RSS

Kortverhaal spesiaal vir die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders: Vry om te dans

04 Des

dans-op-tafel‘n Opmerking wat ‘n vorige baas oor my gemaak het, was die wegspringplek vir hierdie storie. En nee, ek het in my lewe nog nie op ‘n tafel gedans nie. Dit het in die Huisgenoot van 8 Desember 2005 verskyn.

“Een, twee, drie … nege, tien … Down!“ kap die hande met die botteltjies lekkermaakgif ritmies op die afgeleefde kantoortafels met moeë tafelversierings, gehawende southappies en halfleë glase. Dit was ‘n lang aand.

Net ‘n paar bittereinders hou nog by; ek is weer op pad om my reputasie as man onder die manne deeglik gestand te doen. Ek gooi my blonde maanhaar agtertoe en keer die botteltjie met ekstra swier in my keelgat om.

En bederf alles deur soos ‘n beginner aan die stik te gaan.

My kollegas dink dis maar deel van my jaarlikse vertoning. Hulle lag hulle byna te pletter, joviale hande klap my tussen die blaaie, al wat leef en asemhaal het ‘n eiertjie te lê oor die ou glipsie.

“Ag nee, my meisie, moenie vir my sê jy raak nou oud nie?!” Pieter – blond en beeldskoon – wat my op my eerste dag by die firma langs die fotostaatmasjien vasgekeer en soos ‘n amoreuse seekat omsingel het. Hy’t my nooit die klap vergeef nie; ek sien by elke vergadering waar ek waag om van hom te verskil – en daar is baie – hoe roer daardie klap in sy geheue. Sy splinternuwe vroutjie sit mooi enkeltjies gekruis tussen die dames in die hoek en teug preuts aan ‘n glasie witwyn. Haar onskuldige slaappop-ogies flits heen en weer tussen my en Pieter, heen en weer.

“Ou Santjie, nee man, jy verloor jou slag!” Marius, wat nog nooit weer behoorlik met my gepraat het na die klag van seksuele teistering nie, al het daar na al die lawaai dadels van gekom. ‘n Lagie sweet blink op sy voorkop, sy staan is die effens onseker staan van ‘n man wat vermoed hy’t sy limiete reeds oorskry, en ook nie meer regtig omgee nie. Hy’s pas geskei, die ego broos en teer nog, die smeulende metgesel nie baie beïndruk met ons ou klompie nie. Veral nie met my nie; sy’s nog nie seker sy gaan die vis ingekatrol kry nie. Dom meisiekind, nog nie besef ‘n vis kan solo swem en dit nog geniet ook nie.

“Nou’s dit darem hoogtyd vir die show!” Mike, die grootbaas, wat vir die ander driehonderd vier en sestig dae van die jaar in suiwer Afrikaans oor ons regeer en al wat vroumens is as Juffroutjie aanspreek. Sy bolwangetjies is hoogrooi, die oë wat vir driehonderd vier en sestig dae per jaar moeg en bekommerd lyk, het nou ‘n wilderige glans. Sy vrou het ‘n baadjiepakkie en hofskoene aan; sy het áltyd ‘n baadjiepakkie en hofskoene aan. Sy drink net sodawater, sy noem hom Pappie en regeer hom vir driehonderd vier en sestig dae per jaar met ‘n ysterhand. ‘n Ysterhand in ‘n tuinhandskoen; haar tuin is ‘n geil vermenging van wulpse rankers, smeulende tropiese hoekies en preutse, stywelip randakkers. Haar man haat haar tuin.

Ons trek nou by dag nommer drienhonder vyf en sestig. Vir dié enkele ou aandjie regeer ék die manne van ons firma, baas inkluis.

Die kring trek nouer om my, die mans begin ritmies handeklap: “Santjie … Santjie … “

Ek trek my los toppie stadig en nadruklik uit, vee met my hande die skraps hempie en nousluitende heupbroek oor my kurwes glad. ‘n Goeie dosyn helpende hande vee die ete en drinke van die naaste tafel af en lig my met lewensgevaar bo-op. Die musiek verander na ‘n vreemde stuwende ritme; g’n mens weet waar Warren al sy musieke vandaan kry nie. Met die internet is dit natuurlik doodmaklik om enigiets van enige plek af te kry. En nie net musiek nie.

