Mens kan deesdae alte maklik die idee kry dit is nie meer moeilik om gay (of in een van die ander boksies waarin mense geplaas word) te wees nie. Daar word immers op baie plekke openlik daaroor gepraat. Die meeste van ons ken nou iemand wat buite die sogenaamde kas leef. Bekendes is openlik oor hulle oriëntasie. Ander bekendes neem standpunt daaroor in. (My geliefde Springsteen het vanjaar ‘n show gekanselleer in ‘n Amerikaanse staat wat anti-LGBT-wetgewing goedgekeur het.) Oor die algemeen is die houding teen mense wat “anders” is, tog meer verdraagsaam.
Maar ek kry die indruk mens kan steeds die moed onderskat wat dit kos om openlik oor hierdie sake te wees. Daar is steeds ongelooflik baie vooroordele en veroordeling. Mens hoef maar net te kyk na die relletjies wat gereeld oor hierdie sake op sosiale media opvlam. En die taal wat dikwels in daadie gesprekke gebruik word. Woorde word gebruik om seer te maak.
Toe ek met die skryf van Opdrag van oorkant bewus word dat my Willem-karakter eintlik gay is, het dit my aan die dink gesit. Willem was ‘n 50-plusser, ‘n getroude man met volwasse kinders. Hy het ‘n innerlike lewe gehad waarvan niemand geweet het nie. Hy het ‘n leuen gelewe.
Onvermydelik het ek oor sy vrou begin dink. Het sy regtig niks geweet of vermoed nie? Het sy gedink hulle huwelik is gelukkig? Hoe op aarde kan mens met iemand getroud wees en nie so-iets agterkom nie?
Hieruit het Sanet van Net ‘n mens ontstaan. Ek het lank gewroeg oor hoe om haar voor te stel. Op die ou end het sy ‘n baie gewone vrou geword, ‘n vrou wat onvervuld voel in haar huwelik, ‘n ma wie se nes pynlik leeg geword het, ‘n sagte vrou wat nie ‘n vegter is nie, ‘n vrou wat op vyftig soek na nuwe vervulling in haar lewe.
Hoe sou so iemand reageer as sy agterkom haar man is gay? Uit wat ek gehoor, gelees en vermoed het, het ek gevoel woede sal ‘n baie prominente emosie wees. Ek het probeer om Sanet se woede realisties voor te stel. Maar sy is die soort mens wat besef dit sal tot haar eie nadeel wees as sy by woede bly vassteek. Die boek het dus vir my Sanet se poging geword om op een of ander manier by haar woede verby te kyk en na empatie en selfs ‘n mate van begrip te beweeg. Ek het probeer om haar stryd realisties voor te stel en nie van haar of van Willem ‘n martelaar te maak nie. Op die ou end is sy gevul met ‘n groot hartseer vir die lewe wat haar man gelei het, ‘n lewe waarvan sy niks vermoed het nie. Sy is ook jaloers op die groepie mense wat geweet het van daardie lewe. Dit is hoekom die mense van Opdrag van oorkant weer in die storie moes inkom, want hulle was deel van Willem se storie.
Op die ou end het Willem nie kans gesien om openlik te raak oor sy oriëntasie nie. Mens kan dalk dink dis nie realisties in vandag se tyd nie. Maar ek het genoeg gesien en gehoor en gelees om te weet dit gebeur wel vandag nog. Dit kos steeds ongelooflike moed om uit te kom, veral as jy ‘n lang lewe volgens konvensies agter jou het.
Ek weet nie of ek die situasie regtig geloofwaardig voorgestel het nie. Ek was nog nooit in so ‘n situasie nie. Maar ek weet dat sulke situasies wel steeds bestaan. En ek is gevul met ‘n diep hartseer oor mense wat steeds deur die samelewing gedwing word om te probeer wees wat hulle nie regtig is nie.
Ek wou nie iets spesifieks met Net ‘n mens bereik nie. Dit was net ‘n situasie wat my aan die hart gegryp het en wat ek probeer verken het. Daardeur het ek tot ‘n beter begrip gekom van hoe moeilik dit steeds in ons sogenaamde “oop” samelewing is om “anders” te wees. En wat ‘n skaars ding empatie is. En hoe moeilik begrip en vergifnis is.
Mooi artikel. Volgens my moet alle Christene gay’s aanvaar. Net soos hulle ‘n persoon met Tattoo’s en ‘n alkolis moet aanvaar. Mense verskil of gays in die kerk moet kan trou. Op die oomblik is daar ‘n debat daaroor. Ek aanvaar gays maar meen dat hulle nie in die kerk moet trou nie. Jesus het gesterf vir almal. Die dief en die gay persoon en die egbreeker. Die kerk van daardie tyd het nie gehou van Jesus se “liberale” stellings nie. Daarom het Jesus nie lank geleef nie.Vandag is daar nog baie haat in die wereld. Baie moorde word gepleeg waar die skuldige nooit gevang word nie. Daarom is God daar, om die gelowiges in liefde te ontvang en die ander sal sy oordeel nie vryspring nie. God is liefdevol, maar ook regverdig. Hou vas daaraan.
ek dink daar is nog baie in die kas!
Dankie Alta! In die ou dae was hulle in die kas en ons het hulle verguis … so ag jaar gelede het my groot vriend en die dominee geaan die twee ouens skelm sonder dat die Ring of Sinode dit weet gaan trou! Vreeslik! Hy vra toe vir my om met ‘n gay bediening te begin. ‘n Ander wereld maak oop. Die seerkry, die pyn en ek het een groot ding geleer en vertel dit so ver ek kan, “Dominees en kerkrade hou tog net op om oor hulle te praat, praat met hulle!”
Jou karakterontwikkeling terwyl jy skryf is insigewend. Ek het gewonder of dit met ander ook gebeur?
Ek is bly jy vind dit sinvol, Fera. Ja, dit gebeur met heelwat mense.