RSS

Skelmspuiter – ‘n droogtestorie

06 Nov

flowers-1476210_960_720Ek onthou Skelmspuiter was die eerste storie wat ek na my ma se dood kon voltooi. En dat die term uit ʼn artikel in By gekom het. Dit was die tweede tyd van waterbeperkings wat ons hier beleef het. My eie klippiestuin het ook in daardie tyd vorm aangeneem. Dit het in die Huisgenoot van 26 Mei 2005 verskyn.
Daardie tyd se droogte was ‘n vulletjie teen wat ons nou beleef. Ek hoop die skelmspuiters besef dit ook.

JANUARIE:

Die mooiste Kaap steier onder die kwaaiste droogte in jare.

Onbetrokke bure leer mekaar  in sonverskroeide tuine ken, tuinslang of gieter in die hand. Op donker kriekdeurdrenkte aande vry tieners lustig onder die voorwendsel van tuin natgooi.

In luukse wonings sukkel geuniformde huishulpe steunend met emmers uitspoelwater vir die madam se tropiese tuin. In minder luukse wonings loop menige huisvrou knaend met rugpyn van emmers water uit die stort aandra vir ‘n ou kleurtjie in die tuin. In die handvaardiges se agterplase verrys wonderbaarlike kontrepsies om elke druppel gryswater te benut.

Die mense van die Kaap murmureer soos die Israeliete van ouds; hulle is nie hierdie soort swaarkry gewoond nie. Ander soorte ellendes ken hulle maar te goed – wind en mis en besoedeling en armoede en misdaad – maar nie droogte nie.

En, soos die armes, sal die skelmspuiters ook altyd met ons wees.

Die hitte lê soos ‘n kombers oor die stad, dig en versmorend. Meyer de Vries lê en sweet slapeloos op sy nuwe enkelbed in sy nuwe meenthuis, ontuis en alleen. Selfs die krieke skree hier anders, vroliker as wat hy uit kuiers in sy kinderdae onthou. Hulle floreer seker vanjaar; so ‘n somer het die Kaap blykbaar nog selde beleef.

Hoe lank leef ‘n kriek, wonder hy verveeld, hoe ver strek die kriekgeslag se kollektiewe geheue? En wat van die arme paddas? Hy stel hom die lyding van duisende verdroogde paddatjies voor, ewig soekende na ‘n klam rusplekkie – velletjies verdor en verkrimp. Soos sy binneste.

Hy’t nog altyd las gehad van ‘n ooraktiewe verbeelding, dié dat hy Retha so geïrriteer het. Retha is ‘n vrou vir feite.

Sugtend van selfbejammering staan hy eindelik maar op, soek na sy sigarette, en gaan sit op die trappie voor sy agterdeur. Hy trek die rook met skuldige genot in sy longe op. Kastig gedink ophou rook sal deel uitmaak van hierdie nuwe begin. Nou klou hy aan sy kankerstokkies soos ‘n kleintjie aan sy fopspeen.

Hy dink aan Retha, aan die lekker en die sleg van hul klompie jare saam. Wat voel sy vanaand? Sekerlik verligting; sy’s eindelik ontslae van hom. In die maande ná die egskeiding kon hy maar nie wegbly nie. Dit was of hy die seer wou invryf, die verwerping weer en weer wou voel. Sy’t gesê hy is ‘n smartvraat. Sy was heel moontlik reg, soos gewoonlik.

Deur die kriekgesange heen raak hy geleidelik van ‘n ander geluid bewus. Veraf stadsverkeer? Word die Kaap dan ook nooit stil nie? Hy sit en staar in die donker in sonder om veel te kan sien. Maar hy weet wat daar is om te sien: geel, verdorde gras en vaal verlepte plante.

Net hierdie naweek sal hy die spulletjie moet pak. Meteens smag sy lyf na harde fisiese werk. Sommer alles uithaal? Dalk klippies gooi? Maar hy’t nie erg aan die formele geometriese patrone wat nou hoogmode is nie. Gedateerd – oor ‘n jaar of wat is dit ou nuus. Geleidelik gaan in sy kop ‘n prentjie oop van sy tuintjie met klippies bedek, met ‘n fokuspunt van ‘n paar mooi rotse. Nie kunsrotse vir hom nie, die ware jakob moet dit wees. En informeel tussenin, ‘n paar van sy gunsteling plante. Geharde goeters wat blomme dra, selfs in hierdie wrede somer. Die nuwerwetse grassies en biesies staan hom nie aan nie.

