RSS

Selfpublikasie: Geleentheid of slaggat?

13 Okt

EboekeDaar is by baie mense ʼn mate van agterdog oor die verskynsel van selfpublikasie. As ʼn skrywer nie ʼn uitgewer kan kry nie, is wat hy te sê het tog seker nie die moeite werd nie, of hoe? Daarby het dit tradisioneel ʼn gruwelike bedrag gekos om ʼn boek self uit te gee. En dikwels (sekerlik nie altyd nie) het heelwat van daardie boeke in ʼn boks in die garage staan en stof vergaar, want ʼn goeie skrywer is nie outomaties ook ʼn goeie bemarker nie. (ʼn Swak skrywer kan natuurlik ʼn goeie bemarker wees, en andersom. Wat ook implikasies vir verkope het.)

            Die uitgewer is vir die skrywer ʼn veiligheidsnet, ‘n sambreel, beskermende ouerfiguur. In ideale omstandighede, natuurlik. Stories van fly-by-night uitgewers wat met skrywers se geld verdwyn, is ongelukkig ook volop. Maar normaalweg lewer die skrywer die manuskrip en die uitgewer doen die res van die werk. Taalversorging, druk, bind, bemark, vervoer na afsetpunte, de lot. Die skrywer kry op die ou end ʼn betreklik klein deel van die wins. As daar wins is, natuurlik. Die uitgewer het ʼn hele lys medewerkers wat uit sy deel betaal moet word.

            Ek dink dit word al hoe moeiliker vir skrywers om by uitgewers ʼn voet in die deur te kry. Dit kos ʼn geweldige klomp geld om ʼn boek op die rak te kry. Dis te verstane dat uitgewers versigtig is om ʼn onbekende persoon se boek in die mark te stoot. Aan die ander kant is daar nou soveel wonderlike kursusse beskikbaar dat soveel meer skrywers na vore kom. Mense word ook ouer en bly langer gesond, wat ʼn geleentheid skep vir ʼn memoir of  selfs ʼn volbloedroman waarvoor daar in die jongdae nie tyd was nie. Ouer mense beskik oor ervaring, asook vakkennis op hul vakgebied en gebruik dit deesdae dikwels om kwaliteitboeke te skep.

            In my oë (Ek wil baie graag verkeerd bewys word!) is die meerderheid van Afrikaanse mense nie juis groot lesers nie. En dié wat wel lees, koop nie maklik boeke nie. Afrikaanse boeke is duur en word as ʼn luukse beskou. Mense gaan baie liewer biblioteek toe of leen boeke by vriende.

Baie Afrikaanse mense lees ongelukkig steeds net (of hoofsaaklik) Engels. In Engels is daar groot getalle redelike goedkoop slapbandboeke beskikbaar. Tot my groot irritasie is die Afrikaanse boeke steeds in baie (die meeste?) boekwinkels agter in die hoek en die massa goedkoper Engelse boeke heel voor. Die meeste boekwinkels dra nie ʼn groot Afrikaanse voorraad nie, wat beteken ʼn leser kry ook nie noodwendig wat hy soek nie. Natuurlik is al hierdie dinge uit ʼn besigheidsoogpunt verstaanbaar. Boekwinkels is in die eerste instansie besighede wat moet geld maak om voort te bestaan en nie noodwendig kampvegters vir Afrikaans nie.

Deesdae is selfpublikasie ʼn perd van ʼn ander kleur. Skrywers kan hulle werk gratis of amper gratis op die internet publiseer. Tegnologie maak dit moontlik om ʼn kleiner oplaag teen ʼn redelike prys te laat druk. Die internet bied ʼn wonderlike platform vir bemarking. Daar is nie al die kostes van druk, bind en vervoer nie. E-boeke raak nooit uit voorraad nie, hulle raak nie nat nie, hulle kan enige tyd van die dag of nag gekoop word, hulle kan opgedateer word, foutjies wat deurglip kan reggemaak word.

Natuurlik is daar die donker kant van selfpublikasie. Minderwaardige produkte word soms in die mark gestoot. Skrywers droom van gou ryk word en sien nie kans om geld te spandeer op redigering, taalversorging, proeflees, uitleg en ontwerp nie. Selfpublikasie op die internet het dus gou-gou ʼn slegte naam gekry en dis tot ʼn mate waarskynlik geregverdig.

Daar is natuurlik ook ʼn ander kant, dié van werklik ernstige en talentvolle skrywers wat baie geld (wat hulle nie noodwendig het nie) spandeer om ʼn puik produk as e-boek te publiseer. Die internet is propvol bronne wat hiermee kan help en daar is forums waar skrywers mekaar ondersteun en ervarings deel. Die skrywer kan onafhanklik funksioneer en self verantwoordelikheid neem en is van niemand se goedkeuring afhanklik nie.

Waar die bedryf op die ou end gaan uitkom? Niemand weet op hierdie stadium nie. Almal probeer posisioneer hulself so gunstig as moontlik. Daar word baie gegis en baie gestry.

My mening? Eenvoudig: Laat die son oor almal skyn, laat elkeen sy eie plekkie vind.

En: Mag die mensdom nooit ophou lees nie.

Advertisements
 
3 Kommentaar

Posted by op 13/10/2013 in Boeke, Lees, Skryf, Skrywers, Suid-Afrika

 

Sleutelwoordw: , , , , , , , ,

3 responses to “Selfpublikasie: Geleentheid of slaggat?

  1. MaanKind

    13/10/2013 at 20:04

    Dankie vir die lekker objektiewe stuk. DIs maar soos met alles, werklike kwaliteit sal nie weggesteek kan word nie. Swak boeke sal selfmoord pleeg.

     
  2. barend1

    13/10/2013 at 23:05

    Uitgewers gaan niks kan verander aan die mense wat selfpublikasie verkies nie. Ek weet van mense wat uit selfpublikasie naam gemaak het – iets wat net nooit sou gebeur het as daardie mens vir ‘n uitgewer moes sit en wag nie. So ek sal seg dis alles behalwe slapgatgeit deur die skrywer, dis veel veel eerder jaloesie aan die kant van uitgewers.

     
  3. Madelie Human

    17/10/2013 at 08:10

    Reblogged this on SKRYWERS SKRYF and commented:
    Wonder jy ook hieroor?

     

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: