Terugblik: 20 Junie 2011 – Springsteen … en die dood van ‘n vriend

Die dood van my geliefde Springsteen se boesemvriend en saksofoonspeler, Clarence Big Man Clemons die afgelope naweek, het my gedagtes op ver paaie gestuur. Soos die dood se manier maar is.

1. Daar is min dinge waarvoor ek so bang is as vir beroerte. Om jou spraak te verloor moet iets ysliks wees. Om verlam te wees … Om hulpeloos te wees … Ouch. (Intussen is ‘n vriendin van my eie ouderdom hierdeur aangeraak, en sien ek eerstehands hoe dit mense se lewens kan raak. Selfs al is die nagevolge oënskynlik nie so erg nie. Oënskynlik …)

2. Oor vriendskappe tussen mans het ek nog nooit vreeslik gedink nie. In SA-konteks sien ‘n mens ‘n braaivleisvuur en ‘n paar biere, dalk ‘n trippie rugby toe as jy aan vriendskap dink. Bruce en Clarence het oor amper veertig jaar gewys dat ‘n diep emosionele konneksie moontlik is tussen heteroseksuele mans met hul eie vrouens en gesinne, hul eie lewens en loopbane wat soms op verskillende paaie geloop het. Dalk is dit ook maar die begeerte van die macho-manne vir wie ‘n klap op die rug die intiemste kontak met ‘n ander man is, dalk steek daar meer in die vriendskappe wat vir my soms oppervlakkig lyk.

3. Hulle vriendskap was ook een wat kon ruimte gee. Toe Bruce die E Street Band op ‘n stadium ontbind het, het hulle almal hulle onderlinge vriendskappe onderhou sodat hulle na tien of wat jaar weer kon saamkom en stadions vol maak. Kry ons gewone mense dit aldag reg? Is ons nie soms geneig om alles te wil hê, alles te wil weet, alles te wil deel nie? Ook van ‘n huweliksmaat, natuurlik.

4. In die vroeg-70’s was dit in Amerika blykbaar nog ‘n redelike issue dat ‘n wit band ‘n swart lid kon hê. Daar word gefluister van gigs wat geweier is en hotels waar hulle moes omdraai. Clarence het ‘n meer suksesvolle band gelos om by Bruce-hulle aan te sluit nog voor hulle enige noemenswaardige sukses behaal het. Maar hulle het hulle harte gevolg en net voortgegaan op die pad wat reg gelyk het. Kry ons dit aldag reg om ons intuïsie te volg? Of vermors ons energie met wonder oor wat die mense sal sê? Is ons ooit nog bereid om doodeenvoudig op te tree soos die liefde ons lei, sonder om ‘n eie agenda te hê?

5. Clarence was ‘n reusagtige swart man, iemand wat net weens ‘n motorongeluk ‘n lewe as professionele voetbalspeler misgeloop het. Maar ‘n gentle giant, altyd met ‘n sagte glimlag op die gesig. Hy het altyd gesê hy bid voor elke show dat sy musiek net één mens in die gehoor diep moet aanraak. Uit die onophoudelike stroom herinneringe aan honderde Springsteen-konserte net op WordPress-blogs alleen, kan ‘n mens ‘n idee kry hoe diep mense deur sy musiek aangeraak is. Wat hy klaarblyklik gedoen het, is om eenvoudig net te gee wat hy het, alles te gee. Die laaste jare het hy talle operasies gehad en intense pyn verduur, maar nooit ‘n enkele show gemis nie. Doen ons wat ons gemaak is om te doen? Gee ons vryelik sonder om terug te verwag? Of is ons meer besorg oor wat ons kan ontvang?

6. Uit enige video is dit duidelik dat hulle samesyn op die verhoog spreek van ‘n diep konneksie, van besorgdheid oor mekaar, maar veral ook van groot pret. Die vreugde in daardie shows is iets om te sien. Om met soveel vreugde jou roeping uit te leef, is ‘n voorreg. Ek vermoed min mense kry dit reg. Min van ons het die moed om net eenvoudig die pad te stap wat ons dink die regte pad is. Ons wonder, ons worry, ons wroeg. Dalk moet ons net meer lag – en ‘n paar dinge val dalk in plek.

7. Kyk jy na die honderde foto’s deur die jare, word jy intens bewus van die onafwendbaarheid van die ouderdom. En die verliese wat daarmee gepaard gaan. Clarence is die tweede lid van die E Street Band wat sterf. Verskeie medewerkers aan hulle toere het die afgelope paar jaar gesterf. Hoe ouer jy word, hoe meer word die verliese. En as jy geseën word met ‘n baie hoë ouderdom, loop jy die gevaar om die een te word wat heel laaste oorbly. ‘n Flippen skrikwekkende gedagte …

8. En natuurlik dink ‘n mens oor almal wat jyself al gegroet het. As jy al self om ‘n hospitaalbed gestaan en wag het vir die einde, was dit nie moeilik om jou voor te stel hoe dit die voorafgaande week moes gewees het nie. (Hoewel die meeste van ons darem nie nege band-maats, vyf vroue en vier seuns om ons bed sal hê nie …) Die dood van ‘n celebrity soos hierdie laat besef ‘n mens ook maar weer dat niemand die dood kan vryspring nie. Beroemd of onbekend, stinkryk of brandarm, hy wag vir ons almal.

9. ‘n Mens wonder altyd hoe werk dit dat mense so vinnig engeltjies word as hulle dood is – skielik het hulle nie meer foute gehad nie, al die wonderlikste eienskappe word aan hulle toegedig. En tog het die gedeelde herinneringe van tientalle bloggers my die afgelope paar dae gevul met ‘n diep verlange om ook mense se lewens só aan te raak dat hulle voel hulle is verryk daardeur, hulle lewe was voller en mooier as gevolg van my klein bydrae. Dit moet ‘n voorreg wees om so ‘n nalatenskap te kan hê.

10. My finale gedagte? Gryp die dag! Lag. Wees lief vir jou mense. Doen watookal jy doen met oorgawe en vreugde en sonder om te dink aan wat jy kan terugkry. En gaan in vrede wanneer jou tyd kom.

8 gedagtes oor “Terugblik: 20 Junie 2011 – Springsteen … en die dood van ‘n vriend

  1. Dit is nogal ‘n interessante gedagte – rondom vriendskap. Aan die een kant is mans meer groepsdiere en is dit soort van logies dat hulle sterker verlies ervaar wanneer ‘n vriend hulle ontval. Tog blyk die vriendskappe nie te intiem te wees nie.

    Vrouens weer is gewoonlik baie meer intiem met hulle vriendskappe, maar die vriendskappe wissel weer makliker.

    Stereotipes, ek weet. Ek moet hieraan gaan kou.

  2. Baie dankies, jy het my weer laat besef daar’s steeds mooi en goed in hierdie wêreld! Vriendskappe soos hierdie ene tussen Bruce en Clarence, Bruce wat sy passie aanhou leef, ons eie ondersteunings netwerke van mense wat ons met alles in ons harte liefhet, hulle wat vir ons lief is .. so kan ek aanhou.

    Jou verwysing na ouens wat so vinnig engeltjies word as hulle dood is … ek wonder en glimlag ook oor daai enetjie!

    1. Lekker om van jou te hoor, Marietjie! En ja, ek soek maar na die positiewe – en by Bruce kry ek baie daarvan.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s