappieskombers laat sy haarself soms toe om dwase drome te droom oor dinge wat haar nie beskore is nie, drome vol lig en lewe en onbesorgde liefde, drome sonder die donkerte wat maar altyd op haar spoor is.

In die diep stilte van die Karoo hoor ʼn mens dinge wat in die gewone lewe by jou verby gaan. Veral in die betowerende uur voor dagbreek, die uur waarin slaap en wakker, werklikheid en fantasie alte maklik soos weerkaatsings in die swempoel bo in die kloof oor mekaar en deur mekaar gly. So het sy van kleintyd af met kuiers op die plaas soggens ʼn uur of wat tussen droom en werklikheid bly luier, gerus gestel deur die bekende kraakgeluidjies van die dubbelbed anderkant die dun skeidsmuur, later die stampgeluide wanneer haar pa opstaan en nie regtig daarin slaag om dit saggies te doen sodat haar ma nog ʼn bietjie kan Lees voort Uittreksel: Seisoen van lig en donker

Depressie: Waar begin ’n mens as jy aan jou lewe wil werk?

Beveg depressie voorblad 1 - Copy (2)Die mens se basiese behoeftes is ’n goeie beginpunt. In verskillende bronne is daar verskillende opsommings van die mens se basiese behoeftes. Dis in elk geval maar verskillende name vir dieselfde goed. Die punt is dat ’n mens doelbewus kan kyk watter van jou behoeftes word nie bevredig nie en dan iets daaraan probeer doen. Dit sluit dus aan by die gedagte dat ’n mens wel self baie aan jou gemoedstoestand kan doen en nie ’n willose slagoffer van jou emosies hoef te wees nie. Hierdie besef is dikwels vir mense die eerste tree na genesing. Die onderstaande is uit die Uncommon Knowledge-program verwerk:

Die behoefte om aandag te ontvang maar ook te gee
• Dit kan vervul word deur vriende, familie, kollegas, troeteldiere of kennisse, elk op sy eie manier. Ek dink dit sluit in om versorg te word (kyk die volgende subafdeling), maar ook om iets of iemand te hê om te versorg. Veral by vroue is die behoefte om iemand te versorg dikwels baie sterk.
• As hierdie behoefte nie bevredig word nie, is een van die gevolge dikwels dat die persoon te veel op homself en sy eensaamheid fokus. Soos ons weet, is depressie eintlik ’n baie selfgerigte siekte. As ons die hele tyd met onsself besig is, is dit maar alte maklik om al in die rondte te dink en op die negatiewe te fokus. Lees voort Depressie: Waar begin ’n mens as jy aan jou lewe wil werk?

LAPA se Lekkerlit-wedstryd 2014 skop af!

Lekkerlit 2014Vanaf 15 Augustus 2014 tot 31 Januarie 2015 kies LAPA Uitgewers elke maand ’n Lekkerlit-boek, of twee. Daar sal ’n mengsel wees van spanning, romanse en avontuur.

Net een boek sal wegstap met die titel LAPA Lekkerlit-boek van die jaar.

LAPA glo lesers en skrywers stap hand aan hand: daarom wen die Lekkerlit-boek van 2015 se skrywer R5 000, een gelukkige ATKV-leser R2 500 kontant én een Facebook-deelnemer ook R2 500 kontant.

Hoe neem LAPA se Facebook-gemeenskap deel?

  • Leser moet asseblief LAPA se Facebook-blad LIKE sodat hulle die aankondigings kan kry.
  • LAPA sal elke maand die Lekkerlitboek(e) en ’n vraag oor die boek(e) op LAPA se Facebook-blad aankondig.
  • Lesers beantwoord ’n vraag uit die boek en e-pos die antwoord na marib@lapa.co.za.
  • Deelnemers wat die vraag korrek beantwoord, sal outomaties in aanmerking kom vir die geluktrekking van R2 500 kontant aan die einde van Februarie 2015

Die Lekkerlit-boeke wat gekies is:

  • Augustus = Slim leuens (Lien Roux-de Jager) + Seisoen van lig en donker (Alta Cloete)
  • September = Donker spoor (Martin Steyn)
  • Oktober = Stilleto’s van staal (Bernette Bergenthuin)
  • November = Ewebeeld (Chanette Paul)
  • Desember = Die 13de kaart (Madelein Rust)
  • Januarie = Waar boosheid broei (Peet Venter)

In Februarie sal deelnemers die kans kry om te stem vir hulle gunstelingboek.

