Dis baie menslik om soms te wéét ʼn (onaangename) ding moet gedoen word, maar eenvoudig nie so ver te kom nie.
Veral wanneer ʼn mens weet jy moet uit ʼn afbrekende situasie beweeg, maar dit gaan nie sonder pyn geskied nie. Dit kan ʼn verhouding, selfs ʼn huwelik, ʼn werksituasie of ʼn vriendskap wees wat jou afbreek en nie vir jou menswees goed is nie. Dit kan ook iets wees soos om minder sjokolade en meer groente te eet, om te begin oefen, om op te hou rook of drink.
Dit verg dapperheid om van hierdie soort situasie werk te maak en ʼn mens het geen waarborg dat alles ten goede sal uitwerk nie.
Dit lyk vir my na die soort ding wat mens alte maklik by depressie kan uitbring.
Want sien, as jy nie doen nie, terwyl jy weet jy moet doen, dan DINK jy. Die maklikste ding ter wêreld, en baie, baie menslik. Dag en nag, al in die rondte, sonder om by ʼn oplossing uit te kom. En dan is jy by wat hulle by Uncommon Knowledge emotionally arousing rumination en depressive thinking styles noem.
Jy dink en dink en dink – en dis nie opgewekte/positiewe/opbouende/probleemoplossende gedagtes nie. Dis meestal negatiewe/hulpelose/malende/afbrekende/selfverwytende gedagtes – presies die soort wat dan snags in jou drome ook met jou kom spook en jou beroof van diep slaap wat mens uitgerus laat opstaan.
En dan is dit die volgende dag nog makliker om dieselfde patroon te herhaal. En so voorts en so meer, en voor jy jou kom kry, is jy onder in die put.
Die oplossing lyk op papier baie maklik: Doen eenvoudig wat gedoen moet word.
Maar ons weet almal dis in die praktyk flippen moeilik.
In die biografie Bruce vertel my geliefde Springsteen hoe ongelukkig hy tydens en na die uiters suksesvolle Born in the USA-toer van 1984 en verder was. Hy was klaarblyklik oopkop genoeg om vas te stel wat fout was: “I was very good at my music, and very bad at everyting else.” Hy het geleer dat werksukses nie noodwendig geluk bring nie. “The two greatest days of my life were when I picked up the guitar for the first time and when I learned to put it down.”
Wat veral indrukwekkend is, is die moeite wat hy gedoen het om dinge te verander. Hy sê in die boek hy het besef hy moet hierin net soveel energie sit soos toe hy as kind vir agt uur op ‘n dag in sy kamer gesit en kitaar oefen het. Hy het vir terapie gegaan en doelbewus aan sy gesinslewe gewerk. Die resultaat is ‘n klaarblyklik stabiele huwelik en drie kinders van wie mens nie in die skinderkolomme lees nie. En voortgesette sukses het nie uitgebly nie.
Fans en non-fans kan hierby leer. Geestesgesondheid is nie altyd ons prioriteit in die lewe nie. Dis dikwels glad nie op ons lysie nie. Maar om dié item sommer baie hoog te skuif, kan ongelooflike resultate hê, ook vir die ander fasette van ons lewe.
Natuurlik is ons dikwels vrekbang vir aksie. Die nodig aksie kan pynlik wees. Dit kan minder koek eet behels, of ‘n stappie om die blok as ons liewer voor die TV wil lê. Dit kan minder geld uitgee behels, of minder Facebook. Dit kan selfs die einde van ‘n verhouding of huwelik of beroep behels.
Gelukkig weet ons dat dapperheid nie die afwesigheid van vrees behels nie. Nee, dapperheid behels om voort te gaan ten spyte van die vrees.
Komaan, jy het ook ‘n stukkie dapperheid diep binne jouself. Soek dit – en laat dit vry. Jy sal nie spyt wees nie.
En nee, ek bepleit nie wilde spronge die onbekende in nie. Ek bepleit sorgvuldige beplanning, die inwin van inligting, die benutting van enige beskikbare ondersteuning en versigtige, weloorwoë aksie.
Die beste tyd om te begin? Sommer nou dadelik, met een klein stappie, net om jou aan die gang te kry. Stap twee gaan makliker wees, ek waarborg jou.