Kortverhaal: Die gawe van onderskeiding

bakkie-in-huisDie storie het sy oorsprong in ʼn werklike voorval in ons buurt gehad. Ek onthou die hele buurt het gaan kyk na die bakkie wat met sy neus in iemand se sitkamer staan. Dit het in die Huisgenoot van 12 Maart 2009 verskyn.

“Meneer Terblanche, jy maak ‘n fout – my bakkie staan veilig binne-in my garage!” Maryna weerhou haarself met moeite daarvan om die foon in die man se oor neer te gooi. Sy’t oorgenoeg hooi op haar vurk sonder dat ‘n vreemdeling nog vir haar allerhande snert oor haar bakkie se bewegings hoef te kom vertel.

“Mevrou, as jy my nie wil glo nie – gaan kyk gerus in jou garage.”

“Ek is by die werk, Meneer. ‘n Goeie halfuur se ry van my huis af. En ek het werklik nie tyd vir grappies nie.”

“Ek kan jou verseker dis ook nie my idee van ‘n grap nie.” Hy klink nie aggressief óf van lotjie getik nie. Hy klink om die waarheid te sê, net moeg. “Ek bel jou oor vyf minute weer.” En dood is die lyn.

Maryna sit die telefoon neer, kyk lank en nadenkend daarna. Die naarkol op haar maag word groter en groter. Toe die angs oorslaan in volskaalse paniek, skakel sy bewerig haar huisnommer.

“Sussie, gaan kyk gou of die bakkie in die garage is,” sê sy vir haar sestienjarige oogappel wat haar op die oomblik soveel slapelose nagte besorg.

“Genade, Ma! Waar sal hy nou anders wees? Die ding kan tog nie op sy eie wegloop nie!”

Maryna byt op haar tande. “Was jy nog die hele oggend by die huis?” Sy haat dit dat Monique die kort skoolvakansie alleen by die huis moet deurbring.

“Nee, ek was ‘n rukkie by Sharon-hulle.”

“Gaan kyk gou.”

‘n Minuut later is sy terug. “Máá! Hy’s wragtig weg!” Sy klink nie meer soos ‘n blasé tiener nie. Sy klink soos die klein dogtertjie wat sy eergister nog was, toe haar ma nog al die lewe se einas vir haar kon beter maak.

Maryna sak verslae agter haar lessenaar neer. Iemand het haar bakkie uit haar garage gesteel en in ‘n vreemde man se huis vasgejaag, hoe onmoontlik dit ookal mag klink. Nie dat enigiets haar nog behoort te verras ná die klompie goëlballe wat die lewe haar die afgelope tyd geboul het nie.

Haar hande bewe so dat sy amper nie die kalmeerpilletjie kan raakvat nie. Sy haat haarself, maar sluk die klein stukkie genade gretig af. Sy kom uit ‘n stoere geslag boeremense wat die lewe se klappe stoïsyns verduur as dit moet, maar verkieslik terugklap. Haar mense het nog nooit na pille gegryp nie. Maar haar voorouers het niks geweet van rondlopermans, dwars tieners en alles van petrolpryse tot misdaadvlakke wat net styg en styg nie, dink sy opstandig terwyl sy haar handsak gryp en na haar baas se kantoor drafstap.

“Ek neem my etenstyd ‘n bietjie vroeër, Meneer, ek sal nie lank weg wees nie,” jok sy terwyl sy haar vingers vinnig agter haar rug kruis. Dis ‘n uur se ry heen en terug – en dan is die tyd wat die huiseienaar gaan neem om met haar te baklei nog nie eens ingereken nie.

“Jy neem te dikwels ekstra tydjies, mevrou Basson, jy sal jou dinge beter moet leer reël.” Jan Hartog kyk meewarig na haar oor sy leesbril. “Of is jy in die moeilikheid?”

“Nee, Meneer; dankie, Meneer,” antwoord sy vroom. Haatlike ou chauvinis, dink sy heelwat minder vroom, jy wens natuurlik ek is in die moeilikheid dat jy my daar kan uithelp – en dan betaling eis. Van die soort wat ek nie bereid is om te gee nie.

Sy maak met ysere selfbeheersing sy kantoordeur saggies toe. Jan Hartog gaan haar nooit vergewe vir die taai klap die slag in die afrolkamer nie. Nog minder vir die weiering van sy herhaalde aanbiedings van geldelike hulp ná Arno sak en pak weg is Kanada toe met sy nuwe bloedjong blaartjie en heeltemal vergeet het van kleinigheidjies soos onderhoudstjeks en verjaardagkaartjies vir sy arme, verwarde meisiekind.

Dit het sy nou van vasklou aan sentiment en verregaande drome. Sy moes lankal die ellendige bakkie verkoop het, die geld kon ‘n hele paar gate toegestop het. Maar nee, sy het bly fantaseer oor ‘n toer met haar dogter, oor kamp onder die sterre, oor stilte en ruimte wat genesing bring vir die hart. Die soort van ding wat gesinne doen, nie enkelma’s met knypende begrotings en opstandige tieners nie.

Sy is nie bestem om ver plekke te sien nie. Sy is gedoem om slegs te droom oor die reise wat sy vir haar kliënte reël en haar hupse baas se attensies geduldig af te weer. Nee, geen vleuels vir Maryna Basson nie. Haar voete bly stewig geanker in die harde werklikheid van enkelouerskap, eensame nagte en onvervulde drome.

 

Die adres wat die man oor die telefoon gegee het, is net ‘n paar blokke van haar huis af. Sy sien die klein skare van ver af. Almal praat en beduie, ‘n mens sal sweer dis ‘n vlieënde piering wat in die rustige woonbuurt kom sit het. Maar nee, dis geen vlieënde piering nie, dit is helaas haar geliefde dieselbakkie wat sy neus deur die groot vensters gesteek het soos ‘n nuuskierige kind wat wou sien hoe leef die mense in sulke mooi huise.

Sy hou stil, knyp haar oë so styf toe dat sy sterretjies sien, klem haar hande om die stuurwiel tot dit seermaak. Moet sy nou hier uitklim en voor al die nuuskierige mense gaan aankondig dis háár bakkie en vra waar is die baas van die huis?

Sy kan nie, sy kan eenvoudig nie.

Sy ry nie terug werk toe nie. Sy ry huis toe en gaan bel haar moeilike baas, onder die wakende oë van haar onbetrokke tienerdogter wat nou skielik vreeslik besorg al om haar draai. “Ek het ‘n krisis, Meneer, ek sal vir die res van die dag verlof moet neem.”

“Ek kan dit ongelukkig nie toestaan nie, Mevrou.” Sy kan sweer dis van pure vermakerigheid.

“Dan sal ek dit ongelukkig nog steeds moet neem. Tot siens, Meneer.” Sy sit die gehoorbuis saggies neer.

“Má! Is jy van jou trollie af?” Monique kyk vir die eerste keer in maande na haar met iets soos teensinnige bewondering in die oë.

‘n Kalmte kom oor Maryna, ‘n sterk gevoel van gee-nie-‘n-hel-meer-om-nie. “As hy hieroor moeilikheid maak, kla ek hom aan vir die seksuele teistering wat ek al maande lank verduur,” sê sy terwyl sy haar hand outomaties uitsteek na die foon wat alweer aan die lui is.

Dis die nimlike Jan Hartog. “O ja, hier het ‘n mnr. Terblanche gebel, Mevrou. Herhaalde kere. Sê jy moet hom terugbel.” En terwyl sy skarrel om die nommer neer te skryf wat hy vinnig aframmel: “Jy moet asseblief jou kêrels vra om jou nie by die werk te skakel nie, mevrou Basson.”

“Hy is nie my …” Maar hy het al klaar neergesit.

“Hier’s tee, Ma. Drink.” Sy wil sommer grens oor die skielike besorgdheid. “Harass die ouman Ma rêrig? En Ma verdra dit?”

Maryna sluk die tee dorstig weg. “Hy’s deesdae baie subtiel, na die klap is hy versigtiger. Dis maar deel van die dinge wat ek moes leer hanteer na jou pa weg is, my kind.”

“Ma’t hom geklap!? Ek het nie geweet …”

“Kom ons vergeet nou eers van hom, Monique. Ek sal hierdie Terblanche-man moet bel. Ek was te lafhartig om voor al die omstanders met hom te gaan praat.”