Hy was nog nooit ‘n kuddedier nie en hy gaan dit ook nie raak nie. Professionele dwarstrekker, het Retha dikwels gekla. Retha is ‘n kuddedier. ‘n Baie intelligente een, maar nog steeds ‘n meeloper, gou-gou agter elke modegier aan.

Eindelik breek herkenning deur in sy moeë harspan: dis water wat so loop! Dankbaar vir aksie lig hy hom van die trappie, beweeg luisterend oor sy halfdooie grasperkie. Die krieke om sy voete bly verontwaardig stil.

Regs van hom bly twee dierbare oumense wat alreeds kom groet het met koffie en tuisgebakte beskuit kompleet. Met die aflaaiery van sy trek vandag het hy kort-kort een van hulle sien verskyn met ‘n emmertjie waarmee gunsteling goedjies in die voortuin gelawe word. Seker ook maar om te sien hoe lyk die nuwe buurman se huisgoed. Kennelik word die watertjies sorgsaam gevang onder die stort, of by die wasmasjien of wasbak.

Helder sien hy nou sy ma se hande, baie jare gelede, besig om die skottelgoed in die emaljeskotteltjie te was, en dan word die watertjies by die agterdeur uitgeskiet op die stukkie gras wat sy deur baie droogtes heen aan die lewe gehou het. In die Karoo is droogte so deel van jou soos jou eie hartklop.

Die geluid kom van links. Iemand lei skelm water. Hy sluip met onheilige genot tot by die heining. Danksy sy lengte kan hy maklik oorloer. Nie dat hy veel kan sien nie, dis donkermaan en die straatligte kom nie hier agter by nie. Maar wat hy kan sien, is genoeg. Silhoëtte van baie plante, breë wiegende blare. ‘n Welige tropiese tuin wat deur ‘n dowwe figuur natgelei word in die middernagtelike ure.

Hy het ‘n skelmspuiter as buurman. Hy wat met droogte grootgeword het en van kleinsaf elke druppel driemaal omdraai, hy word nou gestraf met ‘n siel wat die waarde van water nie ken nie hier reg op sy drumpel.

Sy lyf en sy kop wil bars van frustrasie ná die pynlike laaste totsiens en die eensame tog van Gauteng af, die eensame aankoms hier vir ‘n nuwe lewe waaaraan hy g’n erg het nie. Hier is nou ‘n uitlaatklep. Hy rig homself op tot sy volle lengte en roep met sy welluidende onderwyserstem in die donkerte in: “Het u spesiale toestemming om snags u tuin so lekker nat te lei?”

Hy verlekker hom in die verskrikte geritsel en ‘n vrouestem wat gedemp swets. Nogal ‘n damesdief, nè. ‘n Dame met ‘n woordeskat. Hy draai tevrede om, sluit sy deur en gaan klim in die bed. Hy het nog ‘n sweempie skop in hom oor. Miskien is daar tog iewers ‘n lewe na Retha. Die slaap kom gou, al het die alleenheid maar weer saam met hom in die katel kom klim.

Douvoordag word hy wreed gewek deur ‘n onaardse lawaai. Hy staar slaapbeneweld deur sy gordynlose venster na die slanke figuur in swart leer op die yslike motorfiets. Dit knal en dit brul, reg voor sy deur, met duidelike genot, en raak toe met ‘n spoed weg in die vroegoggendskemer.

‘n Skelmspuiter met ‘n ysterperd, sowaar. ‘n Skelmspuiter wat haar mes in het vir hom.

 

‘n Mens kan sy paar stukkies meubels ook net op soveel maniere rondskuif. Na ‘n paar dae se rondsit bel hy sy kontaknommer met die skool, blykbaar die adjunk-hoof. Toe hy hier was vir die onderhoud was dié met verlof. Hy’t nooit gevra waarvoor nie, ook nie rêrig belang gestel nie. Hoe hulle so ‘n belangelose mens soos hy kon aanstel, sal hy nie weet nie. Dalk was sy pose briljant. Retha het altyd gekla hy wys nie sy gevoelens nie.

