Kortverhaal: Kosbare goedere

Kosbare goedereKosbare goedere het in Huisgenoot van 4 Desember 2008 verskyn. Ek begin let op hoe dikwels daar in my vroeë stories sprake was van deurdringende reën in die Boland … Die goeie ou dae! Die storie het begin by ietsie wat regtig in ons parkie gebeur het. En wat ek ongelukkig nie meer behoorlik kan onthou nie. 

Die meisie se gly en val en opstaan is één vloeiende beweging. Maar met die volgende pluk van die opgewonde hond aan die leiband glip haar voete in parmantige rooi steweltjies finaal onder haar uit. Sy beland op ‘n welgeronde agterstewe in die swart modder, verloor haar greep op die uitgelate hond en sê ‘n woord wat ek nooit uit so ‘n sedige mond sou verwag het nie.

Dit wys maar net wat kan tien dae se feitlik onafgebroke reën aan ‘n wetsgehoorsame landsburger doen. En as dít die effek is op die mens, wie kan dan die hondebevolking kwalik neem as hulle breekpunt bereik het?

Ek knip Bessie se leiband los dat hulle tog maar ‘n bietjie kan speel. Albei honde is in elk geval al betakel van die modder. Uit ondervinding weet ek ook in Bessie se klein lyfie is oorgenoeg energie om die groter, lomper hond se tong gou-gou op die grond te laat sleep.

Ek steek ‘n helpende hand na die blondine in die modder terwyl ek hard probeer om my lag te hou. “Kom, ek help jou,” sê ek met my mooiste glimlag.

Sy ignoreer my hand van vrede. “Ben!” roep sy kwaad. “Bén!!!” Maar Ben het vrede met haar.

Saam-saam kyk ons deur die siftende reën na die twee figure wat nou in ekstase oor die groen gras en die swart modder van die parkie spoed. Ben moet uithaal om voor te bly. Soos elke ander Jack Russell op die liewe aarde dink Bessie ook sy’s minstens drie keer haar werklike grootte en dat sy enigiets met vier pote en ‘n uithangtong maklik kan regsien. En dit terwyl die littekens van haar onlangse onderonsie met ‘n veel groter hond nog duidelik sigbaar is op haar gladde wit lyfie.

“Hoekom gaan stap jy met so ‘n yslike hond as jy hom nie kan beheer nie?” vra ek voor ek myself kan keer.

Die oë wat aan die blits gaan is ‘n heel besondere blouerige groen. “Ek wed jou jou brak gaan hom ook nie aan jou steur as jy hom nou roep nie.”

“Bessie is ‘n sy,” wys ek haar gesteurd tereg, “en sy’s g’n brak nie.”

“Whatever.”  Sy begin vasberade aanstap na die honde toe. Nie dat dit ‘n maklike taak is nie – die grond is nat en die honde is vinnig.

“Ben!” roep sy weer. Tamelik wanhopig.

Maar Ben hoor niks. Hy hoor waarskynlik net sy eie jagende asem. En miskien Bessie se vlymskerp tandjies wat klap kort agter hom. Nie dat hy vreesbevange is nie. O nee, hy geniet die hardlopery gate uit en hy weet hy kan die klein laspos met ‘n paar goed gemikte happe uitskakel as hy lus is.

Probleem is net, Bessie weet dit nie. In haar oormoedige klein verstandjie is sý die gevaarlike dierasie wat enigiets kan uitskakel uit enige resies of kompetisie.

Die pynlike herinnering aan my veeartsrekening laat my tot aksie oorgaan: “Bessie – kom!” roep ek met al die gesag wat ek kan monster, terwyl ek my vingers stilletjies kruis agter my rug.

Sy laat my nie in die steek nie. Sy steek dadelik vas, kyk vir ‘n paar oomblikke verskeurd heen en weer tussen my en haar nuwe speelmaat. Dan wen ek, soos ek gewoonlik wen. Want Bessie weet daar’s by my altyd tonne liefde en volop lekkernye.

Die mooi, kwaai meisie met die modder op haar sitvlak kyk verstom na my. “Hoe kry jy dit reg?”