Iemand sit die helfte van die ligte af; skaduwees versag die lyne op die kringetjie gesigte opgehef na my. Die kloosterkoekies in die hoek verdwyn in die skemer van hul afgryse. Ek ruk my lyf orent, krul om myself asof in pyn, swaai my hare na vore en terug, laat my lippe vogtig halfoop huiwer. ‘n Siddering gaan deur die gehoor. Pieter lek ‘n keer oor sy lippe, maak sy glas met een beweging leeg, voel-voel na ‘n neersitplek, terwyl sy oë my gesig nie vir ‘n oomblik verlaat nie. Hy weet te vertel dis my gesíg wat hom mal maak. Elke tweede vrou het ‘n mooi lyf aan haar, was sy woorde, maar ek het die mond van ‘n Madonna en die oë van ‘n heks.

Persoonlik dink ek ek het ‘n redelik doodgewone gesig. Kunstige grimering is natuurlik ook ‘n wonderlike ding om illusies te skep en te behou.

Ek gooi my heupe vorentoe; die diamantjie in my naeltjie kaats die lig dapper terug. My gesperde vingers gly oor my heupe; my oë vang die gesigte om my een-een vas. Die musiek neem besit van my. Die realiteit vervloei in ‘n newel van sigaretrook en ekstase.

Ek dans die jaar se frustrasie stuk vir stuk uit my lyf uit. Ek neem wraak vir elke seksistiese aanmerking, elke aanname dat die vrou by die vergadering outomaties die tee moet aandra en koekies gaan koop, elke stoute knipoog, elke effens neerbuigende antwoord op ‘n uitstekende voorstel deur ‘n vrou, elke effens neerbuigende Juffroutjie, elke paternalistiese verwysing na die girls.

My jaarlikse vertoning is my eie klein wraak op die manlike oorheersers van ons firma en elke ander firma, namens elke vrou wat haar lewe moet skik na die wil van ‘n man wat sy manlikheid moet bewys deur ‘n vrou rond te order. Watter man ookal; sy dit wederhelf, baas, kollega, kêrel, seun.

Die aand van die jaarlikse kantoorpartytjie maak ek my formele kapsel los. Ek kombineer my skrapsste kledingstukkies sorgsaam tot net-net duskant die onsigbare lyn van welvoeglikheid. Ek waag met grimering; ek oefen my stap voor my vollengte spieël.

Daardie enkele aand drink ek die manne onder die tafel in, en die pret loop altyd uit op my tafeldansery. Die eerste jaar het dinge hul eie loop geneem; ek was jonk en vrolik en betreklik onskuldig. Die volgende jaar het die manne eers taktvol en toe openlik geskimp; nou is dit ‘n vaste tradisie.

Die res van die jaar is ek die perfekte beroepsvrou. Altyd onberispelik versorg, streng pakkies met sagte bloesies wat net-net ‘n ronding wys, soomlyn kuis, maar die hakke hoog. Altyd professioneel. En magteloos vasgevang onder die glasplafon, die vrou wat die beleidmakers se gewetens moet sus. Sonder enige werklike mag.

My vroulike kollegas gaan elke jaar omtrent in ‘n beswyming van afkeur, maar ek het ‘n idee diep onder in sommige harte lê dalk ‘n bietjie begrip vir wat ek doen. Die res van die jaar is ek een van hulle; dit neem nuwelinge net ‘n paar weke om agter te kom g’n man kom met enige streke van watter aard ookal by my verby nie. Ek laat geen suggestiewe seksistiese aanmerking ongestraf bly nie, en ek maak doelgerig en effektief jag op verbloemde diskriminasie op elke vlak.

Die herinnering aan die vorige jaar se partytjie bly lê die hele jaar in my manlike kollegas se agterkoppe (of dalk bietjie laer af). Terwyl ek met ‘n foutlose voorlegging besig is, begin hul gedagtes dwaal en kry ek die gaping om my stempel op die projek af te druk. Soms in die middel van ‘n redenasie sal Marius stil word en begin staar na my kastige Madonna-mond, my vermeende hekse-oë. Wat my natuurlik die kans gee om hom van die tafel af te vee.