Op 1 Maart gebeur die volgende:

  • Die Lekkerlit-boek en -skrywer word aangekondig
  • Die ATKV-wenner word aangekondig
  • Die Facebook-wenner word aangekondig

As jy nog nie LAPA se Facebook-blad ge-LIKE het nie, gaan doen dit dadelik by: https://www.facebook.com/LAPA.Uitgewers?fref=ts

 

 

 

 

Lekker liefdesroman: Waar die son omdraai – Vita du Preez

Vita du PreeWaar die son omdraaiz het reeds in 1996 begin skryf en is ʼn ervare hand in romantiese fiksie. Na verskeie romanses en tien jaar se werk as vertaler van Mills & Boon en Harlequin Intrigue-titels is sy nou terug met ʼn volwaardige liefdesroman.

Waar die son omdraai spring weg met ʼn insident wat die vroulike hoofkarakter se lewe in ʼn nuwe rigting stuur. Met ʼn geskende gesig is daar vir sepiester Thea Jonker geen toekoms op die kassie meer nie. Soekend na nuwe sin meld sy vir vrywillige diens in Mosambiek aan.
Matt Barnard is eweneens in Mosambiek om te probeer bepaal watter rigting sy lewe moet inslaan. Sal ʼn lewe as monnik hom kan bevry van die spoke van die verlede en die vrae waarmee hy worstel?

Getrou aan die tradisie van die goeie liefdesroman vind hierdie twee sterk, moderne, maar gefolterde mense by mekaar aanklank en moet hulle verskeie struikelblokke oorkom voor die liefde kan seëvier. In Vita du Preez is hier egter ʼn volwasse stem aan die woord en die pad wat Thea en Matt loop, is besaai met struikelblokke wat oortuig en wat uit die karakters self ontstaan. Hier is nie plek vir ongeloofwaardige misverstande of kleinlike gebeure soos siniese teenstanders van romantiese fiksie geneig is om te verwag nie. Die karakters reageer op innerlike motivering en word nie deur blote lus of lis gedryf nie.

Die lyflike is egter deel van elke ware of verbeelde liefdesverhaal en ook hier bly dit nie uit nie. Soos in die werklike lewe moet Thea en Matt ook die gevolge van hulle dade konfronteer en hanteer. Weer eens word ʼn maklike oplossing nie gegee nie en moet die karakters eers ver paaie stap om uiteindelik as meer volwasse mense met ʼn helder toekomsvisie by mekaar uit te kom.

“Waar die son omdraai
is skaamteloos geskryf om as liefdesroman te vermaak. Tog, soos in soveel ander goeie boeke deesdae, is hier ʼn denkende skrywer aan die woord wat haar karakters se ontwikkeling só menslik maak dat mens nie anders kan as om iets by hulle te leer nie.” (Izak de Vries, LAPA Uitgewers).

Waar die son omdraai word sterk aanbeveel vir almal wat hou van ʼn realistiese verhaal met ʼn gesonde skootjie romantiek daarby ingeroer.

 

 

Igna Klynsmith: Wat sê die prokureur?