‘n Beskaafde vrouestem gee antwoord. Toe hy na Meneer de Koker vra, vertel die lang oomblikke stilte hom hy’t nou sommer met die intrapslag skeefgetrap. Nee, hier woon nie ‘n Meneer de Koker nie. In verband waarmee soek hy die persoon? Adjunk-hoof? O, sý is die adjunk-hoof van die plaaslike hoërskool, waarmee kan sy help? Die nuwe hoof? Wat ‘n aangename verrassing! Natuurlik kan hy die sleutels kry, altyd ‘n goeie plan om vroegtydig paraat te wees. Kan hy haar môre by die skool ontmoet? Gou-gou kant en klaar gereël.

Sy hart kry sy lê onder in sy skoene. Klink na ‘n vrou wat gewoond is bevele uitdeel. Sekerlik gebril en gebolla en haat al wat man is. Dan behoort hulle goed reg te kom; in ‘n verhouding gaan hy hom nie weer begewe nie.

Hy skud sy kop toe hy die foon neersit. Kan jy dit glo – hy is sowaar verontwaardig oor sy adjunk ‘n vrou is. En hy dag nog altyd hy’s oopkop en verlig. Wat is daar nog in homself waarvan hy nie weet nie, wat Retha dalk tot raserny gedryf het?

Hy sit en bak al hoe lank in sy kar voor die skool toe die motorfiets met ‘n vaart om die hoek kom. Hy dag hy sien gesigte. Verslae kyk hy hoe sy ‘n lang been oor die fiets terugswaai, die helmet afhaal en die blonde bos hare uitskud soos ‘n hond na ‘n lekker swem. Sy kom met lang selfversekerde treë na hom toe aan, steek ‘n hartlike hand deur sy oop venster.

“Meneer de Vries? Sekerlik vries ons nie vanjaar in die Kaap nie, né? Kom binne, gelukkig het jou kantoor heerlike lugreëling, tot die argwaan van die ganse personeel.” Sy’s nie meer ‘n kind nie, daar is fyn lyntjies om die skerp blou oë. Maar sy het ‘n lýf aan haar.

Soos ‘n skaap ter slagting loop hy agter haar aan. “Mý naam is vanjaar baie meer toepaslik, of hoe?” lag sy nog ewe oor haar skouer.

Saam met ‘n motorfietsmaniak wat snags water steel moet hy nou ‘n skool bestuur, bid jou aan. Meneer de Vries en Mejuffrou de Koker, dink net wat kan ‘n hoërskoolleerder daarvan maak. Hy sal die bespotting van hierdie skool wees.

Jy’s te ernstig, Meyer, hoor hy Retha se stem, kry ‘n lewe, lag ‘n slag. Hy sukkel om vir homself te lag, hy weet dit.

Hier gaan hy bars vanjaar.

 

FEBRUARIE:

“Meyer, ek dink ons moet vanmiddag se sport afstel.” Die blonde mopkop loer om sy kantoordeur, helmet swaaiend in die regterhand.

Hy het pas besluit dis die wyse ding om te doen, maar één kyk in sy adjunk se fletsblou oë, en die duiwel sit vierkant op sy skouer. En dié is van toeka af mos maar ‘n aweregse ou siel. Dus: “Juffrou de Koker, vandag se kinders is opgepiep en gemaksugtig. Ek sal afkondig hulle moet hul hoede en waterbottels en sonskerm onthou. Maar die sport afstel – heeltemal onnodig.” sê Meyer gehoorsaam op Lucifer se bevel.

Sy’s dadelik op haar perdjie: “Jy sit hier in jou lugverkoelde ivoortoring, jy weet nie wat gaan buite aan nie. Kom voel ‘n bietjie hoe voel dit op die sportveld, jy’s hoeka so wit soos ‘n spook.” En karba! slaan sy die deur toe.

Hy laat sak sy kop in sy hande. Die skool is skaars ‘n maand aan die gang en hy is lewensmoeg. Sy trek Kaap toe was ‘n flater, die hoofskap ‘n fiasko. Sy longe is voos gerook, sy tuintjie is verdor soos sy lewe; van al sy mooi plannetjies het niks gekom nie.