Die musiek kom tot ‘n ekstatiese einde, ek vries ‘n lang oomblik met kop agteroor en arms hemelwaarts gestrek. Die mans brul en raas soos skoolseuns by ‘n interskole; die vroutjies in die hoek klap teen wil en dank bedees die hande. Ek sien hoe Die Baadjiepak oorleun en gerusstellend praat met Pieter se ontstelde vroutjie; die nuwe mevroutjies wil altyd op hierdie punt vir Manlief gryp en op versterkwater gaan bewaar van my grypende kloue. Dink seker ek gaan nou van die tafel afspring en die eerste die beste man gryp vir die nag.

Hulle het nie ‘n idee van die omvang van my minagting vir hulle kosbare mans nie.

“Mag ek?” ‘n Hand word oordrewe sjarmant na my uitgehou. Die waarderende skaretjie om die wikkelende tafel staan ‘n treetjie agteruit. Die nuweling staan voor my, ‘n bonkige, donker man met helder raaksien-oë en die skoon geur van tandepasta op sy asem. Die pasaangestelde hoof van die regsafdeling wat vanaand kom inloer het “om solank die personeel op voetsoolvlak te ontmoet” – die baas se woorde, nie myne nie. Ek dink hy het ons ou klompie vanaand op ‘n vlak ‘n hele entjie onder die voetsool leer ken.

Ek aanvaar die hand en trap oordrewe grasieus op die stoel wat hy met groot gebaar vir my regskuif. Onder sy berekende blik trek ek my toppie weer aan, vat my hare bymekaar en draai dit met ‘n enkele beweging in ‘n verbeeldinglose knoets laag in my nek.

Hein Kellerman staan my roerloos en aankyk. Nie ‘n spiertjie roer in sy gesig nie. Ek weet nie wat hy dink nie, terwyl ek weet ek het die ander klomp vér verby dink gehad.

Die mans beweeg terug na hul metgeselle, handsakke en baadjies word bymekaar gevat, die aandjie is verby. Pieter se vroutjie vat hom besitlik aan die arm; Die Baadjiepak se skouers ruk styf toe Mike se hand tastend oor haar boude gly; Marius se metgesel leun besitlik teen hom aan.

Ek groet en loop. Ek is altyd moeg na my wraakdans. By die deur haal die nuwe man my in: “Kan ek jou huis toe neem?”

Ek draai bitsig om; ek vertrou g’n man se danige besordgheid nie. Dink natuurlik ek is die kantoortert en die eerste snytjie lê al op sy bord. “Ek het ‘n motor en ek kan bestuur, dankie.” Ek draai my rug op hom; sy intense kyk torring aan my gemoedsrus.

“Dan ry ek agter jou aan; jou alkoholvlak behoort enige verkeersman se droom te wees.” Nie een van my kollegas het nog ooit hieraan gedink nie. As die man lank genoeg aanhou, begin glo ek dalk hy is regtig besorg. En dit sal die begin van my ondergang wees.

“Jy wil net sien waar ek bly.” Aanval was nog altyd my gunsteling verdediging.

“Daar’s makliker maniere om dit uit te vind. Ek wil jou eintlik iets vra.” Hy val in by my treë; vir die eerste keer in al die jare verlaat ek nie alleen die warm kol van lig en samesyn nie.

“Nou toe, vra.” Darem maar nuuskierig ook.

“Die plek is nie reg nie.” Hy kyk betekenisvol om hom na die kaal, funksionele gang.

“Die tyd is ook nie reg nie.” Ek loop vinniger; hy loop ook vinniger. ‘n Koppige man, gewoond om te kry wat hy wil hê.

Ons voetstappe klink hol in die donker buik van die parkeergarage. Hy bly staan tot ek wegtrek; lig sy hand in ‘n halwe saluut. Op my maag kom lê ‘n klein warm kolletjie.

Toe ek in my garage stilhou, stop die man waaragtig agter my. Met die oopmaak van die motordeur is hy langs my met sy arms weerskante van my op die motordak en deur. Ek wil-wil paniekerig raak, dwing myself om rustig asem te haal. Maar ek het waarskynlik niks te vrees nie; hy’s so nugter soos ‘n spook. Ek grinnik onwillekeurig toe ek dink aan die arme vrouens wat nou moet huistoe sukkel met my halfdronk manlike kollegas.

“Hoekom haat jy die mans so?” Vir hierdie jafel sal ek moet ligloop, sy taktiek is ‘n nuwe een.

“Ek haat hulle nie.” Ek hou my stem met moeite lig en neutraal.