“Baie geduld, baie oefening en genoeg lekkernye om dit vir haar die moeite werd te maak.”

“Ben!” roep sy weer, vasberade om nie by my af te steek nie.

Maar Ben het ander gedagtes. Toe Bessie die stuk insit na my toe, sien hy meteens die moontlikhede in die nuwe situasie – hý kan nou vir ‘n slaggie die jaagwerk doen, die tartende wit lyfie is vir ‘n verandering vóór hom.

Ek sien die gevaar net ‘n oomblik te laat. Toe Bessie naby my spoed verminder, gee dit die ou grote die kans om haar in te haal. En die pret het meteens vir hom erns geword. Voor ons verstomde oë kry hy vir Bessie beet en swaai haar soos ‘n stuk lap deur die lug.

“Ben! Ben!” gil die meisie nou histeries, totaal onkapabel geskrik. Ek sal maar weer eens die dappere moet wees.

Ek gryp ‘n paar keer mis na sy losswaaiende leiband, maar toe het ek die punt en ek plúk.

“Oppas! Hy gaan jou ook byt!” skree my droommeisie, nou behoorlik in trane.

Maar Ben weet wanneer hy sy moses teengekom het. Hy bedaar feitlik onmiddellik, kyk dan onskuldig na die bloeiende Bessie asof hy nie ‘n idee het wie dit aan haar gedoen het nie.

Die meisie pluk haar reënbaadjie uit en toe die sagte ligblou top wat sy daaronder aanhet.  Ek draai vir Bessie sonder omhaal daarin toe, sy verdien die beste.

“Ek is jammer, ek sal betaal, ek wil saamkom,” klappertand die mooie meisiekind hier langs my.

Ek dink vinnig, druk dan die bondeltjie in haar arms. As ek haar nou alleen los met arme Ben, doen sy hom dalk iets vreesliks aan. Wat net haar beheer oor hom nog verder sal verminder. Buitendien kan ‘n ekstra paar hande nou nuttig wees. En natuurlik is ek nie van plan om haar so maklik weer uit my lewe te laat verdwyn nie. “Goed, ek vat vir Ben. Kom!”

En daar trek ons teen ‘n indrukwekkende spoed, al glippende en glyende deur die modder, ek met ‘n stralende Ben aan die halsband en Bessie in haar luukse kombersie treurige tjankgeluidjies aan die maak.

Genadiglik is my huis net twee blokke ver. In die hardloop soontoe vind ek darem uit haar naam is Helene en sy bly net ‘n skamele blok verder.

Om te dink ons kon jare naby mekaar gebly het en mekaar nooit ontmoet het nie. Dankie, Ben! Dankie, Bessie!

 

ONS STOOM DIE VEEARTS SE spreekkamer uitasem binne. Die motorrit het heel rustig verloop. As jy nou Helene se gedempte snikke, Bessie se fyn tjankgeluidjies en Ben se hortende asem in my nek uitsluit, natuurlik.

“Ai, Bessie! Het jy alweer jou grootte oorskat?” lag die goedige mev. Verhoef agter die ontvangstoonbank. Ons is ou bekendes hier. Sy weet al die skade is gewoonlik nie te ernstig nie.  Soos vanoggend weer – die snoetjie wat by die bemorste babablou top uitloer, is alweer nuuskierig aan die rondsnuif.

“Hierdie keer was dit my fout,” gee ek ruiterlik toe. “Ek het te laat besef daar gaan moeilikheid kom met die spelery.”

“Dit was mý hond,” verweer Helene langs my. “Dis my dooilike hond wat in ‘n monster verander het!”

“Ben is nie ‘n monster nie. Hy is net nie behoorlik gesosialiseer en gedissiplineer nie, Helene.” Ben gaan my paspoort wees na hierdie mooie Helene wat my hart skoon op hol het.

“Dr. Venter is ‘n bietjie met verlof, maar die locum is ‘n baie oulike man. Hy sal haar sommer gou-gou opfix,” praat die ontvangsdame verder. “En juffrou, daar’s nie ‘n beter ou as Adriaan om jou hond ‘n bietjie reg te help nie.” Ek kan die vrou gerus soen. Sal haar beslis na die troue moet nooi!

“Mnr. Volschenk? Kom gerus binne.” Die aflosdokter staan in die spreekkamerdeur, veels te mooi om ‘n mansmens te wees. Om die een of ander rede staan my nekhare onmiddellik orent. En ek is darem self ook nie die lelikste mansmens wat nog die aarde bewandel het nie.

“Kom.” Helene het nog die bondeltjie in die arms.

Maar sy staan of sy geplant is. “Kom?” Ek vat haar mooi aan die arm. En skrik toe ek sien hoe wit haar gesig is. Sou dit vertraagde skok wees? Dink sy Bessie se dae is getel?

Die volgende oomblik druk sy die hond in my arms en gryp my motorsleutels uit my hand. “Ek gaan wag in die kar.”

Ek kyk van haar verdwynende rug na die doktertjie se mooi gesig, wat nou self ‘n bietjie blekerig lyk.

Hier is ‘n slang in die gras. En dis nie ‘n onskuldige ou huisslangetjie nie. Dis iets wat klaar sy gif versprei het.

 

TOE EK MET BESSIE TOEGEWERK en ingespuit terugkom by my motor, sit Helene en Ben in miserabele stilswye mekaar en ignoreer. Natuurlik het sy die tyd gebruik om met die arme brak te raas en hy het nie die vaagste benul waaroor dit gaan nie. En dis duidelik dat die mooi veeartsie se verskyning ook nie juis bygedra het tot haar stemming nie.

“So ja, so goed soos nuut!” Ek plak my hond weer op haar skoot neer. As Bessie haar hart aanraak, het Bessie se baas ‘n des te groter kans, redeneer ek.

“Wat het dit gekos? Ek wil betaal,” dring sy aan terwyl haar oë by my verby kyk, êrens by die motorvenster uit.

“Vergeet dit. Ek moes gouer gesien het Ben begin hom vererg, sy liggaamstaal beter gelees het. Ek kén honde – en ek ken veral vir Bessie.”

“Ek dring daarop aan.” Sy’t gehuil terwyl sy gewag het. En ek sweer dit was nie meer oor my hardekwas hondjie nie.

“Vergeet dit.” Ek kan ook lekker koppig wees as ek die dag lus is. “Vertel my liewer wat’s jou en die veeartsie se storie.” Ek glo nie aan ‘n gekarring al om die bos nie – as ek ‘n ding wil weet, vra ek hom.

En van hierdie meisie wil ek alles weet.

“Niks met jou te doen nie,” antwoord sy bot. Sy draai haar gesig weg, streel afwesig oor Bessie se kop. Van die agtersitplek probeer Ben sy slobberige bes om ook te deel in die gesellige toneeltjie. Sy attensies word nie verwelkom nie, om nou die minste daarvan te sê.

“Goed, goed.” Ek is nie ‘n ou wat my maklik laat afsit nie. “Sê my dan liewer hoekom hou jy so ‘n yslike hond aan as jy hom nie kan hanteer nie.”

Sy word nie weer so kwaad nie; dis of haar fut uit is nadat sy haar oë op die mooi doktertjie gelê het. “Vir beskerming.” Haar hande streel en streel oor my gelukkige brakkie se kop. Daar’s nie ringe aan die vingers nie. Mooi vingers, wat meteens merkbaar bewe.

“En voel jy veilig by hom?” Ek hou stil voor haar huis. Mooi plek, maar van hoek tot kant vol veiligheidshekke en tralies en dinge, erger nog as wat die norm in ons geteisterde land geword het.

“Nie regtig nie.” Sy maak Bessie versigtig lê by haar voete. Dié is glad nie meer so lus vir lê nie, begin alweer rondkyk in Ben se rigting. “Hy’s baie gevrek – ek sweer ‘n dief sal bo-oor hom moet val voor hy iets agterkom. En dan raak hy weer heeltemal ooropgewonde, soos vanoggend.”

Die meisie ken nie honde nie. En ek ken honde baie goed. Wat net in my guns kan tel.

“Klein hondjies is dikwels waaksamer en selfs aggressiewer as die ou grotes. Inbrekers word glo die beste deur klein hondjies afgeskrik, juis oor hulle so op en wakker is en hul mense so gou waarsku.”

“Dit kan ek nogal van Bessie glo.” Sy glimlag vir die eerste keer spontaan.  My hart slaan uitbundig bollemakiesie in my borskas.

“Ek sal jou graag help met Ben,” bied ek haastig aan. Ek soek ‘n aanknopingspunt, ek moet haar weer sien.

“Nee wat, ons sal regkom. Kom, Ben.”  En daar gaan sy met die onwillige Ben omkyk-omkyk aan die leiband.

 

WEKE LANK GAAN STAP EK tydig en ontydig met Bessie, skeep my kliënte se geld op die internet af, raak meer gefrustreerd by die dag. Maar van Helene en Ben is daar niks te sien nie. Minstens eenkeer per dag wandel ek en Bessie kastig ongeërg voor haar huis verby, maar alles lyk toe en dood, hoewel Ben op en af hardloop agter die heining en ‘n motor soms in die oprit staan.

Dis al lente toe ons mekaar eindelik weer raakloop in die parkie. Ek skrik toe ek vir Helene sien. Sy’s bleker as laas, sy’t gewig verloor. En sy’s glad nie lus vir gesels nie. Maar vandag gaan ek my van niks en niemand laat keer nie.

Ek vat Ben, wat haar alweer heerlik aan die rondsleep is, se leiband ferm uit haar hand. “As die hond voor jou stap, is hý die leier,” verduidelik ek, of sy nou wil weet of nie. “Maar jý wil die leier wees. Daarom stap hy lángs jou. Kyk – só. En jy beloon hom dadelik as hy iets reg doen.”

Ek vis ‘n lekkernytjie uit die spesiale sakkie wat al weke lank aan my gordel hang, vir ingeval ons hulle raakloop. Ben kan sy geluk skaars glo, hy lek my omtrent tot by die elmboog sopnat van dankbaarheid vir die klein ou stukkie droëwors.

Helene is darem beïndruk. Maar vasberade om dit nie te wys nie. “Voer jy die hond droëwors? Oor my dooie liggaam, ek kan dit nie eens vir myself bekostig nie.”

“Net baie klein stukkies, net vir die positiewe versterking. Nie vir eet tot hy vol is nie,” beduie ek. “Kom, vat jy vir Bessie. Ja, so, aan jou linkerkant, haar voorbene min of meer langs jou bene.”

Bessie, my liefste Bessie! Sy stap soos ‘n koningin langs Helene oor die groen gras tussen die geel blommetjies onder die blou lug. Terwyl ek spook met Ben wat nog droëwors wil hê, maar nog nie uitgewerk het wat hy moet doen om dit te kry nie. In die proses beland ons darem uiteindelik voor Helene se voordeur.

“Dankie,” sê sy en wil sommer wegdraai.

Maar ‘n wanhopige man het vinnige reflekse. “Wag, ek kom saam, dan oefen jy ‘n bietjie met Ben. Jy sal sien, hy sal nou-nou kliek wat hy moet doen.”

So vorder ek en Bessie uiteindelik deur verskeie veiligheidshekke tot in die agterplaas. Of liewer, wat oor is van die agterplaas. Want die klein ruimte dra duidelik die merke van ‘n gefrustreerde, verveelde jong hond. Van die grasperk is daar min oor, die gate is meer as die gelyktes. Verskeie duur hondespeelgoed lê verlore rond, ‘n vroueskoen het ook onder sy aanslag deurgeloop.

Helene staan stil langs my die verwoesting en aanskou. En meteens – o, wonderlike oomblik – draai sy na my en maak uiteindelik haar hart ‘n bietjie oop. Nou nog nie so oop soos ek dit graag wil hê nie, maar darem op ‘n skrefie. “Ek sal van Ben moet ontslae raak. Ek kan hom nie hanteer nie, ek skree die hele tyd op hom. En ek sweer hy sal ‘n inbreker met ope arms verwelkom as dié net vriendelik is met hom.”