Sy waterstelende, motorfietsryende buurvrou verpes sy lewe tuis en by die skool. En wanneer hy op sy kwaadste vir haar is, sien hy daardie bene raak. Hy was nog altyd ‘n man vir bene. En bene hét sy – die goed eindig net eenvoudig nie.

Dae later slaan hy nog vure dood, figuurlik darem, terwyl letterlike vure oral in die droë Skiereiland verwoesting saai. Natuurlik moes die moeilikste mamma in die hele skool se bedorwe bloedjie gaan staan en flou word in die nette.

Dit sal hom leer om sy duiwels op hok te hou.

 

MAART:

Die Kaap se fleur is af. Malse groen wêreld wat nie droogte gewoond is nie, soos ‘n bedorwe vrou wat nie swaarkry kan vat nie.

Die dae krimp gehoorsaam na die eis van die seisoen, maar bly windstil en wolkloos en warm. Kapenaars smag na die reëndraende Noordwester. Die natuur hou asem op. Dis of sy lewe ook die pas markeer, wag op iets. Maar wat?

Paasnaweek breek aan. Hy is stoksielalleen; hy het geen werklike vriende gemaak die afgelope kwartaal nie. Retha se stem bly hom treiter in sy drome: Meyer, jy is te rigied, Meyer, jy moet vir jouself leer lag, Meyer dit, Meyer dat.

Op Goeie Vrydagoggend sit en rook hy weer eens op sy stoeptrappie en staar selfbejammerend oor sy asvaal stukkie tuin. Hy’t nie eens die kwartaal gebodder met natmaak nie, die blonde merrie langsaan gebruik in elk geval genoeg water vir die hele buurt. Hoeveel keer het hy haar al aangespreek? Dan wip sy haar en maak ‘n omkeer dat jy net hare sien waai, met ‘n slim antwoord oor die skouer. Steur haar nie aan hom nie, by die skool ewe min as tuis.

Daar begin die gebrul alweer. Sy’t vannag watter tyd ingekom. Seker op pad na ‘n saamtrek van die Hell’s Angels of iets, plaas dat sy haar sondige skrede na die kerk toe wend.

Hy sit nog netso en mopper toe sy na ‘n uur of wat teruggebrul kom. Sy kom en gaan op die raarste tye, hy kan sweer sy tempteer hom moedswillig. Die deurklokkie vang hom onverhoeds, dis seker al tienuur en hier sit hy nog ongekam en ongeskeer in sy rugbybroekie rond.

Dis sy. Melienke de Koker. Verspotte naam. Onvanpas by haar doodgewone boerevan, soos haar gedrag nie pas by haar verantwoordelike pos aan ‘n bekende hoërskool nie.

Die helmet swaai in die regterhand, sy skud die blonde boskaas uit met die bekende uitdagende gebaar. Sy hou ‘n keurige pakkie met Paasbolletjies na hom toe uit: “Hier, ek sien die Paashaas het vir jou ietsie voor jou deur gelos.” Die Paashaas kan net die dierbare tannie van langsaan wees. Hy wens die buurvrou aan die ander kant wil ook ‘n slag dierbaar wees.

Onverwags word sy wens bewaarheid – vanoggend is sy die dierbaarheid vanself: “Is jy alleen die naweek? Kom drink iets by my. Lekker kerk gewees, is jy al tuis in ons gemeente?” Alles in een asem, gee hom g’n kans vir ‘n antwoord nie.

Hy’t nog nie vanjaar sy voet in ‘n kerk gesit nie.

Hy vee verleë oor sy stoppelrige kennebak. Hy’t nie krag vir haar geselskap nie, maar waarlik ook nie vir sy eie nie.

“Ontspan, kom soos jy is, man.” En weg is sy. Hy drentel agterna. Was nog nie in haar plek nie, meteens is hy nuuskierig. Wat weet hy eintlik van haar? Netmooi niks.

Hy raak vinnig steeks toe hy die keurige tafel met eetgoedjies en mooi koppies sien. “Toemaar, hier kom nie nog mense nie, hierdie is sommer simbolies,” stel sy hom gerus.

Simbolies? Die vroumens is nie reg wys nie.

Sy staan oorkant hom met ‘n foto in die hand. Haar gesig is meteens ouer, die lag is weg uit die blou oë.