Wat sê die prokureurRegsake is seker van die heel onderste items op my lysie van belangstellings. Ek vermoed daar is dalk duisende soos ek wat maar net hoop hul kry nie eendag gespesialiseerde regskennis nodig nie. En wat reken die hof is ‘n plek waarvan gewone mense liewer moet wegbly.
Wat sê die prokureur? word al so lank op RSG aangebied dat baie luisteraars ten spyte van ‘n gebrek aan belangstelling al teen wil en dank ‘n stukkie regskennis hier en daar opgedoen het. Igna Klynsmith se kalm stem het al baie gedoen om die reg vir talle leke so ‘n titseltjie meer toeganklik te maak.
Die boek wat uit die een en twintig jaar se programme saamgestel is, is ‘n aanwins vir al die siele wat eintlik niks van regsake wil weet nie, maar tog diep binne-in vrekbang is mens kry dit dalk êrens nodig en dan duik jy in die hek weens jou onkunde. Hier het jy nou ‘n yslike klomp gespesialiseerde inligting tussen twee vrolike oranje buiteblaaie saamgebind – vir ingeval jy dit eendag moet lees.
Net vir die lekker is daar ‘n interessante afdeling ingevoeg met kort stories oor beroemde/berugte Suid-Afrikaanse gifmoordenaresse, ‘n paar hofsake wat die wêreld verander het (o.a. Jesus se verhoor en dié van Nelson Mandela) en ‘n paar interessante sake uit die tyd toe – ongelooflik soos dit vandag mag klink – diere wel soos mense in die hof gedaag kon word, asook ‘n paar besondere hofsake.
Afdeling B verskaf die pitkos. Vele sake word aangeraak wat wel alte dikwels regskennis van die leek vereis. Kort, saaklike en heel verstaanbare antwoorde word gegee. Ook hier is Igna se stem herkenbaar en hier en daar skyn ‘n sprankie humor in die droë regsomgewing.
Huweliksreg, grondregte en regsaspekte van aftreeoorde en tyddeel word redelik breedvoerig bespreek. Talle relevante vrae word hier beantwoord. Ander sake wat aangeraak word is plantereg, uitsettings, strafreg, vuurwapens, musiekreg, boedels en testamente.
Die keurige uitleg met duidelike opskrifte en onderafdelings werk mee om die boek vir die leek toeganklik te maak.
‘n Welkome toevoeging is die voorbeelde van ‘n lewende testament, ‘n diensooreenkoms vir huiswerkers en ‘n saamwoonooreenkoms wat in die boek ingesluit is. Soveel van ons weet hierdie dokumente is eintlik nodig, maar weet net nie waar om te begin nie.
Wat sê die prokureur? is ‘n baie welkome toevoeging tot RSG se groeiende reeks publikasies en kan ‘n gerusstellende teenwoordigheid op mens se boekrak wees.
Lesers wie se belangstelling deur die boek geprikkel is, kan gerus ook na ‘n paar potgooie uit die program gaan luister by www.rsg.co.za met die sleutelwoord regsake.
Die boek is keurig uitgegee deur Naledi en by alle goeie boekwinkels te kry.

 

 

 

Pastoor – Pat Stamatélos

PastoorNa boeke wat mens ruk, soos Annelie Botes se Thula Thula, Dis ek, Anna van Anchien Troskie en Swartskaap van  Odette Schoeman, sien mens amper nie kans vir nog ‘n boek oor molestering nie. Maar die reputasie van Pat Stamatélos as die skrywer van aangrypende boeke met egte karakters laat jou deurdruk.

Pastoor is beslis nie ‘n goedvoelboek nie. Nee, dis ‘n boek wat jou hart uit jou lyf wil ruk. Maar die vreeslikheid word stukkie vir stukkie vir die leser gevoer, sodat hy nie oorweldig word nie en bly voortbeur.

Die verskil van ander boeke is dat die verhaal van molestering hier slegs in die hoofkarakter se gedagtewêreld binne die konteks van haar besoeke aan ‘n baie eksentrieke sielkundige vertel word. Terwyl Kleintjie aan die een kant hulp soek vir haar depressie en aan die ander kant voortdurend sorg dat die gesprek nie by haar eintlike kwessie uitkom nie, voer sy ‘n gesprek met die pastoor wat dit aan haar gedoen het.

            Die skreiende ironie van die situasie word alreeds deur die voorblad gesuggereer – die titel Pastoor, die kerkbank, die broek en gordel vertel eintlik al die hele verhaal. Die liefdevolle herder van die gemeente, die een met die sagte stem, die empatie, die enigste persoon wat ooit vir Kleintjie positiewe insette oor haarself gegee het, die enigste een wat haar ooit liefgehad het, vir haar gesê het sy is spesiaal en mooi, is ook die een wat haar na die dieptes van die ellende geneem en daar alleen gelaat het. Dit is na my mening wat hierdie boek so spesiaal – en ook so vreeslik – maak. Mens is so geneig om die molesteerder as ‘n bose persoon te sien, iemand wat kinders wreed dwing om hulle hul sin te gee en hulle in voortdurende vrees vir hulle vergelding laat leef, sou hulle dit waag om te vertel. Maar hierdie pedofiel is juis die sagte, die goeie een, die herder, die lig in die meisietjie se donker lewe. Hy bind haar aan hom met die sagte bande van liefde, aanvaarding en aanmoediging. Dis juis hierdie bande wat haar vir jare aan hom vashou, selfs nog toe sy lankal verstaan presies wat hy aan haar doen. En dis hierdie bande wat haar wroeging soveel dieper maak, want sy is van vroeg af ten volle bewus van die verkeerdheid van wat hulle doen, maar sy kan haar nie van haar enigste bron van liefde losmaak nie.

            Kleintjie word geteken as ‘n beskadigde vrou, iemand wat haar lewe lank worstel met wat met haar gebeur het en wat ten spyte van ‘n man wat sy bes doen om te verstaan en twee gelukkige dogters, steeds nie haar verlede kan agterlaat nie. Mens herinner jouself dat dit ‘n ware verhaal is en jy hoop en bid maar net dat die ware Kleintjie deur die vertelling van die verhaal wel genesing gevind het. Die gedagte dat ‘n vrou met soveel potensiaal deur hierdie verwronge vorm van ‘liefde’ ontneem is van ‘n gelukkige lewe, wil hierdie leser se hart laat breek.

            Die verhaal is natuurlik des te meer relevant in die lig van onlangse gebeure en dit bring helaas meer vrae as antwoorde. Weeg enkele misstappe op teen die tonne goed wat so ‘n persoon in sy lewe gedoen het? Is dit sinvol om dekades na die tyd steeds vergelding te soek? Sou dit ooit genesing vir die slagoffers bring?

            Soos die verhaal van Philomena Lee in die film Philomena en die boek The lost child of Philomena Lee, laat Pastoor mens ook met nuwe oë na die kerk kyk. Dit is net soveel erger as die ergste wandade uit die koers van diegene kom wat die staf van die herder dra.

            En ja, natuurlik weet hierdie leser nie almal is so nie. Maar een vrot appel is ongelukkig genoeg om onmeetbare skade te doen.

            Daar is wel hinderlikhede in die verhaal, maar dit word oorskadu deur die groter boodskap. Die rol en selfs die egtheid van die eienaardige sielkundige is nie heeltemal duidelik nie. Die oormatige aandag aan haar kleredrag en feetjies bied ‘n skel teenstelling met die verskriklike tema, maar word soms bloot irriterend.

            Uiteindelik is dit egter net belangrik dat die nare boodskap ongelukkig moet uitgedra word: Mens kry vandag nog wolwe in skaapklere en daardie skaappakkie kan ongelukkig ook die toga van ‘n geliefde geestelike wees.

Goeiemore, Mnr. Mandela

Goeiemore, mnr MandelaSoos die meeste Suid-Afrikaners was hierdie leser ook vaagweg bewus van die aantreklike jong witvrou aan Madiba se sy. Van tyd tot tyd het mens hulle in die pers gesien; die bejaarde swartman en die stralende blondine, dikwels met sy hand stewig in hare. Toe dit bekend word dat sy ‘n boek geskryf het oor haar tyd saam met hom, het dit ook my verbeelding aangegryp.

Die boek was nie vir my ‘n maklike lees, soos ek lesers daarvan hoor sê het nie. Dis ‘n lang dokument en daar is baie detail. (Op sommige plekke sou mens weer meer detail wou hê. Hopelik weet die skrywer niemand kan ooit almal plesier nie!) Dis nie altyd ‘n opwindende boek nie en vir my het dit beter gewerk om rustig en stuk-stuk daaraan te lees. Dit het uit die aard van die saak nie ‘n spanningslyn wat mens dwing om om te blaai nie, wat sommige lesers die woord “vervelig” laat gebruik het.