Hy vryf nadenkend oor sy gesig. “Nee, nie regtig haat nie. Eerder minag.” Daar’s ‘n tartende gleufie in sy ken.

“Ek het bloot nie respek vir mans nie.” Ek kyk hom doelbewus reg in die oë.

“Alle mans?” Sy gesig kom nader, sy oë hou myne gevange.

“Alle mans.” Ek lig sy hande nonchalant weg en staan vinnig opsy. “Nag.” Ek druk die skakelaar, die garagedeur begin sak. Te laat kom ek my fout agter; hy duik nie uit om by sy motor te kom nie, hy stap rustig saam met my by die binnedeur in kombuis toe.

Ek ken nie die man nie. Hy kan gewelddadig wees vir al wat ek weet, nugter of nie nugter nie. Gelukkig het ek ‘n troefkaart in my mou. Eintlik ‘n hele paar van hulle.

In die kombuis maak my vier troefkaarte gesellig ‘n handjie om die tafel, glasies in die hand, asbakke tjok en blok, tjipspapiere waar jy kyk. Ek kyk hoe vier pare oë waaksaam raak, ‘n onsigbare gordyn skuif voor hulle gesigte in.

Uit die kamer roep die oumensstem angstig: “Is dit jy, Santjie?”

“Hierdie man wil weet hoekom minag ek die mansgeslag, dalk kan julle hom ‘n bietjie help,” praat ek oor my skouer op pad kamer toe.

Ek druk die maer oumenslyfie teen my aan. Sy ruik na poeier en pille en ouderdom. “Het jy weer gedans, my kind?”

“Ja, Ma.” Ek het nog nooit nodig gehad om te verduidelik nie. Toe sy per abuis te hore kom van my jaarlikse eskapades, het sy onmiddellik verstaan. My ma het geweet ek dans ook vir haar. Vir haar en vir elke mishandelde vrou wat al ‘n tydelike hawe in my huis gevind het, soos Sophia en Klara en Nomsa en Marie daar binne.

Ek dans vir elke vrou wat moet buig voor die wil van ‘n man, vir elke vrou wat vrees vir haar kinders, vir elke vrou met donker merke op haar vel, vir elke vrou met letsels aan haar siel. Maar veral vir my ma; vir my ma wat die man wat sy liefgehad het, uit haar dogter se bed kom ruk het en nooit weer teruggekyk het na hom nie.

Daarvandaan het ek en sy die pad alleen gestap. Manloos, vaderloos, vreeslik arm aan die begin – maar vry. Waar ek die pad nie kon stap nie, het ek hom eenvoudig gedans. Met my talent, my lyf en my minagting vir mans het ek my ma gehelp om die wolf van die deur te hou. Nou is sy oud en weerloos; sy gaan my binnekort verlaat.

En ek is nie gereed vir alleen agterbly nie.

Ek sit by haar, streel die verrimpelde ou hand tot sy weer insluimer. Ek kyk na die lyne van haar gesig, die ingevalle mond, die vertroue waarmee die hand met die ouderdomsvlekkies in myne lê. Ek vergeet doelbewus van die man in die kombuis; ek sit en voed my siel met jare se gif.

Maar toe ek eindelik my kombuis binneloop en hom sien sit tussen my verwonde vroue, hoe hy met aandag luister na Nomsa se hartseer verhaal, sy oë stip op die gesig met die donker merke onder die oë, die sleg toegewerkte letsel oor die wang, toe trek my keel toe van vrees.

Die vrees dat ek nie regtig sterk genoeg is om die pad alleen te stap nie.

“Hein sê jy het weer die manne vanaand hulle tonge lekker laat vastrap!” lag Klara op na my toe ek inkom. Haar passion gap wat nie van liefde kom nie, word hierdie week herstel.

My jaarlikse wraakdans is so effens legendaries onder die vroue wat deur my huis vloei; dit word spontaan van groep na groep oorgelewer.

“Ek het dadelik gesien jy kán dans.” So hulle het my storie klaar met kleur en geur aan hom opgedis.

Hy sit rustig langs my tafel, asof hy gekom het om te bly. Die waaksaamheid op die vroue se gesigte het verslap, hulle raak te gou gerus, vertrou te gou. Ek bly staan teen die wasbak. “Dis baie laat, jou vrou sal onrustig word.” My hart kramp seer in my binneste.