“Toemaar, julle gaan gou regkom,” troos ek en oorhandig Ben aan haar. “Kyk, hou die leiband só. Nee, steek jou regterhand deur die lus.” Sy ruik na blomme en na vrou; my hart sit skoon op loop.

Ben werk nie saam om my die held van die dag te maak nie. Hy wil niks weet van mooi langs haar stap nie. Hy slurp die duur happies gulsig uit Helene se hand, maar bly terugbeur na my toe, terwyl Bessie ‘n woedende keel opsit oor sy droëbek moet sit en toekyk.

Na ‘n halfuur is ons almal stokflou en redelik moedeloos. Maar soos ek gesê het, ‘n wanhopige man is ‘n vindingryke man. Ek luister verstom na my eie stem: “Ek sê jou wat – ons ruil. Ek vat vir Ben en voed hom ‘n bietjie op vir jou. En Bessie bly solank by jou; sy’s geleer en sy’s klein en maklik om te hanteer.”

My hart, my arme hart! Bessie kom deur ‘n paar moeilike jare van huismoles en egskeiding en ‘n nuwe begin maak saam met my – ek staan haar aan niemand af nie.

Helene kyk my lank aan; ek wens ek kon weet wat sy dink. Toe sê sy: “Goed, as jy vir hom kans sien.” En toe die heel mooiste woorde: “Kom in, dan skink ek vir ons koeldrank.”

 

SO BEGIN ‘N TYD VAN AFWAGTING en versigtige vreugde vir my.  Ek gebruik al my kennis en ondervinding om ‘n droomhond van Ben te maak en raak in die proses vir hom amper so lief soos vir Helene. Helene wat mateloos beïndruk is met my afrigtingsvermoëns en met my op-en-wakker hondjie, maar steeds soos ‘n boek toeklap die oomblik as die gesprek net effentjies persoonlik raak.

Tot die dag toe ‘n vreemde motor agter hare in die oprit staan.  Instink laat my die klokkie ‘n tweede en toe ‘n derde keer druk.  Ontstelde stemme laat my die deurknop draai.  Ek skrik toe dit nie gesluit is nie – Helene is ‘n toegewyde sluiter van deure.

Dis my gelukkige dag – ek kry antwoorde op al my vrae terwyl ek en Ben verslae op die drumpel vassteek.

“Jy’t my weggesmyt! Jy’t vir my gegril!” huil Helene.

“Ek was net geskok, ontsteld …” keer die mooi veeartsie rooi in die gesig.

“En ek? Hoe dink jy het ek gevoel?”  Haar oë het ‘n wilde kyk, sy’s op die rand van histerie. “Ek het jou nodig gehad!  En jy kon jouself nie so ver bring om aan my te raak nie!”

“Dis verby, Helene, ons kan weer begin … Hier is jou ring – vat dit terug, asseblief!”

“Dis nie verby nie, Marius!  Verkragting gaan nóóit verby nie … Ek sal nooit weer presies dieselfde mens wees nie, selfs al word die vrees later minder.”

Die felheid waarmee haar pyn my raak, laat my besef ek’s lankal by verlief verby – ek het haar stil-stil regtig liefgekry.  Lief genoeg om saam met haar deur hierdie vreeslike ding te probeer werk.

Maar nou is dit eers tyd om die situasie te ontlont.  En wat is nou beter as ‘n yslike jong hond met ‘n oormaat van energie en entoesiasme?

Ben vang hulle heeltemal onverhoeds. Hy spring die veeartsie dat hy steier en werp hom daarna met oorgawe op Helene. Sy skel en skrik nie. Nee, sy gryp hom krampagtig vas en kyk met dankbare oë op na my.

Ek hou die voordeur woordeloos oop. Marius kyk lank na Helene, lank na my. Toe stap hy stil uit.

“Ek’s beskadigde goedere,” sê Helene oor Ben se kop.

“Nee, jy’s kosbare goedere,” sê ek en trek die voordeur agter Marius op knip.

 

 

 

 

 

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s