RSS

Category Archives: Spanning

Hekel en word heel: Onderhoud met Nadia de Kock

  1. Hekel en word heelVertel ons ietsie oor jouself? Vorige boeke? Is jy self ‘n hekelaar? Wat beteken hekel vir jou persoonlik?
    Ek woon in Johannesburg en werk in Inligtingstelsels. Ek het twee romans op my kerfstok: Sabina’s (onder die skrywersnaam Nadia de Wet) en Heildronk op ‘n Gypsyromp. Dit het onderskeidelik in 2008 en 2010 verskyn. Ek het vir lank nie geskryf nie omdat Inligtingstelsels my ingesluk het. Ek hekel self, maar sal my nie uitgee as ‘n voorslag nie! Ek geniet dit vreeslik en dit help my beslis om stres te ontlaai. Al die tellery help geweldig: mens kan mos nie tel en stres tegelyk nie.
  2. Vertel ons meer oor Hilda Steyn? Wat is haar spesifieke bydrae tot die boek? Wat is haar agtergrond?
    Hilda hekel en brei al vandat sy vier jaar oud is. Sy het in 2013 begin ontwerp en het ‘n groot aanhang. Haar Facebookgroep “Ilona’s slow living” is baie gewild en sy maak gebruik van vertalers en toetsers van regoor die wêreld. Sy het al die motiewe en patrone vir die boek ontwerp.
  3. Hoe het julle mekaar leer ken?

Toe ek en Marida Fitzpatrick van LAPA op die konsep van die boek besluit het, het Christelle Botha (van die “Ons Hekel Facebook-groep) voorgestel dat ek met Hilda gesels en ons samewerking het daar begin.

  1. Hoe lank is daar aan die boek gewerk?

Ons het middel-September 2018 begin: 6 maande dus. Die hekel self het lank gevat: patrone moes ontwerp word en toetsers moes hekel, toets en terugvoer gee.Nadia en Hilda.jpg

Hilda (links) en Nadia – foto deur Di O’Donovan

  1. Waar het julle al die stories opgespoor?

Ek ken ‘n hele paar vroue wat hekel en ek ken ook hul stories. Ek het geweet van die trauma wat hul moes hanteer, en steeds hanteer, en het gevra of ek hulle stories kan gebruik. Hilda ken baie hekelaars en sy het ook geweet wie sy kan kontak.

  1. Hoe het jy te werk gegaan? Onderhoude? Skype? Wyn? Was mense oor die algemeen gretig om hulle ervarings te deel?

Ek het onderhoude in persoon gevoer, ook oor Whatsapp video calls. ‘n Paar van die onderhoude het telefonies en e-pos geskied (veral as ek die vrou geken het.) Mense was almal bereid om hul stories te deel. Ek het gedink dit is baie dapper. Ons het wel skuilname gebruik waar dit nodig was.

  1. Was daar ‘n storie wat jou spesifiek aangegryp het?

Die stories is almal roerend, en ‘n hele klompie verskillende temas word aangespreek. Dis vir my dus moeilik om een uit te sonder. “Gemaak vir mekaar” het my aangegryp, die vrou en haar man is aangeval in ‘n kapingspoging en hy is geskiet. Sy het op die grond neergesak en na klippe gesoek om die aanvallers mee te gooi. Ek het die toneel voor my geestesoog gesien en dit sal my altyd bybly. Dit het my diep geraak, die feit dat die vrou van oor die 50-jaar oud op die grond kniel en na klippe soek om skote mee af te weer.

  1. Vertel bietjie meer oor al die medewerkers? Die fotograaf, die modelle, ens. Wie het al hierdie mense bymekaargebring?

Ek en Hilda het al hierdie mense self bymekaar gebring. Die jaarn in die boek is deur Hester Bester en Martine Ryder van die MoYa-jaarnwinkel (www.afriqueyarn.com) geborg. My vriendin Annemarie Ross-Viviers was die een model en Hilda, haar dogter en ‘n vriendin van hulle die ander. My vriendin Alma Kennedy het die fotograwe geken en hulle was van meet af aan vol entoesiasme vir die projek. Warm mense met groot harte, almal van hulle. Dit was ‘n stresvolle maar ongelooflik lekker projek om aan te werk.

