Anderkant  vergeet – Santie van der Merwe

Anderkant vergeetSantie van der Merwe se eerste twee romans (die tweeluik Gelyke kans en Vandat jy weg is), het alreeds getoon dat sy met insig en sensitiwiteit oor volwasse verhoudings binne die huwelik kan skryf. Anderkant vergeet sluit hierby aan, asook ook aan by die huidige neiging om die romantiese hoofkarakters nie meer beeldskone, brandmaer, bloedjong stereotipes te maak nie, maar ouer persone met oorgenoeg foute, vrese en flaters. Anneleen is dan ook nie ‘n volmaakte heldin nie, hoewel Christiaan baie naby aan die volmaakte, betroubare, geduldige man kom wat Anneleen dan ook regtig in haar spesifieke situasie nodig het. (Persoonlik sou ek hom darem ‘n bietjie ongeduldiger verkies het, veral wat die sake van die vlees betref. Nie dat hy homself op sy vrou moes afdwing nie – hy kon darem net ‘n bietjie meer gely het in die proses. Eintlik kon die meer realistiese uitbeelding van sy onvermydelike wroeging en frustrasie die roman verryk het, dink ek.)

Stories oor ‘n heldin wat haar geheue verloor en dan weer op haar man of geliefde moet verlief raak, was daar al genoeg. Op die oog af is hierdie een is dan ook geen uitsondering nie. Maar die verskil is dat die heldin nie op ‘n gerieflike tyd weer ‘n hou teen die kop kry en dan wonderbaarlik alles onthou nie. Trouens, Anderkant vergeet pak die dilemma van geheueverlies realisties aan en die leser kom deeglik agter daar is regtig nie veel romanties aan so ‘n situasie nie. Hoewel Christiaan ‘n wonderlike man is en amper bomenslik geduldig, raak sy vrou nie blitsvinnig en gemaklik weer verlief op hom en alles is dan summier reg nie.

Anderkant vergeet gee heelwat meer dimensie aan die situasie as wat ons in ouer liefdesverhale met hierdie tema gewoond is. Anneleen het nie alles vergeet wat sy nog ooit beleef het nie. Sy onthou alles perfek tot by die ongeluk na haar matriekafskeid. Die ongeluk wat alles verander het vir die vyf jongmense in die motor. Anneleen se herlewing van daardie aand en haar soeke na die waarheid ten opsigte van die groepie vriende vorm ‘n boeiende storielyn. Die leser kan ook sonder moeite identifiseer met die ontwrigting van die jongmense se lewens, want feitlik almal van ons weet van matrikulante wat op daardie groot aand of in die opwindende tyd rondom die einde van hulle skoolloopbaan in ‘n ongeluk was. En helaas nie almal lewend daaruit gekom het nie. Maar min van ons dink waarskynlik verder oor die invloed van so ‘n ramp op die oorlewendes. Anneleen se geheueverlies oor die tyd tussen daardie ongeluk en die hede dwing haar om vir die eerste keer werklik die tragedie te probeer verwerk en haar soektog na groter insig was vir my die treffendste deel van die roman.

Die storie kry verdere dimensie deurdat Christiaan en hulle oudste kind, Jolandie, ook spreekbeurte kry. Terwyl Christiaan amper te goed is om waar te wees, verskaf Jolandie genoeg drama en wroeging om die spanningslyn styf te hou. Die lieftallige kleinboetie bring weer balans sodat die tienerwoelinge nie te oorweldigend word nie.

Anneleen moet dus nie net weer lief word vir haar man nie, maar ook vir haar kinders. En dit is (vir my altans) ‘n veel groter dilemma. Romantiese liefde kan kom en gaan, maar ‘n ma se liefde moet tog altyd bly staan. Of hoe?

Soms wil mens die bot Jolandie (sy is darem al in matriek en nie meer veertien nie) aan haar skouertjies vat en so ‘n ligte plukkie gee. Sy moet tog sekerlik kan verstaan dat haar ma nie kan help dat sy haar nie onthou nie. Maar dink mens dieper, kan jy jou die ontsettende angs voorstel wat so ‘n situasie vir ‘n onseker tiener moet bring. Veral as sy nog dingetjies het waaroor sy skuldig voel ook (soos die meeste van ons, natuurlik). Gaan haar ma weer van haar leer hou? Gaan sy haar weer lief kry?

Anneleen se krisis is netso groot. Hoe moet sy van hierdie bot kind leer hou? Het sy ooit van haar gehou? Selfs die lieftallige Tiaan roer haar nie aanvanklik vreeslik nie. Mens kan eers dink Anneleen is darem baie hard, maar mettertyd besef jy haar kop (en emosies) is by die ongeluk in haar jeug en veral by die verlies van haar boesemvriendin, nie by die twee onbekende kinders vir wie sy nou skielik ‘n ma moet wees nie.

Ja, dis ‘n storie met baie hartseer in. Maar ‘n blote geween en gekners van tande is dit nie. En die leser wat op soek is na ‘n bietjie ontvlugting uit die werklikheid van misdaad en gruwels en politieke hansworsery en joernaliste wat gemuilband word, kan gerus wees – Anderkant vergeet gee vir ons die bevredigende einde vol hoop wat ons in ontspanningslektuur soek. En gee dit op ‘n realistiese, geloofwaardige manier.

As jy van liefdesromans hou, lees hierdie een. As jy nie van liefdesromans hou nie, lees dan juis hierdie een. En dalk word jy heerlik verras.

 

 

 

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s