Ouerskapskwessies in Seisoen van vergifnis

Seisoen van Vergifnis - Copy - CopySit ek hier ewe onskuldig en dink aan ‘n gevatte opskrif vir ‘n post oor die ouerskapskwessies in Seisoen van vergifnis – en maak die fout (of nie?) om te Google. Die resultate is so uiteenlopend  soos hieronder:

http://www.wiesjoupappa.co.za/

http://www.watkykjy.co.za/2003/08/wies-jou-pappa/

En ek het maar net aan onse Steve gedink … 🙂

Waarskuwing: As jy nie sterk van gestel is nie, moet liewer nie te veel rondkrap op die tweede skakel nie. En as jy nou juis nuuskierig is – go for it! Maar dan moet jy vat wat na jou toe kom …

In elk geval, ek begin toe die manuskrip met die hoofkarakters Wim en Amanda – uitgeknip vir mekaar. En albei se agtergrond en grootste kwessies alreeds vroeër in die reeks vasgeskryf.

Wim is ‘n ernstige outjie uit ‘n stabiele agtergrond. Maar lesers van sy ma (Vivien) se verhaal (Geur van vervulling) sal alreeds weet daar wag vir hom ‘n onaangename verrassing, want Vivien het op haar dag ‘n fout gemaak. ‘n Fout wat in vandag se tyd en dae seker nie meer so vreeslik is nie, maar wat my betref nog steeds erg genoeg is om ‘n mens se lewe behoorlik omver te gooi as dit op die lappe kom.

Amanda is ‘n klein vuurvreter met ‘n onstabiele agtergrond, behalwe vir die liewe Herman Dreyer wat ek vir haar as stiefpa gegee het (Persoonlik dink ek hy’s ‘n bietjie te goed om waar te wees – en dalk so ‘n klein bietjie vervelig). Sy het openlik gerebelleer teen haar liefdelose/weird/onstabiele ma (wat eintlik ‘n boek van haar eie verdien, maar ongelukkig het sy al in Geur van vervulling hierdie lewe verlaat), maar niemand het geweet sy soek intussen stil-stil ook na die pa wat sy nooit geken het nie.

Ja, sommige lesers sal sekerlik dink dis te dik vir ‘n daalder om twee hoofkarakters met ouerskapskwessies in een boek te sit. In alle ander opsigte was die twee egter so perfek vir mekaar dat ek nie anders kon nie. Die beste oplossing (vir my) was om hulle dit  op verskillende maniere te laat hanteer, wat hopelik by elkeen se karakter pas.

Natuurlik sal almal hulle kwessies nie as werklik belangrik sien nie. Ek is bewus daarvan dat daar byvoorbeeld aangenome kinders is wat gaan begeerte het om hul biologiese ouers op te spoor nie en willens en wetens hulle aangenome ouers volkome aanvaar as hul enigste. Daarvoor het ek die grootste respek. Aan die ander kant is die media en die internet egter ook vol van mense wat hul biologiese ouers soek en nie kan rus voor hulle gekry is nie.

Tussen hierdie twee uiterstes moes ek vir Wim en Amanda hul eie oplossings laat vind. Wat ‘n uitdaging was, om die minste te sê. Of die poging geslaag het? Dit moet die leser maar self besluit.

NS. Nee, die prentjie hou nie verband met enige karakter in die boek nie. Self weet ek ook nie hoekom die skepper daarvan hierdie spesifieke beeld gekies het nie … probeer hy dalk iets oor iemand spesifieks sê?

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s