Hulle sê mos mens kan jou vriende kies, maar nie jou familie nie. Hulle moet jy maar aanvaar en die beste van die saak maak. As jy gelukkig is, kan hulle ook jou vriende wees. Indien nie, kan jy óf die bande verbreek en jou lewe lank skuldig voel (en baie goeie dinge misloop), óf jou mense aanvaar soos hulle is en leer liefkry soos hulle is.
Depressie is vir party van ons soos daardie spreekwoordelike broer in die tronk. Niemand kies dit nie. Maar ontslae raak? Nie so maklik nie.
Natuurlik is daar die gelukkiges wat depressief raak, die regte medikasie kry en siedaar – binne ‘n paar maande is alles weer reg en die monster vir ewig oorwin. Vir baie mense het depressie egter ‘n lewenswyse geword.
Nou het jy – soos met alles in die lewe – verskeie keuses. Dra jy dit alleen of deel jy dit met spesiale mense? Aanvaar jy dit, drink jou pille en gaan voort met jou lewe, so goed soos jy kan? En as dit sleg gaan, vat jy dit maar en hoop vir beter dae vorentoe? Bly jy in ontkenning en elke dan en wan los jy weer die pille – en beland mettertyd weer in die put? Of bly veg jy daarteen? Is jy hatig en woedend oor jou lot? Word jy ‘n onaangename mens? (Dis hoeka nie moeilik om onaangenaam te wees as jy depressief voel nie.) Of omarm jy jou ellende, word jy ‘n smartvraat wat tydig en ontydig vir almal vertel hoe ellendig jou lewe is? Probeer jy jou lot blymoedig dra en steek vir almal weg hoe swaar jy eintlik kry?
Êrens tussen hierdie uiterstes lê die opsie wat vir my die sinvolste is. Hierdie opsie het twee elemente wat na teenoorgesteldes kan lyk: aanvaarding en aanval (LW. aanval en nie verdediging nie.)
Aanvaarding hoef definitief nie oorgawe te wees nie. Nee, gaan lê gaan ons nie. Aanvaarding kan bloot ‘n verstandsbesluit behels dat hierdie ding waarskynlik nie uit sy eie gaan weggaan nie en dat skop en skree nie gaan help nie. Hieruit vloei voort dat jy kan aanvaar, maar aanhou veg. En dan kan jy begin slim veg. Geen krisisbestuur meer nie, nie net vure doodslaan wanneer dit sleg gaan nie. Nie blote verdediging nie, maar aanval. Nou kan jy planne begin maak, jou strategie vir die aanval uitwerk. En as jy jou strategie verfyn volgens jou eie behoeftes en getrou daarby hou, kan jy voluit en vredig leef ten spyte van depressie.
Bitter min van ons in die greep van ware depressie (nie net ‘n blou of selfs swart bui nie), is egter tot aanval in staat. Hieruit vloei voort dat ons moet veg solank dit goed (of relatief goed) met ons gaan. Ja, ek weet, mens is geneig om wanneer dit goed gaan, maar net dankbaar jou lewe te lei en te (probeer) vergeet van depressie. Dis egter juis dan dat hy jou so maklik weer ongemerk bekruip en voor jy jou kom kry, is jy weer terug in die gat.
Ek reken die kuns is dus om te probeer proaktief wees wanneer dit oukei gaan. Vir elke persoon sal dit ‘n unieke reis wees. Ons is individue met verskillende swak- en sterkpunte, verskillende behoeftes. Dikwels weet ons nie eens wat hulle is nie. Depressie kan die begin wees van ‘n reis na selfontdekking, want sonder kennis oor jouself kan jy nie doeltreffend veg nie.
Gaan dit vandag oukei? Komaan, dan is dit die kans vir planne maak. Wat kan jy doen om daardie afwaartse skuif te voorkom? Die pille wat jy so graag wil los, dalk maar aanhou drink? Dalk maar aanhou gaan na die duur terapeut? Gesonder eet? Begin stap? Werk aan jou tydsbestuur en streshantering? Of iets heeltemal anders wat vir jou van toepassing is?
Gaan dit op die oomblik maar sleg? Dan is dit die tyd vir krisisbestuur, vir verdediging. Medikasie, terapie en oefening, die towerkombinasie. En sodra jy jou kop kan lig, begin jy aan die aanval beplan.
Nee, aanvaar beteken nie oorgee nie. Aanvaar beteken inderdaad om jou vyand te leer ken en jou planne reg te kry. En dan uit te voer.