Paniekaanval!

Seisoen van Vergifnis - Copy - CopyKyk gerus weer ‘n slag na die woord hierbo: PANIEK-AANVAL. Twee skrikwekkende woorde, dodelik gekombineer om nog skrikwekkender te word. ‘n Aanval is iets wat jou bedreig, ‘n kwessie van lewe en dood. Paniek impliseer dat jy niks aan die aanval kan doen, behalwe miskien in kringe hardloop en gil. Chaos, dis hoe dit vir my klink.

Die ander assosiasie wat by my opkom, is dié van magteloosheid. Iemand wat paniekerig is, kan homself nie help nie. Hy het ‘n slagoffer geword.

Die slim mense sê ‘n paniekaanval het te doen met die liggaam se oeroue veg- of vlug meganisme. In die goeie ou dae (?) was die keuse vir ons voorouers so eenvoudig: As iets jou wou opvreet of ‘n dominante lid van jou clan wou van jou ontslae raak, het jy die keuse gehad: Jy hol weg of jy baklei.

Deesdae is die bedreigings anders (Ek laat vir die oomblik misdaad buite berekening, want dis weer ‘n heel ander storie.) en ons keuses is anders. Dis nie meer ‘n leeu of ‘n grotman wat jou met tande of knuppel aanval nie – dis dalk jou sjarmante, gesofistikeerde baas wat jou met ‘n dodelike glimlag en vlymskerp sarkasme (probeer) vermorsel. Of jou man wat weer eens sy wenkbroue lig vir die maaltyd wat jy op die tafel sit. Of jou tiener wat hom morsdood skaam vir sy outydse, dom, patetiese ma en nie huiwer om dit in enige geselskap so te stel nie.

Nou is veg of vlug nie meer voldoende nie. Om letterlik te veg sou beteken dat jy heel moontlik jou werk, jou man of jou kind gaan verloor. Deur letterlik te vlug gaan jy ook nie die situasie beredder nie en waarskynlik net ‘n yslike gek van jouself maak.

Maar ons liggame het blykbaar nog nie die verskil agtergekom nie. Jy ervaar dus dieselfde fisieke simptome as wat jy ‘n paar duisend jaar gelede voor ‘n outydse ondier sou ervaar het, maar destyds se oplossings werk nie meer nie.

Ek het deur die genade nog nie so ‘n aanval ervaar nie, maar die volgende simptome (deur kenners vereenvoudig om vir die leek hanteerbaar te wees) klink vir my geloofwaardig:

  • Jou mond word droog
  • Alles-of-niks denke vind plaas (alles is wit of swart, jy kan nie die grys areas of die goue middeweg raaksien nie)
  • Jou spiere trek gespanne saam
  • Asem begin jaag

Klink dit bekend? Vir my beslis. In ons daaglikse lewe ervaar ons dikwels hierdie dinge, al span hulle nie almal saam om jou by ‘n volskaalse paniekaanval uit te bring nie.

As ‘n mens jou bogenoemde vier dinge en hulle herhalings as ‘n ry domino’s voorstel, kan jy sien hoe hulle gaan begin val as een eers padgegee het. Die een lei sekuur na die ander – en om en om in ‘n dodelike kringloop.

Dink ‘n mens na die ander kant toe, sien jy ook ‘n baie eenvoudige teenfoeter: Haal een van die domino’s uit – m.a.w. kry jou spoegies terug waar dit hoort, stop jou wit-of-swart denkpatroon, ontspan jou spiere of haal doelbewus kalmer asem. As jy een blokkie verwyder het, kan die ander nie meer so lekker val om by ‘n volskaalse paniekaanval uit te kom nie. In die praktyk bring dit ‘n mens by ‘n paar eenvoudige aksies uit (sekerlik nie so eenvoudig as jy midde-in ‘n aanval is nie):

  • Gryp na ‘n stukkie (suikervrye) kougom of dink doelbewus aan die kos wat vir jou die lekkerste op aarde is.
  • Verander jou denkpatroon (sekerlik die moeilikste een) – onthou daar’s gewoonlik ‘n middeweg. Alles is nie óf ‘n totale ramp óf heeltemal volmaak nie, die meeste dinge in die lewe val iewers tussenin.
  • Ontspan jou spiere doelbewus, bv. deur ontspanningsoefeninge, strekoefeninge of joga.
  • Kry jou asemhaling meer reëlmatig – dit werk natuurlik lekker saam met bogenoemde oefeninge.

Ek vermoed dit sal seker in ‘n akute situasie ernstige vasbyt verg om hierdie goed te onthou en te doen. As jy dit al probeer het, laat weet my gerus!

Wat ek wel weet, is dat dié vier punte in die gewone lewe in gewone spanningsituasies van groot waarde kan wees. Vir my het hulle toepassing ‘n groot positiewe uitwerking en help dit om depressie op ‘n afstand te hou.

Agterna gesien, besef ek ek moes waarskynlik meer klem op hierdie potensiële hulpmiddels gelê het toe ek vir Amanda in die eerste toneel van Seisoen van vergifnis ‘n paniekaanval laat kry het. Maar nou is dit so dat my boeke nie in die eerste plek bedoel is om mense oplossings vir hulle probleme te gee nie, maar bloot spesifieke karakters se stories wat ek probeer vertel. Amanda se oorheersende behoefte in daardie toneel is dan ook nie om die aanvalle te genees nie, maar eerder om dit weg te steek en te onderdruk. Wat seker heel menslik is, selfs vir ‘n sielkundige wat van beter behoort te weet.

Wat belangrik is, is dat ek hoop die lesers kry nie die indruk dis Wim se koms wat alles vir haar beter maak nie, maar eerder die pogings wat sy aanwend om haar bagasie en onafgehandelde sake te hanteer. Natuurlik help dit om ‘n geliefde aan jou sy te hê, maar ons weet mos nou al die arme manne kan nie al ons probleme vir ons oplos nie. Meestal het hulle in elk geval oorgenoeg van hul eie, soos Wim in hierdie geval ook.

Ek dink die kern van die storie is maar weer eens dat dit moeilik is om enige probleme op te los solank jy jouself as ‘n hulpelose slagoffer sien. Eers as jy aktief begin veg, word dinge gewoonlik beter. En soos Amanda in die storie, moet gewone mense ook soms eers deur pyn gaan voor hulle by die lig kan uitkom.

Maar natuurlik is die geveg lekkerder en makliker met ‘n aantreklike, goeie, gawe man langs jou. En dit bly steeds die lekkerste deel van my werk: Om vir my uitgedroomde vroue die lieflikste mans te voorsien. En daarmee vir my lesers ‘n paar uur van ontvlugting te verskaf – en die energie om van nuuts af hulle eie onvolmaakte mans lief te hê.

2 gedagtes oor “Paniekaanval!

  1. ek ken hierdie baie goed! ! en ja, moeilik of bykans onmoontlik as jy op die grens van die aanval is om dit dan te probeer stop. ek is in die proses om myself te leer om nie naby daai punt te kom nie. harde werk, maar ‘n mens kan.

Lewer kommentaar