Seisoen van vervulling amper-amper op die rakke!

Seisoen van vervullingDie lang wagtyd (ongeveer ses maande sedert ek laas iets met die manuskrip te doen gehad het) is verby en die nuwe baba is (hopelik) op pad na boekwinkels en na lesers se boekrakke. En steeds is dit vir my ʼn ongelooflike gedagte dat daar werklik mense is wat eerstens my boeke koop en tweedens die tyd spandeer om dit te lees.

            ʼn Mens kan nie van ʼn ma verwag om een van haar kinders te kies nie, maar ek voel regtig teer oor hierdie enetjie. Die storie kom uit ʼn plekkie baie naby aan my hart. Om ʼn ervaring uit jou eie lewe te neem en jou karakters daarin te sit, kan baie terapeuties wees. Dit kan natuurlik ook op ʼn sentimentele en selfgerigte storie uitloop. Ek het ervaar Ben en Emily is as karakters sterk genoeg om die storie hulle eie te maak. Ek hoop en bid die lesers ervaar dit ook so.

            Dit lyk vir my meer en meer dis van kardinale belang dat ek as skrywer versot op die manlike hoofkarakter moet wees om die liefdesverhaal ordentlik te kan vertel. (Een van die riglyne vir die romanse sê dat die leser –en skrywer – met die vroulike hoofkarakter moet kan identifiseer en dat hulle saam met haar op die manlike hoofkarakter verlief moet raak.) Dit lyk vir my dis ook die kern van die liefdesroman, al strek dit wyer en dieper as ʼn romanse.

            Dus: Ek is versot op Ben. Hy is pragtig en deeglik bewus daarvan (lank en donker werk maar vir my, ek bly sukkel met die blonde manne), vol selfvertroue, intelligent, sjarmant, ʼn partytjiedier en avonturier, hardwerkend, impulsief met ietwat van ʼn humeur en ʼn woelige humorsin, ʼn bietjie bederf, glad met die mond, mal oor vrouens en baie lief vir sy familie. En hy het ʼn hart so groot soos ʼn outyds waenhuis en so sag soos ʼn malvalekker. Hy glo daaraan om beheer van sy lewe te neem en verantwoordelikheid vir sy dade te aanvaar.

            Emily is blond en terughoudend, maar sterker as wat ʼn mens sou dink. Sy het genoeg redes om soos die klomp in die vorige Geur- en Seisoenboeke oor die verlede en oor haar ouers se foute te wroeg, maar sy glo nie aan wroeg nie. Sy glo daaraan om te doen wat haar hand vind om te doen, al is dit nie aangenaam nie.

            Ben is Wilhelm (Geur van genade) en Vivien (Geur van vervulling) se tweede seun. (Sy stemmige ouboet Wim se storie is in Seisoen van vergifnis vertel.) Hy en sy broer bly in Noorweë (uit die aard van die saak is my karakters geneig om daar ʼn draai te gaan gooi), waar hy ʼn avontuur- en fotografiebesigheid bedryf en die lewe geniet tussen vele vriendinne.

            Emily is die dogter van Marius (Geur van vergifnis) en Lynne (wat in Australië woon). Sy is ʼn maatskaplike werker en die bestuurder van ʼn ouetehuis in die Boland. Sy is ernstig oor haar werk en baie lief vir haar oumensies, soos Ben hulle met opset noem om haar siel uit te trek.

            Die storie begin direk na die einde van Seisoen van vergifnis, met Wim en Amanda se troue in die Kerstyd in Noorweë. Ben en Emily sien mekaar die eerste keer in jare weer. Albei het intussen grootgeword. Dit atmosfeer is feestelik en romanties en die jong bloed bruis in die are.

            Ek dink die storie begin ʼn bietjie stadig, maar dit was belangrik om deeglik te motiveer wat later gebeur. Toe dinge eers aan die gang kom, het die storie met my gelóóp. Ek hoop maar hy vat die leser op dieselfde manier vas.

            Natuurlik loop dinge skeef, anders is daar nie ʼn storie nie. Maar getrou aan hulle aard kyk die tweetjies sake in die gesig en probeer dit na die beste van hulle vermoë hanteer. In die proses maak hulle onverwagse ontdekkings oor hulself en oor mekaar.

            My gunstelingtoneel (en die een wat my hart gebreek het) is uit Ben se oogpunt geskryf. Eendag, eendag, gaan ek nog ʼn storie geheel en al uit die man se oogpunt skryf. En my seuns wat reken dis onmoontlik vir my om in ʼn man se kop te klim, se monde stil skryf …

            Mag Ben en Emily vir baie mense vreugde bring. En ʼn traantjie so hier en daar.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s