Madiba ZeldaVervelig het ek dit beslis nie gevind nie. Hartverskeurend, ja. Dis al dae sedert ek dit klaar gelees het en die gevoel van diep weemoed bly steeds oor my hang. Hopelik sal dit later vervaag en die herinneringe aan al die mooi belewenisse meer prominent word, soos dit hopelik ook vir die skrywer sal word. Maar vir die oomblik bly die beeld van die siek ou man wat van sy regterhand afgesny is en moontlik gevoel het sy laat hom in die steek, onverbiddelik by my.

Daar is egter talle ligte oomblikke en voornemende lesers hoef nie op ʼn tranedal voorbereid te wees nie. Madiba se humor skemer dikwels deur en talle staaltjies bly die leser by.

Mense verskil of dit ‘n biografie is of nie. Volgens my definisie is ‘n biografie ‘n boek waarin detail oor ‘n persoon se lewe nagevors is en dan bespreek word met insette van verskillende partye, dalk interpretasie uit verskillende hoeke, tot ‘n mate van emosie gestroop. Vir my maak dit nie saak wat hierdie boek is nie, dis die egtheid wat daaruit spreek, wat my aangryp. As dit dan ‘n biografie moet wees, is dit sekerlik een van Zelda sowel as van Madiba. Eintlik is dit bloot ‘n vertelling uit haar oogpunt van haar tyd saam met hom. Ek dink nie dit moet as meer of minder as dit gelees word nie. (Ek wens ons kon dieselfde vertelling van sy kant af hoor. Hy moes sekerlik kwaliteite in haar raakgesien het waarvan sy self moontlik onbewus was.)

Vir my is dit ‘n amperse sprokiesverhaal met ‘n baie onwaarskynlike held en heldin. ‘n Held en heldin wat ‘n paar dekades gelede skaars met mekaar sou kon praat, wat nog te sê hande vashou in die openbaar. Zelda kom na vore as die verpersoonliking van ‘n paar miljoen wit Afrikaners wat met vrees gewag het vir die “terroris” om uit die tronk te kom en toe – aanvanklik teensinnig – moes sien hoe hy haar versperrings een vir een afbreek met doodgewone, outydse goedheid.

Van die aangrypendste dele van die boek was vir my haar verwarring aan die begin, die impak wat sy persoonlikheid op haar gehad het en die geweldige skuldgevoel wat sy ervaar het dat hierdie goeie man deur haar mense soveel leed aangedoen is. Stadig is sy eenvoudig ingetrek deur sy persoonlikheid en sy integriteit, tot sy bereid was om haar totale jongmeisielewe vir hom op te gee.

Hierdie leser het redelik gou na sy vrylating ‘n bewonderaar van Madiba geword. Dis lankal my hipotese dat as hy ‘n kort persoon met ‘n kleinmannetjiesindroom was, hy daardie dag op die Parade ‘n boodskap van konfrontasie kon gelewer het. Maar Nelson Mandela was ‘n lang, aantreklike man sonder enige minderwaardidheidskomplekse wat sy oordeel kon benewel, inderdaad iemand van koninklike afkoms wat dit nooit vergeet het nie. Uit hierdie posisie van krag het hy dit in homself gevind om voor te loop op ‘n pad van versoening en geregtigheid.

Nee, ‘n engel was hy beslis nie. Nog minder ‘n klein godjie. (Een van die kosbare aanhalings in die boek lui min of meer so: “‘n Heilige is ‘n sondaar wat aanhou probeer.”) Maar dat hy ‘n besondere mens met besondere insig was, kan niemand ontken nie. Hierdie boek toon hoe hy dit in homself gevind het om die verlede agter te laat, vorentoe te kyk en alles moontlik te doen om die hele Suid-Afrika met hom saam te neem.