  1. Wie het al die patrone ontwerp en gehekel? Het jy self al daarvan gehekel? Watter een is jou gunsteling?

Hilda het almal ontwerp en sy het ‘n span toetsers (ek dink daar was tien toetsers) het gehekel. Nee, ek het nie help hekel nie – ons sou nou nog vir die boek gewag het! My gunsteling is die sonneblomsjaal wat Hilda in die boek modelleer.

  1. Daar verskyn later in die jaar ook ‘n roman uit jou pen. Vertel asb. ‘n ietsie daaroor.

Ja! My roman, Die wolkversamelaars, verskyn op 15 Augustus. Ek sal nader aan die datum vir jou meer vertel as jy nie omgee nie. Al wat ek nou wil sê is dat ek al so lank met die boek in my kop rondloop en dat die laaste twee jaar aan twee ingrypende veranderings/redigering/herskryf spandeer is. Ek het reeds in 2007 met idees vir die boek begin speel en het op ‘n stadium ernstig gewonder of ek die boek ooit gaan skryf. Hierdie moontlikheid het my hartseer gemaak en ek het besluit dis nou of nooit, het my kop laat sak en hard gewerk. Ek het in hierdie week die omslag gekry; die droom is amper waar en ek is bitter opgewonde.

  1. Jy en ‘n paar vriendinne het ook onlangs ‘n unieke reisagentskap begin. Vertel ‘n bietjie meer, asb.

Ons reisagentskap, Luminance Travels, beoog om klein groepe vroue van ouer as 45 na verskeie bestemmings te neem. Die konsep van “independent female travel” is nie nuut nie, maar ek dink in Suid-Afrika is dit dalk. Ons glo dat vroue soms tog sonder hul mans of metgeselle wil reis en ons maak dit makliker binne hierdie klein groepe. Daar is ‘n mate van struktuur (ons het reisplanne maar jy is vry om af te wyk soos dit jou pas) en ook veiligheid. En saans eet ons almal saam en deel ons dag met die res van die groep. Ons gaan ook geen uitsonderings maak in terme van mans toelaat op die toere nie, ons voel dat mans die dinamika van ‘n groep gaan verander (net soos vroue die dinamika van ‘n “men only”-toergroep sal verander). Luminance Travels verpes bustoere en omhels kulture in ander lande. Ons eerste vier bestemmings is Amsterdam, Istanboel, Lissabon en Praag. Nog twee spesialiteitstoere word later hierdie jaar bekendgemaak.

  1. Jou kortverhale verskyn ook gereeld in tydskrifte. Watter genre verkies jy? Waar kry jy jou inspirasie?

Ek verkies romans. Oor inspirasie kan ‘n mens lank praat maar daar gaan baie aan in ons onderbewussyn. Alles wat ons al gelees, gehoor, gevoel en gesien het word gebêre en kom soms na die oppervlak wanneer ons dit nie verwag nie – en wanneer ons dit nodig het!

  1. Waar kry jy die energie vir al hierdie ondernemings?

Ek wonder partykeer self. Die feit dat ek met goed besig is waarvan ek hou help. Ook die feit dat ek nie ‘n televisie het nie! (Die enigste reeks wat ek die laaste ruk gekyk het was Game of Thrones.) Ek lees, skryf en doen navorsing vir Luminance Travels. Dis heerlik. O, en ek hekel.

Advertisements
 

Sleutelwoordw: , , , , , , , ,

Depressie: Is oorwinning vir almal moontlik?

bHulle sê mos mens kan jou vriende kies, maar nie jou familie nie. Hulle moet jy maar aanvaar en die beste van die saak maak. As jy gelukkig is, kan hulle ook jou vriende wees. Indien nie, kan jy óf die bande verbreek en jou lewe lank skuldig voel (en baie goeie dinge misloop), óf jou mense aanvaar soos hulle is en leer liefkry soos hulle is.
Depressie is vir party van ons soos daardie spreekwoordelike broer in die tronk. Niemand kies dit nie. Maar ontslae raak? Nie so maklik nie.

Natuurlik is daar die gelukkiges wat depressief raak, die regte medikasie kry en siedaar – binne ‘n paar maande is alles weer reg en die monster vir ewig oorwin. Vir baie  mense het depressie egter ‘n lewenswyse geword.

