RSS

‘n Salige verrassing: Saliger – Dibi Breytenbach

26 Mei

Saliger.jpgDeur die jare  moes ek myself maar leer aanvaar as ‘n sensitiewe siel. ‘n Supersagte hart kan die lewe nogal moeilik  maak. Ander mense se smart raak my. Diep. Veels te diep vir my eie sieleheil. Elke dag se nuwe sarsie misdaad slaan my tussen die oë. TV-nuus het ek dekades gelede al afgesweer. Die koerantnuus vluglees ek (Ek wil darem min of meer weet wat aangaan.) en lees dan die paar positiewe berigte wat ek kan opspoor. Die radionuus wat telkens presies op etenstyd val (sekerlik met opset so bereken) maak my radeloos.

Verbeelde mense se ellendes raak my (feitlik) netso diep soos dié van werklike mense. Dit maak my nie die ideale leser van spannings/misdaad/moordstories nie. Deur die jare het ek egter baie daarvan gelees, hoofsaaklik omdat ek te bang is ek mis iets. Deon Meyer se stories het ek leer hanteer (dikwels deur die bloederige stukke uit te laat, moet ek erken) omdat sy karakters so ongelooflik helder en lewensgetrou geteken word. Riana Mouton se  boeke het ek geniet, want die speurder het my telkens aangegryp. Chanette Paul se vestiging in die genre het ek gevolg. Van die meeste ander nuwe spanningskrywers het ek ten minste die eerste boek gelees. En toe kom Martin Steyn met Donker spoor en die boek ontstel my so dat ek besluit nou is ek klaar met spanningsromans. (Dit is ‘n groot kompliment vir die skrywer, nie ‘n belediging nie. Hy het die gebeure so aangrypend geteken dat dit vir my te werklik was om gemaklik te hanteer.)

En toe vat ek per toeval vir Saliger van Dibi Breytenbach in die biblioteek raak. Teensinnig vat ek die boek maar huis toe. Ek het baie gunstige kommentaar daaroor gelees, maar ek het mos besluit ek is klaar met spanningsboeke. Maar ai, dis so ‘n geluk om wel ‘n nuwe boek in die biblioteek te kry, dat ek ook nie ‘n gegewe perd in die bek kan kyk nie.

Ek besluit ek sal die eerste hoofstuk lees en dan besluit of ek voortgaan. (Ek is nie ‘n leser wat tyd mors op ‘n boek wat ek nie geniet nie. Die lewe is te kort daarvoor.) Binne tien reëls is ek ingetrek. Die boek begin so:

Die sirenes ontplof vanaf nêrens.

Amper.

Amper het sy hom vasgevra.

Sy sug en swets saggies sodat niemand haar hoor nie.

Fokken Fanie is weer laat vir iets. Hy is die dorp se ambulansman, getroud met die lelike, kwaai vrou wat vir hom die naam gegee het.

Of dit die magic van die f-woord is, weet ek nie, maar ek was vas.

Nog ‘n rede hoekom ek nie lus was vir die boek nie, was die voorblad en die titel. Die figuur  met engelvlerke het my laat dink aan ‘n storie oor die bonatuurlike en die titel se relevansie kon ek bloot nie insien nie. In albei gevalle was ek heeltemal verkeerd.

Amalia is ‘n lieflike hoofkarakter. Sy is ‘n ervare aanklaer op ‘n kleinerige (denkbeeldige) dorp waar almal mekaar ken. Sy kom daagliks in aanraking met die ellendes van die lewe. Sy is hardekwas en uitgesproke en sy vat nie dinges van enigiemand nie. Die ellende wat haar die diepste raak en wat keer op keer op keer voor haar verskyn, is dié van kindermolestering en –verkragting. Telkens kom sy te staan voor ‘n situasie waar die oortreder óf nie swaar genoeg gestraf word nie óf vroeg vrygelaat word – en dan die misdaad eenvoudig herhaal.

Haar woede en frustrasie ontlaai sy deur by haar (baie unieke) vriend Hendrik te gaan skyfskiet na werk. Twee vir die buckle en een vir die kop, leer hy haar. Hy raak naderhand self ongemaklik met die konsentrasie waarmee sy op die teiken (in die vorm van ‘n prent van ‘n mens) se “buckle” konsentreer. En Hendrik is ‘n harde man met ‘n verlede vol oorlog, hy is geen sissie nie.