“Ek het nie ‘n vrou nie. En jy’s reg, dis laat, maar ek kom môreaand weer.” Hy lig hom lui-lui uit die stoel.

“Om te?” Hy’s net ‘n aks langer as ek, ek staan doelbewus fier en trots voor hom.

Hy laat hom nie intimideer nie; die donker oë wyk nie ‘n duim voor myne nie. “Om verder met hierdie dames te gesels. En met jou. Oor regshulp vir hulle.” Hoe lank bid ek nie al vir ‘n regsgeleerde met ‘n hart vir hierdie saak nie. As ek maar net mý hart kan vertrou in hierdie saak.

Hy vat sy sleutels, groet in die rondte. “Kom eet sommer môreaand hier, Hein,” roep Klara agterna. Klara het die wonderlikste onthale vir haar besigheidsman gehou; sy is ‘n kok duisend. Haar merke is onsigbaar, van die soort wat die tong maak, wat veel moeiliker genees as dié aan die buitekant.

Ek stap saam tot by sy motor. “As jy hierdie vroue hoop gee en dan in die steek laat, gaan ek jou iets verskrikliks aandoen.”

“Ek is nie iemand wat teruggaan op my woord nie.” Hy lig sy hand in die nou bekende gebaar. “Kan ek wyn saambring? Seweuur?”

Ek kyk die motor agterna en toe op na die stadshemel. Ek het nog nooit opgelet mens kan soveel sterre hiervandaan sien nie.

 

‘n Jaar later:

“Hoe lyk dit dan, Santjie? Dit word laat, man!” Mike se bolwange is hoogrooi, ‘n sweetlagie blink op sy voorkop.

Die Baadjiepak draai berispend na hom: “Suzanne se ma is ‘n paar weke gelede oorlede, Mike, sy sal nie vanaand dans nie.”

“Ek het jare lank juis vír my ma gedans.” Onbegrip op die gesigte om my. “Maar van nou af dans ek vir my eie man. By ons eie huis.” Luide gelag, gemaakte kreune, joviale klappe op Hein se rug.

Ek steek my hand na my man toe uit. Skouer aan skouer stap ons in die gang af, weg van die lig en warmte van die partytjie.

By die huis steek ek die kerse aan, druk die knoppie van die CD-speler. Ek trek my los toppie stadig en nadruklik uit. Die lyne van ons huis vou sag om my; ek dans die laaste vrees en voorbehoude uit my lyf en uit my hart. Ek laat val my skanse een vir een voor die man wat ek lief het, tot ek naak en weerloos voor hom staan.

Advertisements
 
6 Kommentaar

Posted by op 04/12/2016 in Uncategorized

 

6 responses to “Kortverhaal spesiaal vir die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders: Vry om te dans

  1. vvuureoc

    05/12/2016 at 00:01

    Baie dankie Een van die beste kortverhale wat ek in ‘n lang tyd gelees het. Die danseres bring sterk geheue flitse aan ‘n ou vriendin terug. Haar frustrasies was die “stiff upper lip” en “alles wat lekker is is sonde” Ons het menig aande die disco aan die brand gedans. Haar Lambada sou ‘n 2 tot 21 beperking kry indien die owerhede dit kon instel.

    Sy het nie die gelukkige einde gehad nie en is AGV brein anuerisme oorlede

     
    • Alta Cloete

      05/12/2016 at 10:05

      Baie bly as jy dit geniet het. En ja, in die werklike lewe is gelukkige eindes ongelukkig nie so volop nie. Dis miskien hoekom ek stories skryf. 🙂

       
  2. Heleen Malherbe

    05/12/2016 at 07:14

    Alta jy skryf die mooiste kortverhale. Dit is een van die beste kortverhale wat ek nog gelees het.

     
    • Alta Cloete

      05/12/2016 at 10:06

      Baie bly as jy dit geniet het! Ek geniet dit vreeslik om te skryf. Hierdie is ‘n oue, maar ek is deesdae weer bietjie aan die gang met kortetjies.

       
  3. KleinKitti

    11/12/2016 at 21:39

    Hoe heerlik het ek my in jou storie verloor.

     
    • Alta Cloete

      12/12/2016 at 07:59

      Bly as jy dit geniet het!

       

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s

 
%d bloggers like this: