Soms gee die lewe ʼn mens die gevoel dat jy voortdurend met ʼn balanseertoertjie op ʼn baie skerp mespunt besig is.
Tree jy agteruit, dan tuimel jy die dieptes van die verlede in.
Is jy te haastig om in die toekoms te kom, foeter jy vooroor in die donkerte van bekommernis in.
Nee, op die mespunt moet ons bly.
Natuurlik is dit flippen maklik om daar af te gly. En meestal is óf die toekoms óf die verlede óf ʼn kombinasie van die twee betrokke.
Jy laat vrees vir wat vorentoe wag in ʼn onbewaakte oomblik toe om jou te verlam.
Jy ploeter net ʼn klein rukkie in die foute van die verlede rond en meteens is hulle opnuut oorweldigend en steeds onherstelbaar en verby.
Asof dit nie genoeg is nie, verbrou jy sommer ʼn hele dag se werklikheid ook.
ʼn Handvol negatiewe gedagtes, en siedaar, die hele lewe is meteens pikgitdonker. As daar dalk ʼn liggie in die tonnel skyn, is dit sekerlik ʼn trein wat aankom om jou plat te trap.
ʼn Paar maaltye van hoofsaaklik koolhidrate, en daardie bekende lam wintergevoel kom lê soos ʼn kombers oor jou. Jy is net vir een ding lus: sjokolade. Of drank, hang net af wat jou spesifieke swakplek is.
Een oefensessie agterweë gelaat en die lamheid is nou deur jou hele lyf. Hopeloos is jy. En dik en onfiks. Met nie ʼn greintjie deursettingsvermoë nie.
Een sessie van jouself met andere vergelyk en jou eie vermoëns afkraak, en jy is die grootste loser van alle tye. Niks wat jy al ooit gedoen het, is die moeite werd nie.
ʼn Paar uur van niks doen verander alte maklik in dae of weke se niksdoen. En gou-gou glo jy in elk geval daar is niks wat jy regtig KAN doen nie.
Maar genadiglik kom die son elke oggend weer op. Onkeerbaar.
Ons hoef nie eens in hierdie donkerte vir môreoggend se son te wag nie. Ons kan sommer nou dadelik ons eie dagbreek laat gebeur. Ons kan selfs leer om die donker te keer voor dit oor ons toesak.
Die towerwoorde (of liewer die verwensings van die denkbeeldige bose fee) by die voorbeelde wat ek hierbo genoem het, is rampspoedskepping en alles-of-niks-denke.
Vir ingeval jy vergeet het, herhaal ek gou-gou: Rampspoedskepping is wanneer jy jou verbeelding tot jou eie nadeel inspan en die ellendes van die toekoms alreeds in jou kop haarfyn uitwerk en voor jou geestesoog sien gebeur. Ja, ek het ook al my man se begrafnisdiens haarfyn beplan terwyl hy op die langpad is. Ja, ek het ook al gesien hoe ek dik en eensaam sterf as ek net een verbode stuk wortelkoek weggesit het.
‘n Yslike stopteken, dis wat help vir hierdie gedagtes. Mens kan leer om hulle te herken en dan doelbewus te stop. Dit help om daardie aaklige gedagtes met iets moois te vervang. ‘n Lekker familiekuier in die plek van die begrafnis, meer realistiese gedagtes oor die invloed van een oortreding met die etery.
Alles-of-niks-denke is wanneer jy aanvaar ‘n spesifieke slegte ding gaan vir altyd aanhou, een swak besluit gaan jou hele lewe verwoes. Een swak toetspunt – en jy dop die hele kursus en kry nooit ‘n ordentlike werk nie. Een stukkie wortelkoek – en jy is ‘n pateet sonder enige deursettingsvermoë of selfbeheersing.
Ja, mens verloor soms (dikwels) jou balans en tuimel van die mespunt af. Maar gelukkig kan jy altyd weer terugklim. En naderhad kan jy leer om minder gereeld af te val, veral deur die twee onheile hierbo uit jou lewe te weer soos ons vlooie uit ons bed en gif uit ons kos weer.
Jy het dit uitstekend verwoord! Ek ken daardie lam wintergevoel wat mens so kan bekruip
En dit help mos as mens weet jy’s nie die enigste een wat iets ervaar nie.
Daardie verlammende vrees!!! Ek ken hom, ek ken hom – maar ek ‘like’
hom nie.
Amen. 🙂
Niemand het gesê dit gaan maklik wees nie. Wat nogals vir my erg is, as ek iemand probeer help (uit dure ondervinding), die persoon jou aankyk en sê: “Dis maklik om te praat.”…
Ja, ons ken daai gevoelens. Almal van hulle. Dankie tog dat daar stoptekens is wat ‘n mens kan insit.