Nou het jy – soos met alles in die lewe – verskeie keuses. Dra jy dit alleen of deel jy dit met spesiale mense? Aanvaar jy dit, drink jou pille en gaan voort met jou lewe, so goed soos jy kan? En as dit sleg gaan, vat jy dit maar en hoop vir beter dae vorentoe? Bly jy in ontkenning en elke dan en wan los jy weer die pille – en beland mettertyd weer in die put? Of bly veg jy daarteen? Is jy hatig en woedend oor jou lot? Word jy ‘n onaangename mens? (Dis hoeka nie moeilik om onaangenaam te wees as jy depressief voel nie.) Of omarm jy jou ellende, word jy ‘n smartvraat wat tydig en ontydig vir almal vertel hoe ellendig jou lewe is? Probeer jy jou lot blymoedig dra en steek vir almal weg hoe swaar jy eintlik kry?

Êrens tussen hierdie uiterstes lê die opsie wat vir my die sinvolste is. Hierdie opsie het twee elemente wat na teenoorgesteldes kan lyk: aanvaarding en aanval (LW. aanval en nie verdediging nie.)

Aanvaarding hoef definitief nie oorgawe te wees nie. Nee, gaan lê gaan ons nie. Aanvaarding kan bloot ‘n verstandsbesluit behels dat hierdie ding waarskynlik nie uit sy eie gaan weggaan nie en dat skop en skree nie gaan help nie. Hieruit vloei voort dat jy kan aanvaar, maar aanhou veg. En dan kan jy begin slim veg. Geen krisisbestuur meer nie, nie net vure doodslaan wanneer dit sleg gaan nie. Nie blote verdediging nie, maar aanval. Nou kan jy planne begin maak, jou strategie vir die aanval uitwerk. En as jy jou strategie verfyn volgens jou eie behoeftes en getrou daarby hou, kan jy voluit en vredig leef ten spyte van depressie.

Bitter min van ons in die greep van ware depressie (nie net ‘n blou of selfs swart bui nie), is egter tot aanval in staat. Hieruit vloei voort dat ons moet veg solank dit goed (of relatief goed)  met ons gaan. Ja, ek weet, mens is geneig om wanneer dit goed gaan, maar net dankbaar jou lewe te lei en te (probeer) vergeet van depressie. Dis egter juis dan dat hy jou so maklik weer ongemerk bekruip en voor jy jou kom kry, is jy weer terug in die gat.

Ek reken die kuns is dus om te probeer proaktief wees wanneer die oukei gaan. Vir elke persoon sal dit ‘n unieke reis wees. Ons is individue met verskillende swak- en sterkpunte, verskillende behoeftes. Dikwels weet ons nie eens wat hulle is nie. Depressie kan die begin wees van ‘n reis na selfontdekking, want sonder kennis oor jouself kan jy nie doeltreffend veg nie.

Gaan dit vandag oukei? Komaan, dan is dit die kans vir planne maak. Wat kan jy doen om daardie afwaartse skuif te voorkom? Die pille wat jy so graag wil los, dalk maar aanhou drink? Dalk maar aanhou gaan na die duur terapeut? Gesonder eet? Begin stap? Werk aan jou tydsbestuur en streshantering? Of iets heeltemal anders wat vir jou van toepassing is?

Gaan dit op die oomblik maar sleg? Dan is dit die tyd vir krisisbestuur, vir verdediging. Medikasie, terapie en oefening, die towerkombinasie. En sodra jy jou kop kan lig, begin jy aan die aanval beplan.

Nee, aanvaar beteken nie oorgee nie. Aanvaar beteken inderdaad om jou vyand te leer ken en jou planne reg te kry. En dan uit te voer.

 

 

 

Sleutelwoordw: , , , ,

Die waarde van ‘n drukkie

Drukkie bewegend.gifEk het – soos seker baie van my tydgenote – nie met drukkies grootgeword nie. Nog minder met openlike verklarings van liefde tussen familie of vriende. Maar wel met die soen-op-die-mond-gewoonte. Nogal ʼn vreemde teenstelling, as mens mooi daaroor dink.