As daar een woord is wat ek uit hierdie boek onthou, is dit die woord respek. Telkens kom die woord na vore in die gesprekke en belewenisse wat sy saam met hom het. As ons as nasie maar daardie één woordjie ter harte kon neem, sou dit al soveel beter met ons gegaan het.

Die storie van Zelda la Grange en Nelson Mandela is ‘n amperse sprokiesverhaal met ‘n baie hartseer einde. Dit is ons verantwoordelikheid om verby daardie hartseer einde te leef en die goeie te onthou en toe te pas.

Dis my mening dat die boek moontlik vir sommige lesers vervelig kan wees omdat daar geen sensasie in is nie, geen lakenkaskenades nie, geen skandale wat oopgevlek word nie. Selfs teen die einde van die boek word daar nie modder gegooi nie en behou mens die gevoel dat ook die familie se optrede bloot menslik was en spruit uit die bagase wat hulle ook maar met hulle saamdra.

Vir hierdie leser is Goeiemôre, Mnr. Mandela ‘n boek wat elke Suid-Afrikaner moet lees en vir sy kinders bêre. Dis ‘n storie van liefde en respek wat grense afgebreek en verhoudings gebou het. Dis die storie van wat met blote goedheid en integriteit gedoen kan word.

Ten spyte van die ongelukkige taalfout in die titel is die Afrikaanse uitgawe keurig vertaal deur Tinus Horn en oor die algemeen goed versorg.

Dankie, Zelda! (Nee, ek ken haar nie persoonlik nie en ek kry ook nie kommissie nie.)

Fyn porselein – Helena Hugo

Helena Hugo is ‘n veelsydige skrywer wat haar reeds op verskeie terreine onderskei het. Fyn porselein is ‘n sensitiewe roman wat hierdie wye ervaring weerspieël.

Die verhaal van drie geslagte vroue word vertel, maar dis die hoogsbejaarde Hanna wat die sentrale figuur is.’n Kind van die vroeë jare van die vorige eeu, word sy groot in ‘n wêreld waar reg en verkeerd nie onderhandelbaar is nie, waar vroue se rol vir hulle afgebaken is, waar Afrikanerskap eksklusief is en waar oor vele dinge glad nie gepraat word nie.          Oënskynlik pas sy perfek in hierdie wêreld in. Sy word die waardige, vlytige vrou van die man wat haar pa vir haar uitgekies het, ‘n baaskok en raakvatter in talle vroueverenigings. Haar status word gemeet aan haar man se titel en haar onberispelike gedrag in die sosiale milieu waarin hulle beweeg. Maar nou bevind sy haar in die verswakte afdeling van ‘n versorgingsoord, uitgelewer aan die meestal Lees voort Fyn porselein – Helena Hugo

Debuutroman: Die sideboard – Simon Bruinders

Die sideboardSimon Bruinders het as akteur geen bekendstelling nodig nie, maar debuteer met Die sideboard ook as skrywer. Met hierdie eerste roman toon hy dat hy hom nie hoef te beperk tot die vertolking van ander mense se stories nie, maar ook oor sy eie arsenaal beskik.

Die sideboard is in die eerste instansie die verhaal van Abraham en Stella en die gesin wat hulle onder immer moeiliker omstandighede opbou. Op die tweede vlak is dit die verhaal van bruinmense in die George-omgewing en die vernietigende impak wat apartheid en gedwonge verskuiwings op gesinne gehad het. Derdens is dit ‘n greep uit die Suid-Afrikaanse en wêreldgeskiedenis en Suid-Afrika se betrokkenheid in Noord-Afrika tydens die Tweede Wêreldoorlog.

Abraham is ‘n ongeletterde skrynwerker met ‘n liefde vir die grond waarop sy familie onder leiding van die matriarg Ma Miena vrugte en groente verbou om hulle inkomste aan te vul. Ten spyte van armoede en moeilike omstandighede voer hulle ‘n waardige en godvrugtige bestaan, met sterk familiebande en ‘n diep verbondenheid aan hulle kerk en gemeenskap. Abraham word as ‘n onskuldige lydensfiguur geteken wat telkens moet toesien hoe sy droom van ‘n eie stukkie grond deur groter magte Lees voort Debuutroman: Die sideboard – Simon Bruinders

Lekkerleesboek: Die ooreenkoms deur Sophia Kapp

Die ooreenkomsGroot getalle Afrikaanse lesers het hulle tande op die ouer Afrikaanse liefdesverhale geslyp en dink steeds met nostalgie terug aan die romans van mense soos Tryna du Toit, Ena Murray, Dricky Beukes en vele ander. Omnibusse van hierdie skrywers se werk is steeds van die beste verkopers in Afrikaans. Op die lys van die items wat gedurende 2013 die meeste by ʼn plaaslike munisipale biblioteek uitgeneem is, is omtrent 60% liefdesverhale. Liefdesverhale hou inderdaad mense aan die lees.

Geloofwaardige, moderne liefdesverhale is deel van die verskuiwing na kwaliteit- ontspanningslektuur in Afrikaans. Sophia Kapp is vandag ʼn leidende stem in hierdie genre. Haar stories is onbeskaamd romanties, maar toon duidelik dat romanties nie geloofwaardigheid hoef uit te sluit nie. Haar hoofkarakters is moderne Suid-Afrikaners wat met moderne probleme worstel en dit op moderne maniere probeer oplos. Die vroue is sterk, maar hulle kern is steeds sag. Die held is nie daar om die heldin se probleme vir haar op te los en haar redder te wees nie, maar om haar binne ʼn geborge verhouding toe te laat om as vrou en as mens tot haar volle reg te kom. Die manne is steeds aantreklik, maar hulle het ook ʼn hart en vind dat hulle by die regte Lees voort Lekkerleesboek: Die ooreenkoms deur Sophia Kapp

Die 13de kaart – Madelein Rust

Die 13de kaartWat laat ‘n nie-tipiese leser van spanningsverhale die een na die ander boek in die genre lees? Waarskynlik blote nuuskierigheid, die vrees om iets te mis. Want met spanningsverhale in Afrikaans is daar beslis iets aan die gang. Om die waarheid te sê, ‘n klein ontploffing is besig om plaas te vind (Ja, daar is ‘n teenstelling in die beeld.) Of kom ons sê dan liewer daar is ‘n verskuiwing aan die gang en spanningsverhale is deel daarvan.
Die verskuiwing beweeg in die rigting van ontspanningsleesstof in Afrikaans. Deesdae verskyn ‘n klein vloed van Afrikaanse genrefiksie by verskeie uitgewers. Heerlike boeke waarvoor niemand skaam hoef te wees nie. Die goeie nuus is dat dit nie ten koste van ons letterkunde gebeur nie. Dalk gebeur dit ten koste van Engels. Want ja, soveel Afrikaanse lesers wat vir jare uitsluitlik Engels gelees het, is besig om terug te keer na Afrikaans. (Dit sou ‘n studie werd wees om uit te vind of dit wel die geval is. Dit kan sekerlik wees dat lesers deesdae meer Afrikaans lees, maar steeds baie Engels. Die een hoef tog sekerlik nie die ander uit te sluit nie.)
Die opkoms van die spanningsgenre is deel van hierdie verskuiwing, met Deon Meyer Lees voort Die 13de kaart – Madelein Rust

Depressie – ´n flatervrye resep

oogHierdie resep waarborg vir my ‘n vinnige val tot diep in die depressieput. Joune sal waarskynlik anders lyk. Die verhoudings waarin die bestanddele gebruik moet word, sal ook van mens tot mens verskil.

WAARSKUWING: My tong was diep in my kies toe ek dit geskryf het. Moet asseblief nie letterlik opneem nie!!

· As jy alleen is, oortuig jouself jy is in elk geval nie lus vir mense nie. Konsentreer dan doelgerig daarop dat jy nie net alleen is nie, maar eintlik bitter eensaam. Moet onder geen omstandighede iemand nooi om saam met jou iets te gaan doen nie.

· Moet tog nie jou hare was nie, veral as jy ʼn vrou is.