Hy antwoord onmiddellik, asof hy op haar oproep gewag het: “Mev. Basson! Waar was jy? Ek was bekommerd!”

Kan dit waar wees? ‘n Man wat hom bekommer oor die vrou wie se bakkie halfpad in sy sitkamer staan? Hardop sê sy eerlik: “Ek was voor jou deur, mnr. Terblanche. Dit is inderdaad my bakkie, maar ek het nie die moed gehad om voor daai spul mense …”

“Dis te verstane. Was ook nie nodig nie. Ek het reeds die polisie hier gehad. En my versekeringsmense. Al wat jy moet doen, is om jou versekeraar te bel. En te help dink wie die bestuurder kon gewees het.”

Maryna sit verstom. Geen tirade, geen eise, geen verwyte.

“Mevrou? Is jy daar?”

“Ja, ja,” prewel sy. “Ek is vreeslik jammer …”

“Dit was tog nie jy wat deur my venster gejaag het nie, mevrou? So ek aanvaar dit was nie jou skuld nie.”

“Dankie,” sê sy verslae. En nog ‘n keer dankie toe sy al die gehoorbuis neergesit het.

 

Na ‘n frustrerende gesprek met haar versekeraar pak sy die bul by die horings – sy wink Monique nader en maak nog tee.

“Monnie, het jy met die bakkie gaan ry?” vra sy reguit terwyl sy haar vir die verwagte uitbarsting staal.

Wonder bo wonder kom dit nie. “Nee, Ma,” sê Monique ernstig, “ek het na Sharon toe en terug geloop.”

“Kan ek jou glo, Monique?” Sy wil so graag, maar sy ken nie meer aldag haar eie kind nie.

“Ja, Ma.”

“Meneer Terblanche sê ‘n buurvrou het ‘n jong kind sien weghardloop. Kon glo nie sien of dit ‘n seun of meisie is nie.”

“Dit was nie ek nie, Ma.”

Maryna neem ‘n besluit. Sy sal haar kind glo. Dalk kan daar tog iets goeds uit hierdie gemors kom, kan hul wankelende verhouding ‘n hupstootjie kry.

Dit bring haar egter by die volgende onaangename stap: “Monique, het jy die deure gesluit toe jy weg is na Sharon toe? Kon iemand dalk kom kuier het solank jy weg was? By die sleutels uitgekom het?” Sy sluit haar oë ‘n oomblik, waag dan die sprong: “Werner?”

Soos altyd is die blote noem van die ventjie se naam genoeg rede om die storm te laat losbars. “Má! Jy glo net altyd die slegste van hom!”

“Beantwoord my vraag, Monique. Het jy die deure gesluit?”

Die blonde kop sak, lig dan weer dapper. “Nee, Ma. Ek’s verskriklik jammer.”

Maryna staan op, begin die teegoed bymekaar maak. “Gaan bel vir Werner, vra waar hy is.”

“Werner is in my kamer, Ma.”

Die koppie gly in stadige aksie uit haar hand. Sy staan en kyk hoe die splinters wegspat oor die vloer. Soos die splinters van haar en Monique se lewens na Arno se verraad, dink sy. Toe vat sy die borsel en skoppie, vee die gemors bymekaar en gaan foeter dit met mening in die asdrom. Die klein handeling word skielik simbolies van iets veel groter.

Die tyd vir wroeg is verby. Dis nou tyd vir skoonmaak en nuut begin. Toe sy wegdraai van die asdrom, is sy kalm.

Die eerste stap is om die Werner-mannetjie finaal uit haar kind se lewe te kry. Sy moet eintlik dankbaar wees vir die hele affêre; hy het nou eindelik sy eie graf gegrawe.

“Tannie?”

Sy draai stadig om. Die eerste ding wat sy raaksien, is die yslike seunskind se rooigehuilde oë. Die tweede ding is die onverbloemde trots waarmee haar meisiekind na hom kyk.

“Ek weet jammer gaan niks regmaak nie, Tannie. Maar ek is rêrig jammer. Dat ek die bakkie gevat het, dat ek weggehardloop het, dat ek nie dadelik uitgekom het nie. Maar hier is ek nou.”

Maryna gaan sit stadig weer op dieselfde kombuisstoel. “Bel jou ouers, asseblief, Werner.”

“My pa is klaar oppad, tannie. My ma is mos lankal weg.” Vir ‘n oomblik lê sy verlange oop voor haar, net ‘n oomblik. Maar dis genoeg tyd vir haar om tot binne-in sy hart te kyk.

Nog ‘n verwilderde, verskeurde kind, is al wat sy kan dink toe sy haar hande na die twee tieners uitsteek. Nog ‘n kind wat deur grootmense verwond is en magteloos, hulpeloos probeer terugslaan op die enigste manier wat hy kan – deur so onaangenaam en uitdagend as moontlik te wees.

 

Werner se pa is ‘n groot man met moeë oë en diep pynkepe langs sy mond. Hy klim haar stoeptrappies swaar op, groet stroef en bly dan ongemaklik in die middel van die sitkamer staan.

“Kom sit, meneer Botha,” nooi Maryna. Sy kan die man nou jammer kry. Dis in elk geval beter as om haarself jammer te kry.

“Waar’s my kind, Mevrou? Alweer die pad gevat?”

“Nee, en hy gaan ook nie.” Sy gaan sit oorkant hom. “Hulle is in die kombuis. Ek het gesê ek wil eers alleen met jou praat.”

“Jou dogter het nie ‘n goeie invloed op Werner nie, Mevrou.”

Maryna haal diep asem, sluk die woede met groot moeite af. “Ek kan dieselfde van jou seun sê.”

“My kind het vir my ‘n vreemdeling geword – onbetrokke, onbeskof, ongehoorsaam … so kan ek aanhou.”

“Dieselfde hier, Meneer.” Asem in, asem uit, moenie op die man skree nie, wees ‘n voorbeeld vir die kinders …

“Ek probeer maak hom alleen groot, mevrou Basson.”

“Dieselfde hier, Meneer.” Sy’s bewus van die twee kinders wat by die kombuisdeur luister, bewus van die angs waarmee hulle die gesprek volg.

Dawid Botha sit lank stil, sy elmboë op sy knieë, sy kop omlaag. ‘n Man wat nie weet hoe verder nie.

Maryna kies haar woorde versigtig: “Jou kind het ‘n onnosel ding gedoen en weggehol, meneer Botha. Maar hy het teruggedraai en jou gebel. Vir my het hy in die gesig gekyk, om verskoning gevra.”

Sy merk verlig ‘n flikkering in sy oë, gaan met meer moed voort: “Miskien moet ons die kinders nog ‘n kans gee. Miskien kan ons mekaar help, kan hulle mekaar help. As ons ons vooroordele kan agterlaat en hulle die regte leiding gee.”

“Ek het waaragtig al die hulp nodig wat ek kan kry.” Nie maklike woorde vir enige man nie. Sy kan nie dink dat Arno óf Jan Hartog dit ooit oor hul lippe sal kry nie.

Dis skielik nie so moeilik om te vra nie: “Hoe lank is jou vrou al weg, Dawid?”

Sy kop ruk op, sy oë vernou. Maar net ‘n oomblik, toe antwoord hy kalm: “Omtrent ‘n jaar. Aanvanklik het Werner dit goed gevat. Of so het dit altans gelyk. Maar deesdae …”

“Monique het haar pa aanbid. Hy’s hier weg met ‘n jong bokkie, alle bande verbreek.” Sy sál nie voor die man huil nie, sy sal verdomp nie.

Hy bly lank stil, toe kyk hy haar reguit in die gesig. “Ek vra om verskoning vir my oordeel oor jou kind. En vir wat myne aangevang het.”

Sy knip die trane weg. “Dankie,” sê sy stadig. “Baie, baie dankie.”

Daar’s ‘n beweging by die kombuisdeur. “Pa, ek is vreeslik jammer.” Die seun lyk baie na sy pa. ‘n Mooi seun, as jy by die kettings en oorbel en té swart gekleurde hare kan verbykyk.

Dawid Botha kug een keer ongemaklik, toe maak hy sy arms oop. “Dis alles reg, my kind.”

“Ek gaan maak tee.” In die kombuis doen sy dieselfde – maak haar arms oop. “Dis alles reg, my kind,” sê sy.

 

Toe sy die volgende oggend by die reisagentskap instap, is Jan Hartog reg vir haar. “Ek moet jou ongelukkig ‘n skriftelike waarskuwing gee, Mevrou,” sê hy en stoot dit oor die lessenaar na haar toe.

Sy hou kalm haar koevert na hom uit: “Dit sal nie nodig wees nie, Meneer. Hier is my bedanking, my onmiddellike bedanking. Ek sal vandag alles in orde kry, ook reël vir ‘n tydelike plaasvervanger.”

“Sulke vermetelheid! Waar kom jy daaraan … Ek sal nie toelaat …”

“O ja, u sal dit toelaat! Seksuele teistering is deesdae ‘n ernstige saak.”

Sy staan en kyk hoe dit by hom insink. “Jy sal dit nie waag …”

“Ek sal dit definitief waag.” Sy kan skaars haar eie woorde glo; sy het nuwe krag in haarself ontdek.

“Jy sal van ellende vergaan. Jy sal terugkruip na my toe.” Maar die skop is uit hom, sy bravade het hom verlaat.

“Ek begin môre in ‘n nuwe pos, Meneer. Ons doen hoofsaaklik avontuurkampe vir jongmense – roei op die Gariep, dié soort ding. My dogter en haar vriend sal ook in die skoolvakansies betrokke wees.”

Sy en Monique het laasnag min geslaap, heelnag koffie gedrink en gepraat. Oor Johan Terblanche wat dringend ervare hulp in sy reisbesigheid nodig het, wat die bakkie summier wil oorkoop, wat kennelik ‘n slag met jongmense het. Oor Werner Botha wat dapper genoeg was om terug te kom en te erken hy het ‘n simpel fout gemaak, oor sy pa wat groot genoeg was om sy verskoning te aanvaar.

Maar hulle het veral oor mans gepraat: oor mans wat steeds dink ‘n vrou is net daar om gebruik te word, en oor mans wat altyd bereid is om ‘n klip uit enigiemand se pad te rol as dit binne hul vermoë is. Oor mans wat ‘n vrou as ‘n middel tot ‘n doel sien, en mans wat ‘n vrou as ‘n volwaardige mens sien. En die gawe van onderskeiding wat ‘n vrou moet aankweek en vertroetel.

“Ek is bereid om jou tot die einde van die maand te betaal.” Hartog se hand gaan na die laai met die tjekboek. “Maar jy beter sorg dat die temp weet wat sy doen.”

“Dis nie nodig nie, dankie, Meneer. En ek sal haar dééglik inlig oor álle aspekte van die werk.”

Sy neurie sag toe sy omdraai na haar lessenaar.

Die klank stol in haar keel toe sy amper trompop in Arno vasloop.

Hy’t oud geword, is haar eerste gedagte. Hy lyk verleë, is haar tweede. Ek voel niks, ek voel absoluut niks, is haar derde.

“Hallo, Arno. Kan ek help?” vra sy met ‘n kalmte wat sy vier-en-twintig uur gelede nog nie gehad het nie. Ja, Werner het inderdaad die heel beste tyd gekies om ‘n onnosel ding aan te vang en daarmee sy eie en verskeie ander lewens onherroeplik te verander.

“Ek is terug, Maryna.” Arno steek sy hande na haar uit met sy ou, bekende glimlag. Dit raak haar nie meer nie.

“Ek is jammer, Arno, maar ek is nie meer …” Die geskel van die voordeurklokkie onderbreek haar. Toe sy die knoppie druk, tuimel die twee tieners soos uitgelate jong honde die kantoor binne. Agter hulle staan Dawid Botha bonkig en kalm, die lyne op sy gesig sagter as gister, sy oë vol versigtige blydskap en hoop.

“Hallo, Dawid,” sê sy en steek haar hande na hom uit.

3 gedagtes oor “Kortverhaal: Die gawe van onderskeiding

  1. DIS ‘N PRAGTIGE KORTVERHAAL. Ek hou veral van die storielyn se boodskap ivm die vrou wat vir haarself moet opstaan.

Lewer kommentaar