“Hier, my verloofde.” ‘n Aantreklike blonde man lag op na hom toe. “Ons was verlede jaar deel van die Paasnaweek-statistiek. Ek was gelukkig,” en sy lig die blonde bos hare van haar voorkop weg. Die litteken lê woedend en rooi net onder die haarlyn. Hoekom het niemand hom gesê nie?

Omdat jy nie gevra het nie, antwoord sy gewete.

Meteens verstaan hy van die waterstelery. “Dit was sy tuin?”

Sy knik: “Ons het dit saam-saam aangelê.”

“En jy het dit aan die lewe gehou ter wille van die herinnering?”

“Ja, maar dit het nie gewerk nie. Ek gaan nie meer water steel nie; die seuns gaan nou van die manne geskei word op hierdie lappie aarde. Wie wil vrek, moet nou maar vrek.”

Sy hand gaan vanself na haar toe uit. “Melienke, ek is verskriklik jammer ek het so aangegaan oor die water. Ek het regtig nie geweet nie.”

“Jy’t nie geweet nie, want ek het jou nie gesê nie.” Sy’s lank, sy kyk hom vierkant in die oë.

“En ek het nie gevra nie.”

“Maar nou weet jy.”

“Ja, nou weet ek.”

Hoeveel dinge is daar nog wat hy nie weet nie?

“Waarheen gaan jy saans en kom dan op die onaardigste tye terug?”

Sy streel liefderyk oor die saksofoon wat hy nou eers raaksien: “Ek speel in ‘n jazz-orkes – my gered van ondergang die afgelope jaar.” Sy lag vir hom; sweerlik sy bose gedagtes geraai.

Sien, as jy vra dan hoor jy; wonder en wroeg is puur verniet.

 

APRIL:

Die noordwestewind skuifel oor die stad, voel-voel met misvingers oor die moeë strate heen. ‘n Buitjie hier en daar bring verligting vir siel en liggaam, maar nog gans te min vir die dorstige menigtes.

Meyer de Vries begin spit in sy tuintjie. Hy pluk uit wat verdor en verdroog is, hy maak skoon vir die groot oorplant in die lente. Toe hy klaar is, pak hy Melienke se stukkie aarde en gooi die verloorders minagtend uit.

Sy irriteer hom nie meer nie; sy inspireer hom nou. Stadig word hulle ‘n gedugte span. Sy personeel spot goedig met De Vries en De Koker wat deesdae ‘n verenigde front vorm. Dis goedige spot, sonder enige venyn. Die liewe oumense van langsaan glimlag tevrede as hul die twee so saam-saam in die tuin sien spook.

Melienke de Koker word sy hartsvriendin. Tot op die dag van die kriek.

Hulle woel weer so saam-saam in haar tuintjie. Op wonderbaarlike wyse plaas die Voorsienigheid die gediertetjie op ‘n baie private plekkie op haar lyf. Melienke is ‘n vrou wat ‘n moeilike graad 12-klas met ‘n enkele kyk kan stilkyk, en ‘n motorfiets kan ry dat hy weet hy’s gery, maar toe die kriek tussen haar borste begin kriewel, toe gil sy.

Meyer de Vries is ‘n besadigde man wat lig loop vir die versoekings van die vlees. Maar toe sy haar hemp oor haar kop pluk, kýk hy en hy síén.

En ‘n vriendskap is daarmee heen.

 

MEI:

Dit sous behoorlik in die Kaap. Ou Tafelberg hurk sluimerend in haar wolkkombers. Helder strome blink soos vreugdetrane teen haar hange. Die Kapenaars swets hierdie winter halfhartig in die verkeersknope. Vanjaar is dit maar uithou en bekhou in die reën; hulle weet nou wat droogte is.

Die plakkersdorpe staan enkeldiep in die modder, die straatkinders skuil koulik in hul swartsakmanteltjies. Die Kaapse winter eis sy tol.

Maar lewegewende water pols weer deur die are van die Moederstad; haar hart klop sterk soos dié van ‘n bloedjong bruid.

En Meyer de Vries het leer motorfiets ry. En jazz luister. Onder andere.

Advertisements
 

Sleutelwoordw: , , , , ,

2 responses to “Skelmspuiter – ‘n droogtestorie

  1. seegogga

    06/11/2016 at 21:33

    ag pragtig.

     
  2. vvuureoc

    06/11/2016 at 21:58

    Goed gedoen

     

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: