CANSA Shavathon: Die laaste woord

IMG_0513‘n Week is verby. Ek begin my verbeel ek kan sien die spulletjie het al ‘n ietsie gegroei. Die illusie van ore wat al hoe meer prominent raak, wil egter nie verdwyn nie. Agter in my nek begin die stoppeltjies kriewel en jeuk. Ek is nog steeds huiwerig om in openbare plekke te kom – en gelukkig vergeet ek elke keer na ‘n rukkie van my kop.

Die paar mieliepitte onder die gebrek aan hare bly om die onderwerp draai in ‘n vreemde mengsel van hartseer, weedmoed, vreugde en dankbaarheid. Ek dink aan my pa, my susters en hulle gesinne wat agtergebly het, ek dink aan my kind wat blakend gesond met sy lewe kan voortgaan. En Vader sy dank getrou vir sy ondersoeke gaan en so ‘n gesonde lewe lei dat ons gewone sterflinge skoon skuldig voel oor ons gereelde en minder gereelde sondetjies.

Ek ervaar ‘n klein, klein iets van hoe dit (veral vir ‘n vrou – en dalk nog iemand wie se hare haar grootste bate en trots was) moet wees om kaalkop te word. Die Kaalkop Waarheid inderdaad. Nooit tevore was jou ore so groot, jou kopvorm so duidelik, jou haarlyn so uitgespel, jou krone so aan die mensdom uitgestal nie. Weerloos, blootgestel, dis hoe jy voel. En flippen selfbewus.

Heelwat mense se oë skram van jou weg, hulle kyk vinnig anderpad en dink hulle eie dinke. Die oorgrote meerderheid sien dit glad nie raak nie, want ons is almal bitter besig met ons eie dinge. En hier en daar kom iemand skielik uit ‘n skare vreemdelinge na vore met begrip in die oë en uitgestrekte hande: “Kan ek asseblief daaraan vat?” En dit is die kosbaarste oomblikke – wanneer twee vreemdelinge ‘n raakpunt van gedeelde ervaring en dankbaarheid of hartseer ervaar. Dit is wanneer jy weet daar is mense wat verstaan. Regtig verstaan.

Natuurlik verstaan almal nie. Ek was darem ook nie naïef genoeg om te dink dit sal die geval wees nie.

Een persoon voel die Shavathon maak van kanker en die lyding wat daarmee gepaard gaan ‘n verspottigheid en gaan ligsinnig daarmee om. My ervaring is beslis nie so nie. Dit (en ander veldtogte, soos die – nat – stap vir borskanker wat ek al by Seepunt gedoen het), bring bloot mense om ‘n prettige ervaring bymekaar. Vyfduisend mense gaan nie saamkom en geld betaal om nat te reën as daar nie ‘n aktiwiteit aan gekoppel was nie. Derduisende mense gaan nie op ‘n Saterdag elk R50 weggee as daar bloot daarvoor gevra word nie. Prettige aktiwiteite lok mense, doodgewone mense wat andersins nie twee gedagtes oor die betrokke saak sou gedink het nie. En wat agterna ook ‘n bietjie goed voel omdat hulle ‘n ietsie vir ‘n belangrike saak kon doen.

Dalk is dit die kern van insamelings soos hierdie (ook vir ander belangrike sake): Dat dit mense ‘n kans gee om betrokke te raak, om te gee – en om agterna goed te voel daaroor. Want as iets ons goed laat voel, is die kans soveel beter dat ons dit weer sal doen.

‘n Ander het gewonder of ek nie dieselfde bewussyn kon skep en die bietjie geld kon insamel sonder die haresnyery nie. Ek dink beslis nie so nie. Ek gaan tog nie sommer net met enige vreemdeling in die winkel begin gesels oor kanker nie. Maar as die persoon naderkom en uitvra, is dit die ideale geleentheid vir ‘n gesprekkie. En dit was opvallend hoeveel flinker my klein fondsie gegroei het ná die snyery – ek is nie seker hoekom dit so is nie, maar dit het gewerk.

As skrywer dink ek die ervaring is dalk ‘n goeie voorbeeld van die verskil tussen die telling en showing wat vir elkeen wat al ‘n paar woorde probeer neerpen het, soms (dikwels) ‘n nagmerrie kan wees. Dis eenvoudig effektiewer om iets vir iemand te WYS as om dit bloot te VERTEL.

Dus: Baie, baie dankie aan almal wat die klein offensief saam met my beleef het. Dankie vir elke pluimpie (verdiend of onverdiend), vir elke stukkie begrip, vir elke stukkie pret, vir elke rand wat gegee is.

Ek vertrou elkeen van julle het ook intussen seker gemaak al die manne (veral die jonges) in jou lewe weet van die gevaar van testikelkanker.

Jy het nie? Dan is NOU jou kans!

Onaardige gesprek vir Sondagmiddagete? Ja, beslis. Maar dalk kan dit ‘n lewe red. En ‘n mens kan dit mos maar vir ná die poeding hou.

6 gedagtes oor “CANSA Shavathon: Die laaste woord

  1. Ek is beslis ten gunste daarvan dat ons meer openlik oor sensitiewe sake moet wees. So desensiteer ons dit. En, jy is reg. Mense sal nie sommer net geld uithaal en gee nie. Ek glo elke keer wanneer iemand uitvra oor jou kop, kry jy die geleentheid om te educate. Jy gaan tog ook nie in die straat af stap en vir elke janrap en sy maat sê: kom ek educate jou bietjie oor testikel kanker, nie.

    Ek is bv. ‘n Tourette Sindroom-lyer. Ek praat ook nie elke dag en heeldag daaroor nie. Ek gebruik wel ‘n geleentheid, as dit na vore kom, om te educate. So vra my haarkapster, by wie ek al drie jaar lank is, my nou baie onlangs of ek goed slaap in die nag. Ek is verbaas en vra, hoekom? Sy sê dat my hande en voete voortdurend beweeg. Ek weet nie of sy al my nek, skouers en ander bewegings ook al so dopgehou het nie. Ek het haar toe bietjie daarvan vertel en gesê, die films en dokkies wat jy daaroor sien, is net van die heel ergste gevalle. In werklikheid is daar baie mense wat dieselfde simptome as ek het. Baie mense sien dit nie eens raak nie.

    Dus: Praat oor dinge, vertel daarvan – so desensiteer mens dit.

  2. Ek het eendag ‘n blog oor iets soortgelyks geskryf.

    Ek dink dat dit juis die prettigheid van CANSA se fondsinsamelings is wat mense CANSA laat onthou en ondersteun. Dit is altyd lekker om ‘n goeie saak te ondersteun en dit is net nog lekkerder as dit vet pret is. Daarom is dit altyd lekker om CANSA te ondersteun en te onthou.

    Ek sprei elke jaar my hare vir CANSA.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s