Hendrik is ‘n baie onwaarskynlike, maar baie geslaagde romantiese hoofkarakter. Hy grom meer as wat hy praat, hy skuil agter ‘n vreeslike baard, hy het eenkeer sy TV stukkend geskiet toe die rugby nie na sy sin verloop nie. (Of dalk net sodat hy by Amalia kan gaan rugby kyk.) Hy praat nie oor sy verlede nie, maar sy vermoed daar is bloed aan sy hande. En sy is nie seker dat dit alles ou bloed is nie.

Dinge tussen die twee begin verander toe Frank Sinatra vir Amalia beetkry. (Om te weet wie of wat Frank is, moet jy maar self die boek lees.) Die gebeure is vir my redelik onwaarskynlik en nie realisties gesien die lig van wat tipies van Frank en sy soort is nie. Maar dis so snaaks en so nodig in die verloop van die storie dat ek die onwaarskynlikheid afgeskryf het as onbenullig.

Die groot ding wat my gevang het aan die boek, is die wrang humor waarmee Amalia na die wêreld en na haarself kyk. Om in ‘n boek oor kindermolestering die leser kort-kort te laat glimlag, is geen geringe prestasie vir ‘n skrywer nie. Die humor maak die gegewe meer verteerbaar sonder om dit ligtelik te behandel.

‘n Hele reeks newekarakters bevolk die verhaal. Baie van hulle laat mens glimlag, veral die twee “dorpsidiote”, maar op die ou end is elkeen funksioneel in die ontknoping van die storie.

Op ‘n stadium het ek begin onrustig raak dat dinge nie gaan afloop soos ek wil hê dit moet nie. (Ek is ‘n romantiese siel.) Toe pleeg ek die groot sonde van loer na die slot. Maar ek lees net ‘n paragrafie aan die einde van die laaste volle bladsy en word mooi gerus gestel. En toe kry ek ‘n helse verrassing in die heel laaste sin. (Plus ‘n verklaring vir die titel in die heel laaste woord.) Ek was heeltemal onkant gevang en baie boos vir die skrywer. En sprakeloos van bewondering. Om so ‘n onverwagse kinkel in ‘n storie se stert te sit, is ‘n gawe.

Saliger was vir my ‘n salige ervaring vol humor, ten spyte van die swaar temas wat aangeroer word. En nou moet ek seker maar vir Vrediger ook in die hande kry …

Advertisements
 
6 Kommentaar

Posted by op 26/05/2016 in Boeke, Lees, Skrywers

 

Sleutelwoordw: , , ,

6 responses to “‘n Salige verrassing: Saliger – Dibi Breytenbach

  1. Adel

    27/05/2016 at 08:11

    Sjoe Alta, dit klink na ‘n heerlike boek om te lees. Ek hoop ons biblioteek het hom in voorraad. Dit klink of jy met groot bewondering na Saliger verwys, ek sal beslis graag die boek wil lees.

     
    • Alta Cloete

      27/05/2016 at 10:05

      Adel, as jy nie die boek in jou bib kry nie, vra asb. dat hulle dit bestel. Deur te vra help ons ook biblioteke en boekwinkels om bewus te raak van boeke wat hulle dalk misgekyk het. Hulle is gewoonlik baie gewillig om te help.

       
  2. Annemari Coetser

    11/06/2016 at 12:59

    Alta, ek is ook nie ‘n liefhebber van spanningsverhale nie. Bloed en derms is vir my so ontstellend dat ek my oë toemaak wanneer ek sulke tonele op televisie sien. Maar jou beskrywing van Saliger het my oortuig dat ek myself meer aan ander genres moet blootstel. Dankie daarvoor!

     
    • Alta Cloete

      11/06/2016 at 13:40

      Wonderlik, Annemari! Ek vind ek kan ‘n bietjie bloed en derm uitstaan as die karakters (veral dié van die speurder) vir my interessant genoeg is. Dis basies die rede hoekom ek Deon Meyer ook lees, want sy karakterisering is fantasties.

       
  3. willemvasbyt

    27/08/2016 at 14:47

    Hierdie boek is een van dienuwe toevoegings op my boekrak. Wonderlik om ‘n nuwe stem met nuwe perspektiewe raak te lees. Lesers van spanningsverhale moet hierdie skrywer gerus dophou. Laat my baie dink aan John Grisham. Ook ‘n regsgeleerde.

     
    • Alta Cloete

      27/08/2016 at 15:20

      Ek stem saam!

       

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: