‘n Ware lekkerleesboek!

Lam in wolfsklereBernette Bergenthuin is alreeds geen onbekende by lesers van romantiese fiksie nie, daarvoor het verskeie tydskrifverhale en romanses gesorg. Lam in wolfsklere is haar eerste vollengte roman – en beslis nie haar laaste nie. (Lesers kan alreeds uitsien na haar tweede later in die jaar).
 

Lam in wolfsklere is die verhaal van ‘n jong beroepsvrou wat na ‘n liefdesteleurstelling in die skilderagte Kaap na haar ouerhuis in die minder skilderagtige Bloemfontein terugkeer. Ten spyte van die oënskynlike vaal en konserwatiewe omgewing, bevind Amelia haar baie gou in verskeie situasies wat allermins vaal of konserwatief is – en meestal skreeusnaaks.

Hoewel ek nie weet of dit as sulks bemark is nie, is die boek vir my ‘n voorbeeld van chick-lit op sy beste. Die liefdesverhaal is daar, maar so ook die spesiale vriendekring (perfek in pas met die Nuwe SA se ideale) en die stryd om haar voete in haar beroep te vind. Bernette se regsopleiding gee haar natuurlik die kennis om haar verhale teen die alreeds geromantiseerde agtergrond van die wet te laat afspeel.               

Hoewel die gegewe op lighartige toon aangebied word, is die ondertoon van opregte belewing altyd daar. Amelia se soeke na ware liefde en beroepsvervulling is inderdaad nie ‘n grap nie, maar haar humoristiese kyk na die lewe sorg dat dit nooit ‘n gewroeg word nie. 

             
Die taal is lig en modern (en deurspek met Engels, soos moderne Afrikaans wel is) en die verwysingsraamwerk is tekenend van die lewe van moderne (en bevoorregte) jongmense in die huidige Suid-Afrika.           


Verskeie kleiner verhale speel binne die groter geheel af en gee dimensie aan die roman wat dit moontlik verby die chick-lit genre voer. Die newekarakters (veral Amelia se ma en haar vriendin, Selina) word dikwels ook as veelkantige persoonlikhede geteken.

Lam in wolfsklere is ‘n lekkerleesboek vir enigiemand wat vir ‘n rukkie van die harde werklikheid wil ontsnap, maar ook vir diegene wat ‘n kykie wil hê in die lewe van jong beroepsvroue in ons era.

2 gedagtes oor “‘n Ware lekkerleesboek!

Lewer kommentaar