Vandag werk dinge natuurlik meestal andersom. Mondsoene word in my kringe deesdae vir die geliefde gereserveer, of dalk vir ouer familie wat nog in die gewoonte is en dalk kan aanstoot neem as dinge nou skielik verander. Eintlik is dit so ʼn intieme handeling dat ek my amper nie ʼn tyd kan voorstel toe dit algemeen was tussen al wat leef en beef nie. Dink net aan die kieme … J Om nie eens van die snorre en baarde te praat nie. Mens hoef maar net bietjie rond te vra en jy hoor vele stories van kinders wat (vir hulle) grillerige ooms of tantes moes soen. Persoonlik het ek ‘n paar storietjies wat ek dalk nie hier moet deel nie. J Die meeste van hulle behels ‘n skaam dogtertjie en volwasse manlike familielede – of selfs ‘n skaam Read the rest of this entry »

 

Sleutelwoordw: , , ,

‘n Tyd vir besluite … of nie

Blink idee gloeilampOns is so dikwels geneig om te reken ALLES is verkeerd wanneer EEN aspek van ons lewe buite beheer geraak het. Ek druip ‘n toets – en my hele toekoms in die arbeidsmark is befoeter. Ek baklei met my man oor ‘n nietigheid – en die huwelik is op die rotse. Ek tel ‘n halwe kilo op – en ek rol straataf.

Bogenoemde is natuurlik tipiese voorbeelde van die alles-of-niks-denke en rampspoedskepping waaroor ons al so dikwels gepraat het. Ons maak van een insident of probleem ‘n permanente saak, ‘n magtige berg van ‘n kleine molshoop. Ons maak van ‘n kraan wat drup ‘n golf wat aangerol kom. Sit jy met ‘n veld vol molshope en verskeie druppende krane (of dalk is jyself die druppende kraan van Spreuke!), sit jy gou-gou met ‘n ganse bergreeks en ‘n verwoestende tsoenami. En ‘n goeie teelaarde vir depressie. Read the rest of this entry »

 

Sleutelwoordw: , , , ,

Bekommernis

15-ways-live-exist_zpsd1421eb2My liefste ou moeder was die bekommerdste mens wat ek ooit geken het. Dankbaarheid en positiewe denke het nie vir haar vanself gekom nie. Veral as ontevrede tiener het dit ‘n negatiewe invloed op my gehad. Ek het skuldig gevoel, asof ek nooit goed genoeg was nie, asof niks wat ek doen of nie doen nie, haar regtig tevrede kon stel nie.

Natuurlik verstaan ek vandag beter. Haar kinders en klein- en skoonkinders was haar alles. Sy het niks meer gevrees as dat een van ons iets kon oorkom nie. Vandag verstaan ek daardie gevoel van wéét die seerkry lê iewers vir jou en wag, jy weet net nie wanneer hy gaan toeslaan nie. Vandag ken ek self die magtelose liefde van ‘n ma en die verskriklike begeerte om jou mense te beskerm teen die lewe se ellendes. En die seker wete dat jy dit nie kan doen nie. Read the rest of this entry »

 

Sleutelwoordw: , , , , ,

Tyd vir AKSIE!

Creating yourselfDis baie menslik om soms te wéét ʼn (onaangename) ding moet gedoen word, maar eenvoudig nie so ver te kom nie.

Veral wanneer ʼn mens weet jy moet uit ʼn afbrekende situasie beweeg, maar dit gaan nie sonder pyn geskied nie. Dit kan ʼn verhouding, selfs ʼn huwelik, ʼn werksituasie of ʼn vriendskap wees wat jou afbreek en nie vir jou menswees goed is nie. Dit kan ook iets wees soos om minder sjokolade en meer groente te eet, om te begin oefen, om op te hou rook of drink.

Dit verg dapperheid om van hierdie soort situasie werk te maak en ʼn mens het geen waarborg dat alles ten goede sal uitwerk nie.
Dit lyk vir my na die soort ding wat mens alte maklik by Read the rest of this entry »

 

Sleutelwoordw: , , , , ,

‘n Drukkie ‘n dag?

Drukkie bewegendEk het – soos seker baie van my tydgenote – nie met drukkies grootgeword nie. Nog minder met openlike verklarings van liefde tussen familie of vriende. Maar wel met die soen-op-die-mond-gewoonte. Nogal ʼn vreemde teenstelling, as mens mooi daaroor dink.

Vandag werk dinge natuurlik meestal andersom. Mondsoene word in my kringe deesdae vir die geliefde gereserveer, of dalk vir ouer familie wat nog in die gewoonte is en dalk kan aanstoot neem as dinge nou skielik verander. Eintlik is dit so ʼn intieme handeling dat ek my amper nie ʼn tyd kan voorstel toe dit algemeen was tussen al wat leef en beef nie. Dink net aan die kieme … Om nie eens van die snorre en Read the rest of this entry »

 

Sleutelwoordw: , , , , , ,