Baie van ons wonder hoe dit voel om ’n tweede kans te kry.
Anneleen Gericke beland in ’n ernstige motorongeluk. Toe sy bykom met ’n gekneusde en geswelde brein, het sy geheueverlies. Sy kry haar tweede kans, maar dit is hoegenaamd nie maklik nie. Die laaste vier en twintig jaar van haar lewe is gewoon weg.
Kort ná haar matriekafskeid, vier en twintig jaar gelede, was sy en vier ander ook in ’n gruwelike ongeluk betrokke.
Sy onthou alles van wat gebeur het tot voor daardie ongeluk.
Nou, ná die tweede ongeluk begin sy uitvra. Haar beste vriendin van destyds is dood. Sy hoor dit nou asof vir die eerste keer. Een van haar vriende is ’n parapleeg. ’n Tweede vriend het gewoon gevlug. Daardie aand, kort voor die ongeluk, het sy en Christiaan uitgemaak. Nou moet sy hoor dat sy intussen met die einste Christiaan getroud is en dat hulle twee kinders het wat sy glad nie ken nie.
Die ergste skok wag egter nog op haar.
Anneleen se brein genees, maar sy het steeds ʼn donker gat in haar geheue. Vir ’n paar weke lank herstel sy in die bekende geborgenheid van haar ouerhuis, maar dan moet sy terug na die lewe wat sy vergeet het. In haar eie huis, tussen kinders wat sy nie ken nie, ontdek sy wie sy was en daardie “Anderleen” staan haar glad nie aan nie.
Sy soek voortdurend antwoorde, maar daar duik immer meer vrae op. Hoekom het sy die keuses gemaak wat sy gemaak het? Kan sy werklik die ma wees van die nuuskierige elfjarige seun en die opstandige, moeilike, agtienjarige dogter? Die ergste van alles: Kan sy Christiaan weer liefkry? Het sy hom dan ooit liefgehad ná daardie aand?
En wat het van al haar drome geword?
Die boek deel ook die perspektief van ’n man wat smag na ’n vrou wat hy skynbaar verloor het en dié van ’n kind wat al die skuld op haarself neem.
Anderkant vergeet is ’n roerende verhaal oor ’n vrou wat haarself ontdek en nie hou van wat sy sien nie. Kan sy nuwe keuses maak? Meer nog: Kan sy hierdie keer die regte keuses maak?
In die VSA neem “women’s fiction” se gewildheid as genre steeds toe met boeke soos The help wat topverkopers is en wys lekkerlees kán diepte hê.
LAPA Uitgewers is trots om hierdie genre in Afrikaans te help vestig. Dink ook aan blitsverkopers soos Sophia Kapp se Oorlewingsgids vir ’n bedonnerde diva en Alta Cloete se Opdrag van Oorkant.
Net soos “women’s fiction” in die VSA deur talle mans gelees word, smeek Anderkant vergeet ook om mans se aandag. Dit is ’n boek wat vuishoue uitdeel, maar ook salf op die wonde plak.
Oor die skrywer
Anderkant vergeet is Santie van der Merwe se derde boek. As toegewyde ma en huisvrou het sy ’n paar tydskrifverhale die lig laat sien, maar toe haar jongste kind uit die huis uit is, besluit sy om haar hand aan ’n roman te waag. Die roman het ’n tweeluik geword. Gelyke kans en Vandat jy weg is word in 2015 gepubliseer. Die rol van die huisvrou, met al die soet en die suur, word dan ook gedurig in haar werk onder die loep geneem.
Van Gelyke kans is reeds meer as 5 800 kopieë verkoop.
Mediavrystelling van LAPA Uitgewers.