· Belê in ʼn goeie voorraad trooskos. Hoe soeter en romeriger, hoe beter. As jy alreeds tot agter jou ore soet is, sal gemorskos ook Lees voort Depressie – ´n flatervrye resep

Litnet: Onderhoud oor Beveg depressie en leef voluit

Hallo Alta, jou boek Beveg depressie – en leef voluit! het pas verskyn. Sê net eers: hoe weet iemand hy ly aan depressie en hy is nie sommer net vandag af of gaan deur ’n slegte tyd nie?

Daar is talle professionele definisies van depressie in boeke soos Piet Oosthuizen se Ontsnap van depressie enIL de Villiers se bekende Oorkom depressie: die siekte van ons tyd,asook op die internet beskikbaar.

Hier onder is ’n paar van my eie definisies in leketaal, soos in my boek opgeneem:

  • Jy is moontlik depressief as jy oor ’n lang tydperk weinig vreugde ervaar, geen sin in die lewe sien nie en alles om jou donker lyk, ten spyte van die feit dat daar oënskynlik geen rede voor is nie.
  • Jy is moontlik depressief as jy vir dae of weke of maande of jare liewer wil doodgaan, al weet jy voor jou siel jy het baie om voor te leef.
  • Jy is moontlik depressief as die vreugde vir jou uit die lewe verdwyn het en jou beste pogings dit nie terug kan bring nie.

Die kerngedagte is dus dat depressie iets is wat aanhou en áánhou en dit vir die persoon moeilik maak Lees voort Litnet: Onderhoud oor Beveg depressie en leef voluit

Iets lekkers vir die romantiese siele!

Liefde in die Ou KaapSarah du Pisanie is vir jare al een van die mees geliefde skrywers van romantiese fiksie in Afrikaans. Die tien omnibusse waarin haar werk alreeds saamgevat is, word gereeld op aanvraag van lesers herdruk. Die twee romanses wat in Liefde in die Ou-Kaap opgeneem is, is spesiaal vir die bundel geskryf. Hoewel Sarah veral bekend is vir haar verhale wat in die ou Suidwes, nou Namibië afspeel, is sy ewe tuis in die glorietyd van die Ou Kaap.
In Don Poseidon beland ʼn beeldskone jong edelvrou in die jaar 1790 aan boord van ʼn skip op pad na die Kaap die Goeie Hoop. As adellike ontvlug sy van die guillotine deur vermom as ʼn seun die kaptein se kajuitjonge te word, soos deur haar sterwende pa gereël is. Die bemanning van die skip is egter nie wat sy verwag het nie. Gou kom sy agter daar is dinge aan die gang waaroor sy nie ingelig is nie. In die Kaap wag die onbekende markies Giliomee om met haar te trou. Pauline is verskeur tussen haar vrees vir die onbekende en haar groeiende toegeneentheid teenoor veral die skeepskaptein en die stuurman.
Lillie speel op die Kaapse wynplase van die agtienhonderds af en betrek ook die belangrikste Lees voort Iets lekkers vir die romantiese siele!

‘n Lekker spanningsverhaal!

BloedspoorBets Smith is nie net ʼn gunsteling by romanselesers nie, maar is ook besig om vir haar ʼn reputasie as skrywer van spanningsverhale op te bou. Met Bloedspoor maak sy ʼn waardevolle bydrae tot die groeiende skat van geloofwaardige, vindingryke spanningsverhale in Afrikaans. Haar vorige spanningsroman Skrikkelmaan, word ook nou heruitgegee om met die verskyning van Bloedspoor saam te val.

Bloedspoor speel op die kampus van ʼn universiteit af en die simpatieke tekening van die studentelewe is deel van die bekoring van die verhaal. Llyn Morgan en haar huismaats word elk as individu uitgebeeld en bly nie net karikature van die ‘tipiese’ student nie.

Die leser kan nie anders as om aangeraak te word deur die spanning wat op die kampus ontstaan as gevolg van die reeks moorde nie. Llyn se twyfel oor wanneer ʼn situasie werklik potensieel gevaarlik is en wanneer sy onnodig spoke opjaag, laat mens onwillekeurig dink Lees voort ‘n Lekker spanningsverhaal!